Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 8/1 bl. 21-25
  • My geslag—Uniek en hoogs bevoorreg!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My geslag—Uniek en hoogs bevoorreg!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Goeie begin met TLS
  • Onvergeetlike indrukke
  • Oorlogsprobleme en ’n nuwe begin
  • Belangrike veranderinge met die verloop van die jare
  • My geslag—Op ’n spesiale manier uniek
  • Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 8/1 bl. 21-25

My geslag—Uniek en hoogs bevoorreg!

Soos vertel deur Melvin Sargent

TALLE jongmense vandag is gebore in ’n gesin wat Jehovah se Getuies is. Maar in 1896 was dit voorwaar ’n seldsame voorreg. Moeder het my van kleins af geleer om Jehovah op die regte manier te vrees en om sy Seun se losprysoffer te waardeer. Ek is dus ’n lid van ’n unieke en hoogs bevoorregte geslag—oud genoeg om die begin van die teken van Christus se teenwoordigheid in 1914 te gesien het en tog moontlik nog jonk genoeg om die voleinding daarvan by Armageddon te aanskou.—Mattheüs 24:3, NW, 33, 34.

’n Goeie begin met TLS

As kind het ek die sogenaamde TLS-behandeling, Tere Liefdevolle Sorg, ontvang. Tog is daardie sorg soms getoon op maniere wat sommige vandag dalk as baie streng sou beskou. Ek onthou dat Moeder eendag toevallig gehoor het hoe ’n ouer seun saam met wie ek gespeel het skielik woorde begin gebruik wat vir my heeltemal onbekend was. “Dit is lelike woorde wat jy nooit moet gebruik nie”, het sy vir my gesê en dit met meer as blote woorde by my ingeskerp! Maar ek het besef dat haar dissipline ’n blyk van tere, liefdevolle sorg was, en ek onthou dat ek gewonder het waarom Jimmie se moeder hom nie gedissiplineer het nie. Het sy hom nie lief genoeg gehad nie?

Ons was die enigste Getuie-gesin in die Jewell-distrik, Kansas. Vader was nie ’n toegewyde kneg van Jehovah nie, maar hy het geredelik ’n Bybelstudie met ons as kinders gehou. My suster Eva was die oudste, en Walter was 16 maande ouer as ek. Daar is van ons verwag om elke aand saam die skottelgoed te was. Maar Walter het dikwels onder voorwendsels gevra om verskoon te word. Ek en Eva het hierdie taak benut as ’n daaglikse geleentheid om oor Bybelwaarhede te gesels, en dit was dus ’n geluk by ’n ongeluk. Ek het later besef dat mense wat verantwoordelikhede van hulle afskuif, baie seëninge verbeur. Dit het met Walter gebeur, wat die waarheid later die rug toegekeer het.

Ons TLS-behandeling het op 4 Augustus 1912 goeie resultate gelewer. Ek en Eva het douvoordag opgestaan en 16 kilometer in ’n perdekarretjie afgelê om die vroeë trein na Jamestown, Kansas, te haal. ’n Pelgrim, soos reisende Bybelstudente genoem is, het daar besoek afgelê, en dit sou die eerste keer wees dat ons Bybelstudente buite ons eie huis ontmoet. Ons is ook op daardie dag gedoop.

Hoewel ek net 16 was, het ek die pelgrimbroer gevra of ek die voltydse bediening, wat destyds kolporteurwerk genoem is, kon betree. Hy het my aangespoor om aan die Wagtoringgenootskap te skryf. Maar aangesien my hulp nog tuis nodig was, moes ek dit op die lange baan skuif. Intussen het ek gereeld in my vrye tyd die Bybelstudente in Jamestown gehelp om traktate in sowat 75 omliggende stede en dorpe te versprei.

