Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 4/1 bl. 4-7
  • Hoe gesinsbande versterk kan word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe gesinsbande versterk kan word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verstaan die redes
  • Waar die nodige hulp gevind kan word
  • Pas Bybelbeginsels toe
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ouers, kinders—Kommunikeer met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Waarom is daar soveel wegloopkinders?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 4/1 bl. 4-7

Hoe gesinsbande versterk kan word

Daar is talle en dikwels ingewikkelde redes waarom jeugdiges die huis verlaat. Hoewel hierdie artikel hulle nie breedvoerig kan bespreek nie, toon dit wel dat Bybelbeginsels, wanneer dit toegepas word, kan help om die gesin bymekaar te hou.

DIT is moeilik om vas te stel presies hoeveel kinders van die huis wegloop. Gepubliseerde skattings wissel van 600 000 tot 3 000 000 vermiste kinders per jaar in die Verenigde State alleen. Sulke skattings tref dikwels geen onderskeid tussen kategorieë soos weglopers, weggejaagdes, verworpenes en kinders wat ontvoer is deur geskeide ouers wat nie die wettige versorgers is nie. Dit is dus uiteraard net skattings, want kinders wat deur hulle ouers verlaat is, word nie as vermis aangemeld nie, en sommige kinders loop gereeld weg. “’n Sestienjarige wat vyf keer per jaar wegloop en elke keer wat hy wegloop, uitslaap, sal as vyf vermiste kinders in die statistiek aangegee word”, sê The New York Times.

Selfs belangriker as getalle is die redes waarom kinders die huis verlaat. “Wanneer ’n kind wegloop, is dit meestal ’n simptoom van wanfunksionering in die huislike milieu”, sê die tydskrif Medical Aspects of Human Sexuality. Dit kan die gevolg wees van probleme wat reeds bestaan, soos liggaamlike mishandeling, verwaarlosing, ’n gebrek aan liefde, egskeiding, onredelike eise of streng en onbuigsame reëls. Of dit kan te wyte wees aan vrees vir die gevolge, soos in geval van swangerskap of botsings met die gereg. Wanneer hulle gevra word waarom hulle die huis verlaat het, gee die meeste weglopers redes wat met hulle verhouding met hulle ouers verband hou. “Die verhouding tussen ouer en kind is blykbaar ’n faktor wat die wegloper se gedrag in groot mate beïnvloed”, sê die tydskrif Adolescence. Dit voeg by: “Weglopers sê dat swak ouer-kind-verhoudinge, ernstige gesinskonflikte, vervreemding van ouers, onderlinge spanning en swak kommunikasie met ouers vername faktore was wat hulle van die huis laat wegloop het.”

Verstaan die redes

Ons lewe in spanningsvolle tye. “Die toename in werkloosheid en die feit dat al hoe meer gesinne in geldnood verkeer, laat gesinspanninge en probleme toeneem”, sê die tydskrif Ladies’ Home Journal. “Wanneer ’n vader afgedank word en ’n verband onbetaal bly, voel die hele gesin die spanning. Jongmense wat nog nie geleer het om hierdie druk te verwerk nie, wend hulle tot weglopery as ’n manier van ontvlugting.” Soms jaag die ouers self hulle kinders onwetens weg. Hulle beveel hulle kinders dalk driftig om hulle besluite te aanvaar of anders die huis te verlaat. Omdat hulle daaglikse ekonomiese stryd hulle irriteer en uitput, het hulle min energie oor om aandag aan hulle kinders te skenk.

Daarby is adolessensie op sigself spanningsvol. Terwyl hulle sukkel om volwassenes te word, is tieners in ’n tweestryd oor die behoefte aan die veiligheid en sorg wat hulle as kinders ontvang het en die gevoel dat hulle onafhanklik van hulle ouers is. Dit laat hulle verward en bang voel. Daarbenewens vind liggaamsveranderinge plaas. Hulle lewe het meteens baie ingewikkeld geword, en dit voel dalk vir hulle asof dinge te veel raak. Hulle ondervind druk deur hulle ouers en portuurs. By tye ondervind hulle ook ’n gebrek aan selfvertroue en is hulle bedruk. “Terwyl jy nog probeer om jouself te verstaan, moet jy nie verbaas wees as jy soms dink dat jy tuis misverstaan word nie”, maan die tydskrif ’Teen. “Trouens, hoe kan jou ouers weet wat jy op die hart het as jy jouself nie kan verstaan nie?” Talle ouers is, veral wat hulle eerste kind betref, onseker oor hoeveel vryheid hulle hul kinders moet gee. Te min vryheid en ’n gebrek aan begrip het veroorsaak dat talle jeugdiges wegloop.

“Maar weglopery los niks op nie”, sê skryfster Judy Blume in haar boek Letters to Judy. “Weglopery is ’n simptoom, nie ’n oplossing nie. Gesinne moet eerder saam gaan sit en die feite onder die oë sien. Hulle moet realisties wees. Slegs dan kan hulle die veranderinge aanbring wat hulle sal help om in vrede saam te woon. En dikwels het hulle hulp nodig om dit te kan doen.”

Waar die nodige hulp gevind kan word

Die beste bron van daardie hulp is God se Woord, die Bybel. Hoe so? Omrede God, as die mens se Skepper, weet wat die beste vir sy skepping is. En met daardie doel voor oë het hy ons van onderrig voorsien, “tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). Bybelbeginsels is prakties, en hulle dek elke aspek van die lewe.

Maar soos ons reeds gesien het, moet elke gesinslid bereid wees om die feite onder die oë te sien en veranderinge aan te bring. Sonder hierdie besef en begeerte sal daar geen verbetering wees nie en sal die ontvlugtingsdrang voortduur. Dit geld in die besonder vir gesinne wat probleme met alkohol, dwelms en geslagsmisbruik ondervind. Dit moet oorkom word voordat aandag aan die gewone lewensprobleme geskenk kan word. Geloof in God en ’n opregte begeerte om hom te behaag, met juiste kennis van sy Woord as grondslag, het talle gesinne gehelp om tragiese situasies, wat jeugdiges in ander gesinne laat wegloop het, te oorkom.—Vergelyk 1 Korinthiërs 6:9-11.

Die lewe in hierdie moderne wêreld met sy toenemende selfsug, wantroue en misdaad wat die hoogte inskiet, kan op sigself gesinsbande strem. Daarom is “alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, . . . opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees”.—Romeine 15:4, NAV.

Pas Bybelbeginsels toe

Bybelbeginsels kan toegepas word as ’n mens kennis het van die faktore wat ’n kind beweeg om weg te loop. Die Bybel dek hierdie faktore deur ouers aan te raai om die nodige gehalte-tyd en konsekwente, liefdevolle onderrig aan hulle kinders te gee. Albei uiterstes, gebrek aan belangstelling en te streng dissipline, moet vermy word. God se Woord maan: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4; Spreuke 22:6.

Soos in Bybeltye moet ouers voortdurend, ‘as hulle in hul huis sit, as hulle op pad is, as hulle gaan lê en as hulle opstaan’, behoorlik toesig hou, aandag skenk en onderrig gee (Deuteronomium 11:19). Hoewel dissipline by tye nodig is, moet dit in liefde uitgeoefen word (Spreuke 13:24). Dit sal beslis tot gesinsgeluk bydra as sulke raad toegepas word!

Kinders moet ook hulle deel doen: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:1, 2). Die eertydse wyse man Salomo, wat geskryf het “om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg”, het ook gemaan: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; . . . as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie.”—Spreuke 1:1-10.

Hoe moet gesinsprobleme hanteer word? In liefde, want die Bybel vermaan: “Laat alles by julle in liefde geskied” (1 Korinthiërs 16:14). Dit moet ’n diepgewortelde liefde wees wat bereid is om ’n ander se onvolmaakthede en eienaardighede, wat jou andersins kan irriteer en op jou senuwees kan werk, oor te sien. “Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê”, sê die Bybel, “want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.”—1 Petrus 4:8.

Sulke liefde stel ook belang in ander se geluk en welstand en bring die gesinslede nader aan mekaar. Let op dat die sogenoemde gulde reël positief was: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). In een studie het die meeste wegloopkinders wat ondervra is, gesê dat hulle gesinsbetrokkenheid minimaal was voor hulle die huis verlaat het. “‘Onttrekking aan die gesin’ is ’n belangrike faktor by die besluit om van die huis weg te loop en weg te bly”, sê Adolescence. Maar as daar gehoor gegee word aan die Bybel se raad om nie “net elkeen aan sy eie belange [te] dink nie, maar ook aan die van die ander” sal ’n gesin meer tyd saam deurbring en die probleme ten opsigte van swak verhoudinge, vervreemding en swak kommunikasie oorkom kan word (Filippense 2:4, NAV). Met innigheid en belangstelling in die huis sal die invloed van portuurs wat ’n kind kan laat wegloop minimaal wees.

As Bybelbeginsels toegepas word, sal weglopery van die huis nie meer na die oplossing vir die lewensprobleme lyk waarvoor ons almal te staan kom nie. Deur die liefdevolle steun van individuele gesinslede word die gesin ’n toevlugsoord te midde van die druk van die buitewêreld. ’n Vollediger begrip van Bybelbeginsels en die toepassing daarvan, tesame met die hoop wat God gee, sal daardie geluk vergroot. Jy kan Jehovah se Getuies gerus toelaat om dit met jou te bespreek.

[Venster/Prent op bladsy 7]

WAT OUERS KAN DOEN

Bestee tyd aan julle kinders; wees bewus van hulle probleme en behoeftes

Wees bestendig met julle aandag en toesig

Gee dissipline en onderrig in liefde

Maak die huis ’n gelukkige plek

WAT KINDERS KAN DOEN

Gehoorsaam julle ouers en wees liefdevol en eerbiedig teenoor hulle

Vermy afsondering; toon daadwerklike belangstelling in gesinsaangeleenthede

Dink aan die gesin as ’n geheel, nie net aan julle eie begeertes nie

Wees openhartig en kommunikeer

[Prente op bladsy 5]

Ouer-kind-verhoudinge is uiters belangrik

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel