Deel 3—Magtige Babilon—die derde groot wêreldmoondheid
Eertydse Babilon het sy toppunt onder Nebukadnesar bereik, het sy godsdiens aan die wêreld oorgedra, en is in een nag verower. Kennis oor hierdie stad sai jou verder oortuig dat die Bybel akkuraat is en dat sy verstommende profesieë onfeilbaar vervul word.
MAGTIGE Babilon was op grootse wyse weerskante van die Eufraatrivier in suidelike Mesopotamia geleë. Dit was ’n “sieraad onder die koninkryke”, ’n godsdiens-, handel- en militêre sentrum (Jesaja 13:19, NAV). Dit het groot rykdom, pragtige geboue en wêreldberoemde tuine gehad. Dit was die wêreldmoondheid van die tyd!
Nogtans is Jehovah se profeet Jeremia geïnspireer om te skryf: “Babel sal kliphope word, ’n lêplek van jakkalse, ’n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.”—Jeremia 51:37.
Hierdie groot stad ’n algehele puinhoop? Wie het dit ooit kon droom? Nogtans is eens trotse Babilon nou niks meer nie as net ’n teleurstellende klomp verlate puinhope, ongeveer 80 kilometer suid van Bagdad, in suidoostelike Irak. Wat het tot sy ondergang gelei?
Babilon, een van die wêreld se oudste stede, is gestig deur Noag se agterkleinseun Nimrod, die magtige jagter wat Jehovah misken het (Genesis 10:8-10, vgl. NW). Maar die tydperk waarin ons belangstel, het lank na Nimrod se tyd gekom. Dit het gekom nadat Egipte sowel as Assirië die heersende wêreldmoondhede was.
Babilon in Nebukadnesar se tyd
Ongeveer 2 600 jaar gelede, in die jaar 632 v.G.J., het die Babiloniërs en hulle bondgenote Assirië verslaan.a Babilon het Assirië toe vervang en die derde groot wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis geword.
Nebukadnesar, wat die troon van hierdie Nieu-Babiloniese, of Nuwe Babiloniese, Ryk bestyg het, was nie net ’n veroweraar nie, maar ook ’n bouer van stede. Babilon se sterk mure en indrukwekkende geboue kan grotendeels aan hom toegeskryf word. Baie bakstene is gevind met die naam “Nebukadnesar” daarop—die einste Nebukadnesar wat so dikwels in die Bybelboeke Jeremia en Daniël gemeld word, die Nebukadnesar wat volgens die Bybel gespog het: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het . . . nie?”—Daniël 4:30.
Daar was twee groot mure rondom Babilon, en die ruimte tussen hulle is met ruklip gevul. Saam het hulle ’n versperring van meer as 24 meter dik gevorm. Buite die mure was ’n grag van 20 tot 80 meter breed, wat aan die binnekant met bakstene uitgelê en deur alle soorte bote gebruik is.
Die hoofweg vanuit die noorde het deur die 12 meter hoe Isjtarpoort tot in die stad se hoofverkeersweg, die breë Prosessieweg, geloop. Nebukadnesar se paleis was aan die regterkant, binne die Isjtarpoort. Sy hoë troonkamer was 17 by 52 meter. Die poort en die mure wat daarheen gelei het, was versier met helderkleurige glasuursteenpanele wat leeus, bulle en drake afgebeeld het. Een van die leeus word in die Louvre-museum in Parys ten toon gestel.
Die Babiloniese godsdiens
Die Hebreeuse naam van die stad, Babel, beteken “verwarring”, terwyl die Sumeriese en Akkadiese name daarvoor “Poort van God” beteken. Albei betekenisse verbind Babilon met sy godsdiens. Sommige kenners meen dat die Babiloniese god Marduk (Merodag in die Bybel) moontlik Nimrod was wat vergoddelik is. Die Babiloniese godsdiens het ook ’n aantal drie-enige gode erken. Een so ’n god het bestaan uit Sin (die maangod), Sjamasj (die songod) en Isjtar (die godin van die liefde en vrugbaarheid).
Astrologie het daar hoogty gevier. Die Babiloniërs het die destyds bekende planete na hul vyf vernaamste gode en godinne vernoem. ’n Hedendaagse geskiedkundige werk verduidelik: “Ons noem hierdie planete by hulle Romeinse name, maar die Romeine het die Babiloniese benamings oorgeneem en hulle bloot na hulle eweknieë in Rome vernoem. Die planeet Isjtar, die godin van die liefde, het dus Venus geword, en dié van die god Marduk is na Jupiter verander.”b Die naam “Chaldeër”, wat deur die Babiloniërs gebruik is, het feitlik sinoniem met “astroloog” geword.
Die Bybel sê dat Babilon “’n land van gesnede beelde” en vuil “drekgode” was (Jeremia 50:2, 38). Tog het sy godsdiensidees ’n hoofbron vir ander godsdienste wêreldwyd geword. Professor Morris Jastrow sê in The Religion of Babylonia and Assyria: “In die eertydse wêreld, voor die opkoms van die Christelike godsdiens, het Egipte, Persië en Griekeland die invloed van die Babiloniese godsdiens ervaar.” Later is baie van sy valse idees aanvaar en selfs in die kerke van die Christendom onderrig. Die Bybel noem gevolglik die wêreldryk van valse godsdiens “Babilon die Grote”.—Openbaring 17:3-5, NW.
Jerusalem word deur Babilon verower
Die profeet Jesaja het geleef toe Assirië, die tweede wêreldmoondheid, oor die eertydse wêreld geheers het. Hy is egter deur God geïnspireer om te voorspel dat Jerusalem, nie deur die Assiriërs wat toe magtig was nie, maar deur die Babiloniërs vernietig sou word (Jesaja 39:6, 7). Is hierdie profesie bewaarheid? Kom ons kyk.
Dit was ’n eeu na Jesaja se tyd dat Babilon en haar bondgenote Assirië verower het en Babilon die nuwe wêreldmoondheid geword het. Toe, in 617 v.G.J., het Babilon se koning Nebukadnesar koning Jojagin van Jerusalem gevange geneem en hom en ander “magtiges van die land” as gevangenes na Babilon weggevoer. Nebukadnesar het Mattanja koning in Jerusalem gemaak en “sy naam verander in Sedekia”.—2 Konings 24:11-17.
Die Babiloniërs se eie geskrifte, wat deur argeoloë gevind is, bevestig ook hierdie gebeurtenis. Die Babiloniese Kroniek, ou kleitafels waarop belangrike gebeure opgeteken is, sê dat Babilon se koning “die stad Juda [Jerusalem] beleër het, en . . . die stad verower en die koning gevange geneem het. Hy het ’n koning van sy eie keuse daar aangestel, ’n groot skatting daarvan ontvang en (hulle) na Babilon gestuur.”
Die Bybel praat ook van die voedselrantsoen wat aan Jojagin gegee is terwyl hy in ballingskap in Babilon was (2 Konings 25:27-30). Argeoloë het administratiewe dokumente in Babilon gevind wat melding maak van die voedselrantsoen wat aan sowel “Jojagin, koning” as aan die “seuns van die koning van Juda” gegee is.
Hoewel die mense van Jerusalem in ’n verbondsverhouding met Jehovah God was, het hulle steeds hardkoppig geweier om God se weë te volg of na sy profete te luister. Jehovah het gesê dat hulle “hul nek verhard het om na [sy] woorde nie te luister nie”. Deur Jeremia het hy gewaarsku: “Die hele Juda sal Ek gee in die hand van die koning van Babel, wat hulle in ballingskap sal wegvoer na Babel en hulle met die swaard sal verslaan.”—Jeremia 19:15; 20:4.
Toe Sedekia dus teen Nebukadnesar in opstand gekom het, het die Babiloniërs teruggekeer en Jerusalem beleër. Hulle het op 9 Tammus 607 v.G.J. deur sy mure gebreek. Hulle het die tempel afgebrand, die stadsmure afgebreek en Sedekia en feitlik die hele volk as gevangenes na Babilon weggevoer. Jehovah se woorde is inderdaad waar bewys: “En hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny word; en hierdie nasie sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.”—Jeremia 25:11.
Nebukadnesar se droombeeld
Later het Babilon se koning Nebukadnesar, hoof van die wêreldmoondheid van sy tyd, buitengewone informasie ontvang. God het aan hom ’n droom van ’n ontsaglike beeld gegee. Die droom het die oorsig van wêreldgeskiedenis geopenbaar vanaf Nebukadnesar se tyd, gevolg deur dié van die daaropvolgende wêreldmoondhede, Medo-Persië en Griekeland, toe dié van Rome, en selfs tot ná ons tyd wanneer alle menseregerings permanent deur God se Koninkryk vervang gaan word. God se profeet Daniël het vir Nebukadnesar gesê: “Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”—Daniël 2:28-45.
Nebukadnesar moes ook persoonlik, op ’n baie kragtige manier, leer dat God ’n hand in sulke wêreldaangeleenthede kan hê—dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”.—Daniël 4:25.
Babilon se verwoesting word voorspel
Maar Babilon se uitermatige wreedheid teenoor Jehovah se volk sou nie ongestraf bly nie. Deur Jeremia het God gesê: “Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldea vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het.” En deur Jesaja het hy voorspel: “Ek verwek die Meders teen hulle.”—Jeremia 51:24; Jesaja 13:17.
Jehovah het ongeveer twee eeue vooruit selfs die naam verskaf van die leier wat Babilon tot ’n val sou bring en Sy volk sou bevry—Kores, ook bekend as Kores die Grote. Die profesie oor Kores het gesê dat “die deure met dubbele vleuels” voor hom oopgemaak sou word “sodat selfs die poorte nie gesluit sal wees nie” (Jesaja 44:26–45:1, vgl. NW). Het so iets werklik gebeur? Die geskiedenis antwoord.
Babilon val!
Toe die voorspelde 70 jaar van Joodse gevangenskap sy einde nader, was die Meders en die Perse al aan die opruk. Babilon se koning Nabonidus het reeds op die slagveld voor Kores gevlug. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus sê dat die Babiloniërs toegerus was om hulle teen ’n baie lang beleëring te verset. En hulle het waarskynlik groot vertroue in Babilon se sterk mure gehad.
Soos die Bybelverhaal vertel, het Belsasar op die aand van 5/6 Oktober van die jaar 539 v.G.J. ’n groot fees in Babilon gehou waar hy duisend vooraanstaande gaste op spys en drank onthaal het (Daniël 5:1-4). Herodotus bevestig dat daar daardie nag ’n fees in Babilon was. Hy sê dat die mense van die stad “op daardie tydstip gedans en pret gehad het”. Maar buite het Kores die waters van die Eufraat, wat deur die middel van die stad geloop het, verlê. Namate die watervlak gesak het, het sy leër met die rivierbedding langs verby die hoë mure geloop, en ingegaan by die poorte wat Herodotus beskryf het as die “klein poorte wat na die rivier lei”, en wat deur die Babiloniërs oopgelaat is.
Die profeet Jeremia het baie jare vooruit ’n lewendige beskrywing van Babilon se val neergeskryf: “Die helde van Babel het opgehou om te veg . . . Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babel bekend te maak dat sy stad van alle kante ingeneem is; en dat die driwwe beset is, en hulle die [papirusbote] met vuur verbrand het.”—Jeremia 51:30-32, vgl. NW.
Die Naboniduskroniek, wat nou in die Britse Museum is, bevestig hierdie beskrywing. Dit sê dat “die leër van Kores Babilon binnegegaan het sonder om te veg”.
Jehovah se profesie word vervul
In een nag het Babilon geval. Die derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis het tot ’n skielike einde gekom. Kores kon op ’n spykerskrifdokument, bekend as die Koressilinder, spog: “Ek is Kores, koning van die wêreld, groot koning, regmatige koning, koning van Babilon, koning van Sumerië.” Kort daarna het Kores sy beroemde verordening uitgevaardig, en ongeveer 50 000 Joodse gevangenes het teruggekeer om Jerusalem en Jehovah se tempel te herbou en het presies aan die einde van die voorspelde 70 jaar van gevangenskap daar aangekom.—Esra 1:1-11.
Eeue later het Jesus se apostel Petrus gekom om ’n Joodse gemeenskap wat hier gefloreer het te onderrig, en dit was vanuit Babilon dat Petrus ten minste een van sy geïnspireerde Bybelbriewe geskryf het (1 Petrus 5:13). Die profesie is egter mettertyd vervul: “So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie.”—Jesaja 13:19, 20.
Vandag is magtige Babilon niks anders as stowwerige kliphope, puinhope in ’n woesteny nie—’n stilswygende en veelseggende getuienis van die onfeilbare akkuraatheid van Jehovah se profetiese Woord.—Jeremia 51:36, 37.
[Voetnote]
a Wat datums betref, aanvaar ons die chronologie wat deur die Bybel aangedui word, en dit verskil van eertydse datums wat op minder betroubare sekulere bronne gebaseer is. Kyk Aid to Bible Understanding, bladsye 322-348, vir ’n breedvoerige bespreking van Bybelchronologie.
b The Dawn of Civilization and Life in the Ancient East (uitgawe van 1940) deur R. M. Engberg en F. C. Cole, bladsye 230-232.
[Kaart op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
OMVANG VAN BABILONIESE RYK
GROOT SEE
Eufraatrivier
Babilon
MEDIË
Jerusalem
[Erkenning]
Gebaseer op ’n kaart waarvan outeursreg voorbehou word deur die Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis) en Israel se departement van landmeetkunde
[Prente op bladsy 31]
Rekonstruksie van Babilon se Isjtarpoort (regs)
[Erkenning]
Die Museum van die Wes-Asiatiese Oudheid, Oos-Berlyn, DDR
Die puinhope van Babilon vandag (onder)