Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 8/1 bl. 15-20
  • Christus se daadwerklike leiding vandag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christus se daadwerklike leiding vandag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Heer en sy diensknegte
  • Opsieners in Christus se regterhand
  • Deur middel van die gees
  • Deur middel van engele
  • Volkome vertroue in Christus se leiding
  • Christus lei sy gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Lojaal teenoor Christus en sy getroue slaaf
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Heilige geheim word onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • ‘Die getroue dienskneg’ en sy Bestuursliggaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 8/1 bl. 15-20

Christus se daadwerklike leiding vandag

“Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—MATTHEÜS 28:20.

1. Hoe het Christus sy “besittings” aan sy dissipels toevertrou?

TOE Christus in 33 G.J. op die punt gestaan het om sy dissipels te verlaat en terug te keer hemel toe, het hy ‘sy besittings aan hulle toevertrou’. Dit het behels dat hulle “ambassadeurs in die plek van Christus” moes wees en die predikingswerk waarmee hy begin het, moes aanpak en uitbrei “tot aan die uiterste van die aarde”. Voordat hy hulle verlaat het, het hy hulle beveel om ‘dissipels van al die nasies te maak’. Het ons getuienis dat hy hulle uitvoering van hierdie opdrag opmerksaam dopgehou het? Beslis!—Mattheüs 25:14; 2 Korinthiërs 5:20, NW; Handelinge 1:8; Mattheüs 28:19.

2. Wat toon dat Christus die bedrywighede van die eerste-eeuse gemeentes fyn dopgehou het?

2 Meer as 60 jaar nadat Christus opgevaar het hemel toe, het hy getoon dat hy die bedrywighede van Christengemeentes op aarde met groot aandag dopgehou het. In die openbaring wat gegee is aan die apostel Johannes, ’n lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam, het Jesus Christus boodskappe aan sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur. Vir vyf van hulle het hy gesê: “Ek ken jou werke.” En hy het getoon dat hy deeglik bewus was van die toedrag van sake in die ander twee, Smirna en Pergamus. Hy het spesifieke bemoediging en raad aan elke gemeente gegee. Daar kon by hulle geen twyfel bestaan het oor wie hulle aktiewe Leier is nie.—Openbaring 1:11; 2:1–3:22.

3. Aan wie is die sewe boodskappe in werklikheid gerig, en wat bewys dat dit die geval is?

3 Daardie sewe boodskappe was in werklikheid nie net op die sewe gemeentes in Asië van toepassing nie. Die goeie raad en die waarskuwings wat hulle bevat, geld vir alle gemeentes, van die eerste eeu tot in “die dag van die Here”, waar ons ons nou bevind.a Christus se oë, wat met “’n vuurvlam” vergelyk word, hou voortdurend die gebeure in “al die gemeentes” dop.—Openbaring 1:10; 2:18, 23.

Die Heer en sy diensknegte

4. Hoe het Christus “op reis” gegaan en toe “ná ’n lang tyd” teruggekeer?

4 Nadat Christus homself vergelyk het met “’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou”, het hy bygevoeg: “Ná ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken” (Mattheüs 25:14, 19). In 33 G.J. het Christus ‘heengegaan na die hemel’, waar hy “aan die regterhand van God” gaan sit het (1 Petrus 3:22). “Ná ’n lang tyd” het Christus, nadat hy in 1914 op die troon geplaas is, ‘te midde van sy vyande begin heers’ deur Satan en sy demone na die aarde neer te werp (Psalm 110:1, 2; Openbaring 12:7-9). Toe het hy sy aandag op sy knegte gevestig. Die tyd het aangebreek om met hulle af te reken. Hy was nou, meer as ooit tevore, hulle aktiewe Leier.

