Die verkondiging van die waarheid in die Oostenrykse Alpe
OOSTENRYK is tereg bekend vir sy Alpynse graslande, die Weense Woude en die pragtige blou Donau. Dit en ander welbekende tonele lok besoekers vanoor die hele wêreld na hierdie landjie in die middel van Europa.
Verlede Augustus, toe die toeristeseisoen sy hoogtepunt bereik het, het een groep van byna honderd besoekers uit 17 lande gekom om iets heel anders te sien. Hulle het na Wenen gekom om die toewyding by te woon van die nuwe Oostenrykse takkantoor van die Wagtoringgenootskap, wat die Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies in Oostenryk rig.
Van ’n klein begin
Die Genootskap se eerste takkantoor in Oostenryk is in 1923 in Wenen gestig. Dit was minder as tien jaar nadat vier Wagtoring-intekenaars in daardie stad die eerste keer besoek is. Teen daardie tyd het die getal Koninkryksverkondigers tot ongeveer honderd toegeneem. Toe het die Tweede Wêreldoorlog en Nazi-besetting gekom, ’n tydperk van kwaai beproewinge en ontbering vir die getroue broers. Maar hulle het volhard en teen die einde van die oorlog het hulle geledere tot meer as 700 aangegroei.
In 1957 is ’n gebou by Gallgasse 44 gekoop om na die toenemende werk om te sien. Met verloop van jare is dit verskeie kere verbou om die bestendige groei van die Koninkrykswerk in daardie land te behartig. Teen 1973 het die getal Koninkryksverkondigers die tienduisendkerf oorskry. In die vroeë tagtigerjare is planne vir uitbreiding dus gemaak. Regsprobleme is uiteindelik uit die weg geruim en persele langs die tak is bekom. In Maart 1983 het ’n buitefirma met die raamwerk begin. Daarna het die broers oorgeneem en die gebou voltooi.
“Ons bou ons Bethel”
Getuies uit alle dele van Oostenryk het aangebied om met die werk te help. “Ons bou ons Bethel” was die slagspreuk. Hulle het in motors en busse gekom, tot 190 op een naweek. Daar is geskat dat een uit elke vyf verkondigers in die land ’n deelname aan die werk gehad het. Sommige was vakmanne—argitekte, loodgieters, en so meer. Ander het materiaal voorsien of die gebruik van hulle werkswinkels aangebied. Party het selfs uit hulle betrekkinge bedank en die hele konstruksietydperk kom werk.
Een broer wat deel van sy vakansie by die bouterrein deurgebring het, het geskryf: “Ek wil julle graag weer bedank vir die wonderlike week van vakansie. Dit was soos om op ’n rustige eiland te wees wat deur die onstuimige see van mense omring is. Dit was wonderlik om sulke fisiese en geestelike verkwikking sonder onkoste te geniet.” Selfs die kleintjies het ’n deelname gehad. ’n Agtjarige het geskryf: “Ek het gehoor dat julle geld vir die Bethel-bouwerk nodig het. Ek wil graag van die geld wat ek gespaar het vir julle stuur. Ek sluit 200 sjielings [ongeveer R32] by hierdie brief in.” Ander het brood gebak of bessies gepluk en sap vir die vrywilligers gemaak. Verkondigers in die 36 gemeentes in Wenen het gedurende die hele konstruksietydperk elke Saterdag verversings voorsien.
Toegerus vir verdere vermeerdering
Die opknapping van die oorspronklike gebou en die toevoeging van die omliggende nuwe geboue maak die takfasiliteite, wat ’n vloerruimte van altesaam 5 400 vierkante meter beslaan, nou meer as drie keer groter as voorheen. Die fasiliteite sluit 38 kamers, ’n eetsaal vir 80 persone, ’n nuwe kombuis en ’n wassery in. ’n Nuwe Koninkryksaal staan direk agter die oorspronklike gebou. Die administrasiekantore en verskeie ander departemente beslaan die res van die geboue.
Die toewydingsdag vir die nuwe takfasiliteite was 22 Augustus 1987. Onder die 282 gaste was ongeveer eenhonderd besoekers van 16 Europese takke en een van Korea. Daar was ook ongeveer honderd Oostenrykse veteraan-Getuies wat die beproewinge van die Tweede Wêreldoorlog oorlewe het. Die oudste onder hulle was 102-jarige Maria Hack van Graz. ’n Gehoor van 6 810 persone in sewe ander plekke het ook die toewydingsprogram deur middel van telefoonverbinding gehoor.
Hoofsprekers op die toewydingsprogram was onder andere T. Jaracz en M. G. Henschel van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Broer Jaracz wat gepraat het oor die onderwerp “Takke wat tot eer van Jehovah vrug dra”, het Johannes 15:2, 8 gebruik om te toon dat ‘takke’ tot eer van Jehovah dien wanneer hulle baie vrug dra. Die nuwe takfasiliteite sal grootliks daartoe hydra dat vrug tot eer van Jehovah voortgebring word.
In die toewydingstoespraak het broer Henschel beklemtoon dat Jehovah ’n God van voorneme is. Hy het nie net sy voorneme vooruit bekend gemaak nie, maar het ook getoon dat hy die vermoë het om dit uit te voer. Ten spyte van Satan se teenstand kan ons vol vertroue wees dat God se voorneme vervul sal word.
Na afloop van die program het al die aanwesiges aangespoor gevoel om die predikingswerk met hernieude ywer voort te sit. Dit is duidelik dat die puik nuwe fasiliteite die Oostenrykse Getuies sal toerus om die goeie nuus van die Koninkryk selfs in groter mate in hierdie Alpeland te verkondig tot die eer en lof van die grootse Skepper, Jehovah.
[Prente op bladsy 23]
Nuwe gebou, gesien vanuit die tuin
Koninkryksaal
Hoofingang
Nuwe gebou, met opgeknapte gebou aan die regterkant