Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 2/15 bl. 22-23
  • Thursday-eiland hoor die goeie nuus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Thursday-eiland hoor die goeie nuus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Die goeie nuus bereik hierdie eilande
  • ’n Gemeente word gestig
  • Die goeie nuus bereik die ander eilande
  • ’n Pragtige vergaderplek
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 2/15 bl. 22-23

Thursday-eiland hoor die goeie nuus

AL WAT ons kan sien terwyl die vliegtuig sirkel, is ’n groep eilande van verskillende vorms en groottes in die middel van ’n blougroen see. Net voor ons neerstryk, sien ons die landingsbaan—baie klein—maar wat ’n verligting!

Ons het op Horn-eiland geland. Na ’n busrit na die kaai, neem ’n veerbootjie ons na Thursday-eiland, wat die middelpunt van die Torres Strait-eilande is. Hierdie eilande lê soos trapklippe van die noordelike punt van Queensland, Australië, tot by Papoea Nieu-Guinee uitgesprei.

Gedurende die warm, nat seisoen (Januarie tot Mei) is alles groen en welig. Hewige siklone ontwikkel soms en maak deurvaart tussen die eilande gevaarlik. Die res van die jaar is dit in die reël droog en stowwerig.

Die goeie nuus bereik hierdie eilande

Dit was in 1938 dat die Wagtoringgenootskap se kits van 16 meter, Lightbearer, wat na Nederlands-Indië (nou Indonesië) onderweg was, hierdie eilande kortliks aangedoen het. Die sewe getuies van Jehovah aan boord was gretig om die Bybel se boodskap van hoop te verkondig.

Maar hierdie broers het nie geweet dat een van die Christendom se sendelinge omstreeks dieselfde tyd daar aangekom het nie. Hy het vir die eilanders gesê dat hulle nie na die Getuies moet luister of enige van hulle lektuur moet neem nie. Toe die broers egter by sy huis uitgekom en met hom gepraat het, het hy vier boeke geneem. Party van die eilanders het dit gesien en toe gedink: ‘Waarom kan ons hulle nie neem as hy hulle neem nie?’ Daardie aand, terwyl die ander Getuies skyfies vertoon het, het een broer met kartondose vol boeke buite gesit. In die donker het daar telkens ’n hand met geld verskyn, en ’n stem het om ’n boek gevra. Op dié manier is 200 boeke in slegs een uur versprei! Die sendeling het later tevergeefs probeer om die boeke wat hy geneem het as getuienis in ’n klag teen die Getuies te gebruik.

’n Gemeente word gestig

Daardie eerste sade van waarheid is vir ’n lang tyd nie natgemaak nie. Dit was eers in die laat vyftigerjare dat bykomende hulp by hierdie afgesonderde eilande opgedaag het. Die Wagtoringgenootskap het twee voltydse werkers daarheen gestuur. Die Rudds, ’n gesin van drie, het agterna gekom om te dien waar hulp nodig was. ’n Gemeentetjie is weldra op Thursday-eiland gestig.

Dit was moeilike tye, met nouliks enige verblyfplek beskikbaar en aansienlike teenkanting van die regering en die gevestigde godsdienste. Die gemeente het aanvanklik in ’n vertrekkie reg bokant die plaaslike bakkery se oonde bymekaargekom. Dink net hoe warm dít in die trope was!

Omdat die Getuies besef het hoe noodsaaklik dit is om geestelik sterk te bly, het hulle hulle voorgeneem om ’n byeenkoms aan die kus van die Australiese vasteland, ongeveer 1 300 kilometer daarvandaan, by te woon. Hulle het nie die vlieggeld gehad nie en het dus biddend na ’n ander manier gesoek om die byeenkoms by te woon.

Die broers het eers ’n ou vissersboot gekoop waarvan die enjin, skroef, seile en anker ontbreek het. Hulle het tussen verlate bote rondgesoek en uiteindelik een met ’n groot vyfsilinderdieselenjin en ratkas gevind. Die broers was verheug toe hulle dit koop en seile, ankers en baie ander onderdele daarin vind. Maar daar was nog steeds geen as of skroef nie.

Broer Rudd het die eienaar van ’n skeepshelling gevra of hy kon rondkyk. Die eienaar het in ’n grap gesê dat as hy ’n as op die skeepswerf kan vind, die Getuies dit kon kry. Tot die eienaar se verbasing is ’n as wel gevind. Terwyl broer Rudd ’n paar oggende later van huis tot huis gegaan het, het hy teen iets in die lang gras geskop. Dit was ’n skroef wat hulle boot presies sou pas!

Nadat hulle die vaartuig reggemaak het, was die gemeente van 25 gereed om die seevaart van sewe dae te onderneem. Toe hulle afvaar, het die plaaslike toordokter ’n “vloek” oor hulle uitgespreek. Een nag het die boot op ’n rif vasgesit. Die broers het die tyd benut om ’n voorraad vis te vang. Toe die oggendgety inkom, het die boot van die rif afgedryf, hoewel hulle vir die res van die reis water moes uitpomp.

By hulle aankoms in Townsville, Australië, het ’n welgestelde skeepshellingeienaar hulle ingewag. Hy het klaarblyklik ’n koerantartikel gelees oor hulle pogings om die byeenkoms by te woon, en dit het hom beweeg om hulle te help. Hy wou opsluit die skade aan die boot herstel, al kon hulle die herstelwerk nie bekostig of daarmee help nie omdat hulle by die byeenkoms was. Hulle is later net 40 pond (R140) gevra in plaas van die 500 pond (R1 700) wat redelik sou gewees het.

Die goeie nuus bereik die ander eilande

Onder Jehovah se leiding het die Koninkryksboodskap ook die buite-eilande bereik. Broers Rod Anderson en Allan Webster, wat ’n paar jaar gelede na Thursday-eiland verhuis het, het byvoorbeeld hulle boot gebruik om op ander eilande te getuig. Die predikingswerk is tot dusver op 12 van die 17 bewoonde eilande gedoen.

’n Pragtige vergaderplek

Die broers het egter lank gewonder of hulle ooit hulle eie Koninkryksaal op Thursday-eiland sou hê. Toe het die werking van Jehovah se gees duidelik geword. Broer Graham Keen, ’n bedrewe bouer, het in September 1983 ingetrek om met die bou van ’n saal te help. ’n Aantal Australiese gemeentes het ruimhartig boumateriaal voorsien. Dit is in houers verpak en van Cairns, Queensland, af verskeep. Die eilanders was verbaas om hierdie hoop boumateriaal op die eens leë erf te sien. Die saal, met ’n huis agteraan, is in slegs 140 werksdae voltooi. Altesaam 120 het die toewyding van die nuwe saal vreugdevol bygewoon.

Hoe bly was al die Getuies tog om hierdie nuwe Koninkryksaal as ’n sentrum vir die verkondiging van die goeie nuus in die Torres Strait-eilande te hê. Hulle is verheug dat hulle Jehovah God se lof met die hulp van sy gees kan verkondig.—Jesaja 42:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel