Migael die groot vors staan op
“En gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die seuns van jou volk staan.—DANIËL 12:1, NW.
1. Watter toekomstige verloop van wêreldgebeure word in die Bybel beskryf, en watter vraag ontstaan oor God se volk in die lig hiervan?
JEHOVAH het ons deeglik gewaarsku: Daar sal nooit vrede op aarde wees solank die wedywer tussen die koning van die noorde en die koning van die suide voortduur nie. Hierdie twee moondhede sal altyd botsende belange hê. Daarbenewens sal die koning van die noorde, wanneer hulle vyandskap ’n hoogtepunt bereik, die geestelike staat van God se volk bedreig voordat hy “aan sy einde kom” (Daniël 11:44, 45). Sal God se volk die aanval oorleef? En wat gebeur met die koning van die suide wanneer sy groot teenstander aan sy einde kom?
2, 3. (a) Watter profesie vind ons in die boek Esegiël wat ons help om die profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide te verstaan? (b) Wat sal volgens Esegiël se profesie die uitslag van die groot, laaste aanval op God se volk wees?
2 ’n Profesie deur Daniël se tydgenoot Esegiël help ons om hierdie vrae te beantwoord. Esegiël is ook geïnspireer om oor “die einde van die dae” te spreek, en hy het ’n waarskuwing gerig oor ’n komende aanval van ‘Gog van Magog’ teen die land van God se volk (Esegiël 38:2, 14-16; Daniël 10:14). In daardie profesie het Gog Satan afgebeeld, en sy leërs het al Satan se aardse agente afgebeeld wat ’n laaste, desperate poging sou aanwend om God se volk uit te wis. Aangesien hierdie aanval, net soos dié van die koning van die noorde, plaasvind aan die einde van die dae, is dit redelik om die gevolgtrekking te maak dat die koning van die noorde ‘sy paleistente tussen die see en die berg van die heilige Prag opslaan’ ter ondersteuning van Gog se aanval (Daniël 11:40, 45). Sal die aanval geslaag wees?
3 Esegiël het geprofeteer: “In dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom. . . . En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is” (Esegiël 38:18, 22). Nee, die aanval sal nie geslaag wees nie. Ware Christene sal gered word, en Gog se menigte sal vernietig word.—Esegiël 39:11.
4. Sal die koning van die suide die koning van die noorde se einde oorlewe? Watter ander profesieë steun hierdie antwoord?
4 Die tyd van die einde van die koning van die noorde is dus klaarblyklik die tyd van die einde vir Gog en sy hele menigte, onder meer die koning van die suide. Dit strook met ander profesieë in die boek Daniël. Ons lees byvoorbeeld dat God se Koninkryk ‘al daardie koninkryke [die koning van die noorde en die koning van die suide inkluis] sal verbrysel en daar ’n einde aan sal maak, maar self vir ewig sal bestaan’ (Daniël 2:44). En in Daniël se gesig van die ram en die bokram word die Anglo-Amerikaanse politieke moondheid deur ’n horinkie afgebeeld. Hierdie horinkie word “aan die einde van hulle heerskappy” deur ’n bomenslike mag vernietig, nie deur die koning van die noorde nie: “Hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.”—Daniël 7:24-27; 8:3-10, 20-25.
Migael die groot vors
5. Wie sal Jehovah se Hoofagent vir die redding van Sy volk wees, en waarom is dit gepas?
5 Die engel openbaar vervolgens watter Agent Jehovah gaan gebruik om ’n einde aan al hierdie magte te maak. Hy sê: “En gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die seuns van jou volk staan. En daar sal stellig ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie teweeggebring is sedert ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie. En gedurende daardie tyd sal jou volk ontkom, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Daniël 12:1, NW). Aan die begin van die engel se profesie is daar berig dat Migael ten behoewe van Israel met die vorste van Persië en Griekeland veg (Daniël 10:20, 21). Nou, teen die einde van die profesie, “staan” dieselfde Migael ten behoewe van Daniël se volk. Wie is hierdie kampvegter vir God se volk?
6, 7. (a) Wie is Migael volgens sommige geleerdes van die Christendom? (b) Watter Bybelse getuienis help ons om Migael behoorlik te identifiseer?
6 Reeds in die vroeë 19de eeu het Bybelgeleerde Joseph Benson gesê dat die beskrywing van Migael soos in die Bybel aangetref “klaarblyklik op die Messias dui”. Negentiende-eeuse Lutheraan E. W. Hengstenberg het saamgestem dat “Migael niemand anders as Christus is nie”. In sy kommentaar oor Openbaring 12:7 het teoloog J. P. Lange eweneens geskryf: “Ons veronderstel dat Migael . . . van die begin af Christus in slagorde teen Satan is.” Steun die Bybel hierdie identifikasie? Ja.a
7 Volgens die engel sou Migael byvoorbeeld “opstaan”. In die engel se profesie kan “opstaan” of “om op te staan” (Hebreeus, ‛a·madʹ) beteken “om te ondersteun” (Daniël 11:1). Dit kan ook in verskeie sinne beteken “om stand te hou”, “om in opstand te kom”, “om teen te staan” of “om weerstand te bied” (Daniël 11:6, 11, 14, 15, 16a, 17, 25). Maar dit sien dikwels op die optrede van ’n koning, hetsy op sy aanneming van sy koninklike mag of op sy doeltreffende optrede in sy hoedanigheid as koning (Daniël 11:2-4, 7, 16b, 20, 21, 25). Dit is die betekenis wat die engel se woorde in Daniël 12:1 die beste pas. En dit steun beslis die feit dat Migael Jesus Christus is, daar Jesus Jehovah se aangestelde Koning is met die opdrag om al die nasies by Armageddon te vernietig (Openbaring 11:15; 16:14-16; 19:11-16). Dit strook ook met die ander profesieë wat wys op die tyd wanneer God se Koninkryk, in die hande van Jesus Christus, optree teen die wêreld se nasies.—Daniël 2:44; 7:13, 14, 26, 27.
8, 9. (a) Wie was oorspronklik ‘Daniël se volk’, en wie is dit vandag? (b) Hoe is Migael se intense belangstelling in ‘Daniël se volk’ deur die eeue heen getoon?
8 Migael is al lank verbonde aan ‘Daniël se volk’, die Israeliete. Hy was saam met hulle in die woestyn, en hy het hulle onderskraag teen die gees-“vorste” van eertydse ryke (Daniël 10:13, 21; Exodus 23:20, 21; Judas 9). En hy is as die man Jesus op aarde gebore om die langverwagte Messias, die “saad” wat aan Daniël se voorouer Abraham beloof is, te wees (Genesis 22:16-18; Galasiërs 3:16; Handelinge 2:36). Ongelukkig het natuurlike Israel in sy geheel Jesus verwerp; gevolglik het Jehovah hulle as sy spesiale nasie verwerp (Mattheüs 21:43; Johannes 1:11). Hy het hom voorgeneem om sy naam op ’n nuwe nasie te vestig, ’n geestelike “Israel van God” wat bestaan uit natuurlike Jode sowel as nie-Jode met geloof in Jesus.—Galasiërs 6:16; Handelinge 15:14; 1 Petrus 2:9, 10.
9 Hierdie nuwe nasie, die gesalfde Christengemeente, het in 33 G.J. in aansyn gekom en daarna as die Israel van God gedien. Dit sou voortaan ‘Daniël se volk’ wees (Romeine 2:28, 29). Voordat hy in 33 G.J. opgewek is en opgevaar het hemel toe, het Jesus sy volgehoue steun vir ‘Daniël se volk’ beloof toe hy vir aanstaande lede van daardie nuwe Israel gesê het: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:20; Efesiërs 5:23, 25-27.
Hoe hy ten behoewe van Daniël se volk “staan”
10. Hoe gaan Migael, volgens die engel se woorde aan Daniël, beslissend optree, en watter vrae laat dit ontstaan?
10 Maar nou sê die engel dat Migael op ’n besondere wyse gaan optree. Hy gebruik die woord ‘staan’ twee keer wanneer hy sê: “En gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die seuns van jou volk staan” (Daniël 12:1, NW). Wat beteken dit dat Jesus “opstaan”? En hoe kan hy “opstaan” as hy reeds “ten behoewe van die seuns van [Daniël se] volk staan”? Voordat ons hierdie vrae beantwoord, wil ons na ’n bietjie agtergrondinligting kyk.
11. In watter sin is dit gepas om te sê dat Jesus sedert 1914 “staan”?
11 Na sy opstanding in 33 G.J. het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Jesus oefen al lank sulke mag oor sy gesalfde knegte op aarde uit (Kolossense 1:13). Maar die tyd het toe nog nie vir Jesus aangebreek om mag as die Koning van God se Koninkryk uit te oefen nie. Na sy hemelvaart het hy eerder ‘aan God se regterhand in die hemel gaan sit’ totdat die tyd vir die oprigting van daardie Koninkryk aangebreek het (Psalm 110:1, 2; Handelinge 2:34, 35). Daardie tyd het in 1914, “die vasgestelde tyd”, aangebreek (Daniël 11:29). In daardie jaar is Jesus as heersende Koning van God se Koninkryk ingehuldig en het hy, as Migael die aartsengel, Satan onmiddellik uit die hemel uitgewerp (Openbaring 11:15; 12:5-9). Jesus “staan” dus sedert 1914 as Koning.—Psalm 2:6.
12, 13. Watter besondere seëninge het God se volk gedurende die jare sedert 1914 geniet wat toon dat Jesus ‘ten behoewe van Daniël se volk staan’?
12 Die feit dat Jesus so “staan”, was en is ’n groot seën vir ‘die seuns van Daniël se volk’. Toe hy koninklike mag aangeneem en Satan na die aarde neergewerp het, het hy hulle toekomstige hemelse tuiste skoongemaak (Johannes 14:2, 3). Daarna kon diegene wat reeds getrou gesterf het tot hulle hemelse erfenis opgewek word (1 Thessalonicense 4:16, 17). Die oorblyfsel van hulle wat nog op aarde was, het gedurende die Eerste Wêreldoorlog baie vervolging verduur, en dit het feitlik ’n einde aan hulle predikingswerk gemaak. Maar in 1919 is hulle weer lewend gemaak en as ’n nuwe nasie op die wêreldtoneel gebaar.—Jesaja 66:7, 8; Openbaring 9:14; 11:11, 12.
13 Daarna het Jesus sy belofte vervul om ‘al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen uit sy koninkryk bymekaar te maak’ (Mattheüs 13:41). Sodoende het hy ’n rein gemeente van gesalfde Christene bewaar wat ‘hulle God geken, geseëvier en doeltreffend gehandel het’. Hulle het die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele aarde verkondig en aldus ‘baie tot insig gebring’ (Daniël 11:32, 33, vgl. NW; Mattheüs 24:14). Sedert 1935 voeg Jehovah al hoe meer “ander skape” by hierdie gemeente. Hierdie “ander skape” koester ’n aardse hoop en neem getrou deel aan die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.—Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 14, 15.
14. Wat is die gevolg van die feit dat Jesus dwarsdeur die laaste dae ‘ten behoewe van Daniël se volk staan’?
14 Die blote feit dat hierdie groep Christene vandag bestaan, is merkwaardig. In ’n wêreld wat polities verdeeld is, het hulle streng neutraliteit as onderdane van God se Koninkryk gehandhaaf (Johannes 17:14). Die gevolg is dat hulle deur albei konings vervolg is. Valse godsdiens het ook gekonkel en saamgesweer om hulle uitgewis te kry. Hulle het eerder gedy en word vandag in meer as 200 lande aangetref en tel ver oor die driemiljoen getroue individue. Hulle geniet ’n geestelike paradys onder Christus se heerskappy wat ’n skerp teenstelling vorm met die duister en wanhoop van hierdie wêreld (Jesaja 65:13, 14). Jesus “staan” gevolglik dwarsdeur hierdie laaste dae ‘ten behoewe van die seuns van Daniël se volk’.—Daniël 12:1, NW.
Migael ‘staan op’
15. In watter sin ‘staan’ Jesus ‘op’, en wanneer vind dit plaas?
15 Hoe gebeur dit dan dat Jesus, wat reeds “staan”, op daardie tydstip “opstaan”? (Daniël 12:1, NW). Dit is omdat sy heerskappy as ’t ware ’n nuwe fase binnegaan. Die tyd het vir hom aangebreek om op ’n besondere wyse op te tree om ‘Daniël se volk’ te red van uitwissing deur menseregerings (Esegiël 38:18, 19). Die “tyd” waarvan daar hier gepraat word, is klaarblyklik “die tyd van die einde” van die koning van die noorde en die koning van die suide, wanneer die koning van die noorde die geestelike staat van God se volk bedreig (Daniël 11:40-45). Tevore het slegs Jesus se getroue aardse onderdane sy heerskappy ernstig opgeneem (Psalm 2:2, 3). Nou is dit egter tyd vir “die openbaring van die Here Jesus”, wanneer almal verplig sal word om sy koningskap te erken (2 Thessalonicense 1:7, 8). Dit sal die vernietiging van alle vyandelike magte beteken, gevolg deur die Duisendjarige Heerskappy van Jesus en sy medeheersers, wanneer die Koninkryk die enigste regering oor die mensdom sal wees.—Openbaring 19:19-21; 20:4.
16. Wat is die gevolg vir die goddelose nasies wanneer Jesus “opstaan”?
16 In ooreenstemming hiermee sê die engel dat wanneer Migael opstaan daar “stellig ’n tyd van benoudheid [sal] wees soos daar nie teweeggebring is sedert ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie”. (Daniël 12:1, NW; vergelyk Mattheüs 24:21.) Dit sal ’n tyd vir die vernietiging van die goddeloses en redding vir die getroues wees (Spreuke 2:21, 22). Luister hoe vreesbevange die ontroue mensdom dan gaan reageer: Hulle sal “vir die berge en die rotse [sê]: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”—Openbaring 6:16, 17.
17. Wat sal dan gebeur met Satan se aardse magte, die koning van die noorde en die koning van die suide inkluis?
17 Die gevolg van hierdie “tyd van benoudheid” op Satan se aardse magte word beskryf in Esegiël se profesie teen Gog van Magog: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is” (Esegiël 39:4). Waar Jeremia van dieselfde tyd van benoudheid praat, het hy gesê: “Die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde” (Jeremia 25:33). Dit sal voorwaar ’n tyd van benoudheid wees. Jesus sal ’n einde aan die lang geskiedenis van menseoorlogvoering maak wanneer hy “opstaan” om ontslae te raak van die mensemagte wat daarvoor verantwoordelik is.—Psalm 46:10; 1 Korinthiërs 15:25.
Die oorlewendes van “’n tyd van benoudheid”
18. (a) Wat sal die ondervinding van ware aanbidders wees wanneer Migael “opstaan”? (b) Wat beteken dit om “in die boek opgeskrywe [te] staan”?
18 Hoewel God se volk die uitwerking van vyandelikheid sal ondervind, sal dit hoofsaaklik “’n tyd van benoudheid” vir die goddeloses wees (Psalm 37:20). Die engel sê vir Daniël: “Maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Daniël 12:1). Teen hierdie tyd sou baie van ‘die seuns van Daniël se volk’ al gesterf en hulle hemelse beloning ontvang het. Hulle sal ongetwyfeld met Migael in hierdie groot militêre oorwinning deel (Openbaring 2:26, 27; Psalm 2:8, 9). Die wat op die aarde oorbly, sal nie aan die geveg deelneem nie; maar hulle sal onkreukbaarheid handhaaf, en daarom sal hulle dit oorlewe (Openbaring 17:14; 19:7, 8). Hulle metgeselle, die “groot menigte”, sal ook oorlewendes wees (Openbaring 7:9, 14). Die gesalfde oorblyfsel sowel as die “ander skape” sal dus “in die boek opgeskrywe staan”, dit wil sê, hulle name sal opgeteken word as persone wat in aanmerking kom vir die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde.—Johannes 10:16; Exodus 32:32, 33; Maleagi 3:16; Openbaring 3:5.
19. (a) Hoe sal Migael vir die aarde vrede bring deur ‘op te staan’? (b) Watter vraag moet nog beantwoord word?
19 Hulle sal die voorreg hê om die totstandbrenging van ware, aardwye vrede te sien. Hulle sal die vervulling van Jehovah se belofte aanskou: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit” (Psalm 37:9). Omdat God se Koninkryk dan die enigste regering oor die aarde sal wees, sal elke mens wat lewe ’n kneg van Jehovah wees (Jesaja 11:9). In “die tyd van die einde” van die twee konings sal Migael dus “opstaan” om vir die mensdom vrede te bring. Geen ophoping van wapens deur die supermoondhede of ander sette kan hierdie ontwikkeling keer nie. Beteken dit egter dat ons tot dan moet wag om vrede te geniet? Nee, Christene kan selfs nou vrede geniet—in werklikheid ’n beter soort vrede as die blote afwesigheid van oorlog. Wat is hierdie vrede? Die engel se profesie aan Daniël werp voorts lig hierop.
[Voetnoot]
a Aangesien Migael ’n aartsengel genoem word, meen sommige dat dit afbreuk aan Jesus se waardigheid of posisie doen as daar gesê word dat Migael Jesus is (Judas 9). Die getuienis vir so ’n identifikasie het egter die voormelde geleerdes van die Christendom laat besef dat Migael Jesus is ondanks die feit dat hulle vermoedelik aan die Drie-eenheid geglo het.
Onthou jy?
◻ Wie is Migael die Groot Vors?
◻ Wie is vandag Daniël se volk?
◻ Hoe staan Migael nou ten behoewe van Daniël se volk?
◻ Hoe sal Migael binnekort op ’n besondere wyse opstaan?
◻ Wie sal die tyd wanneer Migael opstaan, oorlewe?
[Prent op bladsy 16]
’n Laaste, wanhopige poging om God se volk uit te wis, sal misluk—maar hoe?
[Prent op bladsy 18]
God se volk sal gered word wanneer Migael “opstaan” om ’n einde te maak aan die wedywer tussen die twee konings