Insig in die nuus
“Onse Vader . . . ”
“Vroue dwarsdeur die land het aan mede-aanbidders vertel dat dit hulle pla om uitsluitlik manlike taal (‘Onse Vader wat in die hemele is’) in aanbiddingsdienste te gebruik”, berig die Minneapolis Star and Tribune. “Die vroue sê dat dit hulle soos tweedeklas burgers laat voel en dat hulle nie tot ’n manlike godheid aangetrokke kan voel nie.” Die bestuursraad van die Verenigde Methodistekerk in Minneapolis, Minnesota, VSA, het hierdie kwessie ondersteun en ten gunste van ’n nuwe lys aanspreekvorms gestem wat gemeentelede kan gebruik wanneer hulle in gebed en tydens aanbiddingsdienste en ander kerkaktiwiteite van God praat.
Sommige geslaglose aanspreekvorms wat deur die kerkraad opgestel is, is “bron van vrede, bron van genade, onwrikbare en liefdevolle een, krag van ons lewe, . . . gees van die heelal, . . . hoogheilige een”. Hierdie aanspreekvorms sal voorgestaan word as ’n alternatief vir manlike voornaamwoorde sowel as titels soos Heer, Koning en Vader wat manlikheid aan God toeskryf.
Die verwerping van die Bybel se gebruik van manlike aanspreekvorms vir God is egter sonder presedent. Kort voor sy dood het Jesus, God se eniggebore Seun, spesifiek die Aramese woord Abba, wat “Vader” beteken, gebruik toe hy tot Jehovah God gebid het (Markus 14:36). Die apostel Paulus het hierdie woord eweneens gebruik om die intieme verhouding tussen geesgesalfde Christene en hulle hemelse Vader, Jehovah, te beskryf (Romeine 8:15; Galasiërs 4:6). As Jesus sy dissipels geleer bid het deur te sê, “Onse Vader wat in die hemele is”, behoort alle Christene dan nie vandag dieselfde te doen nie?—Mattheüs 6:9.
Kerkskuld
Na ’n sinodevergadering van die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Noord-Transvaal is daar berig dat die skuldlas van die kerk se 134 gemeentes R13 890 000 beloop. Die Beeld het in ’n hoofartikel oor die probleem kommentaar gelewer en gevra: “Maar lê die fout nie soms ook by die predikant en die kerkraad nie?” Die koerant verduidelik: “Dit gebeur dikwels dat die diaken gereeld maandeliks huisbesoek doen om te kollekteer terwyl die dominee in sy afwesigheid skitter en die ouderling in sy wyk ’n vreemdeling is. Kan lidmate in sulke gevalle verkwalik word as hulle die indruk kry die kerk stel net in hul geld belang, nie in hul geestelike welsyn nie?”
Die bediening van Jesus en sy dissipels het daarenteen geestelike mededeelsaamheid beklemtoon (Mattheüs 10:8). Hoewel waarderende luisteraars hulle dikwels gehelp het deur vrywillig in hul basiese behoeftes, soos voedsel en huisvesting, te voorsien, het nòg Jesus nòg sy dissipels materiële voordele gesoek (Lukas 10:5-9). Soos die apostel Paulus gesê het: “Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie.” Hy het ware bedienaars van God eerder vermaan dat ‘hulle gedrag vry van geldgierigheid moet wees’. Sy besoeke van huis tot huis is gedoen om ‘op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus aan te dring’ (Handelinge 20:20, 21, 33; Hebreërs 13:5). Dit was die vooraanstaande godsdiensleiers wat deur die Bybelskrywer Lukas as “geldgierig” beskryf is.—Lukas 16:9-15.
Verkeerde vermaak
Duitse leerlinge in Lahnstein het net vir die grap begin om okkultegeeste te laat praat deur middel van ’n drinkglas wat van letter tot letter beweeg en ’n boodskap “geskryf” het. Wat was die gevolge?
“Vyftienjariges wat te bang is om alleen badkamer toe te gaan, babbel deurmekaar oor demone. Jongmense wil snags by hulle ouers slaap”, berig die Duitse koerant Rhein-Zeitung. Paniek het uitgebreek onder talle wat “in geheime vergaderings geeste en uiteindelik ‘Lucifer’ opgeroep het”. Een onderwyser wat kommentaar gelewer het oor die kinders se reaksie “toe ‘Lucifer’ glo met hulle in verbinding getree het”, het gesê: “Selfs die dolste kinders het skielik baie stil geword. Hulle was vreesbevange.” Na hierdie ondervinding het die stad se jeugsentrum sulke “speletjies” verbied, en ouers is versoek om nie hulle vreesbevange kinders alleen te laat nie.
Volgens die koerant “is die okkultevlaag besig om na films, die TV en plate oor te loop”. Maar eksperimentering met die okkulte as vermaak het nie die Duitse leerlinge van Lahnstein die pret verskaf wat hulle verwag het nie. Waarom nie? Want die Bybel lig ons in dat die Duiwel listig is en “die hele wêreld verlei”. Dit verbind die Duiwel se welslae op aarde met “ellende”. Satan en sy “bose geeste” (die demone) moet in erns as ’n wesenlike, geestelike gevaar beskou word en vermy word.—Openbaring 12:9, 12, NAV; Efesiërs 6:11, 12; vergelyk Handelinge 19:19.