Ek het ook op ander tye getuig. Toe ons grondeienares eenkeer op ’n sakebesoek dorp toe gekom en ’n paar dae by ons gebly het, het ek haar ’n traktaat gegee. Dit moes haar beïndruk het. Maar nadat sy na Iowa teruggekeer het, het ek haar eers 30 jaar later weer gesien. Sy het intussen ’n Adventis geword en het nie in ‘my godsdiens’ belanggestel nie. Sy het egter ’n opsigter vir haar eiendom nodig gehad en aangesien daar geen “waarlik Christelike man” in haar godsdiens was wat sy kon vertrou nie, het sy haar tot my gewend. Die loon wat sy my betaal het, het my gehelp om my etlike jare lank in die voltydse bediening te onderhou. Dit was voorwaar ’n bevestiging van Prediker 11:1: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.” Of van wat Jesus eenkeer gesê het: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33.

Onvergeetlike indrukke

Ek het my eerste byeenkoms in 1913 bygewoon. Ek is beïndruk toe ek gesien het dat 41 nuwelinge gedoop word, en dit het my ook bemoedig om te dink dat ek met my groot voorsprong (ek was toe al tien maande gedoop) dalk nog ’n kans het om teen 1914 ’n “Christelike persoonlikheid” aan te kweek sodat ek my “roeping en verkiesing” kan verseker. Die talle rooi en geel linte wat ek gesien het, het my ook beïndruk. Kolporteurs wat maats gesoek het, het rooi linte gedra, en enigiemand wat met hulle wou saamwerk, het ’n geel lint gedra.

Die geleentheid om die Fotodrama van die Skepping te sien en broer Russell van naderby te beskou, was vir my ’n hoogtepunt van die byeenkoms in 1914. Hy was ’n hartlike mens en wou graag opbouende inligting aan sy luisteraars oordra. Hy was simpatiek en bereid om te luister na diegene wat hom oor probleme genader het. Maar hy het homself nie te belangrik geag om soms met ’n tiener se grappies saam te speel nie. Terwyl ek een aand die draaiboek van die Fotodrama-program uitgedeel het, het hy haastig verbygestap. Ek het voorgegee dat ek hom nie herken nie en hom ’n eksemplaar aangebied. Hy het eers verbygestap, maar toe het hy omgedraai en my met ’n lag bedank om te wys dat hy die grap gesnap het.

Uiteindelik kon ek in 1917, op 21-jarige ouderdom, die kolporteurwerk betree. Die Eerste Wêreldoorlog het al byna drie jaar lank gewoed. Met ’n reistas in die hand, baie boeke en $30,00 in my sak, het ek saam met my maat, Ernest Leuba, ’n ouer, ervare kolporteur, na Nebraska vertrek. Ons het positiewe sowel as negatiewe ondervindinge gehad. Ek onthou byvoorbeeld dat ons eenkeer besluit het om ’n vinnige metode te gebruik om boeke te plaas. Ons het kaartjies laat druk wat mense die geleentheid gebied het om die boek The Finished Mystery twee dae lank gratis te ondersoek en dit teen 60c te bekom wanneer ons terugkeer. Een oggend het ons op hierdie manier tien boeke uitgeleen. Ek het twee dae later sewe van my boeke versprei, maar broer Leuba, wat in ’n oorwegend Katolieke buurt gewerk het, het net een versprei. Hy moes een van die boeke wat hy uitgeleen het by die plaaslike Katolieke priester, aan wie die boek oorhandig is, gaan haal. Ons het dus weldra besef dat ons vinnige metode nie werklik so goed is soos om meer tyd aan gesprekke met die mense te wy nie.

Ons het natuurlik baie min geld gehad, en daarom was ons soms baie vindingryk wanneer dit gekom het by maniere om spaarsaam te wees. Toe ons later na ’n nuwe toewysing in Boulder, Colorado, vertrek het, het ons derhalwe ’n kaartjie na die naaste stasie anderkant die staatsgrens gekoop. Toe het ons van die trein afgeklim en ’n ander kaartjie gekoop om die res van die reis met die volgende trein af te lê. Waarom? Omdat die reisgeld in ’n staat twee sent per myl was, terwyl die prys tussen state hoër was. Buiten die feit dat ons geld bespaar het, kon ons informele getuieniswerk doen terwyl ons oorgelê het.

Oorlogsprobleme en ’n nuwe begin

Teen daardie tyd was dit 1918, en die Verenigde State was ten volle in die oorlog verwikkel. ’n Storm van openlike teenstand teen die Bybelstudente het losgebars en het die vreesagtiges en die onbevreesdes geïdentifiseer. Sommige broers wat oud genoeg was om opgeroep te word, het, hoewel hulle gewetensbeswaardes was, ingestem om niestrydende krygsdiens te verrig.

Toe ek my laat registreer het, het ek as bedienaar om vrystelling gevra. Ek het gemeen dat my argumente gegrond was, en die datum waarop ek my moes aanmeld, is uitgestel terwyl my saak aan die vrystellingsraad voorgelê is. Hulle was ’n ander mening toegedaan en het my aansoek verwerp. Maar hierdie vertraging het my gehelp om uit die tronk te bly, want toe was dit reeds oestyd, en die datum is uitgestel totdat hierdie noodsaaklike werk op my ouers se plaas voltooi is. Daar is uiteindelik bepaal dat ek my op 15 November moet aanmeld. Die oorlog het op 11 November geëindig. Ek het die tronk met net vier dae vrygespring.

Ander wat onbevrees hulle standpunt vir Christelike neutraliteit ingeneem het, het dit nie so goed getref nie. Ek het een van hulle by ’n byeenkoms in Denver ontmoet. Die broer het verduidelik waarom hy bles is en het vertel hoe hy aan ’n boom vasgebind is deur ’n fanatieke gepeupel wat warm teer oor hom gegooi het. “Die vroue in die groep”, het hy gesê, “was die ergste.” Hy het sy hare afgeskeer om van die teer ontslae te raak. Toe het hy breed geglimlag en van sy ondervinding gesê: “Ek sou dit vir niks ter wêreld misgeloop het nie.”

Vanweë hulle beginselvaste standpunt is sommige van die amptenare van die Wagtoringgenootskap ten onregte in die tronk gesit. Maar in 1919, terwyl hulle nog in die tronk was, is hulle in hulle posisies in die Genootskap herkies, ten spyte van afvalliges se poging om ander in hulle plek te stel. Die getroue broers het dit as ’n teken van Jehovah se goedkeuring aanvaar. Vol vreugde, bemoedig deur ’n nuwe stroom heilige gees, was hulle nou vasbeslotener as ooit tevore om die Koninkrykspredikingswerk van nuuts af aan te pak en die geestelikes aan die kaak te stel vir hulle skynheilige versuim om God se Koninkryk te ondersteun. Hulle het begin om geheel en al van Babilon weg te breek.

Op 24 Februarie 1918, nadat die Verenigde State op 6 April 1917 by die Eerste Wêreldoorlog betrokke geraak het, het broer Rutherford die boeiende toespraak: “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterwe nie” in Los Angeles, Kalifornië, gehou.

Belangrike veranderinge met die verloop van die jare

Ek en Lydia Tannahill het ons vriendskap sewe jaar lank hoofsaaklik deur briefwisseling aan die gang gehou. Na biddende oorweging het ons in 1921 besluit dat dit vir ons die beste sou wees om die toegewing te benut wat Paulus gedoen het toe hy die ongehude staat aangeraai het, naamlik: “Hy wat in die huwelik uitgee, doen goed” (1 Korinthiërs 7:38). Ons huwelik was ’n gawe van Jehovah en het ons hart verbly. Maar ons het weldra voor ’n krisis te staan gekom. Ons reise het veroorsaak dat Lydia se ou rugbesering ernstig word, en hoewel my hart lojaal en liefderyk was, was dit stadig—die dokters het dit “’n moeë hart” genoem. Dit het tot anemie oorgegaan. Ons albei se krag was besig om op te raak. Ons is aangeraai om van klimaat te verander en ons daaglikse reise te beperk. Ons mobiele woning was die ideale hulpmiddel vir ons om hierdie raad te volg, en ons het September 1923 dus op pad na Kalifornië deurgebring.

As lid van hierdie hoogs bevoorregte geslag is ek toegelaat om te sien hoe Jehovah se sigbare organisasie met die verloop van die jare ontwikkel het. Ek was daar toe Los Angeles in afsonderlike predikingsgebiede verdeel is, toe getuieniswerk op Sondae begin het en toe ons ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, in 1931 ontvang het. Hoe opwindend was dit tog om te sien hoe wysigings in 1932 en 1938 aangebring is om die teokratiese eerder as die demokratiese aanstelling van ouere manne te verseker. En dit was ’n vreugde om te sien hoe onduidelike geskille en vrae, soos dié oor neutraliteit en die heiligheid van bloed, opgeklaar word.

Hoewel ek die kolporteurwerk in 1923 laat vaar het, het ek altyd ’n pioniergees behou. In 1943 kon ek dus weer by die vinnig groeiende geledere van die pioniers aansluit. In 1945 het die voorreg my selfs te beurt geval om ’n spesiale pionier te word, en ek het nege jaar lank in daardie hoedanigheid gedien totdat my “moeë hart” my weer eens ingehaal het. Ek dien sedert 1954 as ’n gewone pionier.

My huwelik met Lydia het 48 jaar geduur totdat sy in 1969 tot ’n nuwe toewysing oorgegaan het, ’n erfenis wat vir haar “in die hemele bewaar is”, ’n toewysing wat ek ook hoop om op die gepaste tyd te ontvang (1 Petrus 1:4). Hoewel ons nooit met kinders geseën is nie, is ons geseën met wat baie as ’n ideale huwelik beskou het. Hoewel my verlies groot was, kon ek dit te bowe kom deur met teokratiese belange besig te bly. Later het ek getrou met ’n ervare pionier wat ek jare lank geken het, Evamae Bell. Ons het 13 jaar van kameraadskap geniet, totdat sy ook oorlede is.

My geslag—Op ’n spesiale manier uniek

Ek word soms gevra: “Wat was jou wonderlikste ondervinding in die waarheid?” Ek antwoord sonder aarseling: “Om te sien hoe die Bybelprofesieë wat eeue gelede deur geïnspireerde en toegewyde manne neergeskryf is, in my geslag vervul word.”’

Lede van my geslag buite die teokratiese organisasie het natuurlik geword presies soos die Fotodrama van die Skepping in 1914 gesê het hulle sou word: behep met geld, genot en eer. Dié van ons in die Here se organisasie het op elke moontlike manier probeer om hulle aandag op die boodskap van die lewe te vestig. Ons het gebruik gemaak van slagspreuke, volblad-advertensies, die radio, klankmotors, grammofone, reusebyeenkomste, informasie-optogte van verkondigers wat plakkate dra en ’n groeiende leër van bedienaars wat die predikingswerk van huis tot huis doen. Hierdie bedrywigheid het gehelp om mense te skei—diegene wat ten gunste van God se opgerigte Koninkryk is aan die een kant, diegene wat dit teenstaan aan die ander kant. Dit is die werk wat Jesus vir my geslag voorspel het!—Mattheüs 25:31-46.

Totdat my “moeë hart” ophou klop, sal dit met waardering bly klop vir die voorreg wat ek geniet het om ’n lid van ’n unieke geslag te wees. Dit sal aanhou om met opgewondenheid te klop oor die voorreg wat ek nou het om miljoene glimlaggende gesigte te sien wat die vooruitsig het om vir ewig aan te hou glimlag.

[Prent op bladsy 23]

Melvin en Lydia Sargent, kolporteurs in 1921

[Prent op bladsy 24]

Melvin en Evamae Sargent, 1976

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel