Bewaar ons Christelike eenheid
“STEL jou voor dat jy broer of suster genoem word”, het Katolieke skrywer Domenico Mosso geskryf, “nie deur die priester nie, maar deur die middeljarige man of deur die mooi, jong dame wat so pas regs van jou opgedaag het. ‘Ekskuus?’ ‘Ek het gesê, goeiemôre, broer.’ ‘Hoe durf jy . . . Ek ken jou glad nie. Vanwaar dan hierdie familiariteit? Ons is op stuk van sake in die kerk.’”
’n Ware gevoel van broederskap ontbreek inderdaad in die kerke van die Christendom. Dit weerspieël hulle gebrek aan Christelike eenheid. Dit is egter nie die geval met Jehovah se Getuies nie. Soos vroeë volgelinge van Jesus noem ons mekaar vryelik broer en suster (2 Petrus 3:15). Ongeag waar ons in die wêreld gaan, ’n hartlike, broederlike ontvangs is so naby soos die naaste Koninkryksaal. Eenheid blyk ook uit die feit dat alle gemeentes dieselfde patroon van onderrig volg en dat alle Getuies besig is om die “evangelie van die koninkryk” te verkondig.—Mattheüs 24:14.
Jesus Christus het die aand voor hy gesterf het, gebid: “Ek bid . . . vir die wat deur hulle woord in My sal glo—dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U” (Johannes 17:20, 21). Die Bybelverslag toon dat Jehovah God Jesus se gebed verhoor het. Onder vroeë Christene is die langdurige vyandighede tussen Jode en nie-Jode deur die verenigende krag van Christus se leerstellings verdryf.—Galasiërs 3:28.
Maar dit het inspanning geverg om hierdie eenheid te bewaar. Die apostel Paulus het sy medewerkers dringend versoek ‘om die hemelse roeping waardig te wandel en ernstig te strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede’. Hulle moes nie in verskeie sektes verdeel nie. Nee, “dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal”. Die apostels, herders en leraars in die gemeente is dus voorsien om te help dat ‘almal tot die eenheid van die geloof kom’.—Efesiërs 4:1-6, 11-14.
Hedendaagse getuies van Jehovah het hierdie “eenheid” met welslae bewaar. Maar verskeie faktore—die gees van onafhanklikheid, kultuur- en rasseverskille, verskillende tekortkominge en onvolmaakthede onder mede-Christene—kan ons “eenheid van die geloof” bedreig. Hoe kan dit bewaar word?
Voeding aan dieselfde tafel
Jehovah onderrig nie elke Christen as individu nie. Christus het eerder die “getroue en verstandige dienskneg”-klas aangestel om Skriftuurlike studiemateriaal en tydige raad aan Christene dwarsdeur die wêreld te voorsien (Mattheüs 24:45-47). Die Wagtoring word dus in 103 tale uitgegee om in daardie wêreldwye behoefte te help voorsien.
Voeding aan dieselfde geestelike tafel het grootliks gehelp om eenheid van geloof voort te bring en te bewaar. Maar soms lyk dit dalk asof party van die raad nie in sekere lande van toepassing is nie. Moet ons meen dat ons nie hierdie informasie nodig het nie? Nouliks. Dit het dalk gelyk asof party van Paulus se vermanings aan Christene wat in die onsedelike, afgodsaanbiddende stad Korinthe gewoon het nie heeltemal van toepassing was op Christene wat in die platteland gewoon het nie (1 Korinthiërs 6:15, 16; 10:14). Nogtans het Christene oral Paulus se briewe as deel van die “Skrifte” beskou.—2 Petrus 3:16.
Vandag kan dit eweneens lyk asof sekere artikels nie soveel soos ander op plaaslike omstandighede van toepassing is nie. Ons moet steeds die waarskuwing verwelkom in die wete dat onheilsame neigings wat in een deel van die wêreld begin in ons eeu van vinnige kommunikasie vinnig kan versprei!
Onvolmaakthede en uiterste beskouings
Die apostel Jakobus het gesê: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Weens onvolmaaktheid is mense geneig tot uiterstes. Dit lyk dalk nie na ’n probleem as mense dieselfde beskouings huldig nie. Ter toeligting, twee uiters puntenerige mense kom talk goed oor die weg. Maar as een slordig en die ander puntenerig is, gee dit ’n eindelose getwis af!
Jehovah se Getuies kom “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Gevolglik het individue onder ons moontlik heeltemal verskillende idees oor sake soos dieet, klere, gesondheidsorg en selfs sosiale etiket. Sulke uiteenlopende beskouings hoef ons nie van mekaar te vervreem nie. Die Bybel waarsku teen uiterstes en moedig ons aan om balans en inskiklikheid na te streef. “Die wysheid wat van Bo kom, is . . . vredeliewend, inskiklik”, sê die Bybel.—Jakobus 3:17, NAV.
Die Bybel is weliswaar baie spesifiek wanneer dit sekere gebruike veroordeel. Maar dikwels moedig dit ons bloot aan om ’n middeweg tussen twee uiterstes te volg. Beskou wat die Bybel oor die volgende onderwerpe sê:
Sekulêre werk: “Luiheid laat in ’n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly” (Spreuke 19:15). “Julle kan nie God en Mammon dien nie!”—Mattheüs 6:24.
Gesprekke: “Hy wat sy lippe inhou, handel verstandig” (Spreuke 10:19). “Alles het sy bepaalde uur . . . ’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek.”—Prediker 3:1, 7.
Gesellige verkeer: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry . . . nie.”—Spreuke 25:17.
Die grootmaak van kinders: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging” (Spreuke 13:24). “Moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.”—Kolossense 3:21.
Hoe meer gebalanseerd, pleks van ekstremisties, ons beskouings is, hoe minder sal ons met ander Christene bots. Maar sê nou meningsverskille duik steeds weens onvolmaakthede op. Wat dan? Onthou Paulus se woorde in Kolossense 3:13: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het.”
‘Hy het my laat struikel’
Maar sommige in die gemeente is dalk geneig om uiters liggeraak te wees en om onvriendelike motiewe uit onskuldige woorde en gebare af te lei. Miskien is dit te wyte aan hulle agtergrond. Hoe dit ook al sy, dit is tog te jammer wanneer sulke liggeraakte persone toelaat dat hul aan kleinighede aanstoot neem of, nog erger, ander oor die saak ontstel deur sade van verdeeldheid te saai!
Die Bybel veroordeel weliswaar gedrag wat ander dissipels kan laat struikel (Lukas 17:1, 2). En ryp Christene moet sensitief wees vir die gevoelens van mede-Christene. Die Bybel raai ons terselfdertyd streng af om liggeraak te wees en ergernisse in ons gedagtes te vergroot (Prediker 7:9). Boonop is die saai van ontevredenheid onder ons broers deur iemand se tekortkominge bloot te lê een van die dinge wat ‘Jehovah haat’.—Spreuke 6:16-19.
God se gees kan ons help om liggeraaktheid te bowe te kom. Pleks van oor ons broers se tekortkominge te tob, kan ons, met die hulp van die gees, positiewe, opbouende gedagtes bedink (Filippense 4:8). Dit werk eenheid in die hand.
Eenheid is nie eendersheid nie
Wêreldwye eenheid beteken egter nie dat individualiteit gesmoor of inisiatief onderdruk word nie. Waar Bybelbeginsels van toepassing is, laat vaar ons met graagte die onafhanklike denkpatrone van hierdie wêreld en aanvaar ons die leiding van Jehovah se gees. Wanneer ons ons toewysing as predikers uitvoer, is daar nogtans baie ruimte vir individualiteit en, ja, verbeelding. Trouens, ons broers lê dikwels groot vindingrykheid aan die dag om hulle getuienismetodes by plaaslike omstandighede aan te pas.
Dan is daar ’n wye veld van aktiwiteite waarby Skriftuurlike beginsels nie regstreeks betrokke is nie, waaronder sekere plaaslike gebruike. In die vasteland van Europa groet mense mekaar dikwels met die hand. In dele van die Verre-Ooste buig hulle. Albei is vir Christene aanvaarbaar. Of beskou kleredrag en persoonsversorging. Die Bybel verskaf slegs basiese riglyne van beskeidenheid en balans. Ons kan binne daardie riglyne ons eie smaak volg terwyl ons “gesonde verstand” aan die dag lê.—1 Timotheüs 2:9, 10, vgl. NW.
Ouere manne moet derhalwe versigtig wees om altyd raad te gee wat stewig op Bybelbeginsels berus, pleks van op persoonlike smaak. Wat geestelike sake betref, sal hulle natuurlik die voortou neem om ware eenheid te bevorder. Ons kan ook ons deel doen. Ons kan ‘onsself ondersoek of ons in die geloof is’ deur middel van ’n gereelde studie van die Bybel en die publikasies van die ‘getroue dienskneg’ (2 Korinthiërs 13:5). Ons kan ons eenheid in werke bewaar deur ons geloof vrymoedig ‘in die openbaar bekend te maak’.—Hebreërs 13:15, vgl. NW.
Sodoende sal ons op die geïnspireerde raad ag gee: “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”—1 Korinthiërs 1:10.
[Prent op bladsy 30]
Dit is uiters belangrik vir eenheid dat ons goeie betrekkinge handhaaf, selfs wanneer ’n mens rede het om aanstoot te neem