God se onverdiende goedheid—Moenie die doel daarvan mis nie!
“DIT is werklik die pastor se werk . . . om oor godsdiens te praat”, het een kerklidmaat gesê. (Ons kursiveer.) Ander het erken: “Betreklik min Christene wend ’n poging aan om hulle geloof met ander te deel.” (Ons kursiveer.) Sulke stellings toon duidelik dat die Christelike godsdiens vir die meeste kerkgangers van vandag niks meer as ’n passiewe geloof in God en in Christus as die Messias beteken nie.
Wat is jou beskouing? Jesus se dissipels het hulle geloof met ander gedeel (Lukas 8:1). Moet Christene vandag dieselfde doen? Of wat verwag God wel van verklaarde Christene as hy nie meer vereis dat hulle evangeliste moet wees nie? Het God ’n doel met hedendaagse Christene? Ja! En om hierdie rede is die apostel Paulus se waarskuwing aan die Korinthiese Christene om “die onverdiende goedheid van God nie te aanvaar en dan die doel daarvan te mis nie” vir ons van belang (2 Korinthiërs 6:1, NW). Kom ons kyk waarom.
God se doel word geopenbaar
Die Korinthiese Christene het, soos Paulus, die soenoffer van Jesus Christus aanvaar. Jehovah het hulle vanweë hulle geloof in hierdie voorsiening regverdig verklaar. Hulle aanvaarding van die Messiaanse waarhede wat hulle deur middel van Paulus se bediening ontvang het, het hulle bevry van slawerny aan die valse, heidense en onsedelike gebruike waarvoor eertydse Korinthe bekend was. Jehovah se onverdiende goedheid het vir hulle bevryding beteken. Maar was sulke onverdiende goedheid doelloos?
Nee. Jehovah se doel met hulle bevryding was eerder dieselfde as die doel waarom hy Paulus van die onskriftuurlike tradisies van Paulus se vaders bevry het. Paulus self maak dit duidelik wat daardie doel was: “Waarvan ek ’n dienaar geword het, volgens die gawe van die [onverdiende goedheid] van God wat aan my gegee is . . . om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig.” (Efesiërs 3:7, 8, vgl. NW; vergelyk Galasiërs 1:15, 16.) Ja, die doel van God se onverdiende goedheid was dat sy knegte ware aanbidding moet aanvaar—sy naam, Jehovah, moet verheerlik en dit, net soos Paulus, in die Christelike bediening moet bekend maak.—Romeine 10:10.
Maar toe Paulus sy eerste brief aan die Korinthiërs geskryf het, was dit duidelik dat baie van hulle die doel van God se onverdiende goedheid gemis het. Hoe so? Pleks van ’n vorm van aanbidding te handhaaf wat in God se oë rein en aanvaarbaar is, het hulle toegelaat dat die onsedelike invloed van die inwoners van Korinthe hulle sinne verstomp. Daar was berigte van twis sowel as hoerery onder hulle (1 Korinthiërs 1:11; 5:1, 2). Die meeste van diegene wat aan die gemeente verbonde was, is deur Paulus se raad reggehelp. Paulus wou nogtans nie hê dat enigiets hulle aandag langer van die Christelike bediening moet aflei nie. Hy het hulle derhalwe later daaraan herinner om “die onverdiende goedheid van God nie te aanvaar en dan die doel daarvan te mis nie”.—2 Korinthiërs 6:1, NW.
’n Eertydse voorbeeld
’n Soortgelyke situasie het eeue vantevore ontstaan. In die noordelike lente van 537 v.G.J. het Jehovah God sy uitverkore volk Israel deur middel van die Persiese koning Kores van Babiloniese gevangenskap verlos. Die doel van hulle bevryding is deur Kores self in die volgende bevel geopenbaar: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou!”—Esra 1:1-3.
Ja, dit was Jehovah se bestemde tyd om ware aanbidding in die land Juda te herstel. Daardie gerepatrieerde Jode het as gevolg van Jehovah se onverdiende goedheid die voorreg gehad om sy tempel in Jerusalem te herbou. Die teruggekeerde ballinge het die uitdaging aanvaar, hulle in hul tuisland gevestig en met herstelwerk aan die tempel begin.—Esra 1:5-11.
Hierdie teruggekeerde Joodse nasie het egter kort voor lank toegelaat dat teenstand van buite op hulle werk inbreuk maak. Pleks van die doel van hulle bevryding helder voor oë te hou, het hulle begin sê: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie” (Haggai 1:2). Die herbouingswerk is gevolglik ongeveer 16 jaar geheel en al agterweë gelaat.
Hulle het hul intussen besig gehou met selfsugtige strewes en het meer klem gelê op materiële dinge, vleeslike geriewe, as op die herbouing van die heilige huis van Jehovah (Haggai 1:3-9). In Haggai 1:4 lees ons: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” Jehovah se huis van aanbidding het “in puin” gelê, met slegs ’n fondament, terwyl die Jode gewoon het in hulle huise met goeie dakke en mure wat netjies uit goeie houtpanele gemaak is.
Deur sy profete Haggai en Sagaria het Jehovah die Jode aan die doel van hulle bevryding herinner, en die herbouingswerk is uiteindelik voltooi. Maar enigiemand wat voortgegaan het om materiële besittings hoër te ag as die voorreg om ware aanbidding in Jerusalem herstel te sien, het duidelik die doel van God se onverdiende goedheid gemis.
Die doel van ons bevryding
Wat kan ons vandag leer uit die voorbeeld van die Jode wat in 537 v.G.J. gerepatrieer is en van die Korinthiese Christene in Paulus se dag? As toegewyde knegte van Jehovah God het ons ook ’n bevryding ervaar. Deur sy onverdiende goedheid is ons nie meer slawe van die valse leerstellings en tradisies van Babilon die Grote of van die goddeloosheid van hierdie ou stelsel van dinge nie (Johannes 8:32; 2 Korinthiërs 4:4-6). Sulke bevryding, asook die vryheid wat dit meebring, bied ons die geleentheid om ons waardering vir God se liefde vir ons te toon (1 Johannes 4:9). Hoe?
Deur nie die doel van God se onverdiende goedheid te mis nie. Dit is dieselfde as wat dit vir daardie vroeëre knegte van Jehovah was, naamlik dat ons ware aanbidding moet beoefen. Vandag, soos in Paulus se dag, beteken dit dat ons ‘die evangelie van Christus onder die nasies moet verkondig’ (Efesiërs 3:8, vgl. NW). Almal wat derhalwe die onverdiende goedheid van God aanvaar, moet aan die Christelike bediening deelneem. Dit beteken dat ons as toegewyde knegte van Jehovah God ’n verantwoordelikheid het om die waarheid aan ander bekend te maak, om God se naam te verheerlik en te prys en om hom te dien in aanbidding wat rein en heilig is.—Mattheüs 28:19; Hebreërs 13:15; Jakobus 1:27.
‘Moenie die doel daarvan mis nie’
Is dit moontlik dat enigeen van ons, soos daardie vroeë Christene, die gevaar loop om ‘die doel van God se onverdiende goedheid te mis’? Ja. Talle van ons kom, soos hulle, by die werk of by die skool in noue aanraking met individue wat onsedelik lewe, steel, leuens vertel en oneerlik is en ook baie ander dinge doen wat vir Jehovah God ’n gruwel is (1 Korinthiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21). Dit is dus lewensbelangrik dat ons omgang met sulke persone vermy sodat ons nie ’n liefde vir slegte dinge ontwikkel nie (1 Korinthiërs 15:33). Sulke omgang kan net ’n verswakkende uitwerking op ons geloof hê. Paulus het gepas aan Titus geskryf: “Want die reddende genade [“onverdiende goedheid”, NW] van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.”—Titus 2:11, 12.
Sommige meen dalk dat hulle hul bediening vervul as hulle die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, gereeld aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk deelneem en hulle nie aan onsedelike gedrag van enige aard skuldig gemaak nie. Maar daar is nog ’n faktor wat oorweeg moet word. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here dien nie” (Mattheüs 6:24). Wat het hy bedoel? Dat selfs as ons van ons tyd aan die bevordering van die goeie nuus wy, dit moontlik is dat die najaging van al hoe meer materiële dinge ons hoofbelang in die lewe is. Ons vind dalk weliswaar die vooruitsig op ’n nuwe stelsel van dinge onder Christus Jesus waarlik aanloklik, maar terselfdertyd wil ons miskien hierdie stelsel ten beste benut terwyl dit nog daar is. So ’n gesindheid kan ons aandag net van die ware doel van ons redding aflei. Was dit nie ’n soortgelyke gesindheid teenoor materiële strewes wat die gerepatrieerde Jode se aandag afgelei en hulle verhinder het om die doel van hulle bevryding te vervul nie?
Toon ons werke dat ons die doel van ons bevryding van hierdie goddelose ou stelsel en sy valse godsdiens gemis het? Paulus het vir die Korinthiërs gesê dat “dit [nou] die tyd van die welbehae” is om ander te help om redding te verkry (2 Korinthiërs 6:2, vgl. NW). Paulus se woorde is vandag soveel dringender aangesien die naderende vernietiging van hierdie goddelose stelsel ophande is. Hoewel dit duidelik is dat die meeste kerkgangers van vandag verkies om nie hulle geloof met ander te deel nie, sal Christene wat opregte liefde vir Jehovah God openbaar dit ’n voorreg ag om ’n volle deelname te hê aan die Christelike bediening wat hy aan hulle opgedra het. Almal wat die goeie nuus in hierdie tyd van die welbehae getrou verkondig en Jehovah dien in aanbidding wat rein en heilig is, kan dit doen met die versekering dat hulle ‘die onverdiende goedheid van God aanvaar het en nie die doel daarvan mis nie’.—2 Korinthiërs 6:1, NW.