6-12 JULIE 2026
LIED 98 Die Skrif — Deur God geïnspireer
Bybelbeginsels – Hoekom is dit belangrik?
“[Bied] julle liggame aan [as] heilige diens met julle denkvermoë.” – ROM. 12:1.
FOKUS
Om te verduidelik wat beginsels is en hoe ons dit kan identifiseer wanneer ons die Bybel lees.
1-2. (a) Hoekom kan ons sê dat die Bybel ’n baie ou boek is? (b) Hoekom is die Bybel vandag nog prakties?
DIE Bybel is ’n baie ou boek. Dit is omtrent 3 500 jaar gelede begin skryf en is amper 2 000 jaar gelede voltooi. En tog is “die woord van God” vandag lewend en kragtig (Heb. 4:12; 2 Tim. 3:16, 17). Miljoene mense sê dat die Bybel hulle al gehelp het om die lewe in hierdie moderne wêreld te hanteer.
2 Maar hoe kan so ’n ou boek vandag nog prakties wees? Daar is twee basiese redes. Eerstens, die Bybel se boodskap kom van die “lewende God,” die alwyse Skepper (1 Tim. 4:10; Rom. 16:26, 27). Tweedens, die Bybel bevat tydlose beginsels. Hierdie beginsels kan ’n persoon help maak nie saak in watter tydperk hy lewe of watter uitdagings hy het nie.
3. Watter vrae sal in hierdie artikel beantwoord word?
3 Wat is Bybelbeginsels? Hoekom is dit vandag vir ons so belangrik? Hoe kan ons beginsels identifiseer wanneer ons die Bybel lees? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord. Ons sal ook sien hoe Jesus se leringe die waarde van beginsels beklemtoon.
WAT IS BYBELBEGINSELS?
4. Wat is Bybelbeginsels?
4 Bybelbeginsels is basiese waarhede waarop God se wette gebaseer is. Soms kan ’n beginsel duidelik in ’n wet gesien word (Matt. 22:37). Maar beginsels is verhewe bo spesifieke wette. Spesifieke wette het dalk beperkte toepassing. Dit word dalk vir ’n spesifieke tydperk of situasie gegee. Maar Bybelbeginsels weerspieël Jehovah se denke in ’n breër sin. Beginsels kan beskryf word as die rede agter die wet. Daar is ’n grondige rede agter elkeen van Jehovah se wette. Maar die beginsels waarop dit gebaseer is, kan in ’n hele paar verskillende omstandighede toegepas word en is tydloos (Ps. 119:111). Wette moet dalk verander, maar beginsels verval nie of word nie outyds nie. – Jes. 40:8.
5. Hoe kan ons die verskil tussen wette en beginsels illustreer? (Sien ook prente.)
5 Om ons te help om die verskil tussen wette en beginsels beter te verstaan, kyk na hierdie illustrasie. ’n Ma sê dalk vir ’n klein kind: ‘Moenie aan die stoof raak nie.’ Dit is ’n bevel of ’n wet. Maar die beginsel, of denke, agter daardie wet is: Moenie aan iets raak wat warm is nie; anders sal jy seerkry. Daardie beginsel is nie net beperk tot ’n stoof nie. Dit kan toegepas word op ’n strykyster, ’n verwarmer of enige ander warm item wat jou kan seermaak. Daardie beginsel is nie net van toepassing in die gesin se huis nie maar is ook oral anders van toepassing. Soos die kind natuurlik ouer word, sal hy heel moontlik die stoof gebruik. Maar hy sal nog steeds versigtig moet wees en nie daaraan moet raak op ’n manier wat hom sal seermaak nie. So die wet verander dalk, maar die basiese beginsel daaragter bly dieselfde.
’n Wet kan verander, maar die basiese beginsel daaragter bly dieselfde (Sien paragraaf 5)
HOEKOM IS BYBELBEGINSELS BELANGRIK?
6. (a) Wat gee Jehovah vir ons in sy Woord? (b) Hoe wys Jehovah dat hy ons vertrou?
6 Omdat Jehovah ons liefhet, gee hy ons spesifieke riglyne in die vorm van wette sodat ons gevaar kan vermy (Jak. 2:11). Hy help ons ook om die beginsels, of die denke, agter daardie wette te verstaan. Deur middel van sy Woord gee hy ons sy leiding op baie gebiede van die lewe wat dalk nie deur spesifieke wette gerig word nie. Bybelbeginsels help ons om goeie besluite in die lewe te maak en om te doen wat reg is. Deur hierdie beginsels vir ons te gee, wys Jehovah dat hy ons vertrou en gee hy ons die vryheid om besluite te maak wat wys dat ons hom en sy standaarde liefhet. – Gal. 5:13.
7. Hoe kan ons die waarde van Bybelbeginsels illustreer? (Sien ook prent.)
7 Om te illustreer hoe Bybelbeginsels ons kan help, dink aan die padtekens wat bestuurders langs hoofweë in party lande sien. Baie van hierdie tekens maak ons bewus van wette wat boetes inhou vir dié wat ongehoorsaam is daaraan. Hierdie tekens sê dalk wat die maksimum spoedbeperking is of sê wanneer ’n bestuurder moet stilhou. Maar baie ander tekens waarsku bestuurders teen moontlike gevare. Byvoorbeeld, hierdie tekens waarsku bestuurders dalk dat die pad glyerig is of dat diere dalk die pad oorsteek. ’n Ervare bestuurder gebruik goeie oordeel en bestuur versigtig wanneer hy tekens sien wat hom teen gevare waarsku. Byvoorbeeld, as dit reën of sneeu, sal die bestuurder aanpassings maak in hierdie gevaarlike toestande. Net so vermy Christene enige gedrag wat spesifiek in God se Woord veroordeel word, maar hulle vermy ook enige gedagtes of dade wat kan veroorsaak dat hulle God se wette verbreek. Hulle het goeie oordeel nodig om dit te kan doen.
Baie padtekens waarsku bestuurders teen moontlike gevare. Bybelbeginsels kan ons op ’n soortgelyke manier help (Sien paragraaf 7)
8. Wat leer ons om te doen wanneer ons na Bybelbeginsels soek, soos genoem word in Romeine 12:1, 2?
8 Maar daar is ander belangrike voordele wat dit inhou wanneer ons na Bybelbeginsels soek en daarvolgens lewe. Byvoorbeeld, ons word opgelei om Jehovah se denke oor dinge te verstaan. Wanneer ons verslae in die Bybel lees, leer ons om na praktiese lesse te soek. Ons vra onsself hoekom Jehovah hierdie lesse in sy Woord laat neerskryf het en hoe ons daarby kan baat vind. Op hierdie manier leer ons hoe om ons “denkvermoë” te gebruik om Jehovah te dien. Ons bewys aan onsself “wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is”. – Lees Romeine 12:1, 2.a
9. Hoe vind ons nog daarby baat wanneer ons volgens Bybelbeginsels lewe? (Hebreërs 5:13, 14)
9 As ons leer om volgens Bybelbeginsels te lewe, help dit ons om volwasse Christene te word. Wanneer ons volgens Bybelbeginsels lewe, verbeter ons verhouding met Jehovah. (Lees Hebreërs 5:13, 14.) Jong kinders het dalk ’n lang lys wette of reëls nodig sodat hulle sal weet hoe om in verskillende situasies op te tree. Hulle is dalk gehoorsaam aan hierdie reëls net omdat hulle bang is dat hulle gestraf sal word. Maar Jehovah behandel ons nie soos jong kinders nie, maar soos volwassenes. Hy vertrou dat ons besluite sal neem wat in ooreenstemming met sy wil is, en wanneer ons dit doen, maak dit sy hart baie bly. – Ps. 147:11; Spr. 23:15, 26; 27:11.
HOE KAN ONS BYBELBEGINSELS IDENTIFISEER?
10. Hoe kan ons Bybelbeginsels identifiseer?
10 Wanneer ons in die Bybel na lesse soek, vind ons beginsels wat ons help om te verstaan hoe Jehovah oor sake dink en voel. Ons kan ook beginsels identifiseer wanneer ons na die redes agter sekere wette soek. Hoe meer ons die redes verstaan, hoe meer verstaan ons Jehovah. Maar om God se denke te verstaan, moet ons tot hom bid vir hulp en moet ons ons eie denkvermoë ontwikkel (Spr. 2:10-12). Ons kan onsself vrae vra soos: ‘Hoekom het God hierdie wet gegee? As Jehovah nie hierdie gedrag goedkeur nie, hoe voel hy oor soortgelyke gedrag? Watter les leer ek uit hierdie Bybelverslag, en hoe kan ek dit in my lewe toepas?’ Sodra ons die redes en die lesse agter die wette en die verslae in die Bybel identifiseer, sal ons goeie besluite in die lewe kan maak – besluite wat in ooreenstemming met Jehovah se wil is.
11. Hoe het Jesus in sy Bergpredikasie vir ons gewys hoe om Bybelbeginsels te identifiseer? (Sien ook prent.)
11 In sy Bergpredikasie het Jesus vir ons gewys hoe ons Bybelbeginsels kan identifiseer. Kom ons ondersoek drie voorbeelde. In elke geval het Jesus eers die wet genoem. Dan het hy die denke, of die beginsel, agter daardie wet geopenbaar. Terwyl ons nadink oor wat Jesus geopenbaar het, sal ons sien hoe hierdie beginsels in ons moderne wêreld toegepas kan word. Terselfdertyd sal ons die praktiese voordele van hierdie lewenslesse sien.
In sy Bergpredikasie het Jesus vir ons gewys hoe om die Bybelbeginsels agter God se wette te identifiseer (Sien paragraaf 11)
12. Wat is een beginsel agter die wet in Matteus 5:21, 22? (Sien ook prent.)
12 Lees Matteus 5:21, 22. “Jy mag nie moord pleeg nie.” Wat is een beginsel agter hierdie wet? Jehovah wil nie hê dat ons ander – in woord, daad of selfs in ons gedagtes – moet haat nie. Jesus het gewys dat ’n persoon, al pleeg hy nie moord nie, nog steeds ongehoorsaam kan wees aan die rede vir daardie wet as hy sy broer haat. As iemand “kwaad bly vir sy broer” of wrede dinge vir hom sê, sal die individu wat kwaad is, nog steeds “aanspreeklik” gehou word. Om die waarheid te sê, dit is die einste gesindhede en dade wat tot moord lei. – 1 Joh. 3:15.
13. Hoe kan ons die beginsel in Matteus 5:21, 22 in ons lewe toepas? (Sien ook prent.)
13 Hoe kan die beginsel in Matteus 5:21, 22 vandag toegepas word? Ons moet dit vermy om vir iemand kwaad te bly of om ’n wrok te koester (Lev. 19:18; Job 36:13). Hoekom? Omdat hierdie gevoelens haat in ons hart kan veroorsaak, wat tot woorde of dade kan lei wat ander kan seermaak (Spr. 10:12). Dit sluit skinderpraatjies en laster in wat die reputasie van ander kan beskadig of vernietig (Spr. 20:19; 25:23). So selfs voordat daar dinge was soos sosiale media, blogs, die internet of apps vir boodskappe, het Jesus ’n beginsel gegee wat volwasse Christene sou waarsku teen die moontlike gevare wanneer hulle hierdie moderne hulpmiddele gebruik. Maar in alle situasies moet ons dit vermy om dinge te sê wat iemand se reputasie heeltemal kan vernietig.
(Sien paragraaf 12-13)
14. Wat is die beginsel agter die wet in Matteus 5:27, 28? (Sien ook prent.)
14 Lees Matteus 5:27, 28. “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Wat is die beginsel agter hierdie wet? Jehovah haat nie net onsedelikheid nie maar ook gedagtes wat tot onsedelike gedrag kan lei. Jesus het verduidelik dat ’n getroude man, as hy aanhou om na ’n vrou (behalwe sy eie vrou) te kyk op so ’n manier dat hy ’n begeerte na haar ontwikkel, gesondig het. So onsedelike gedagtes moet heeltemal vermy word, al beteken dit dat ons ons baie hard moet inspan (Matt. 5:29, 30). Hierdie beginsel is ook op ongetroude Christene van toepassing.
15. Hoe kan die beginsel in Matteus 5:27, 28 vandag toegepas word? (Sien ook prent.)
15 Hoe kan die beginsel in Matteus 5:27, 28 vandag toegepas word? Ons moet dit vermy om aan onsedelike begeertes te bly dink (2 Sam. 11:2-4; Job 31:1-3). ’n Volwasse Christen vermy dan natuurlik alle vorme van pornografie. Hy redeneer nie dat hy nie enige iets verkeerds doen omdat hy maar net na onsedelikheid kyk nie. Hy probeer nie sulke gedrag verskoon deur te sê dat dit net “sagte pornografie” is nie, wat volgens party minder ernstig is as eksplisieter vorme van pornografie. In Jesus se dag was daar nie elektroniese toestelle, flieks of foto’s nie. Maar Jesus het ons ’n beginsel gegee wat ons leer hoe Jehovah voel oor die materiaal wat dalk op sulke moderne toestelle gepubliseer word. Dit help ons om te verstaan dat Jehovah baie ontevrede is met moderne gebruike soos sexting of virtuele aktiwiteite wat seksuele onsedelikheid naboots. Gehoorsaamheid aan hierdie beginsel help ’n getroude persoon om nie bedrieglik teenoor sy of haar huweliksmaat op te tree nie (Mal. 2:15). Dit help ook ander Christene – getroud of ongetroud – om enige iets te vermy wat tot seksuele onsedelikheid kan lei. – Spr. 5:3-14.
(Sien paragraaf 14-15)
16. Wat is die beginsel agter die wet in Matteus 5:43, 44? (Sien ook prent.)
16 Lees Matteus 5:43, 44. “Jy moet jou naaste liefhê.” Wat is die beginsel agter hierdie wet? Jehovah wil hê dat ons almal as ons naaste moet beskou en liefde aan hulle moet betoon. Ongelukkig het die Jode in Jesus se dag hierdie wet verkeerd toegepas en gedink dat dit beteken dat hulle hulle vyande kon haat. Maar Jesus het geweet dat dit nie die bedoeling van hierdie wet is nie. Hy het geweet dat sy liefdevolle hemelse Vader verwag dat ons almal as ons naaste moet beskou, ongeag hulle ras of nasionaliteit. – Matt. 5:45-48.
17. Hoe help dit ons as ons die beginsel in Matteus 5:43, 44 in ons lewe toepas? (Sien ook prent.)
17 Hoe kan ons die beginsel in Matteus 5:43, 44 vandag toepas? Liefde vir ons naaste sal ons beweeg om te weier om betrokke te raak by hierdie wêreld se oorloë en konflikte (Jes. 2:4; Miga 4:3). Dit sal ons help om liefdevol te wees teenoor dié wat van ’n ander ras is of wat ’n ander nasionaliteit of godsdiens het (Hand. 10:34, 35). Dit sal ons ook help om ander te vergewe wat ons of dié vir wie ons lief is, seergemaak het. – Matt. 18:21, 22; Mark. 11:25; Luk. 17:3, 4.
(Sien paragraaf 16-17)
WEES VASBESLOTE OM VOLGENS BYBELBEGINSELS TE LEWE
18. (a) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Ons is baie dankbaar dat Jehovah bereid is om ons soos volwassenes en nie soos klein kinders te behandel nie! Hy wil hê dat ons Bybelbeginsels moet toepas wat ons sal help met die besluite wat ons gereeld maak (1 Kor. 14:20). Wanneer ons daardie besluite maak, laat ons vasbeslote wees om te “probeer verstaan wat die wil van Jehovah is” (Ef. 5:17). Ons liefde vir Jehovah, nie vrees vir straf nie, sal ons help om besluite te maak wat in ooreenstemming met sy wil is. Maar daar is nog ’n gawe wat ons hiermee sal help. Dit is ons gewete. Dit is wat ons in die volgende artikel sal bespreek.
LIED 95 Die lig word helderder
a Daar word dikwels van Christene verwag om Bybelbeginsels mooi te oorweeg. Ons moet verstaan hoe Bybelbeginsels met mekaar en met besluite wat ons dalk moet maak, verband hou. Ons kan ons godgegewe denkvermoë gebruik om gebalanseerde besluite te maak wat Jehovah se goedkeuring en seën sal hê. In die eerste eeu was hierdie manier van aanbidding ’n verandering vir baie Jode wat Christene geword het. Hulle het voorheen volgens die baie reëls gelewe wat deur tradisie voorgeskryf is.