Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/15 bl. 10-14
  • Hoe sinvol is jou gebede?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sinvol is jou gebede?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbeelde van sinvolle gebede
  • Gebreke weens menslike onvolmaaktheid
  • Hoe om die gebreke te bowe te kom
  • Hulpmiddele om sinvolle gebede te doen
  • Gebede wat verhoor word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Luister God na jou gebede?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/15 bl. 10-14

Hoe sinvol is jou gebede?

“Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE!”—PSALM 119:145.

1, 2. (a) Watter gelykenis van Jesus het oor gebed gehandel? (b) Watter gevolgtrekking het Jesus oor die twee gebede gemaak, en wat moet dit vir ons toon?

WATTER soort gebede hoor die Skepper, Jehovah God? ’n Gelykenis wat Jesus Christus vertel het, wys op een van die basiese vereistes indien God gebede moet verhoor. Jesus het gesê dat twee manne by die tempel in Jerusalem gebid het. Die een was ’n hooggeagte Fariseër, die ander ’n veragte tollenaar. Die Fariseër het gebid: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie . . . of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” Maar die nederige tollenaar “het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”—Lukas 18:9-13.

2 In sy kommentaar oor hierdie twee gebede het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een [die tollenaar] het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een [die Fariseër]; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Lukas 18:14). Jesus het duidelik getoon dat dit nie genoeg is om net tot ons hemelse Vader te bid nie. Hoe ons bid—ons gesindheid—is ook belangrik.

3. (a) Meld enkele basiese reëls in verband met gebed. (b) Watter vorme kan gebed aanneem?

3 Gebed is inderdaad ’n kosbare, gewigtige, ernstige voorreg, en alle goed ingeligte Christene is vertroud met die basiese reëls wat daarop betrekking het. Gebede moet gerig word tot die een ware God, Jehovah. Dit moet gedoen word in die naam van sy Seun, Jesus Christus. Om aanneemlik te wees, moet dit in geloof gedoen word. Ja, “hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is”. Daarbenewens moet ’n mens se gebede met God se wil strook (Hebreërs 11:6; Psalm 65:3; Mattheüs 17:20; Johannes 14:6, 14; 1 Johannes 5:14). En uit Skriftuurlike voorbeelde leer ons dat gebede die vorm van lof, danksegging, versoeke en smeking kan aanneem.—Lukas 10:21; Efesiërs 5:20; Filippense 4:6; Hebreërs 5:7.

Voorbeelde van sinvolle gebede

4. (a) Watter voorbeelde van sinvolle gebed het Moses en Josua nagelaat? (b) Watter voorbeelde het Dawid en koning Hiskia gestel? (c) Wat het verskeie van hierdie gebede gemeen gehad?

4 Wanneer ons voor gewigtige probleme te staan kom, ernstige besluite moet neem, growwe foute begaan het, of ons lewe bedreig word, word ons gebede besonder ernstig en sinvol. Omdat die Israeliete in opstand gekom het nadat hulle die negatiewe verslag van die tien ontroue verkenners gehoor het, het Jehovah vir Moses gesê dat die volk verdien om uitgewis te word. In ’n ernstige en sinvolle gebed het Moses Jehovah gesmeek om dit nie te doen nie omdat Sy naam by die saak betrokke was (Numeri 14:11-19). Toe Israel by Ai verslaan is as gevolg van Agan se hebsug, het Josua ’n besonder vurige smeekbede ook op grond van Jehovah se naam gedoen (Josua 7:6-9). Baie van Dawid se psalms is in die vorm van ernstige gebede, en Psalm 51 is ’n besonder treffende voorbeeld. Koning Hiskia se gebed toe Assiriese koning Sanherib Juda binnegeval het, is nog ’n goeie voorbeeld van ’n sinvolle gebed, en weer eens was Jehovah se naam by die saak betrokke.—Jesaja 37:14-20.

5. Watter ander voorbeelde het ons van sinvolle gebede wat deur sekere knegte van Jehovah gedoen is?

5 Die boek Klaagliedere kan beskou word as ’n lang, ernstige gebed van Jeremia vir sy volk, want Jehovah word herhaaldelik daarin aangespreek (Klaagliedere 1:20; 2:20; 3:40-45, 55-66; 5:1-22). Esra en Daniël het ook sinvolle en ernstige gebede vir hulle volk gedoen waarin hulle hulle nasie se oortredinge bely en om vergifnis gesmeek het (Esra 9:5-15; Daniël 9:4-19). En ons kan daarvan seker wees dat Jona se gebed terwyl hy in die ingewande van die groot vis was ernstig en sinvol was.—Jona 2:1-9.

6. (a) Watter voorbeelde van sinvolle gebede het Jesus vir ons nagelaat? (b) Watter basiese faktor is nodig om ons gebede sinvol te maak?

6 Voordat Jesus die 12 apostels gekies het, het hy die hele nag in die gebed deurgebring sodat sy Vader se wil kon geskied wanneer hy die keuse gedoen het (Lukas 6:12-16). Daar is ook Jesus se sinvolle gebed die nag toe hy verraai is, soos opgeteken in Johannes hoofstuk 17. Al hierdie gebede getuig duidelik van die goeie verhouding wat diegene wat die gebede gedoen het met Jehovah God gehad het. Dit moet ongetwyfeld ’n basiese faktor in ons gebede wees as ons wil hê dat hulle sinvol moet wees. En hulle moet ernstig en sinvol wees om hulle ‘kragtig’ by Jehovah God te maak.—Jakobus 5:16.

Gebreke weens menslike onvolmaaktheid

7. Watter vrae kan ons ons afvra in verband met ons gebede?

7 Soos reeds gemeld is, sal ons gebede onder spanningsvolle toestande waarskynlik besonder ernstig en sinvol wees. Maar wat van ons daaglikse gebede? Getuig hulle van die hartlike, intieme verhouding wat ons voel ons met ons hemelse Vader, Jehovah God, het? Daar is al tereg gesê: “Gebed moet vir ons iets beteken as dit enigiets vir God moet beteken.” Skenk ons die nodige aandag aan ons gebede en sorg ons dat hulle werklik uit ons figuurlike hart kom?

8. Watter gebreke kan ons gebede hê weens menslike onvolmaaktheid?

8 Dit is maklik om ons gebede in hierdie opsigte te laat ontaard. As gevolg van ons oorgeërfde, onvolmaakte neigings kan ons hart ons maklik bedrieg en ons gebede beroof van die eienskappe wat hulle moet hê (Jeremia 17:9). Tensy ons, in die meeste gevalle, stilstaan en dink voordat ons bid, kan ons vind dat ons gebede geneig is om werktuiglik, stereotiep en alledaags te word. Of dit kan vol herhaling wees, wat ons herinner aan wat Jesus gesê het oor die onbetaamlike manier waarop ‘die heidene bid’ (Mattheüs 6:7, 8). Of ons gebede handel moontlik slegs oor gemeenplase eerder as oor spesifieke sake of persone.

9. In watter ander slaggate kan ons trap wanneer ons bid, en wat is ongetwyfeld een rede vir hierdie slaggate?

9 Soms kan ons geneig wees om ons gebede af te rammel. Maar die volgende waarneming is opmerkenswaardig: “As jy te besig is om te bid, is jy te besig.” Ons wil nie sekere woorde uit die hoof leer en hulle net herhaal elke keer wanneer ons bid nie; dit behoort ook nie vir ’n getuie van Jehovah nodig te wees om sy gebed te lees, byvoorbeeld by ’n openbare byeenkoms nie. Al hierdie slaggate kan ongetwyfeld, ten minste gedeeltelik, toegeskryf word aan die feit dat ons Jehovah God, die Een tot wie ons bid, nie fisies kan sien nie. Maar ons kan nie verwag dat sulke gebede hom moet behaag nie, en ons vind ook nie by sulke gebede baat nie.

Hoe om die gebreke te bowe te kom

10. (a) Watter gesindheid sal toon dat ons nie besef hoe belangrik gebed is nie? (b) Watter Skriftuurlike geval word gemeld?

10 Die mate waarin ons die voormelde slaggate vermy, sal afhang van hoe duidelik ons die belangrikheid van ons daaglikse gebede besef en hoe goed ons verhouding met ons hemelse Vader is. Daardie besef sal ons onder meer help om nie ons gebede af te rammel asof ons haastig is om belangriker dinge te doen nie. Niks kan belangriker wees as om met die Universele Soewerein, Jehovah God, te praat nie. Daar is weliswaar geleenthede wanneer ’n mens nie baie tyd het nie. Toe koning Artasasta byvoorbeeld vir sy skinker Nehemia gevra het: “Wat is dan jou begeerte?” het Nehemia byvoorbeeld dadelik “tot die God van die hemel gebid” (Nehemia 2:4). Omdat die koning dadelik ’n antwoord verwag het, kon Nehemia daardie keer nie lank bid nie. Maar ons kan daarvan seker wees dat dit sinvol was en uit sy hart gekom het, want Jehovah het dit dadelik verhoor (Nehemia 2:5, 6). Met die uitsondering van sulke seldsame geleenthede, moet ons egter die tyd vir ons gebede neem en ander dinge laat wag. Indien ons geneig is om ons gebede haastig te doen, besef ons nie ten volle hoe belangrik gebed is nie.

11. Wat is nog ’n slaggat waarteen ons moet waak, en watter goeie voorbeeld het Jesus in hierdie opsig gestel?

11 Nog ’n slaggat wat ons moet vermy, is om in gemeenplase te verval. Sulke gebede laat ook nie reg geskied aan die kosbare voorreg van gebed nie. In sy modelgebed het Jesus vir ons ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig gestel. Hy het sewe afsonderlike versoeke gerig: drie wat handel oor die oorwinning van geregtigheid, een oor ons daaglikse, fisiese behoeftes en drie oor ons geestelike welsyn.—Mattheüs 6:9-13.

12. Watter goeie voorbeelde het Paulus nagelaat van hoe ons spesifiek in ons gebede kan wees?

12 Die apostel Paulus het ook vir ons ’n goeie voorbeeld op hierdie gebied gestel. Hy het gevra dat ander vir hom moet bid ‘sodat die vermoë om met vrymoedigheid te spreek aan hom gegee mag word’ (Efesiërs 6:18-20, NW). Hy was net so spesifiek in sy gebede vir ander. “Dit bid ek”, het Paulus gesê, “dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.”—Filippense 1:9-11.

13. Hoe kan ons sinvolle gebede doen ten opsigte van verskeie soorte diens aan Jehovah?

13 Ja, ons gebede moet oor spesifieke sake handel, en dit vereis dat ons gebede weldeurdag moet wees. (Vergelyk Spreuke 15:28.) In die veldbediening kan ons God nie net om sy seën op ons werk vra nie, maar ook om wysheid, takt, grootmoedigheid, vrymoedigheid of hulp met enige swakheid wat geneig is om ons minder bekwaam in die getuieniswerk te maak. En kan ons God nie vra om ons na diegene te lei wat na geregtigheid honger en dors nie? Net voordat ons ’n openbare toespraak hou of ’n deel op ’n Diensvergadering of in die Teokratiese Bedieningskool het, kan ons Jehovah smeek om sy heilige gees ryklik in ons te laat woon. Waarom? Sodat ons vertroue en innerlike beheerstheid kan hê, met erns en oortuiging kan spreek sodat ons God se naam kan vereer en ons broers kan versterk. Al sulke gebede help ons ook om in die regte stemming te wees wanneer ons spreek.

14. Wat moet ons gesindheid wees teenoor vleeslike swakhede wat moeilik is om te bowe te kom?

14 Het ons ’n vleeslike swakheid wat ’n stryd voer teen ons geestelikheid en oënskynlik moeilik is om te bowe te kom? Ons moet dit spesifiek in ons gebede bespreek. En in plaas van mismoedig te raak, moet ons nooit ophou om God nederig en ernstig te vra om ons te help en vergifnis te skenk nie. Ja, onder sulke omstandighede moet dit ons begeerte wees om na Jehovah te gaan soos ’n kind na sy vader gaan wanneer hy in die moeilikheid is, ongeag hoe dikwels ons oor dieselfde swakheid tot God bid. As ons opreg is, sal Jehovah ons help. en ons laat besef dat hy ons vergewe het. Onder sulke omstandighede kan ons ook troos put uit die apostel Paulus se belydenis dat hy ’n probleem gehad het.—Romeine 7:21-25.

Hulpmiddele om sinvolle gebede te doen

15. Met watter gesindheid moet ons Jehovah God in die gebed nader?

15 As ons wil hê dat ons gebede waarlik sinvol moet wees, moet ons ons inspan om alle ander sake uit ons gedagtes te sit en te konsentreer op die feit dat ons voor die groot God, Jehovah, verskyn. Ons moet hom nader met innige eerbied, bewus van sy ontsagwekkendheid. Jehovah het vir Moses gesê dat geen mens God kan sien en bly lewe nie (Exodus 33:20). Ons moet Jehovah dus met die nodige nederigheid en beskeidenheid nader, iets wat Jesus beklemtoon het in sy gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Miga 6:8, NW; Lukas 18:9-14). Jehovah moet vir ons baie wesenlik wees. Ons moet dieselfde gesindheid hê as wat Moses gehad het. “Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:27). Sulke karaktertrekke getuig dat ons ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader het.

16. Watter rol speel ons hart by sinvolle gebede?

16 Ons gebede sal ook sinvol wees as ons Jehovah nader met harte vol liefde en geneentheid jeens hom. Watter waardering vir Jehovah God en liefde vir hom het die psalmis Dawid byvoorbeeld tog in Psalm 23 en 103 uitgespreek! Dit ly geen twyfel dat Dawid ’n goeie verhouding met sy Groot Herder, Jehovah God, gehad het nie. In die Teokratiese Bedieningskool word ons vermaan om met hartlikheid en gevoel te praat. Dit moet veral die geval wees wanneer ons tekste lees en nog te meer wanneer ons tot ons hemelse Vader bid. Ja, ons wil voel soos Dawid gevoel het toe hy gebid het: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. ” Die volgende woorde van ’n ander psalmis is ook ’n aanduiding van hoe ons behoort te voel: “Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE!”—Psalm 25:4, 5; 119:145.

17. Hoe kan ons verhoed dat ons gebede herhalend word?

17 Ten einde ons gebede sinvol te hou en nie herhalend te maak nie, kan ons gerus die gedagte-inhoud daarvan verander. Die Bybelteks vir daardie dag of die een of ander Christelike publikasie wat ons gelees het, kan vir ons ’n gedagte gee. Die tema van die Wagtoring-les, van die openbare toespraak of van die byeenkoms wat ons bywoon, kan aan daardie doel beantwoord.

18. Wat kan ons in ooreenstemming met Bybelse woorde en voorbeelde doen om ons gebede sinvoller te maak?

18 Ten einde ons te help om meer in die luim vir gebed te kom en ons gebede sinvolIer te maak, kan ons gerus ons liggaamsposisie verander. In die geval van openbare gebede is dit natuurlik dat ons ons hoofde buig. Maar in die geval van persoonliker gebede het sommige dit goed gevind om voor Jehovah te kniel wanneer hulle as individue of as ’n gesin bid, want hulle vind dat daardie posisie hulle help om nederig te wees. In Psalm 95:6 word ons vermaan: “Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.” Salomo het gekniel ten tyde van sy gebed met die inwyding van Jehovah se tempel, en Daniël het ’n gewoonte daarvan gemaak om te kniel wanneer hy bid.—2 Kronieke 6:13; Daniël 6:11.

19. Watter feite kan diegene met die verantwoordelikheid om openbare gebede te doen gerus in gedagte hou?

19 Omdat gebed so belangrik is, moet aangestelde ouere manne goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle iemand vra om die gemeente in gebed voor te gaan. Die gedoopte man wat die gemeente verteenwoordig, moet ’n ryp Christenbedienaar wees. Sy gebed moet toon dat hy ’n goeie verhouding met God het. En diegene wat die voorreg het om sulke gebede te doen, moet in gedagte hou dat hulle gehoor moet word, want hulle bid nie net vir hulself nie, maar ook vir die hele gemeente. Hoe kan die res van die gemeente andersins saam “amen” sê aan die einde van die gebed? (1 Korinthiërs 14:16). Ten einde ’n sinvolle “amen” te kan sê, moet die res natuurlik aandagtig luister en nie hulle gedagtes laat dwaal nie, maar waarlik die gebed hul eie maak. Nog ’n woordjie van waarskuwing wat bygevoeg kan word, is dat sulke gebede, daar hulle tot Jehovah God gedoen word, nie gebruik moet word as ’n verskoning om vir die hoorders te preek of bloot persoonlike gedagtes oor te dra nie.

20. Wat word aan die hand gedoen aangesien sinvolle gebede wat hardop uitgespreek word die hoorders tot seën strek?

20 Wanneer ons gebede wat hardop uitgespreek word waarlik sinvol is, strek hulle die hoorders tot seën. Daarom kan egpare en gesinne gerus elke dag ten minste een keer saam bid. Dan sal een persoon, soos die gesinshoof, vir die ander een of vir die res praat.

21. Watter ander saak verdien ons aandag as ons wil hê dat ons gebede sinvol moet wees?

21 Daar is nog ’n saak wat ons aandag verdien as ons wil hê dat ons gebede waarlik sinvol moet wees. Dit is die feit dat ons ooreenkomstig ons gebede moet lewe. En wat word daarmee bedoel? Dat ons dade met ons gebede moet strook en dat ons ons moet beywer vir die dinge waarvoor ons bid. Hierdie aspek van ons gebede sal in die volgende artikel bespreek word.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat is sommige van die sinvolle gebede wat in die Skrif opgeteken is?

◻ Watter gebreke kan ons gebede weens menslike onvolmaaktheid hê?

◻ Hoe kan ons sekere gebreke in ons gebede te bowe kom?

◻ Watter hulpmiddele het ons om sinvolle gebede te doen?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel