Verheerlik Jehovah se naam in die eilande van die see
STEL jou voor hoe verbaas ’n ontdekkingsreisiger moet wees wanneer by op ’n “onbekende” eiland voet aan wal sit en sy land se vlag daar in die ope aantref. John Williams, ’n lidmaat van die Londense Sendinggenootskap, is vroeg in die 19de eeu op soortgelyke wyse verras met sy aankoms op Rarotonga, een van die eilandjies wat die Cook-eilande in die suide van die Stille Oseaan uitmaak. Hy het op hierdie eiland, waar hy gedink het hy die eerste verteenwoordiger van die Christendom is, ’n altaar ter ere van Jehovah en Jesus Christus gevind. Die verslag oor sy sendingreise gee die volgende verduideliking:
’n Paar jaar voor Williams se aankoms het ’n vrou van Tahiti gekom en met die inwoners gepraat oor die wonders wat sy in haar geboorteland gesien het. Sy het hulle vertel van die bestaan van Witmense wat Cookees (na kaptein Cook) genoem word. Sy het beskryf dat hulle metaalgereedskap, pleks van beengereedskap gebruik het om bome af te kap en om kano’s baie maklik en vinnig te maak. Maar sy het ook vir hulle vertel dat die Witmense die God Jehovah en Jesus Christus aanbid. Die koning van die eiland se oom was so besield dat by besluit het om ’n altaar en ’n marae te bou wat aan hulle toegewy is.a Op hierdie manier was God se persoonlike naam op die Polinesiese Eilande voor die Christendom se sendelinge daar opgedaag het.
Jehovah—’n naam wat in die begin welbekend was
Toe die sendelinge van die Christendom hulle godsdiens aan die mense van Polinesië begin verkondig het, het hulle ontdek dat talle gode op daardie eilande aanbid word. Om enige verwarring met hierdie gode te vermy het hulle begin om die allerhoogste God by sy naam te noem, pleks van by ’n titel soos Here, die Ewige of selfs Atua, die woord vir “God” in die meeste Polinesiese tale. Die bewoners van hierdie eilande het dus geleer om tot Jehovah te bid deur sy persoonlike naam te gebruik.
Later het die eerste vertalings van die Bybel in die plaaslike tale verskyn. Dit was logies dat hulle die persoonlike naam van God gebruik het: Iehova in Hawaiïes, Rarotongees, Tahitiaans en Niueaans; Ieova in Samoaans; en Ihowa in die Maori-taal. Nog merkwaardiger is dat die naam in talle vertalings selfs in die Christelike Griekse Skrifte (Nuwe Testament) verskyn het.
Die ouer geslag Maori’s in Nieu-Seeland kan nog onthou toe Jehovah se naam algemeen gebruik is —veral op die marae. By amptelike geleenthede was aanhalings soos “die vrees vir Jehovah is die begin van wysheid” deel van die openingsrede wat besoekende hooggeplaastes verwelkom het. Die naam is vryelik in kerkdienste dwarsdeur Polinesië gebruik. Tot vandag toe ken bejaardes God se naam in hulle plaaslike taal. Dit is egter nie die geval met talle van die jonger geslag wat van die tradisionele leefwyse weggedryf het nie.
Pogings om die naam te verdoesel
’n Paar van die Polinesiese vertalings is mettertyd hersien. Net soos dit die geval was met verskillende hersienings wat in Europa en in Noord-Amerika gemaak is, was een van die belangrikste veranderinge die verwydering van die naam Jehovah (of sommige van die talle ekwivalente daarvan). Dit is gevolglik vervang deur Alii (Here) in die hersiene uitgawe van die Somoaanse Bybel wat in 1969 verskyn het, en ’n soortgelyke hersiening is in Niueaans beplan.
Die inwoners van Polinesië aanbid weliswaar nie meer hulle gode of afgode soos in die verlede nie, nie eens Io van die Verborge Gesig, die voormalige oppergod van die Maori’s, nie. Maar gee dit Bybelvertalers enigsins die reg om die God van die Bybel naamloos te maak deur sy naam deur ’n blote titel te vervang? Is hierdie naam vandag van minder belang? Beslis nie, aangesien Jesus self sy dissipels in die modelgebed geleer het om allereers te bid dat God se naam geheilig word.b
Verdediger van die naam
Ondanks hierdie onlangse verwikkelings sal die naam Jehovah nie in Polinesië verdwyn nie. Waarom nie? Omdat Jehovah se Getuies, net soos in alle ander lande, die bewoners van hierdie eilande gereeld besoek om daardie naam aan hulle bekend te maak. Meer as 16 000 Getuies in hierdie deel van die wêreld neem tans aan hierdie belangrike werk deel, en hulle toon vir hul medemens hoe belangrik dit is om juiste kennis van God se Woord te hê en om daardie kennis toe te pas. Dit is wat dit beteken om God te aanbid en sy naam te heilig.—Johannes 4:21-24.
[Voetnote]
a Die marae was oorspronklik ’n heilige omheinde plek wat vir godsdienstige en sosiale doeleindes gebruik is. Vandag het dit gewoonlik betrekking op ’n stamvergaderplek.
b Die modelgebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het (dikwels die Onse Vader genoem) begin met hierdie woorde: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”—Mattheüs 6:9.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Hawaii
Samoa
Niue
Tahiti
Rarotonga
Nieu-Seeland
[Prente op bladsy 15]
Tutuila, Amerikaans-Samoa
Gunn-meer, Nieu-Seeland
Savaii, Wes-Samoa
Avatelestrand op Niue