Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/1 bl. 21-25
  • Goddelike seëninge vir “die verstandiges”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goddelike seëninge vir “die verstandiges”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd van opstandings
  • Ontwaking “tot groot smaadheid”
  • “Skyn soos ligte”
  • Hulle “sal glinster . . . vir ewig”
  • Nog ’n opstanding
  • “Ware kennis sal vermeerder”
  • Identifiseer die ware aanbidders in die tyd van die einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • ‘Baie mense word gehelp om ’n regverdige weg te volg’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Migael die groot vors staan op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/1 bl. 21-25

Goddelike seëninge vir “die verstandiges”

“Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.”—DANIËL 12:3.

1. Waaraan skenk die engel aandag nadat hy die tyd van benoudheid vir die oorlogstokers beskryf het?

DIE engel se profesie aan Daniël het ons reg van die vierde eeu v.G.J. tot by Armageddon gebring. Dit het getoon dat Migael op die enigste manier moontlik vrede op aarde gaan bring: deur die oorlogstokers te vernietig. Nou, na so ’n merkwaardige oorsig oor geskiedenis vooruit, voorspel die engel sommige van die ryk seëninge wat God se volk “aan die einde van die dae” sal geniet.—Daniël 10:14.

’n Tyd van opstandings

2. Hoe het sommige dooies “ontwaak” gedurende “die einde van die dae”?

2 Die engel sê vir Daniël: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (Daniël 12:2). “Die einde van die dae” is klaarblyklik ’n tyd vir opstandings, om “die wat in die stof van die aarde slaap” te wek. Een sodanige ontwaking het begin kort nadat Jesus in 1914 Koning geword het (Mattheüs 24:3). Met daardie tyd in gedagte het die apostel Paulus geskryf dat “ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie . . . die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thessalonicense 4:15, 16; Openbaring 6:9-11). Jesus het die lede van “die Israel van God” wat reeds getrou gesterf het klaarblyklik kort na 1914 tot geeslewe in die hemele opgewek (Galasiërs 6:16). Vir hulle was die ontwaking tot “die ewige lewe”.

3, 4. Hoe het dit gekom dat ’n groep getroue knegte van God in 1918 ‘dood’ was?

3 Maar die engel se woorde sluit ongetwyfeld ’n ander opstanding in. Ongeveer 40 jaar lank voor 1914 het ’n groepie Christene die waarskuwing gerig dat daardie jaar die einde sou kenmerk van die Tye van die Nasies wat deur Jesus voorspel is (Lukas 21:24). Hierdie Christene het Zion’s Watch Tower Tract Society in 1884 gestig en die resultate van hulle Bybelnavorsing gepubliseer in ’n tydskrif met die naam Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence.

4 In 1914 is die waarheid van hulle boodskap op dramatiese wyse bevestig toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en die “smarte” wat deur Jesus voorspel is, begin het (Mattheüs 24:7, 8). Hulle godsdiensvyande het nietemin die oorlogshisterie gebruik om hulle te vervolg totdat daar eindelik, in 1918, feitlik ’n einde aan hulle predikingswerk gemaak is en die vernaamste knegte van die Wagtoringgenootskap ten onregte opgesluit is. Dit het groot blydskap in sekere oorde veroorsaak. Dit het ook die profesie in die boek Openbaring vervul: “En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak.”—Openbaring 11:7.

5, 6. Hoe was hierdie groep se ervaringe in 1919 ’n vervulling van die profesie dat “baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak”?

5 Maar volgens die profesie sou hulle nie ‘dood’ bly nie. “En ná die drie en ’n halwe dag het ’n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ’n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. . . . En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou” (Openbaring 11:11, 12; Esegiël 37:1-14). Hulle opstanding was klaarblyklik ’n simboliese, aangesien ’n letterlike opstanding tot geeslewe in die hemel nie vir hulle vyande sigbaar sou wees nie. Hulle is eerder uit ’n doodse toestand van onbedrywigheid opgewek tot ’n lewendige toestand van ywerige bedrywigheid ten aanskoue van diegene wat saamgesweer het om hulle die swye op te lê. In 1919 is die verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap uit die tronk vrygelaat, is die predikingswerk herorganiseer en het die wêreld die begin van die grootste Koninkryksgetuienisveldtog in die geskiedenis gesien.—Mattheüs 24:14.

6 In hierdie simboliese sin het ‘baie van die wat in die stof van die aarde geslaap het, ontwaak’. Vanaf 1919 het daardie gewekte groepie Bybelstudente begin om na die oorblywende lede van Jesus se broers te soek en hulle te versamel sodat die volle getal van die 144 000 verseël kon word (Mattheüs 24:31; Openbaring 7:1-3). Wanneer individue gehoor gegee het, het hulle hulle deur Christus aan God toegewy en lede van Jehovah se sigbare organisasie op aarde geword. Hulle het die vrye gawe van die heilige gees ontvang en is regverdig verklaar op grond van hulle geloof in Jesus se losprysoffer en aangeneem as seuns van God in ’n geestelike sin.—Romeine 8:16; Galasiërs 2:17, NW; 3:8, NW.

7. Hoe sal dit vir baie van hierdie persone ’n ontwaking “tot die ewige lewe” wees?

7 Die van hulle wat tot aan die einde van hulle aardse lewe getrou bly, het die vaste vooruitsig op ’n plek in die hemel langs Jesus Christus (1 Korinthiërs 15:50-53). Hulle geestelike ontwaking is dus tot die ewige lewe. Terwyl hulle nog op aarde lewe, geniet hulle vrede onder mekaar al lewe hulle in ’n strydende wêreld (Romeine 14:19). Maar nog belangriker, hulle geniet vrede met Jehovah God self, “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”.—Filippense 4:7.

Ontwaking “tot groot smaadheid”

8, 9. Hoe kan hierdie geestelike ontwaking “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” wees?

8 Waarom “ontwaak” sommige dan “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik”? Feit is dat nie almal wat die uitnodiging aanneem om deel van daardie Koninkryksklas te word getrou bly nie. Sommige laat hulle geloof verswak en volhard nie (Hebreërs 2:1). ’n Paar raak selfs afvallig en moet uit die Christengemeente uitgesit word (Mattheüs 13:41, 42). Sulkes word deur Jesus beskryf as “daardie slegte dienskneg” wat deur die Heer “met die grootste strengheid” gestraf en ’n deelgenoot van die geveinsdes gemaak word. “Daar sal geween wees en gekners van die tande.”—Mattheüs 24:48-51, vgl. NW; Efesiërs 4:18; 5:6-8.

9 Watter tragedie tog, om die grootste voorreg wat ooit aan onvolmaakte mense gebied is te aanvaar en dan daarteen te draai! Van diegene wat so optree, het die apostel Paulus gesê: “Dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:4-6). So blyk dit dat hulle ontwaking “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” is. Hulle het geen verdere vooruitsig op die ewige lewe nie.

“Skyn soos ligte”

10. Wie is “die verstandiges”, en hoe “skyn” hulle “soos ligte”?

10 Maar vir diegene wat getrou bly, sê die profesie: “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniël 12:3). “Die verstandiges” is duidelik die getroue oorblywende lede van die gesalfde Christengemeente wat ‘vervul is met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig’. Versterk deur Jehovah openbaar hulle ‘alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, terwyl hulle die Vader dank wat hulle bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig’ (Kolossense 1:9, 11, 12). Sedert 1919 ‘skyn hulle soos ligte’ onder die mensdom al ‘oordek duisternis die aarde en donkerheid die volke’ (Jesaja 60:2; Filippense 2:15; Mattheüs 5:14-16). Hulle “skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader”.—Mattheüs 13:43.

11. Hoe is “die verstandiges” “die wat baie tot regverdigheid lei”?

11 Hoe is hulle “die wat baie tot regverdigheid lei”? (Daniël 12:3). Danksy hulle getroue getuieniswerk is die laaste lede van geestelike Israel versamel en regverdig verklaar vir die lewe in die hemele. Daarbenewens het ’n groot menigte “ander skape” verskyn wat stroom na die lig van Jehovah soos dit deur ‘Daniël se volk’ weerkaats word (Johannes 10:16; Sagaria 8:23). Hierdie “ander skape” het hulle gewillig by die gesalfdes aangesluit in hulle werk om die “evangelie” te verkondig (Mattheüs 24:14; Jesaja 61:5, 6). Ook hulle glo in die vergote bloed van Jesus Christus, sodat hulle regverdig verklaar is om vriendskap met God te geniet. (Openbaring 7:9-15; vergelyk Jakobus 2:23.) As hulle tot die einde toe getrou bly, sal hulle name “in die boek opgeskrywe” bly. Hulle kan gevolglik verwag om die rampspoedigste tyd van benoudheid wat die nasies ooit sal tref te oorleef.—Daniël 12:1; Mattheüs 24:13, 21, 22.

Hulle “sal glinster . . . vir ewig”

12, 13. (a) Hoekom is “die verstandiges” in staat om “vir ewig” te “glinster”? (b) Hoe sal hulle op ’n ander manier diegene wees “wat baie tot regverdigheid lei”?

12 Die engel het Daniël meegedeel: “Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, . . . soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniël 12:3). Hoe kan die gesalfdes vir ewig glinster aangesien elkeen mettertyd sal sterf? Deurdat hulle selfs na die dood sal aanhou “glinster”. Waar Jesus hulle in hulle hemelse posisie beskryf, deel hy ons in die boek Openbaring mee: “Die troon van God en van die Lam sal [in die stad] wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”—Openbaring 22:3-5.

13 Ja, hierdie verresenes sal as konings regeer soos sterre in die hemele, “tot in alle ewigheid”. Hulle geestelike glans sal vir die mensdom groot seëninge meebring (Openbaring 14:13). Waar dit hulle as die “nuwe Jerusalem” beskryf, berig die boek Openbaring: “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin” (Openbaring 21:2, 9, 23, 24). Die verresenes sal help om die voordele van die losprysoffer “tot genesing van die nasies” aan te wend (Openbaring 22:2). Wanneer Jesus en sy 144 000 medekonings en -priesters getroue mense teen die einde van die Duisendjarige Heerskappy tot volmaaktheid herstel het, sal hulle inderdaad “baie tot regverdigheid” gelei het. Na die finale toets op daardie tyd sal die herstelde mensdom ’n volmaakte mensegemeenskap uitmaak wat vir ewig op ’n paradysaarde woon (Openbaring 20:7-10; Psalm 37:29). So sal die sigbare resultate van die hemelse heerlikheid van ‘Daniël se volk’ ook “vir ewig en altoos” voortbestaan.

Nog ’n opstanding

14. Wie nog sal ingesluit word in die profesie dat “baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak”?

14 Die engel se woorde neem ons dus verby die tyd wanneer Migael “opstaan” en die ongeëwenaarde “tyd van benoudheid” tot reg in die nuwe stelsel. Die seëninge wat uitgestort word deur middel van die wat “soos die sterre” glinster, sal daarbenewens nie beperk word tot diegene wat die “tyd van benoudheid” oorlewe nie. Toe Jesus nog ’n mens op aarde was, het hy gesê: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28, 29). Hierdie woorde dui op ’n letterlike opstanding van die gestorwe mensdom, en hierdie opstanding is ongetwyfeld ook ’n verdere vervulling van die engel se woorde: “Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak.”—Daniël 12:2.

15. Hoe kan dit vir diegene wat dan opgewek word ’n ontwaking “tot die ewige lewe” wees?

15 Daniël self sal onder diegene wees wat deel het aan hierdie bepaalde ontwaking. Die engel het vir hom gesê: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus [ontslaap] en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Diegene soos Daniël wat dan opgewek word en wat gunstig reageer op die bediening van Jesus en sy broers vanuit die hemel sal tot menslike volmaaktheid opgehef word. Wanneer hulle in die finale toets slaag, sal hulle name permanent in die boek van die lewe geskryf word (Openbaring 20:5). Ook vir hulle sal die ontwaking “tot die ewige lewe” wees.

16. Vir wie sal die ontwaking in die nuwe stelsel een “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” wees?

16 Maar nie almal sal so reageer nie. Sommige sal ongetwyfeld probeer om weer die gebruike wat die mens so lank van vrede beroof het in te voer. Sulkes word deeglik deur die Bybel gewaarsku: “Wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars—hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:8). Hierdie “tweede dood” is ’n regstreekse oordeel van Jehovah af waaruit daar geen opstanding is nie. Dit is ewige, eindelose vergetelheid. Die verresenes wat nie waardering het nie, sal hierdie tweede dood sterf; hulle ontwaking sal gevolglik “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” wees.—Daniël 12:2.

“Ware kennis sal vermeerder”

17. Hoe weet ons dat die profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide opgeteken is hoofsaaklik tot voordeel van ons wat vandag lewe?

17 Die engel gee Daniël dan raad: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die [ware] kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4, vgl. NW). Hierdie woorde trek ons aandag. Hoewel die engel se profesie oor die twee konings sowat 2 300 jaar gelede in vervulling begin gaan het, is die begrip daarvan hoofsaaklik gedurende “die tyd van die einde”, in die besonder sedert 1919, verleen. In hierdie dae “deursoek” baie die Bybel, en ware kennis het inderdaad vermeerder. Dit is nou die tyd dat Jehovah kennis aan die verstandiges gegee het.

18. (a) Watter belangrike dele van die profesie word nou vervul of gaan binnekort vervul word? (b) Watter gebalanseerde gesindheid gee dit ons?

18 Die feit dat verskeie aspekte van die profesie eeue gelede vervul is, versterk ons geloof in die dele van die profesie wat nog moet plaasvind (Josua 23:14). Die wêreld is vandag gewikkel in ’n kragmeting tussen die koning van die noorde en die koning van die suide, net soos die engel voorspel het. Die profesie waarsku boonop dat selfs gevaarliker tye voorlê. Ons word dus gehelp om ons ewewig te bewaar en nie deur die propaganda van een van die twee konings beïnvloed te word nie. Dit is nou die tyd om ons vertroue op Jehovah te versterk. Moet nooit vergeet dat “Migael, die groot vors” ten behoewe van God se volk “staan” nie. Ons enigste, gewisse redding is as ons ons onderwerp aan God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus.—Handelinge 4:12; Filippense 2:9-11.

19. Watter betekenis hou die engel se woorde aan Daniël vir elkeen van ons in?

19 Bly dus na aan “die verstandiges” wat “glinster soos die glans van die uitspansel”. Moenie ophou om vir God se Koninkryk te arbei nie (1 Korinthiërs 15:58; Romeine 15:5, 6). Laat jou liefde vir die waarheid van God se Woord toeneem en toon innige waardering vir die vrede wat selfs nou in God se organisasie bestaan (Psalm 119:165; Efesiërs 4:1-3; Filippense 2:1-5). Mag jy dan, wanneer Migael “opstaan” om Jehovah se vyande te verbrysel, gered word saam met al die lede van God se volk wie se name “in die boek opgeskrywe staan”.

Kan jy antwoord?

◻ Hoe was daar reeds ’n ontwaking van “baie van die wat in die stof . . . slaap”?

◻ Hoe kan hierdie ‘ontwaking’ “tot groot smaadheid” wees?

◻ Hoe skyn “die verstandiges” soos ligte en lei hulle baie tot regverdigheid?

◻ Watter toekomstige vervulling sal daar wees in verband met die ontwaking van diegene ‘wat in die stof slaap’?

◻ Hoe is Daniël 12:4 vervul?

[Prent op bladsy 23]

Sedert 1919 straal die verstandiges lewegewende waarheid uit

[Erkenning]

NASA-foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel