God se naam en Bybelvertalers
IN 1952 het The Bible Translator ’n bespreking bevat oor die “probleem” om God se naam weer te gee in Bybelvertalings wat in die Christendom se sendingvelde gebruik sou word. Medewerkers het die belangrikheid van die naam in die Bybel erken—die naam kom byna 7 000 keer in die Hebreeuse Skrifte voor. Maar hulle kon nie saamstem oor hoe dit in hedendaagse tale weergegee moet word nie. Sommige was ten gunste van ’n benaming soos “die Ewige”. Ander het die titel “Here” verkies. Niemand het aangeraai dat dit as “Jehovah” of “Jahweh” weergegee word nie. Waarom nie?
Medewerker H. Rosin het twee redes gemeld. In die eerste plek het hy gemeen dat toe die Hebreeuse Bybel oorspronklik in Grieks (die voorchristelike Septuaginta-vertaling) vertaal is die vertalers God se naam met die Griekse woord vir “Here” weergegee het. Tweedens het hy gevrees dat as die naam Jehovah in vertalings ingevoeg word dit “ook die kerk in twee sal skeur”. Want, het by bygevoeg, “is ‘Jehovah se getuies’ nie anti-Trinitariërs nie?”
Wat Rosin se eerste punt betref, argeologiese ontdekkings het hom verkeerd bewys. Trouens, die vertalers van die Septuaginta het nie die goddelike naam met die Griekse woord vir “Here” weergegee nie. Hulle het dit eerder in die oorspronklike Hebreeuse karakters in die Griekse teks uitgeskryf, sodat eksemplare van die Septuaginta-vertaling wat deur die vroeë Christene gebruik is die goddelike naam bevat het.
Interessant genoeg, dit is hoogs onwaarskynlik dat die vroeë Christene die naam uit die aanhaling verwyder het wanneer hulle uit die Septuaginta aangehaal het. Oorspronklike manuskripte van die Christelike Griekse Skrifte (die “Nuwe Testament”) het dus heel waarskynlik God se naam bevat. Professor George Howard het in ’n artikel wat in die Biblical Archaeology Review van Maart 1978 verskyn het, sterk argumente vir hierdie slotsom aangevoer. Hy meld byvoorbeeld “’n bekende rabbynse passasie (Talmoed Sjabbat 13.5)” wat “die probleem in verband met die vernietiging van kettertekste (wat bes moontlik boeke van Joodse Christene ingesluit het) bespreek”. Wat was die probleem? “Die kettertekste bevat die goddelike naam, en die grootskaalse vernietiging daarvan sou die vernietiging van die goddelike naam insluit.”
Maar wat van Rosin se tweede beswaar? Sou die gebruik van God se naam vir die Christendom probleme veroorsaak? Wel, beskou wat gebeur het toe die naam verwyder is. Na die eerste eeu het “Christelike” kopiiste God se naam deur woorde soos “God” en “Here” in beide die Septuaginta en die Christelike Griekse Skrifte vervang. Volgens professor Howard het dit waarskynlik bygedra tot die verwarring wat die Christendom in latere jare ondervind het: “Die verwydering van die Tetragrammaton [God se naam in Hebreeus] het dalk aansienlik bygedra tot die latere Christologiese en Trinitariese debatte waarmee die kerk van die vroeë Christelike eeue geteister is.”
Die verwydering van God se naam uit die Bybel het die Christendom se aanvaarding van die Drie-eenheidsleerstelling beslis baie makliker gemaak. As die Christendom dus die naam in die hele Bybel en in hulle aanbidding herstel, sal dit probleme veroorsaak. Jehovah is, soos hy in die Hebreeuse en Christelike Griekse Skrifte geopenbaar word, duidelik afgeskeie van Jesus Christus en is nie deel van ’n Drie-eenheid nie.
Professor Howard het bygevoeg: “Die verwydering van die Tetragrammaton het waarskynlik ’n ander teologiese klimaat geskep as wat gedurende die Nieu-Testamentiese tydperk van die eerste eeu bestaan het. Die Joodse God wat altyd baie duidelik deur die gebruik van sy Hebreeuse naam van alle ander gode onderskei is, het met die verwydering van die Tetragrammaton van sy kenmerkendheid verloor.” Jehovah se Getuies het God se naam, nie net in die hele Bybel nie, maar ook in hulle daaglikse aanbidding herstel. Hulle maak dus ’n ‘duidelike onderskeid’ tussen die ware God en die valse gode van hierdie wêreld. Sodoende kon hulle die “teologiese klimaat” herstel wat in die eerste-eeuse Christelike kerk bestaan het.