Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 9/15 bl. 26-30
  • Is godsdiensgeskiedenis vir jou van enige nut?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is godsdiensgeskiedenis vir jou van enige nut?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat die verkoop van aflate geopenbaar het
  • Wat Luther se 95 stellings geopenbaar het
  • Hoe die afval van die ware geloof begin het
  • Die Hervorming was geen herstel nie
  • ’n Les uit eietydse godsdiensgeskiedenis
  • Is godsdiensgeskiedenis van enige nut?
  • Martin Luther—die man en sy nalatenskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Regverdigheid voor God—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 9/15 bl. 26-30

Is godsdiensgeskiedenis vir jou van enige nut?

“EK HET op skool niks van geskiedenis gehou nie”, erken Barbara openlik. Maar nou waardeer sy byvoorbeeld kennis omtrent die Eerste Wêreldoorlog. Saam met haar Bybel help hierdie inligting haar om beter te verduidelik waarom die wêreld sedert 1914 geen vrede het nie (Openbaring 6:4). Godsdiensgeskiedenis kan ons eweneens help om die wêreld waarin ons lewe te verstaan.

Waarom is nasies, gemeenskappe en selfs gesinne sedert die 16de eeu tussen die Katolieke en die Protestantse geloof verdeel? “Rome was nie bereid om kop te gee in die stryd om die suiwer leer van die Evangelie, wat destyds hoofsaaklik deur Duitse, Switserse en Franse kerkleraars aangevoor is nie”, sê geskiedskrywer Friedrich Oehninger. Dit het tot die stigting van sektariese kerke gelei.

Maar is “die suiwer leer van die Evangelie” werklik herstel? ’n Kykie na godsdiensgeskiedenis sal ons help om uit te vind wat werklik gebeur het.

Wat die verkoop van aflate geopenbaar het

“Die Hervorming het begin met Luther se stryd teen misbruike in die verkoop van aflate, wat skynbaar slegs vir die kerk ’n saak van praktiese betekenis was”, sê geskiedskrywer Gottfried Fitzer. “Maar dit het in werklikheid geopenbaar dat kerksake nou vervleg geraak het met geldsake, die ekonomie en die politiek.” Kom ons beskou dit van naderby.

Prins Albert van Brandenburg het etlike invloedryke posisies in die kerk bekom. Hy moes die Vatikaan die ekwivalent van sowat ’n halfmiljoen rand betaal, wat deur ’n banklening gefinansier is. Die pous het aartsbiskop Albert as sy kommissaris van aflate vir Sentraal-Duitsland aangestel en hom die helfte van die wins toegestaan om sy skuld te betaal.

Albert se aflaatpredikers was bekwame werwers en het “algehele kwytskelding van alle sondes” en onmiddellike verlossing uit die vaevuur beloof. Na regte het die kerk slegs kwytskelding van kerkstraf aangebied, maar die mense het geglo dat die aflaatbriewe hulle van alle sonde sou bevry. Martin Luther was verontwaardig en het in 1517 sy bekende 95 stellings “uit liefde vir die waarheid”, soos hy in die inleiding geskryf het, uitgegee.a

Aangesien Luther bloot ’n bespreking onder geleerdes wou hê, iets waarop hy as ’n professor geregtig was, was die stellings in Latyn geskryf. Maar volgens Friedrich Oehninger het dit “’n opsienbare sensasie” veroorsaak. “Binne 14 dae was dit [die gedrukte Duitse vertalings] dwarsdeur Duitsland bekend, binne vier weke in die hele Christendom. Sommige het hulle daarin verheug dat een man uiteindelik ’n standpunt teen die Roomse onderdrukking ingeneem het; vir ander het Luther ’n voorwerp van haat geword.” Die uitwerking van sy stellings het Luther self verbaas. Wat het dit geopenbaar?

Wat Luther se 95 stellings geopenbaar het

Volgens sy eerste stelling moet ‘die hele lewe van die gelowiges ’n boetedoening wees’. Die sondaar kon vrede met God bekom, nie deur aflaatbriewe nie, maar deur opregte bekering en Christelike gedrag. Een van die laaste stellings lui: “Weg dan met al daardie profete wat vir Christene preek: ‘Vrede, vrede’, en tog is daar geen vrede nie.”—92ste.

Nie tradisie nie, maar die evangelie, moet “die hoogste” en die “ware skat” wees, het Luther geskryf (55ste, 62ste, 65ste). Dit is waar. Jesus het die voorbeeld gestel deur die geïnspireerde Skrif as leermiddel te gebruik en het van God se Woord gesê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17; Lukas 24:44). Deur van hierdie patroon af te wyk, het die geestelikes die Bybel as die hoogste gesag verwerp en is hulle in die strik van menseleerstellings vasgevang. Luther het hulle berispe, en gesê: “Leerstellings van mense word verkondig deur diegene wat sê dat die siel (uit die vaevuur) vlieg sodra geld in die kissie klingel.”—27ste.

Luther het gewaarsku dat so ’n leer ‘wins en hebsug laat toeneem’ (28ste). Godsdiensgeskiedenis bewys dat die geestelikes Skriftuurlike waarskuwings veronagsaam en slagoffers van geldgierigheid geword het (Hebreërs 13:5). ’n Katolieke geskiedenisboek erken: “Die grondoorsaak van verval in die destydse kerk was die belastingbeleid van die Kurie, wat terdeë deur simonie besmet was.”

Toe Luther sy stem teen “die ‘heilige’ kerktradisie” laat opgaan het en “die kerk se verval tot die sfeer van geld en mag ronduit veroordeel het”, soos een Protestantse geskiedskrywer dit gestel het, het hy die kern van die probleem aangeroer: die algemene versaking van vroeë Christelike leerstellings.

Hoe die afval van die ware geloof begin het

Die 11de stelling beskryf een onskriftuurlike leerstelling as “’n onkruid wat klaarblyklik gesaai is toe die biskoppe geslaap het”. Dit laat ons dink aan Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid, waarin hy die planting van naamchristene voorspel het (Mattheüs 13:36-43). Na die dood van die apostels het hierdie valse Christene, tesame met afvallige leraars, suiwer Bybelleerstellings met Griekse filosofie vermeng en onskriftuurlike leerstellings soos die onsterflikheid van die siel, die helse vuur en die Drie-eenheid ingebring.b—Handelinge 20:29, 30.

Die vroeë Christene het byvoorbeeld geen skilderkuns gehad nie en die sogenaamde Kerkvaders het die verering van ’n beeld as ’n “afdwaling en oortreding” beskou. Maar teen die einde van die vierde eeu was die kerke vol beelde van Jesus, Maria, die apostels, engele en die profete. Volgens Epifanius van Salamis het dié wat uitgebeeld is onbehoorlike verering ontvang wanneer persone ’n kniebuiging voor hulle gemaak het. Die waarskuwing: “Bewaar julleself van die afgode”, is gaandeweg in die wind geslaan.—1 Johannes 5:21; vergelyk Handelinge 10:25, 26.

Voorgewende Christene het Jesus se bevel verwerp toe hulle begin het om oor hulle broers te “heers” deur ’n kerklike hiërargie te organiseer (Mattheüs 20:25-27; 23:8-11). Later het biskoppe van Rome op die hoogste posisie aanspraak gemaak. Geskiedskrywer Oehninger sê dat die kerk, terwyl die “verval van die kerklewe onder die bewind van die verwêreldlikte pousdom ongehinderd voortgegaan het”, pogings aangewend net “om homself te hervorm, maar dit nie kon doen nie”.

Die 16de eeu het nog veranderinge gesien. “Die gees van die tyd was tot sy [Luther se] voordeel”, sê Oehninger en voeg by dat “teenstanders hom aangeval het, hom met die dood as ’n ketter gedreig het, maar dat hulle hom net daartoe gedryf het om ’n verdere en nuwer ondersoek op grond van die Heilige Skrif in te stel, totdat die hele Roomse stelsel, as ’n blote menseskepping, voor sy oë begin verkrummel het”. Maar was die pasgebore kerke waarlik vry, soos hulle beweer het, van “ontsettende misbruike en valse leerstellings”?

Die Hervorming was geen herstel nie

Die aandrang op hervorming in die 16de eeu het nie tot ’n herstel van die “universele” kerk of van vroeë Christelike leerstellings gelei nie, maar bloot ’n verdeling van die afvallige Christendom in afvallige dele wat weer geskei het, veroorsaak. Hedendaagse biskoppe, met inbegrip van Luther se erfgename, slaap skynbaar steeds, soos die 11de stelling gesê het.

Die Protestante het die leerstelling van aflate verwerp, maar talle ander valse leerstellings aanvaar. “Die Christelike teologie het ook die leerstelling van die onsterflikheid van die siel uit Griekse filosofie oorgeneem”, sê Evangelischer Erwachsenenkatechismus (Die Protestantse kategismus vir volwassenes). Dit is “saamgesmelt . . . met die Bybel se getuienis oor die opstanding van die liggaam”.

Deur menseleerstellings te gebruik en hulle bediening met wêreldlike dinge, die politiek inkluis, te meng, ondermyn die Christendom se leiers die Bybel se gesag, net soos in die dae van Luther. Hulle blote “gedaante van godsaligheid” is dus sonder krag en kan nie die kwynende opkomste by kerkdienste, die onverskilligheid van lidmate, die verpolitiekte kerkbesprekings en die toenemende lidmaatskaponttrekkings keer nie.—2 Timotheüs 3:5.

Net soos inligting oor ’n pasiënt se verlede ’n dokter help om die persoon se siekte te diagnoseer, help godsdiensgeskiedenis ons om te verstaan waarom die Christendom in ons dag dodelik siek bly. Is daar dan geen hoop vir ’n suiwer Christelike godsdiens nie? Inteendeel! Jesus se gelykenis het getoon dat sy koringagtige volgelinge, die ware “kinders van die koninkryk”, gedurende die oes in “die voleinding van die wêreld” geïdentifiseer sal word (Mattheüs 13:38, 39; Daniël 12:4). Hoe sou dit geskied?

’n Les uit eietydse godsdiensgeskiedenis

In 1891 het ’n groep Bybelstudente Luther se voormalige huis in Wittenberg besoek. “Hoe duidelik het dit ’n mens tog aan daardie stormagtige tye laat terugdink”, het een reisiger gesê. Charles Taze Russell was een van dié wat in Luther se ‘studeerkamer ingegaan en op sy ou stoel gesit het’. Die verslag gaan voort: “[Ons] het vandag groot rede tot vreugde dat die reiniging van die heiligdom, ondanks die feit dat die aanvoorders van die groot hervorming skielik met die werk opgehou en ander dwaalstelsels georganiseer het, nietemin deur goddelike bestiering tot voltooiing deurgevoer is, en dat die goue vate van goddelike waarheid nou herstel word.” Wat Luther nie kon doen nie, het hierdie besoeker help doen.

Dit was ’n gebeurtenis van geskiedkundige omvang toe Russell—saam met ander waarheidliewende manne en vroue—’n onafhanklike Bybelstudie in die 1870’s begin het. Russell het later geskryf dat hulle tussen 1870 en 1875 egter “bloot die algemene trekke van God se Plan te wete gekom en talle gewilde dwalinge afgeleer het, daar die tyd vir die duidelike insig in die besonderhede nog nie heeltemal aangebreek het nie”. Maar die daaropvolgende jare het mylpale in die herstel van oorspronklike Christelike standaarde geword.

Deur middel van die tydskrif Zion’s Watch Tower het die Bybelstudente aangekondig dat die naam van die Allerhoogste Jehovah is, dat die siel sterflik is (1881), dat die Drie-eenheid onskriftuurlik is (1882) en dat die Bybelse hel die graf is (1883). Net soos valse leerstellings geleidelik ingesypel het, het die lig van die waarheid nou geleidelik helderder en helderder geword (Spreuke 4:18, 19). Hierdie Christene het van die begin af die fundamentele waarheid oor Jesus, wat sy lewe as ’n losprys gegee het, verstaan en het sy onsigbare wederkoms en God se Koninkryk die kern van hulle bedrywigheid gemaak.—1 Timotheüs 2:6.

Vir beter georganiseerde “verspreiding van Bybelwaarhede in verskillende tale” deur middel van publikasies het die Bybelstudente in 1884 die reeds bestaande Zion’s Watch Tower Tract Society wetlik in die Verenigde State as ’n korporasie gestig. Publikasies in Sweeds is reeds die vorige jaar uitgegee, en in 1885 is die eerste Duitse lektuur gepubliseer. In 1892 is sendingwerk in die buiteland oorweeg. Vandag verkondig die Bybelstudente—bekend as Jehovah se Getuies— “hierdie evangelie van die koninkryk” in 208 lande en gebiede en in sowat 200 tale.—Mattheüs 24:14.

Die meeste van die Getuies was lidmate van die Christendom se kerke of ander godsdienste en het aan Godonterende leerstellings geglo. Na hulle juiste kennis van God ingeneem en geloof begin beoefen het, was hulle berouvol oor hulle verkeerde weg, het hulle hulle bekeer en toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah geword. Omdat hulle ‘werke gedoen het wat by die bekering pas’, geniet hulle ’n skoon gewete en vrede met God.—Handelinge 26:20; Johannes 17:3.

Is godsdiensgeskiedenis van enige nut?

Dit is beslis. Groot dele van die Bybel bevat nuttige godsdiensgeskiedenis (Romeine 15:4). Die Evangelies toon hoe Jesus die waarheid oor God en Sy voorneme met die aarde verkondig het. Jesus se volgelinge moes wag vir die hemelse Koninkryk wat aardse probleme sal oplos. “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie”, het Jesus gesê.—Mattheüs 6:9, 10; 25:1-13.

Godsdiensgeskiedenis bevestig die koms van die voorspelde naamchristene, wat hulle eie aardse bewind opgerig het. Die Hervorming het die voorkoms van die wêreld verander, maar het nie suiwer Bybelleerstellings herstel nie. Die geskiedenis toon ook dat daar hedendaagse Christene is wat “waak”, wat “nie van die wêreld is nie” en wat God se Koninkryk eerste stel (Johannes 17:16). Hierdie inligting het talle mense gehelp om Jesus se ware volgelinge vandag te identifiseer.

Barbara, wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is, is een van die meer as 3 000 000 aktiewe Getuies dwarsdeur die wêreld wat probeer om opregte mense met “die suiwer leer van die Evangelie” te bereik. ’n Mate van vertroudheid met godsdiensgeskiedenis help hierdie Koninkryksverkondigers ook.

[Voetnote]

a In die nuwe tyd het Rooms-Katolieke geskiedskrywers beweer dat dit “’n geskiedenislegende deur die Protestantse kerke” is dat Luther die stellings op 31 Oktober 1517 aan die deur van die slotkerk in Wittenberg vasgespyker het. Die feit dat hy daardie dag ’n eerbiedige brief aan aartsbiskop Albert geskryf en ’n kopie van die stellings ingesluit het, is egter onbetwisbaar. Luther het hom gevra om sy aflaatpredikers te bestraf en die instruksies te kanselleer. Die oorspronklike brief is steeds in die Sweedse Staatsargief in Stockholm.

b Kyk “’n Saailand wat koring en onkruid voortgebring het” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1981, bladsye 16-20, en “Hulle sal heimlik verderflike sektes invoer” in Die Wagtoring van 1 Desember 1983, bladsye 10-15.

[Venster op bladsy 28]

’n Aflaat is die kwytskelding van (tydelike) straf vir sonde . . . Die kwytskelding is hier of in die vaevuur van krag.—Katolieke geleerde Josef Lortz.

Geleerdes is dit selfs vandag nie eens oor wat aflate is en wat dit vir die lewe van die Katoliek beteken nie.—Protestantse geskiedskrywer Heinrich Bornkamm.

Die aflaat—’n Spesiale Katolieke leerstelling

Die biegvader lê die berouvolle Katoliek ’n boete (soos gebed, ’n vas, ’n liefdegawe of ’n pelgrimstog) op. Die pous kan hom van hierdie boetes ontslaan, want hy is, volgens Rooms-Katolieke teorie, is hy heer oor alle tydelike straf (met inbegrip van die vaevuur) en verleen hy ’n aflaat uit die sogenaamde genadeskat van Christus en die heiliges. In die Middeleeue is hierdie voorreg ernstig misbruik en is dit beskryf as “’n grootskaalse handelsbedryf, wat ten koste van sedelike standaarde en in stryd met die leerstellings van die Heilige Skrif beoefen is”.

Die kerk stel boetedoening nie gelyk met die vergifnis van sondes nie. Maar selfs in die Middeleeue het mense “die eenvoudige geloof [behou] dat die [sonde]skuld deur betaling gekanselleer is”, en aflaatpredikers het hierdie gedagte gesteun. Luther se stellings was gerig teen daardie “fabels” en is soos volg opgesom: “Atlate is die werke van mense en het niks gemeen met die suiwer evangelie nie.”

Pous Clemens VI het die leerstelling in 1343 aangeneem maar dit nie duidelik omskryf nie. Luther kon derhalwe verwys na die niksseggende aard daarvan. Die kerk het gou hiervoor vergoed deur in 1518 ’n amptelike definisie van die aflaat uit te gee. Maar die pouslike bul van Leo X het geen “Bybelse bewys [bevat] waarom die verdienste van Christus en die heiliges met die genadeskat van aflate gelykgestel is nie”. Dit het Katolieke Luther tot ’n gewigtige besluit laat kom. Sy verwerping van die onskriftuurlike aflaatstelsel het die Hervorming ontketen, en die verwerping van sy kritiek het tot die groot kerkverdeeldheid gelei.

In die nuwe tyd het ernstige kritiek in die geledere van die Rooms-Katolieke Kerk “nie tot ’n verandering van die stelsel gelei nie, maar net tot hervormings van die gebruik”. In 1967 het pous Paulus VI ten gunste van die ou aflaatteorie besluit. Vir Katolieke is die beslissende vraag steeds: Volg ek God se Woord, of glo ek die tradisies van mense?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel