Insig in die nuus
Vloed nie oordryf nie
Die Bybelse verslag van ’n wêreldwye vloed is lank gekritiseer dat dit meer op verdigsel as op feite gebaseer is. Die New Catholic Encyclopedia beweer: “Daar word nou algemeen saamgestem dat die episode van Noë en die ark nie ’n berig van historiese verslaggewing is nie maar ’n denkbeeldige literatuurskepping van heeltemal ’n ander vorm.” Sommige skeptici het aangevoer dat al die vog in die atmosfeer net ’n paar sentimeters reën wêreldwyd sal veroorsaak.
Maar volgens die Genesisverslag was die bron van die vloedwaters nie bloot die vog in die atmosfeer nie. In Genesis 1:6 word ons meegedeel dat die Skepper bepaal het: “Laat daar ’n [atmosferiese] uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters [van die seë] en waters [bokant die uitspansel].” Die waters bokant die uitspansel het klaarblyklik tot die Vloed daar gebly. Volgens die apostel Petrus het ‘die wêreld van [Noag se] tyd oorstroom en vergaan’ deur middel van die atmosferiese “hemel” en die waters daarbo en daaronder.—2 Petrus 3:5, 6, NAV; Genesis 1:7.
Die verwoestende gevolge van ’n watervloed is onlangs in Suid-Afrika ervaar toe ’n oorstroming Natal getref en meer as 300 lewens geëis het. Natuurbewaarder K. H. Cooper het kommentaar gelewer oor die ramp en gesê: “Ek het dikwels gewonder wat in hierdie tyd en eeu sou gebeur as dit 40 dae en 40 nagte lank aanmekaar sou reën. . . . Kon sulke reën feitlik alle lewe op aarde uitgewis het?” Cooper se voorts: “Nadat ek onlangs gesien het wat na slegs vier dae van reën in Natal gebeur het, is ek nou oortuig van die egtheid van die Ou Testament-verhaal.”
Besorg oor die armes?
Hoe kan die gaping wat die armes van die rykes skei, oorbrug word? Dit was die kwessie wat deur pous Johannes Paulus II bespreek is in ’n onlangse ensikliek met die titel Sollicitudo rei socialis (Die maatskaplike bekommernis). Die pous was van mening dat die kerk verplig moet voel om die ellende van die wat ly te verlig. Hoe? “Wanneer ’n mens gevalle van behoeftiges teëkom, kan ’n mens hulle nie ignoreer ten gunste van oorbodige kerkornamente en duur versierings vir goddelike aanbidding nie; aan die ander kant kan dit verpligtend wees om hierdie goedere te verkoop ten einde voedsel, drank, klere en onderdak te voorsien aan diegene wat hierdie dinge kortkom.”
Vatikaandeskundige Domenico Del Rio het egter kommentaar gelewer op die pous se ensikliek en in La Repubblica gesê: “Dit is duidelik dat mense nou sal wag om te sien of die . . . pous self, en diegene om hom, die voorbeeld stel. Die Vatikaanbasilika en die basilikas van Rome is vol ‘duur versierings’, en miskien ook ‘oorbodige kerkornamente’.” Maar volgens die tydskrif Fortune “raak Vatikaanamptenare verontwaardig oor die gedagte om afstand te doen van selfs net ’n Griekse kruik om geld in te samel”.
Toe Jesus ’n ryk heerser aangesê het om ‘alles wat hy het te verkoop en dit aan die armes te gee’, was daardie man nie bereid om dit te doen nie. Hy “het . . . bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad”. Jesus het tereg gewaarsku: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—Markus 10:21, 22; Mattheüs 6:21.