Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 1/1 bl. 5-7
  • Evangeliste samel ’n wêreldwye oes in

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Evangeliste samel ’n wêreldwye oes in
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mexiko
  • Indië
  • België
  • Portugal
  • Thailand
  • Kenia
  • Van depressie tot geluk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die goeie nuus word in België aanvaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jesus se skape luister na sy stem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Goeie nuus uit Noorweë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 1/1 bl. 5-7

Evangeliste samel ’n wêreldwye oes in

“Namate die horlosie na Armageddon aanstap, verskerp die Jehovahsgetuies hulle werksaamhede om soveel moontlik van ons van daardie gevreesde vernietiging te red.”—Hoofartikel deur Ian Boyne in “The Sunday Gleaner”, 15 Maart 1987, Kingston, Jamaika.

DIE joernalis wat hierbo aangehaal word, is reg. Jehovah se Getuies glo dat Armageddon, wanneer God die goddelose gaan vernietig, naby is en dat die mensdom in ’n tyd van goddelike oordeel lewe (Openbaring 14:6, 7). Daarom is dit nodig dat mense op die goeie nuus ag slaan. Jesus Christus, die grootste evangelis van alle tye, het ’n organisasie gestig wat in die eerste eeu die evangelie “tot aan die uiterste van die aarde” verkondig het (Handelinge 1:8; Kolossense 1:23). Hy het ’n soortgelyke evangelisasiewerk vir ons dag voorspel (Mattheüs 24:14). Die organisasie wat dit nou doen, bestaan uit Jehovah se Getuies, wat die goeie nuus van God se Koninkryk met dringendheid in 210 lande en gebiede verkondig.

Maar Jehovah se Getuies is meer as ’n predikingsorganisasie. Hulle is ook ’n onderrigtingsorganisasie. Jesus het sy volgelinge opdrag gegee: “Maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Ons wil jou graag aan party persone voorstel wat by hierdie predikings- en onderrigtingswerk baat gevind het.

Mexiko

Ontmoet Virginia. Sy is 110 jaar oud en wil vir jou sê dat “dit nooit te laat is om Jehovah te leer ken en te dien nie”. As ’n jong vrou was sy so vroom dat sy haar vier jaar lank in spesiale godsdiensdrag geklee het. “Maar iets het ontbreek”, sê sy. Sy kon nêrens bevredigende antwoorde op haar Bybelvrae vind nie. Toe sy byvoorbeeld die leraars in haar kerk gevra het: “Wat is God se naam?”, het hulle geantwoord: “God se naam is God.”

Maar dinge het in 1983 verander toe haar kleindogter begin het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Die kleindogter het Virginia se vraag beantwoord deur te sê dat God se naam Jehovah is (Psalm 83:18, NW). Dit het Virginia beweeg om haar eie Bybelstudie saam met die Getuies te begin. Sy is twee jaar later, op 2 Junie 1985, op 108-jarige ouderdom gedoop.

Sy sê: “Ek dink met liefde terug aan daardie datum, omdat ek op daardie dag begin lewe het. Op my ouderdom preek ek vyf of ses uur per maand, en gebruik ek ’n kierie as stut wanneer ek loop. Ek verkies stap bo ry. Op hierdie manier bly ek perdfris en gesond.”

Indië

“Ek was die woestaard en niksnut van die buurt”, sê ’n man wat in baie ondeugde vasgevang was. “Ek het met dwelms gesmokkel, mutka gespeel (gedobbel) en gratis sigarette gerook wat gretig deur my skelm klante verskaf is. Daar was ook die alkoholgewoonte—dit alles ten spyte van die feit dat ek ’n aktiewe kerklidmaat was.” Maar toe een van Jehovah se Getuies by sy huis besoek afgelê het en hy die Bybel begin bestudeer en die raad daarin toegepas het, het sy lewe verander (Spreuke 2:1-22; 2 Timotheüs 3:16). Nou help hy, sy vrou en twee dogters ander om hulle van sulke ondeugde los te maak.

België

’n Jong egpaar het bitter kwaad vir God geword. Waarom? Hulle eerste kind, ’n dogtertjie, het tien dae na geboorte gesterf. Hulle tweede kind is kreupel gebore. En hulle derde, wat sterk en gesond gelyk het, het na vyf maande onverwags gesterf. Die moeder kon nie glo dat ’n liefdevolle God sou toelaat dat sulke tragedies met hulle gebeur terwyl soveel mense wat ’n losbandige lewe lei gesonde kinders het nie.

Een van Jehovah se Getuies het kort daarna in die buurt predikingswerk van huis tot huis gedoen en aan haar deur geklop. Toe die Getuie oor God se beloftes van ’n gelukkige toekoms vir die mensdom praat, het die vrou in opstand gekom teen die idee van ’n God wat ’n liefdevolle, hemelse Vader is (Psalm 37:10, 11). Maar sy het Bybellektuur aanvaar. Na herhaalde besoeke deur die Getuie het die Bybel se boodskap van goeie nuus geleidelik haar hart versag en haar vertroue in God opgebou. Nou het sy en haar man albei ’n sterk hoop dat Jehovah nie net hulle kreupel kind in die toekomstige Paradysaarde sal genees nie, maar dat Hy ook hulle twee ander kinders sal opwek.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4.

Portugal

Een Sondagoggend het ’n vrou wat ’n sak vol kruideniersware gedra het, gaan stilstaan om met ’n egpaar te praat. Dit was die eerste, maar nie die laaste ontmoeting nie. Die egpaar, Jehovah se Getuies, was bedrywig in die evangelisasiewerk. Hulle het die vrou geprys omdat sy na die materiële behoeftes van haar gesin omsien. Maar wie, het hulle gevra, kan in die behoeftes van die mensdom voorsien? Hulle het die vraag self beantwoord deur te sê dat God kan (Psalm 107:8, 9; Jesaja 33:24). “Het hy ’n oplossing vir my probleem?” het die vrou hardop gewonder. Die Getuies het bevestigend geantwoord en is na haar huis genooi, waar ’n Bybelstudie begin is. Haar man wat opgemerk het dat daar ’n verbetering in sy vrou se gesindheid was, het ook begin om die Bybel saam met hulle te bestudeer en het in ’n kort tydjie ook veranderinge in sy lewenstyl aangebring.

Die vrou het later vir die Getuies vertel dat sy twee keer probeer selfmoord pleeg het voordat sy daardie Sondagoggend met hulle gepraat het. Sy was diep ontsteld omdat sy en haar man besluit het om uitmekaar te gaan. Maar nou maak sy, haar man en hulle kinders eensgesind vordering om die goeie nuus te leer.

Thailand

’n Vrou wat in die noordelike deel van hierdie land woon, is die grootste deel van haar lewe deur demone lastig geval. Toe sy een van Jehovah se Getuies in die evangelisasiewerk ontmoet het, het sy Bybellektuur geneem en tot ’n tuisbybelstudie ingestem. Na twee maande van studie kon sy die Skriftuurlike redes insien waarom sy alle voorwerpe van valse aanbidding, soos afgode, uit haar huis moes verwyder, en haar kosbare geestehuis wat gebou is om haar gesin teen bose geeste te beskerm moes afbreek (Handelinge 19:19; 1 Korinthiërs 10:21; 1 Johannes 5:21). Nou word sy nie meer deur demone lastig geval nie en kan sy haar daarop toespits om ander te help om van die een ware God, Jehovah, te leer.

Kenia

Toe daar vir ’n kriminele bendeleier gesê is dat hy as so gevaarlik beskou word dat die polisie onder bevel staan om hom sonder waarskuwing te skiet, het hy dit met ’n lag afgemaak. Maar kort daarna het een van sy benderooftogte nie volgens plan verloop nie. Skielik was hy alleen, omring deur ’n woedende skare wat gereed was om die reg in eie hande te neem. Op daardie oomblik het die polisie hom te hulp gesnel, hom weggeruk en in die tronk opgesluit om sy verhoor af te wag.

Sy prokureur het verskillende soorte taktiek aangeraai waarvolgens hy skuld kon ontken. Maar terwyl hy in die tronksel was, het hy onthou hoe een van Jehovah se Getuies hom jare gelede besoek het. Hy het begin spyt kry oor sy wettelose weë en tot God om hulp gebid. Trouens, hy het tot Jehovah gebid en sy naam gebruik. (Vergelyk Handelinge 10:1, 2.) Tot die regter se verbasing het hierdie misdadiger sy skuld voor die hof erken. Die regter het dus ’n betreklik ligte vonnis gevel; pleks van die doodstraf, was sy vonnis tien jaar in ’n topsekuriteitstronk.

Terwyl hy agter die tralies was, het hy Bybellektuur geesdriftig gelees en voortdurend tot God gebid en gevra dat sy tyd in die tronk, indien moontlik, verminder moet word sodat hy Hom kan dien. Hy is onverwags vertel dat sy vonnis met die helfte verminder is. Nadat hy vyf jaar lank opgesluit was, is hy dus vrygelaat en het hy onmiddellik die Bybel met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Hy is kort daarna gedoop, en nou is voltydse evangelisasie sy doelwit.

Die bogemelde is net ’n paar voorbeelde van hoe Jehovah se Getuies hulle opdrag en verpligting vervul om die evangelie “tot aan die uiterste van die aarde” te verkondig. Hierdie ondervindinge kan duisendvoud vermenigvuldig word. Twyfel jy dus dat Jehovah se Getuies die ware evangeliste van vandag is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel