Die gevare van rykdom en van armoede
KRITISEER die Bybel rykdom en staan dit armoede voor? Baie mense dink so. Maar twee verwante spreuke help om dit op te klaar.
Spreuke 10:15 sê: “Die goed van die ryke is vir hom ’n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede.” Dan voeg vers 16 by: “Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde.” Let op hoe hierdie twee mekaar aanvul.
Vers 15 getuig dat rykdom voordele en armoede nadele het. Rykdom kan help om ’n mens teen sommige van die lewe se onsekerhede te beskerm. Maar die arm persoon het dalk bykomende probleme omdat hy nie finansieel kan bybly wanneer onverwagte ontwikkelinge opduik nie. Die Bybel is realisties hieromtrent.—Prediker 7:12.
Daar kan egter ook verstaan word dat vers 15 op ’n gevaar ten opsigte van rykdom of armoede sinspeel. Menige ryk man vertrou ten volle op sy geld; hy meen dat dit hom al die nodige beskerming verleen (Spreuke 18:11). Maar rykdom kan hom nie help om ’n goeie naam by God te verkry of hom blywende geluk verseker nie. Trouens, rykdom kan dit moeiliker maak. Jesus se illustrasie van die ryk man wat groter skure gebou het, maar nie ryk in God was nie, bevestig dit (Lukas 12:16-21; 18:24, 25). Talle arm mense meen andersyds verkeerdelik dat hulle armoede hulle toekoms hopeloos maak.
Let op hoe vers 16 die saak uitbou. ’n Regverdige se werk kan hom genot verskaf, ongeag of hy ryk of arm is. Hy laat nie toe dat die finansiële gewin van sy werk op sy goeie posisie voor God inbreuk maak nie. ’n Regverdige se pogings bied hom eerder, benewens huidige geluk, die versekering van die ewige lewe in die toekoms (Job 42:10-13). Die goddelose vind egter nie daarby baat selfs wanneer hy baie geld bekom nie. Pleks dat hy die beskermende waarde van geld besef en ooreenkomstig God se wil lewe, gebruik hy sy rykdom om ’n sondige lewe te bevorder.