Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 24-26
  • Deel 7—Die laaste van die groot wêreldmoondhede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 7—Die laaste van die groot wêreldmoondhede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “horinkie”
  • Die drie horings
  • ’n Tweeledige moondheid
  • Nuwe wêreldwye heerskappy
  • Stel geloof in die Koninkryk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Wie kan teen die Vors van die vorste staande bly?
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Wie gaan oor die wêreld heers?
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • ’n Profetiese reus—Wat sal sy val beteken?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 24-26

Deel 7—Die laaste van die groot wêreldmoondhede

Toe die Bybelboek Openbaring ongeveer 1 900 jaar gelede geskryf is, het dit gesê dat vyf “konings”, of wêreldmoondhede, reeds gekom en gegaan het. Hulle was Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die sesde, Rome,‘was’ nog, maar die sewende het nog nie gekom nie (Openbaring 17:10). Wat was daardie sewende wêreldmoondheid? Hoe het dit tot stand gekom? En wat sal daarop volg? Die antwoorde op hierdie belangrike vrae is die onderwerp van hierdie artikel.

DIE belangrikste oorsig van wêreldgeskiedenis oor die afgelope 2 500 jaar is vooruit gegee in die mees wydverspreide boek wat die wêreld ooit geken het. Nogtans het betreklik min mense wat ’n eksemplaar van daardie boek, die Bybel, besit enige idee van die verstommende informasie wat dit bevat.

Die profeet Daniël het byvoorbeeld meer as 500 jaar voor die geboorte van Jesus Christus ’n goddelik geïnspireerde gesig opgeteken waarin die groot wêreldmoondhede sedert sy tyd deur sterk diere afgebeeld is. Elke dier het die eienskappe gehad van die wêreldmoondheid wat dit afgebeeld het. Die magtige Romeinse Ryk is as ’n groot dier beskryf wat “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk” is. Daniël het gesê: “Dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.”—Daniël 7:2-7.

Die “horinkie”

Die Romeinse Ryk het mettertyd uitgebrei en ’n gebied gedek wat gestrek het van die Britse Eilande of oor die grootste gedeelte van Europa, die hele pad rondom die Middellandse See en verby Babilon tot by die Persiese Golf. Hierdie magtige ryk het uiteindelik in talle nasies verbrokkel—in die “tien horings” wat Daniël gesien het.a Toe het Daniël gesien hoe “’n ander horinkie tussen hulle op[kom], en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel” (Daniël 7:8). Wat het dit beteken?

Daniël is meegedeel: “En die tien horings—uit daardie [Romeinse] koninkryk sal tien konings opstaan, en ’n ander een [die “horinkie”] sal na hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp” (Daniël 7:24). Wie was die “horinkie”, en wie was die drie konings wat hy neergewerp het?

’n Eiland bo in die noordwestelike hoek van die Romeinse Ryk het lank buite wêreldaangeleenthede gebly. Soos een geskiedskrywer verduidelik het: “In die sestiende eeu was Engeland ’n minderwaardige moondheid. Sy rykdom was klein in vergelyking met dié van die Nederlande. Sy bevolking was baie minder as dié van Frankryk. Sy weermag (waaronder sy vloot) was ondergeskik aan dié van Spanje.” Maar Engeland het ’n vername vloot opgebou, en sy seerowers en kapers het begin om Spanje se kolonies te stroop en sy swaar belaste skatskepe te kaap.

Die drie horings

In 1588 het Filips II van Spanje die Spaanse Armada gestuur om sy Engelse folteraars aan te val. Hierdie vloot van 130 skepe wat meer as 24 000 man gedra het, het stadig met die Engelse Kanaal opgevaar, maar het toe die slagoffers geword van teenwinde en hewige Atlantiese storms. In Modern Europe to 1870 skryf geskiedskrywer Carlton Hayes dat hierdie gebeurtenis meegebring het dat “Engeland, in plaas van Spanje, beslis die heersende vlootmag geword het”.

In die 17de eeu het die Nederlanders verreweg die grootste handelsvloot in die wêreld opgebou. Hulle skepe het die seë oorheers, en hulle het hul winste aan regerings wyd en syd uitgeleen. Maar Engeland het hier ook, vanweë sy groeiende buitelandse kolonies, die oorhand gekry.

Toe, in die 18de eau, het die Britte en die Franse in plekke so ver uitmekaar soos Noord-Amerika en Indië geveg, en dit het in 1763 tot die Verdrag van Parys gelei. William B. Willcox het in sy boek Star of Empire—A Study of Britain as a World Power geskryf dat hoewel die verdrag skynbaar ’n kompromis was, “dit in werklikheid Brittanje se nuwe posisie as die oorheersende Europese moondheid in die wêreld buite Europa erken het”.

Ander geskiedskrywers stem daarmee saam en sê: “Groot-Brittanje het na twee eeue van oorlogvoering met Spanjaarde, Nederlanders en Franse in 1763 as die belangrikste handels- en koloniale mag in die wêreld verrys” (Modern Europe to 1870). “In 1763 het die Britse Ryk die wêreld soos ’n herrese en vergrote Rome oorheers.” “Dit het uit die mideeuse oorloë verrys as die grootste ryk en die sterkste—en die mees gehate—moondheid ter wêreld” (Navy and Empire, deur James L. Stokesbury). Ja, hierdie “horinkie” het gegroei en die sewende wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis geword.

Die Britte het met die Nyl langs en tot oorkant die Zambezi-rivier voortgeruk. Hulle het Bo-Birma, Noord-Borneo en eilande van die Stille Oseaan ingeneem. Verder het hulle Kanada, Australië, Nieu-Seeland en die oostelike kus van Noord-Amerika gekoloniseer. “Die Romeinse Ryk was afgesonderd”, skryf James Morris in Pax Britannica. “Die Britse Ryk is dwarsdeur die aarde verkondig.” Dit het die grootste ryk in die geskiedenis van die mensdom geword en het byna ’n kwart van die aarde se landoppervlak en meer as ’n kwart van sy bevolking ingesluit. Daar is gesê dat die son nooit oor sy gebied ondergegaan het nie.

’n Tweeledige moondheid

In die boek Openbaring word hierdie sewende wêreldmoondheid ook met ‘twee horings net soos ’n lam’ beskryf (Openbaring 13:11). Waarom twee horings? Want die Britse Ryk en die nuwe Amerikaanse nasie, wat deur gemeenskaplike taal, beginsels en beleid verenig is, het spoedig saamgewerk. Hulle het in talle opsigte ’n tweeledige, Engelssprekende wêreldmoondheid geword.

William B. Willcox wys in Star of Empire daarop dat die Verenigde State in die 19de eeu “deur die Britse vloot van Europa afgesonder” is. Hy voeg by: “Die Verenigde State kon ’n eeu lank tot ’n groot moondheid groei sonder om ooit, behalwe in sy burgeroorlog, die leër of vloot te hê waarvoor elke ander groot moondheid bekend was.” Amerika “kon afsondering bekostig omdat die Koninklike Vloot sy buffer teen Europese moondhede was”. Later het die Verenigde State ook ’n groot militêre moondheid geword.

’n Kenmerkende voorbeeld van die gesamentlike aktiwiteit van Brittanje en Amerika het op 6 Junie 1944 plaasgevind toe die loop van die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Europa ’n ander wending geneem het. Op daardie dag het 156 000 Britse, Amerikaanse en ander Geallieerde troepe die Europese vasteland binnegeval. Hierdie gekombineerde troepe was onder die opperbevel van ’n Amerikaanse generaal en die krygsbevel van ’n Britse veldmaarskalk—Eisenhower en Montgomery onderskeidelik. Boonop was die atoombomme wat die oorlog met Japan beëindig het die gevolg van ’n gesamentlike poging deur Britse en Amerikaanse wetenskaplikes.

Soos die Los Angeles Times van 5 Mei 1986 getoon het, het Brittanje en Amerika selfs in vredestyd “op sulke sensitiewe gebiede soos geheime inligting en kerntegnologie” saamgewerk. Kanada, Australië en Nieu-Seeland het later by hulle aangesluit, en hulle het “die aarde verdeel in gebiede waarin elk verantwoordelik was vir die inwinning van geheime inligting en het ingestem om selfs die mees geheime inligting met mekaar te deel”. Hierdie koerant het gesê dat hoewel die verhouding “nie altyd glad verloop het nie”, dit “bekender was vir die hegtheid daarvan eerder as die struwelinge”.

Die meeste van Brittanje se kolonies het onafhanklikheid verkry en by die Statebond aangesluit. Hoewel die ryk tot die verlede behoort, bestaan die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid nog. Maar dit sal net “’n kort tydjie” bestaan, in vergelyking met die eeue waartydens die voorafgaande Romeinse moondheid geheers het.—Openbaring 17:10.

Nuwe wêreldwye heerskappy

Daniël se profesie oor die groot wêreldmoondhede is deur 2 500 jaar van wêreldregering heen waar bewys—van voor 500 v.G.J. tot en met die sewende wêreldmoondheid in ons dag. Ons kan dus vertroue in die res van daardie profesie hê. Die verstommende feit is dat dit geen verdere menslike wêreldmoondhede beskryf nie! Openbaring het ook aangedui dat daar net sewe sou wees.b Wat sal dan volgende gebeur?

Hoofstuk 7 van Daniël, wat hierdie wêreldmoondhede bespreek, beskryf voorts iets selfs verstommender—’n groot verandering in die manier waarop die aarde regeer word! Mislukte menseheerskappye gaan beëindig word en deur ’n regverdige, hemelse vervang word.

In die gesig wat aan Daniël gegee is, is hy toegelaat om die luisterryke, hemelse troon van die “Oue van dae”, Jehovah God, te sien. “Een . . . soos die Seun van ’n mens”—die verrese Jesus Christus—is voor hierdie “Oue van dae” gebring.c Daniël vertel: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk [in teenstelling met mislukte mensekoninkryke] een wat nie vernietig sal word nie.”—Daniël 7:9, 10, 13, 14.

’n Vroeëre profesie wat aan Daniël gegee is oor dieselfde wêreldmoondhede het gesê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie [mense]koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan . . . en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”—Daniël 2:44, 45.

Hierdie Koninkryksregering deur God is dieselfde een waarvoor Jesus ons geleer bid het. Hy het gesê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.

Hoe gelukkig sal die aarde se bewoners tog onder daardie regering wees! Dit sal ’n verandering wees van uitbuiting deur mense tot goddelike geregtigheid, van die mens se onvolmaakte handelwyse tot God se allerhoogste standaarde. Wat die Bybel oor die werking van die Koninkryk sê, sal die onderwerp van ’n toekomstige artikel in hierdie reeks wees.

[Voetnote]

a Die horing, ’n formidabele wapen, word dikwels in die Bybel gebruik om heersers en heersende dinastieë af te beeld.—Deuteronomium 33:17; Sagaria 1:18-21; Openbaring 17:3, 12.

b Openbaring 17:11 (vgl. NW) meld ’n “dier” wat “die agtste [koning is], en hy behoort by die sewe”. Hierdie agtste moondheid wat gedurende die tyd van die sewende sou bestaan, sal in ’n later artikel bespreek word.

c Die uitdrukking “Seun van ’n mens” word byna 80 keer in die Evangelieverslae gevind, en in elke geval slaan dit op Jesus Christus.—Kyk Mattheüs 26:63, 64.

[Prent op bladsy 26]

Die Geallieerdes se inname van Europa op 6 Junie 1944 was ’n kenmerkende voorbeeld van Anglo-Amerikaanse samewerking

[Erkenning]

Foto: Amerikaanse kuswag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel