Wie is die ware evangeliste?
ONGEAG waar jy woon, die evangelistiese beweging wat deur Jesus Christus begin is, het jou lewe op die een of ander manier geraak. Maar nie almal wat beweer dat hulle Christus verteenwoordig, het die ware boodskap van God se Woord verkondig nie. Nie alle evangeliste—van die hede of die verlede—is deur dieselfde sendinggeesdrif aangevuur wat kenmerkend van die eerste-eeuse dissipels van Christus was nie.
Die kerke van die Christendom het weliswaar vandag nagenoeg 220 000 sendelinge wat oral in die wêreld bedrywig is, maar slaag daardie sendelinge die toets van ware evangeliste? Christelike evangelisasie was nie veronderstel om ’n soort geestelike imperialisme te wees, waar predikers as agente van koloniserende wêreldmoondhede sou werk nie. (Vergelyk Jakobus 4:4.) Ware Christelike evangelisasie sal ook nie die sogenaamde vryheidsteologie voorstaan en op radikale veranderinge in die politieke en sosiale stelsel aandring nie; Jesus het ook nie “elektroniese” predikers in gedagte gehad wat met die Bybel dweep en hulle weergawe van die “welvaartsteologie” oor die TV- en radiogolwe sanik nie (Johannes 17:16; Mattheüs 6:24). Wel, wat is ’n evangelis dus?
Wat is ware evangelisasie?
In die oorspronklike tale van die Bybel, Hebreeus en Grieks, is ’n evangelis ’n verkondiger van ’n blye tyding, of goeie nuus.a Goeie nuus waarvan? Van verlossing, van regverdige heerskappy en van vrede. Jesaja 52:7 sê byvoorbeeld: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap [“goeie nuus”, NW] bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!”
Ook het die engel by die geboorte van God se Seun vir die herders gesê: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag . . . gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Lukas 2:10, 11). Die goeie nuus draai dus om Jesus Christus.
Jesus het ongeveer 30 jaar later op die Sabbatdag in die sinagoge in die stad Nasaret ingegaan en opgestaan om te lees. “Die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie . . . te bring. . . . Nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” Jesus was algemeen bekend as ’n prediker van goeie nuus, en die goeie nuus wat hy verkondig het, het die aandag op “die koninkryk van God” gevestig.—Lukas 4:17-21; 8:1.
Jesus het sy evangelisasiewerk met ’n oes vergelyk en gesê dat ‘die oes groot, maar die arbeiders min is’ (Mattheüs 9:36-38). Hy het sy volgelinge dus opgelei en opdrag gegee om ook evangeliste te wees (Mattheüs, hoofstuk 10; Lukas, hoofstuk 10). Soos met hulle Onderwyser was “die koninkryk van die hemele” die kern van hulle prediking (Mattheüs 10:7). Maar Koninkryksprediking was nie tot Jesus se apostels beperk nie.
Volgens die geskiedkundige verslag in Handelinge 8:1 is almal behalwe die apostels “verstrooi oor die streke van Judea en Samaria” toe vervolging teen die jong Christengemeente in die stad Jerusalem uitgebreek het. Het daardie verstrooide dissipels weggekruip en teruggedeins? Nee, want vers 4 vervolg: “En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” Op hierdie manier is ’n groot oes deur daardie eerste-eeuse evangeliste ingesamel.
Dit is interessant dat die boek A Theological Word Book of the Bible sê: “In die NT [Nuwe Testament] het prediking niks te doen met preke wat vir bekeerlinge gehou word nie, dit is gewoonlik die betekenis wat vandag daaraan geheg word, maar dit het altyd betrekking op die verkondiging van die ‘goeie tyding van God’ aan die nie-Christelike wêreld.” Alle Christene is dus evangeliste, en hulle evangelisasie is nie tot gesprekke met medegelowiges beperk nie.
Maar wat is die tema van hedendaagse evangelisasie? Jesus het vir ons dag voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). En Jesus het nie net diegene wat sy hemelvaart gesien het nie, maar ook sy toekomstige volgelinge opdrag gegee om “[sy] getuies . . . in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” te wees.—Handelinge 1:8; kyk ook Mattheüs 28:19.
Die kern van ’n evangelis se boodskap is dus die goeie nuus van Jehovah God se Koninkryk in die hande van sy aangestelde Heerser, Jesus Christus, die Vredevors (Jesaja 9:5). En dit sluit al die waarhede in wat Jesus gespreek en wat sy dissipels opgeteken het. Ware evangeliste van vandag bly getrou by hierdie een tema.
Wie is die Beskermheer van die ware evangelisasie?
Ware evangeliste aanbid Jehovah as God. Hy is die Groot Evangelis; hy is die Beskermheer van die verkondiging van die goeie nuus (Galasiërs 3:8; Openbaring 10:7). En hy wil hê dat alle mense op alle plekke sy boodskap moet hoor en gehoorsaam. “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie”, het die apostel Petrus vir ’n klein skare in die Mediterreense seehawe Cesarea gesê. “Maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.”—Handelinge 10:34-36.
Die Bybel het voorspel dat evangeliste in ons dag weereens ’n groot oes sal insamel (Openbaring 14:15, 16). Lees in die volgende artikel party van die ondervindinge wat Jehovah se Getuies geniet terwyl hulle aan hierdie oeswerk deelneem. Ondersoek hulle predikingsverslag op bladsye 12 tot 15 van hierdie tydskrif. Praat dan met Jehovah se Getuies wanneer hulle aan jou deur klop, en kyk of jy nie saamstem dat hulle die ware evangeliste van vandag is nie.
[Voetnoot]
a Die Griekse werkwoord vir “bring goeie nuus”, of “evangeliseer”, (eu·ag·ge·liʹzo·mai) het die betekenis van die Hebreeuse woord gekry wat as ‘bring goeie nuus’ (bis·sarʹ) in Jesaja 52:7 vertaal word. Volgens The New International Dictionary of New Testament Theology beteken die werkwoord bis·sarʹ hier om “Jahweh se universele oorwinning oor die wêreld en sy koninklike heerskappy” en die dagbreek van ’n nuwe eeu “aan te kondig”.—Vergelyk Nahum 1:15, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.