Ek het geregtigheid gevind—Nie in die politiek nie, maar in die ware Christelike godsdiens
Soos vertel dear Xavier Noll
ONGEREGTIGHEID! Dit is iets waarmee ek reeds vroeg in my lewe kennis gemaak het, en ek het as gevolg daarvan gely. As ’n jongmens het ek my afgevra: Ìs ongeregtigheid iets wat maar net verdra moet word? Is daar geen regering op aarde wat ’n einde daaraan kan maak nie? Waar kan geregtigheid gevind word?’ Ek het dit uiteindelik gevind, maar nie waar ek gedink het ek sou nie.
’n Soeke van kleins af
Ek het op die dorpie Wittelsheim in die Elsas, ’n streek in Noordoos-Frankryk grootgeword. My vader het, soos talle ander mans in daardie gebied, in ’n potasmyn gewerk. Daar was reeds in die dertigerjare oproerigheid onder die werkers in die nywerheidswêreld. Ek kan onthou hoe ek as kind aan werkersbetogings deelgeneem het. Ons het vuis in die lug in optogte deur die strate geloop en revolusionêre liedere, soos die sosialistiese “Internationale”, gesing. Die werkers het geregtigheid en beter lewensomstandighede geëis.
Toe die mynwerkers gestaak en die myn beset het, het ek my pa se etes na hom geneem. Ek kan nog onthou hoe bang ek was wanneer ek deur die kordon gewapende nasionale wagte moes loop om my pa sy gamelle (koskan) deur die myntralies aan te gee. Ek was beïndruk deur die baniere met hulle vurige slagspreuke en die rooi vlae wat in die wind gewapper het, sommige met die hamer en sekel daarop.
Vrouens het dikwels voor die mynhekke saamgekom en slagspreuke geskreeu om hulle mans aan te spoor om in die stryd teen die “uitbuiters” te volhard. Ander vrouens het in vrees vir hulle mans se veiligheid geleef. Sommige mans het ondanks hulle antikapitalistiese gevoelens onder die sluier van die nag na die myn weggesluip om genoeg vir kos vir hulle gesin te verdien. My pa het dit ook soms gedoen. Hy het dan ’n rewolwer in sy sak gedra ingeval hy wagte sou teëkom wat op die uitkyk was vir stakingbrekers.
Hitler val Frankryk binne
Ek was 17 toe die oorlog uitgebreek het. Die Nazi’s het Frankryk ’n paar maande later binnegeval. Omdat hulle beweer het dat die Elsas nie alleen besette gebied nie maar ’n deel van die Duitse Ryk is, moes alle jong manne soos ek by Hitler se leër aansluit. Ek het gevolglik, met ’n koffer wat op my rug vasgemaak was, op my fiets voor die naderende invallers uit gevlug. Soms het ek ’n “geleentheid” gekry deur agteraan vragmotors vas te hou wat na die suide op pad was. Aangesien die vlugtelingstrome ’n maklike teiken vir Duitse vliegtuie was, het ek altyd in ’n sloot geduik wanneer ek hulle hoor aankom het.
Ek het die suide van Sentraal-Frankryk, wat nog nie deur die Duitsers beset was nie, bereik. Maar selfs daar het ek ongeregtigheid teëgekom. Ek het hard gewerk as straatveër, kisdraer in begraafplase of in ’n sementfabriek waar ek vragte van 45 kilogram op my rug moes ronddra. Soms het ek 12 uur per dag gewerk vir ’n hongerloon. Die meeste van die noodlenigingsmiddele wat vir ons vlugtelinge bedoel was, is deur die beamptes gesteel wat aangestel was om dit uit te deel.
Teen die einde van 1940 het ek besluit om ook te begin veg om my land te bevry. Ek het na Algerië in Noord-Afrika gegaan en aangesluit by wat daar nog van die Franse leër oor was. Die soldatelewe het my begeerte na geregtigheid ewe min as die burgerlike lewe bevredig, maar ek wou nogtans deel daaraan hê om Europa te bevry. Die Amerikaners het teen die einde van 1942 in Noord-Afrika geland. Maar op ’n dag in 1943 het ek drie van my vingers verloor toe ’n granaatslagdoppie in my hand ontplof het. Ek kon derhalwe nie by die troepe aansluit wat Europa moes herower nie.
Ontnugter deur die handel, politiek en godsdiens
Nadat ek tot die burgerlike lewe in Algerië teruggekeer het, het die skreiende uitbuiting van die een mens deur die ander wat in die arbeidswêreld geheers het my baie verontwaardig laat word. Een van my maats is dood toe by in gevaarlike werkomstandighede ’n dodelike gas ingeasem het. Kort daarna het ek in dieselfde omstandighede amper my lewe verloor. Hierdie handelsfirma het hoegenaamd niks vir die gesondheid of selfs die lewe van sy werkers omgegee nie. Ek moes veg om vergoeding te kry. Die hele situasie het my dwars in die krop gesteek.
Ofskoon ek net 24 was, het ek in ’n ouetehuis beland, waar ek tot die einde van die oorlog gebly het. Terwyl ek daar was, het ek Franse kommunistestryders ontmoet wat aan die begin van die oorlog na Algerië verban is. Ons het goed oor die weg gekom, en hulle het my sonder moeite oorreed om by hulle aan te sluit in hulle stryd teen ongeregtigheid.
Toe die oorlog eers verby was, het ek, vervul van my nuwe ideale na my tuisdorp in die Elsas teruggekeer. Maar dinge het nie uitgewerk soos ek gehoop het dit sou nie. Ek was hewig ontsteld toe ek uitvind dat sommige lede van die Kommunistiese Party nie goeie patriotte tydens die oorlog was nie. Eendag het ’n partybeampte vir my gesê: “Jy weet, Xavier, ons sal nêrens kom as ons net bittereinders aanvaar nie.” Ek het vir hom gesê dat ek nie saamstem nie en teleurgesteld is.
Ek het ook gesien dat diegene wat die meeste met ideale en geregtigheid gedweep het die grootste deel van hulle salaris in die mynkroeg aan drank spandeer het, wat hulle gesin in armoede gedompel het. Maar ek het nogtans vir die Kommunistiese Party gestem omdat die kommuniste myns insiens die meeste gedoen het om geregtigheid vir die arbeidersklas te verkry.
Aangesien ek in my jonger dae ’n Misdienaar was, het die Katolieke priester my kom probeer oorreed om ’n stryder vir die kerk te word. Maar ek het vertroue in die geestelikes verloor. Ek was oortuig dat hulle aan die kant van die heersersklas is. Bowendien het ek geweet dat talle Katolieke priesters in Frankryk tydens die besetting met die Duitsers saamgewerk het. Ek kon onthou dat die Katolieke kapelane patriotisme verkondig het toe ek in die leer was. Maar ek het ook geweet dat Katolieke kapelane in die Duitse leer dieselfde gedoen het. Dit was myns insiens die politici en militêre leiers se werk, nie die geestelikes s’n nie.
Daarbenewens het bitter ondervindinge my geloof in God ’n ernstige knou gegee. My suster is op die dag toe sy 20 geword het deur ’n bom gedood. Ek het destyds vir myself gesê: ‘Waarom laat God, as hy wel bestaan, al hierdie ongeregtigheid toe?’ Maar wanneer ek die vreedsame stilte van ons pragtige platteland geniet het, het dit my diep getref. Ek het dan vir myself gesê: ‘Al hierdie dinge kon tog nie “net gebeur” het nie.’ By sulke geleenthede het ek gebid.
’n Boodskap van hoop
’n Man en ’n vrou van in die dertig het een Sondagoggend in 1947 aan ons deur kom klop. Hulle het met my pa gepraat, wat vir hulle gesê het: “Julle moet liewer met my seun praat. Hy lees alles wat hy in die hande kan kry.” Dit was so. Ek het enigiets gelees, van die kommunistiese koerant L’Humanité tot die Katolieke dagblad La Croix. Hierdie besoekers het my vertel van ’n wêreld sonder oorlog en met geregtigheid vir almal, waar ons aarde ’n paradys sal word. Hulle het gesê dat elkeen sy eie huis sal bewoon en dat siekte en die dood dinge sal wees wat tot die verlede behoort. Hulle het alles wat hulle gesê het met die Bybel gestaaf, en ek kon sien dat hulle dit vas glo.
Ek was 25, en dit was die heel eerste keer dat ek aan ’n Bybel geraak het. Die gedeeltes wat hulle gelees het, het my nuuskierigheid geprikkel. Dit het te goed geklink om waar te wees, en ek wou in my eie verstand helderheid daaroor hê. My besoekers het belowe dat hulle my ’n Bybel sal bring en het ’n boek met die titel Verlossing en ook ’n boekie getiteld “Wees bly, julle nasies” by my gelaat.
Ek het die boekie onmiddellik nadat hulle vertrek het, begin lees. Die getuienis van generaal de Gaulle se niggie aangaande die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies in die Ravensbriickvrouekonsentrasiekamp was vir my ’n ware openbaring. ‘As daar ware Christene is’, het ek vir myself gese, ‘moet dit húlle wees.’ Ek het daardie aand voor ek gaan slaap het die Verlossing-boek deurgelees. Uiteindelik het ek die antwoord op een van die vrae gevind wat my so lank gekwel het: “Waarom laat ’n God van geregtigheid ongeregtigheid toe?”
Ek neem my standpunt vir ware geregtigheid in
Die Getuies het die volgende dag met ’n Bybel teruggekeer, soos hulle belowe het. Aangesien my skouer weens ’n fietsongeluk in ’n gipsverband was, kon ek nie gaan werk nie en het ek dus tyd tot my beskikking gehad. Ek het in net sewe dae die hele Bybel deurgelees en die wonderlike Bybelbeginsels oor geregtigheid en regverdigheid daarin ontdek. Hoe meer ek gelees het, hoe meer oortuig het ek geraak dat hierdie boek van God kom. Ek het begin verstaan dat die stryd om ware geregtigheid tot stand te bring geestelik, nie polities nie, moes wees.—Efesiërs 6:12.
Ek was seker dat al my politieke vriende verheug sou wees om van my nuutgevonde boodskap van hoop te hoor. Hoe teleurgesteld was ek tog toe hulle alles behalwe geesdriftig was! Maar ek móés eenvoudig die goeie nuus aan ’n ieder en elk vertel. Ek het veral daarvan gehou om sekere tekste, soos Jakobus 5:1-4, aan te haal, waar die rykes vir hulle uitbuiting van die arbeiders veroordeel word.
Destyds was ek ’n posbode. Ek het my posbodepet opgesit wanneer ek die huis verlaat het sodat ek my pa, wat vas by sy sienings gebly het, nie omkrap nie, en ek het seker gemaak dat ek dit ophet wanneer ek tuiskom. My pa het eendag vir ’n vriend gesê: “My seun werk die afgelope ruk baie oortyd.” Maar ek het eintlik my pet by ’n vriend se huis gelaat wanneer ek in die predikingswerk uitgegaan het en dit daarna weer opgesit.
Minder as drie maande na my eerste ontmoeting met Jehovah se Getuies, het ek alleen vertrek om ’n byeenkoms in Basel, Switserland, by te woon. Ek het in die middel van die dooptoespraak vir die Getuiedame langs my (wat my goedgunstiglik vir die byeenkoms gehuisves het) gesê dat ek my graag wil laat doop, maar dat ek nie baaiklere het nie. Sy het onmiddellik opgestaan en nog lank voor die einde van die toespraak met ’n baaibroek en handdoek teruggekeer.
Ek brei my bediening uit
Ek het reeds ongeveer 60 uur per maand daaraan gewy om mense in hulle huise te besoek. Maar toe ’n brief wat die pionierdiens (voltydse predikingswerk) aanbeveel by die Koninkryksaal afgelees is, het ek vir myself gesê: ‘Dit is nou mos net vir my bedoel!’
Teen die einde van 1949 is ek na die bekende Mediterreense seehawe Marseille gestuur om daar as pionier te dien. Die lewe was aangenaam in Marseille in daardie dae na die oorlog. Dit was die soort stad waar trembestuurders sou stilhou om nie ’n spel pétanque (rolbal) wat in die straat gespeel is te onderbreek nie. Ek en die ander pionierbroers kon nêrens anders as by ’n losieshuis wat ook deur prostitute gebruik is verblyf vind nie. Dit was nie ’n ideale plek vir Christenbedienaars nie, maar ek moet sê dat hierdie filles de joie nooit iets onvanpas vir ons gesê of teenoor ons gedoen het nie en dat hulle aandagtig na ons boodskap geluister het.
Ons het baie min geld gehad en het ten volle op Jehovah vertrou om in ons materiële behoeftes te voorsien. Wanneer ons saans tuisgekom het, het ons oor ons ondervindinge gesels. Eendag, terwyl ek van huis tot huis gewerk het, het ’n Joego-Slawiese dame tot my verbasing ’n groot kruisbeeld van haar bedkassie afgehaal en dit geesdriftig gesoen om te toon hoe lief sy God het. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en kort voor lank die nutteloosheid van beeldeaanbidding ingesien.
Suster Sara Rodriguez, ’n pionier van Parys, het in November 1952 in Marseille aangekom om met die predikingswerk te help. Ons pionierbroers was almal bly om haar by ons te hê wanneer ons vroue besoek het wat belangstelling in die Bybelwaarheid getoon het. Ek het haar uiteindelik figuurlik gesproke “ontvoer”, want sy het my vrou geword.
In 1954, drie maande na ons troue, het die Genootskap ons genooi om na Martinique in Frans-Wes-Indië te gaan. Ons sou die eerste buitelandse Getuies wees om op hierdie eiland te preek sedert die uitsetting van sendelinge in die vroeë vyftigerjare. Na 17 dae op see het ons uiteindelik daar aangekom, met talle vrae in ons gedagtes. Hoe sou ons ontvang word? Waar sou ons woon? Watter soort kos sou ons eet? Hoe lank sou dit neem om ’n geskikte Koninkryksaal vir ons vergaderinge te vind?
’n Nuwe gebied en ’n nuwe lewe
Die bewoners van Martinique was baie gasvry. Mense het ons dikwels verversings gegee wanneer ons van huis tot huis gegaan het. Trouens, dit was nie ongewoon om vir ’n ete genooi te word nie. Ons het baie Bybellektuur versprei, en hoewel die meeste eilanders nie ’n Bybel gehad het nie, het hulle groot agting daarvoor gehad.
Ons eerste huis was ’n hut met ’n sinkdak. Gedurende die reënseisoen het die skielike stortbuie ons snags laat wakker skrik as die reën op die dak gekletter het. Kraanwater was net twee of drie keer per dag beskikbaar. Daar was nie ’n badkamer nie. Ons het ’n stortbad geneem deur in ons agterplasie in ’n leë olievat te staan, terwyl ons beurte gemaak het om water oor mekaar te gooi. Ietwat primitief, maar baie welkom na ’n lang dag buite in die son!
Sara moes haar by die plaaslike kookkuns aanpas en leer om broodvrug voor te berei. As ’n kind het ek altyd gedink dat daar brode aan die takke van die broodboom hang. In werklikheid is hierdie boom se vrug meer soos ’n groente. Dit kan soos aartappels voorberei word. Ons het dit destyds saam met skilpadeiers geëet. Dit was heerlik, maar vandag is sulke eiers ’n lekkerny. Broodvrug is ook lekker saam met vleis of vis.
Ons het die materiële probleme oorkom, en ryk geestelike seëninge het ruimskoots vir enige ontberinge vergoed. Toe ek eendag by die huis kom, het ek vir Sara gesê dat ek ’n Koninkryksaal met sitplek vir honderd mense gevind het. “Wat gaan dit ons kos?” het sy gevra. “Die eienaar het gesê ek moet die prys vasstel”, het ek geantwoord. A1 wat ons destyds kon aanbied, was die belaglike bedrag van 10 frank per maand. Die man het dit gelukkig aanvaar.
Ons het hoë verwagtings van uitstekende vergaderingbywoning gekoester omdat mense altyd gesê het: “As julle ’n saal het, sal ons julle vergaderinge bywoon.” Maar ons het baie maande lank ’n gemiddelde opkoms van net tien gehad. Volharding het egter vrugte afgewerp, en vandag is daar 24 gemeentes op die Blomme-eiland, soos Martinique bekend staan, met altesaam sowat 2 000 Getuies.
Oorvloedige seëninge
Teen die einde van 1958 het ek op versoek van ’n jong student na Frans-Guiana gegaan. Na ’n seereis van tien dae op ’n klein vaartuig wat die Nina genoem is, het ek by Saint Laurent, ’n hawe aan die Maronirivier, begin preek. Daar het ek verskeie gewese gevangenes ontmoet wat aangebly het nadat Frankryk die strafkoloniestelsel in 1945 afgeskaf het. Toe is ek na Cayenne om die jong man na wie ek gekom het te gaan besoek. Hy en verskeie ander persone wat tydens my verblyf in Frans-Guiana op ons tydskrifte ingeteken het, is nou bedrywige knegte van Jehovah.
Ek en my vrou is verskeie kere na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn genooi vir verskillende opleidingskursusse wat altesaam meer as ’n jaar geduur het. Daar het ek inderdaad gesien hoe die Bybelbeginsels van geregtigheid en gelykheid onder God se volk toegepas word. Dié wat verantwoordelike posisies beklee, eet aan dieselfde tafels as jongmense wat in die fabriek werk en ontvang dieselfde geringe vergoeding. Ja, geregtigheid en gelykheid—my droom van kleins af—is daar ’n lewende werklikheid.
Ek is nou 65 en is reeds 40 jaar in die voltydse dims. Ek en my vrou het baie van daardie jare daaraan gewy om Martinique op motorfietse te fynkam en die goeie nuus van Jehovah se nuwe stelsel van dinge wat op geregtigheid gegrondves is te verkondig. Ons werk nou by die tak in ’n kantoorgebou wat oor Fort-de-France se pragtige baai uitkyk. A1 hierdie jare in God se organisasie het ons ’n belangrike les geleer. Ware geregtigheid, sonder enige rasse-, stam- of godsdiensgrense, kan net onder God se volk gevind word. Ons koester saam met diegene wat ons oor die jare heen die waarheid sien aanvaar het die hoop om binnekort op ’n nuwe aarde te lewe waarin geregtigheid sal woon.—2 Petrus 3:13.