5. Wanneer het die tyd van afrekening aangebreek, en hoe is die getroues beloon?

5 Die eietydse geskiedenis van God se volk toon dat hierdie tyd van afrekening in 1918-1919 aangebreek het. Die gelykenis van die talente toon hoe die Heer met die oorblyfsel van sy gesalfde knegte sou afreken. Hulle sou individueel rekenskap moes gee van die wyse waarop hulle sy besittings gebruik het, “elkeen na sy vermoë”, of geestelike moontlikhede. Die wat produktief was, het in die vreugde van hulle Heer ingegaan, wat vir hulle gesê het: “Oor weinig was [julle] getrou, oor veel sal ek [julle] aanstel.”—Mattheüs 25:15, 20-23.

6. Wat het sulke getroue gesalfde Christene gesamentlik uitgemaak, en wat het hulle Heer aan hulle sorg toevertrou?

6 Daar is bevind dat sulke individuele gesalfde Christene getroue ambassadeurs van die tans heersende Koning was en bereid was om dissipels vir hulle Heer te maak. Daar is bevind dat hulle gesamentlik die “dienskneg” is van wie hulle Heer gesê het: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Mattheüs 24:45-47.

7. (a) Hoe het Christus se “besittings” sedert 1914 vermeerder? (b) Wat toon dat Christus ook die aktiewe Leier van die “ander skape” is?

7 Christus se “besittings” het sedert 1914 toegeneem. Hy is met “koningskap” beklee, wat meer gesag en groter verantwoordelikhede behels het (Lukas 19:11, 12). Hy het begin deur eers die oorblyfsel van “die kinders van die koninkryk”, die 144 000 gesalfde Christene “wat gekoop is uit die mense” om konings en priesters saam met hom in die hemel te word, te versamel (Mattheüs 13:38; Openbaring 14:1-4; 5:9, 10, NW). Toe het hy, soos die geskiedenis sedert 1935 toon, “’n groot menigte” “ander skape” versamel ,van wie hy gesê het: “Ek moet hulle ook lei” (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Ja, hy is die Een wat hierdie “skape” inbring, en hy word hulle aktiewe Leier. Dit is interessant dat die Griekse teks letterlik beteken: “En dit is nodig dat ek hulle lei.” Hoe lei hy al sy “skape” vandag daadwerklik?

Opsieners in Christus se regterhand

8, 9. (a) Watter gesig het die apostel Johannes ontvang? (b) Wat is deur die sewe kandelaars en die sewe sterre afgebeeld?

8 Die apostel Johannes, ’n lid van die bestuursliggaam van die vroeë Christengemeente, het ’n gesig ontvang waarin hy “sewe goue kandelaars [gesien het], en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens . . . En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou.” Jesus Christus het aan Johannes verduidelik: “Die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.”—Openbaring 1:12-20.

9 In sy kommentaar oor hierdie passasie sê die boek “Then Is Finished the Mystery of God”: “Is sulke ‘engele’ onsigbaar? Nee. Die apostel Johannes het die hele Openbaring van Jesus Christus ontvang deur middel van ’n hemelse engel, en dit sou onredelik wees dat hy aan engele in die hemel, in die onsigbare ryk, moes terugskryf. Hulle het nie die boodskappe nodig wat aan die sewe gemeentes in Asië geskryf is nie. Die basiese betekenis van die titel ‘engel’ is ‘boodskapper; boodskapdraer.’ . . . Daar hierdie sewe simboliese sterre in Jesus se regterhand is, is hulle in sy sorg en toesig en onder sy leiding, aangesien sy ‘regterhand’ van toegepaste krag hulle kan lei en beskerm. . . . Net soos die ‘sewe kandelaars’ in die visioenêre ‘dag van die Here’ al die ware Christengemeentes in hierdie teenswoordige, werklike ‘dag van die Here’ sedert 1914 G.J. afgebeeld het, so beeld die ‘sewe sterre’ al die geesverwekte, gesalfde, engelagtige opsieners van sulke hedendaagse gemeentes af.”b—Bladsye 102-104.

10. Watter vermeerderde “besittings” is aan die dienskneg se sorg toevertrou?

10 Hierdie gesalfde opsieners in Christus se regterhand is almal lede van die gesamentlike “dienskneg” wat Hy “oor al sy besittings” aangestel het. Aangesien die dienskneg se Heer self sedert 1914 met groter verantwoordelikhede beklee is, moet “al sy besittings” baie meer dinge vir die dienskneg insluit as in die verlede. As “ambassadeurs in die plek van Christus” is die oorblyfsel nou onder meer ambassadeurs van ’n heersende Koning wat oor ’n opgerigte Koninkryk regeer (2 Korinthiërs 5:20, NW). Hulle is aangestel oor al die geestelike dinge wat aan die Heer op aarde behoort. Hulle moet die profesieë vervul wat sedert die Koninkryk se oprigting van toepassing is. Dit sluit in die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis” (Mattheüs 24:14). Hulle moet, meer as ooit tevore, voortgaan om “dissipels van al die nasies” te maak en sodoende die ongetelde “groot menigte” versamel (Mattheüs 28:19, 20; Openbaring 7:9). Ja, hierdie “skatte van al die nasies” is ’n deel van Christus se vermeerderde “besittings” op aarde.—Haggai 2:7.

11. (a) Wat vereis hierdie vermeerderde “besittings”? (b) Wie rig die werk, en hoe?

11 Al hierdie dinge beteken meer werk vir die gesamentlike “dienskneg”, ’n groter werksfeer, een wat letterlik “die hele wêreld” insluit. Dit verg ook ’n groter hoofkwartier en takfasiliteite om toesig te hou oor die werk en om lektuur vir die predikingswerk en persoonlike studie te druk en te versprei. Net soos in die eerste eeu word hierdie werk gedoen onder die daadwerklike leiding van Jesus Christus, wat figuurlik “tussen die sewe kandelaars”, of gemeentes, is. Hy rig hulle deur middel van gesalfde opsieners, wat hy simbolies “in sy regterhand” hou (Openbaring 1:13, 16). Net soos in vroeë Christentye maak ’n groep van hierdie gesalfde opsieners die sigbare Bestuursliggaam van Christus se gemeente op aarde uit. Sy “regterhand” van toegepaste krag rig hierdie getroue manne terwyl hulle oor die Koninkrykswerk toesig hou.

Deur middel van die gees

12, 13. (a) Watter vraag ontstaan in die lig van die groot vermeerdering? (b) Hoe gebruik Christus die gees om te voorsien in die behoefte aan opsieners onder sy dissipels op aarde?

12 Aangesien daar nou meer as driemiljoen van die “ander skape” is wat in meer as 52 000 gemeentes georganiseer is, is dit duidelik dat die gesalfde oorblyfsel hulp nodig het om na die Heer se aardse besittings om te sien. Minder as 9 000, wat baie susters insluit, gebruik die Gedenkmaalembleme, en daarom is daar nie eens een gesalfde opsiener per gemeente nie. Beteken dit dat Jesus Christus nie in beheer is van gemeentes waar daar geen geesverwekte “engel”, of ‘ster’, is nie?

13 Hoegenaamd nie! Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Christus sy gemeente in die eerste eeu daadwerklik deur middel van die heilige gees gelei. Hy gebruik vandag die geesverwekte lede van die Bestuursliggaam om opsieners aan te stel wat uit die “ander skape” gekies is. Hulle moet voldoen aan dieselfde vereistes as gesalfde opsieners, soos uiteengesit in tekste soos 1 Timotheüs 3:1-7 en Titus 1:5-9. Hierdie Skriftuurlike vereistes is onder leiding van die heilige gees neergeskryf. Aanbevelings en aanstellings word na gebed en onder leiding van die heilige gees gedoen. Paulus se volgende raad geld eweseer vir sulke ongesalfde ouere manne: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het.”—Handelinge 20:28.

14. (a) Hoe word die profesie in Jesaja 32:1, 2 reeds vervul? (b) Hoe moet alle ouere manne hulle aan Christus se “regterhand” onderwerp?

14 In tienduisende gemeentes gebruik die regverdige, heersende Koning Jesus Christus dus “ander skape” as “vorste” om sy “skape” teen geestelike wind, stortreën en droogte te beskerm (Jesaja 32:1, 2). Net soos Dawid van die ou tyd bid ouere manne, hetsy van die gesalfdes of die “ander skape”, tot Jehovah: “Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land” (Psalm 143:10). En Jehovah hoor hulle gebed. Deur middel van sy Seun gee Hy hulle Sy gees, en Jesus gebruik hierdie middel daadwerklik om sy dissipels op aarde te lei. Alle ouere manne moet hulle natuurlik onderwerp aan Christus se “regterhand” van beheer, voorligting en leiding, wat hy deur middel van die gees en die geesverwekte lede van die Bestuursliggaam uitoefen.

Deur middel van engele

15. Watter ander middel het Christus tot sy beskikking om sy dissipels op aarde daadwerklik te lei?

15 Die vorige artikel het gemeld dat engele in die eerste eeu gebruik is om vroeë Christene te lei en te verlos en hulle in hulle predikingswerk te help. Sal dit logies wees om te dink dat ons heersende Koning Jesus Christus nie meer engele gebruik wanneer hy sy dissipels vandag daadwerklik lei nie? Dit sou nie alleen onlogies wees nie, maar dit sou ook onskriftuurlik wees.

16, 17. Watter bewys het ons dat Christus engele gebruik om “die kinders van die koninkryk” te oes en die “ander skape” bymekaar te maak?

16 Volgens Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid sou die oes aanbreek aan “die voleinding van die wêreld”, wat in 1914 begin het. Gedurende die oes sou “die kinders van die koninkryk” geskei word van “die kinders van die Bose”. Wie sou die Heer gebruik om die oeswerk te doen? “Die maaiers is die engele.” Christus het bygevoeg: “Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen” (Mattheüs 13:37-41). Christus gebruik engele om sy broers op aarde te beskerm.

17 Maar wat van die “ander skape”? Gebruik Christus engele om hulle bymekaar te maak? Bepaald! Sy gelykenis van die skape en die bokke sê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Mattheüs 25:31, 32). Christus gebruik sy engele in hierdie skeidingswerk. Net soos ’n engel Filippus se skrede na die Ethiopiese hofdienaar gerig het, is daar vandag oorvloedige getuienis dat Christus sy engele gebruik om die skrede van sy Getuies na sagmoediges te rig. Baie mense het verklaar dat hulle om hulp gebid het net voordat ’n Getuie aan hulle deur geklop het.—Handelinge 8:26, 27.

Volkome vertroue in Christus se leiding

18, 19. Waarvan is ons seker op grond van wat in die eerste eeu gebeur het?

18 In die eerste eeu was omstandighede nie altyd van so ’n aard dat Christus die bestuursliggaam in Jerusalem kon gebruik om ’n spesifieke probleem op te los nie. Toe Paulus in die noorde van Klein-Asië afgesonder was en moes weet in watter nuwe gebied hy vervolgens moes preek, het Christus deur die gees opgetree (Handelinge 16:6-10). Jehovah se Getuies vertrou vandag dat enige van hulle broers wat as gevolg van vervolging tydelik van die Bestuursliggaam afgesny word steeds Christus se daadwerklike leiding deur middel van die gees en die steun van engele geniet.

19 In vroeë Christelike tye was dit dalk moeilik om sommige besluite van die bestuursliggaam te verstaan. Dit was ongetwyfeld die geval toe Paulus teruggestuur is Tarsus toe of toe hy ná sy derde sendingreis na die tempel toe gestuur is (Handelinge 9:30; 21:23-25). Tog was Christus in werklikheid agter sulke besluite (Handelinge 22:17-21; 23:11). Ons kan vandag seker wees dat wat Christus ook al toelaat om onder sy dissipels op aarde te gebeur die een of ander verhewe doel het, net soos dit in die eerste eeu die geval was.

20. Waarvan is ons oortuig, en wat is ons vaste voorneme?

20 Wanneer ons in die Bybel lees dat Christus “die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente” is, is ons gevolglik daarvan oortuig dat hy nie bloot in naam Hoof is nie (Kolossense 1:18). Ons weet uit ondervinding dat hy ’n ware, aktiewe Hoof is. Wanneer ons die boek Handelinge lees en sien hoe Christus sake onder die vroeë Christene gerig het, kan ons sien dat hy vandag dieselfde middele gebruik. Ons sien getuienis van hoe Christus gebruik maak van die heilige gees, engele en “die getroue en verstandige dienskneg” en dié se Bestuursliggaam om geestelik bekwame ouere manne aan te stel. Omdat ons seker is dat Christus sake daadwerklik rig, is ons vasbeslote om aan te hou om ‘die waarheid te spreek’ en deur liefde op te groei “in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus”.—Efesiërs 4:15, NW,

[Voetnote]

a Kyk hoofstukke 7 tot 14 van die boek “Then Is Finished the Mystery of God”, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir ’n breedvoerige verduideliking van hierdie sewe boodskappe en hulle toepassing.

b Die Wagtoring van 1 Maart 1972 het hierdie gedagte nog verder opgeklaar deur te sê: “Dit was ongetwyfeld nie een indiwiduele ouderling, ouere man, presbiter, opsiener of herder nie, maar die hele ‘liggaam van ouere manne’ wat die verheerlikte Here, Jesus Christus, die ‘engel’ genoem het wat deur ’n hemelse ster gesimboliseer is. . . . Die ‘liggaam van ouere manne’ (of presbiterium) daar te Efese moes soos ’n ster hemelse, geestelike lig op die gemeente waaroor die heilige gees hulle herders gemaak het, laat skyn.”

Hoofgedagtes om te onthou

◻ Watter bewys het ons dat Christus die bedrywighede van eerste-eeuse gemeentes fyn dopgehou het?

◻ Wie het Christus oor al sy “besittings” aangestel, en wat sluit daardie besittings in?

◻ Wie word afgebeeld deur die sewe sterre in Christus se regterhand?

◻ Hoe gebruik Christus die heilige gees, engele en die gesalfde Bestuursliggaam om sy gemeente vandag te lei?

◻ Waarom kan ons volkome vertroue hê in die wyse waarop Christus sake vandag rig?

[Venster op bladsy 20]

Beproewinge as gevolg van oorloë, revolusies of regstreekse vervolging en amptelike verbooie kan dit vir jou onmoontlik maak om Christelike aanbidding op ’n ten volle georganiseerde wyse te beoefen. Omstandighede kan ontstaan wat dit onmoontlik maak om groot gemeentelike vergaderinge te hou. Kontak met die takkantoor kan tydelik verbreek word. Besoeke deur kringopsieners kan onderbreek word. Nuwe publikasies is dalk nie beskikbaar nie. Wat moet jy doen indien enige van hierdie dinge met jou gebeur?

Die antwoord is: Doen wat jy onder die omstandighede kan, en soveel as wat jy kan, op die gebied van reine aanbidding. Persoonlike studie behoort moontlik te wees. Klein groepies broers kan gewoonlik vir studie in huise bymekaarkom. Publikasies wat in die verlede bestudeer is en die Bybel self kan as grondslag vir vergaderinge gebruik word, Moenie ontsteld of bekommerd raak nie. Die een of ander vorm van kommunikasie met verantwoordelike broers sal gewoonlik na ’n rukkie bewerkstellig word. Die Bestuursliggaam soek na maniere om met die broers in aanraking te kom.

Maar selfs al word jy van al jou Christenbroers geskei, moet jy onthou dat jy nie van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, geskei is nie.—Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsy 168.

[Prent op bladsy 17]

Christus is simbolies tussen die gemeentes en hou die opsieners in sy regterhand

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel