Goddelike vrede vir die wat deur Jehovah geleer word
“Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”—JESAJA 54:13.
1, 2. Waarvan hang die genieting van vrede af?
VREDE! Hoe begeerlik is dit tog nie! Nogtans was die mensdom se verlede allesbehalwe vreedsaam. Waarom is dit die geval?
2 Die genieting van vrede hou ten nouste verband met eerbied vir gesag. En wie is die hoogste gesag in die heelal? Die Skepper, Jehovah God. ’n Goedgekeurde verhouding met hom is derhalwe onontbeerlik vir vrede (Psalm 29:11; 119:165). As daardie allerbelangrikste verhouding verpletter word, is dit onmoontlik om ware vrede met God, met jou naaste of in jouself te geniet.—Jesaja 57:21.
Waarom die wêreld nie vrede het nie
3. Hoe is die mensdom se verhouding met God bederf?
3 Soos ons goed weet, was dit kort ná die daeraad van die mensegeskiedenis dat ’n geesseun van God teen Jehovah in opstand gekom het. Opstand is ’n staat van oorlog. Daardie vredesverstoorder, wat bekend geword het as Satan die Duiwel, het Eva aangehits om nie toe te laat dat God se wet haar verhinder om iets te doen as sy gedink het dit haar tot voordeel sou strek nie. Die Duiwel het die feite verdraai om haar te laat dink dat sy iets goeds ontneem word deur na God te luister. Hy het selfsug, ’n ek-eerste-gesindheid, aangewakker. Kort daarna het haar man saam met haar wetteloos opgetree, en gevolglik is al hulle nasate met daardie gees besmet.—Genesis 3:1-6, 23, 24; Romeine 5:12.
4, 5. (a) In watter mate het Satan dit reggekry om die mensdom se denke te beïnvloed? (b) Watter uitwerking het dit gehad op die mens se pogings om vrede te bewerkstellig?
4 Dit is nie net ’n klein deeltjie van die mensdom wat die goddelike wet opsystoot nie. Die Skrif deel ons mee dat Satan “die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Sommige mense is gruwelik wetteloos en toon algehele minagting vir God en hulle medemens; ander is minder wetteloos. Maar Satan het so goed daarin geslaag om die mensdom se denke te beïnvloed dat die apostel Johannes kon sê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). Of mense nou geloof in die Duiwel se bestaan bely of nie, hulle doen wat hy wil hê. Hulle gehoorsaam hom, en daarom is hy hulle heerser. Die mensdom is gevolglik van God vervreem en vyande van hom. Is dit, in so ’n milieu, enigsins ’n wonder dat mensepogings om vrede te bewerkstellig misluk het?—Kolossense 1:21.
5 Daar is nietemin ’n groeiende aantal mense uit alle nasies wat goddelike vrede ondervind, vrede wat by God ontstaan. Hoe het dit gebeur?
Die genoeglike vrede wat God gee
6. (a) Hoeveel klem lê die Bybel op vrede? (b) Deur middel van wie kan ons die vrede geniet wat God gee?
6 In Romeine 15:33 (NW) word Jehovah tereg beskryf as “die God wat vrede gee”. Reg van die begin af was dit God se voorneme dat al sy skepsele vrede geniet. Sy geïnspireerde Woord, die Bybel, maak meer as 300 keer melding van vrede. Dit toon duidelik dat Jesus Christus die “Vredevors” is (Jesaja 9:5, 6). Dit is hy wat die opdrag van God ontvang het om die werke van daardie groot vredesverstoorder, Satan die Duiwel, te verbreek (1 Johannes 3:8). En deur middel van die “Vredevors” kan elkeen van ons die genoeglike vrede geniet wat God gee.
7. (a) Wat sluit Godgegewe vrede in? (b) Waarom is dit nie iets waarvoor ons hoef te wag tot die ou stelsel verby en ons uiteindelik volmaak is nie?
7 Watter wonderlike vrede is dit tog nie! Dit is meer as die afwesigheid van oorlog. Die Hebreeuse woord sja·loomʹ, wat gewoonlik met “vrede” vertaal word, bevat die gedagte van gesondheid, voorspoed en welvaart. Die vrede van God wat ware Christene besit, is uniek daarin dat dit nie van hulle omgewing afhang nie. Dit beteken nie dat ’n onaangename omgewing hulle nie raak nie. Maar hulle ontwikkel innerlike krag wat hulle in staat stel om nie, wanneer hulle deur onrus geraak word, die saak te vererger deur kwaad vir kwaad te vergeld nie (Romeine 12:17, 18). Al is iemand siek of arm, kan hy nogtans geestelik gesond en welvarend wees en aldus die vrede geniet wat God gee. Sulke persone sal natuurlik selfs groter vrede ondervind wanneer hierdie selfsugtige wêreld tot die verlede behoort, en hulle vrede sal inniger wees wanneer die hele mensdom volmaak is. Die goddelike vrede wat nou reeds moontlik is, is egter ’n kalmte van verstand en hart, ’n innerlike rustigheid ongeag wat buite plaasvind (Psalm 4:9, NW). Dit spruit uit ’n goedgekeurde verhouding met God. Wat ’n kosbare besitting is dit tog nie!
Kinders wat deur Jehovah geleer word
8. Wie was die eerstes wat hierdie vrede van God deur Jesus Christus geniet het?
8 Wie het sulke vrede omdat hulle deur Jehovah geleer word en na sy gebooie luister? In antwoord hierop vestig die Bybel ten eerste ons aandag op diegene wat geestelike Israel uitmaak. Daar word in Galasiërs 6:16 van hulle gepraat, waar ons lees: “Mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” Dít is die 144 000 wat deur God gekies is om saam met Jesus Christus in die hemel te lewe.—Openbaring 14:1.
9. Wat was die “reël” wat met geestelike Israel se genieting van vrede verband gehou het?
9 In die eerste eeu het die lede van geestelike Israel ’n basiese waarheid, ’n “reël”, geleer wat regstreeks met hulle genieting van vrede verband gehou het. Dit was noodsaaklik dat hulle hierdie gedragsreël verstaan. Meer as 15 eeue lank het Jehovah die Mosaïese Wet gebruik om skaduwees van toekomstige goeie dinge te voorsien. Maar na die offerdood van Jesus Christus was die vereistes van die Mosaïese Wet nie meer bindend nie (Hebreërs 10:1; Romeine 6:14). Dit het geblyk uit die besluit van die Christelike bestuursliggaam in Jerusalem oor die besnydeniskwessie (Handelinge 15:5, 28, 29). Dit is ook in die geïnspireerde brief aan die Galasiërs beklemtoon. Die goeie dinge wat die Mosaïese Wet afgeskadu het, is verwesenlik. Jehovah het die betekenis van die onverdiende goedheid wat hy deur Christus geopenbaar het geduldig by die harte en verstande van Christus se gesalfde volgelinge ingeskerp. Deur geloof in hierdie voorsiening te beoefen, deur in ooreenstemming daarmee te lewe, kon hulle ’n soort vrede geniet wat nooit tevore vir sondige mense moontlik was nie.—Galasiërs 3:24, 25; 6:16, 18.
10. (a) Watter belofte wat in Jesaja 54:13 opgeteken is, is ten opsigte van geestelike Israel vervul? (b) Hoe het Jehovah se tugtiging hulle gehelp om vrede te geniet?
10 Die lede van geestelike Israel het die vervulling van die wonderlike belofte in Jesaja 54:13 ondervind. Daar het God self vir sy gemalin-organisasie van lojale geesskepsele gesê: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders [“seuns”, NW] sal groot wees.” Haar vernaamste Seun is natuurlik Jesus Christus self, wat as die Messias voortgebring is toe hy in 29 G.J. met die heilige gees gesalf is. Maar Jehovah se hemelse “vrou” het meer seuns—144 000 ander wat die sekondêre deel geword het van die saad wat in Genesis 3:15 voorspel is. Jehovah het beloof dat hy die Groot Onderrigter van al hierdie seuns sou wees. Hy het hulle die waarheid oor homself en sy voornemens geleer. Hy het vir hulle gesê hoe hulle hom moet dien. Soms moes hy hulle tugtig. Dit was nodig wanneer hulle nie na sy Woord geluister het nie. Dit kan moeilik wees om tugtiging te aanvaar. Maar hulle het nederig hulle behoefte daaraan erken en die nodige veranderinge aangebring, en daardie tugtiging het goeie resultate gelewer—“’n vredevolle vrug van geregtigheid”.—Hebreërs 12:7, 11; Psalm 85:9.
“’n Groot menigte” wat God se weë geleer word
11. (a) Wie anders word in ons dag deur Jehovah geleer? (b) Hoe toon hulle dat hulle voldoen aan die beskrywing in Jesaja 2:2, 3, en watter uitwerking het dit op ander?
11 In ons dag is geestelike Israel nie die enigste groep wat deur Jehovah geleer word nie. Gedurende die afgelope halfeeu het ander ook aandag ontvang. Jesaja is geïnspireer om, in Jes hoofstuk 2, vers 2 en 3, oor hulle te skryf: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Ja, diegene wat aanbidders van die enigste ware God word, ken aan daardie aanbidding die hoogste plek in hulle lewe toe. Daarom is dit ver verhewe bo elke ander soort aanbidding wat hulle voorheen beoefen het en wat die wêreld om hulle heen steeds beoefen. Mense van alle nasies het dit gesien. Hulle het gesien dat diegene wat Jehovah aanbid hulle verhouding met hom bo alle ander dinge stel, ongeag die eise van wêreldlike owerhede of die algemeenheid van onchristelike gebruike in die wêreld. Waarnemers het ook die vrug gesien wat dit in die lewens van sulke aanbidders voortbring, en baie wil in ware aanbidding deel. Gevolglik sê meer as driemiljoen mense nou vir ander: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Kyk ook Sagaria 8:23.
12. Hoe word diegene wat in Jesaja 2:2, 3 gemeld word, bevoordeel deur die feit dat God hulle Onderrigter is, en wat is ’n besondere deel van die onderrig wat hy hulle gee?
12 Dink net wat dit beteken—om God as hulle Onderrigter te hê! Diegene wat sulke onderrig ontvang en waarlik die bron daarvan waardeer, word nie deur voortdurende geesteskonflikte geteister nie. Hulle vind nie dat hulle op twee gedagtes hink of voor ’n dilemma staan omdat hulle nie weet wat reg is nie. Die waarheid uit God se Woord is glashelder. En wat is volgens Jesaja 2:4 ’n besondere deel van die onderrig wat hulle ontvang? Dit gaan om hoe hulle vrede kan geniet in ’n wêreld vol tweedrag. Ongeag wat ander besluit om te doen, neem diegene wat deur Jehovah geleer word dus die inisiatief om van hulle swaarde pikke te smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle leer nie meer om oorlog te voer nie.
13. Uit watter agtergronde kom die “groot menigte”, maar wat het van hulle die soort mense gemaak wat hulle is?
13 Dit is hierdie selfde groep wat in Openbaring 7:9, 10, 14 uitgebeeld word as persone wat behoue bly tot in God se vreedsame nuwe aarde wat op die komende “groot verdrukking” volg. Die oorlewende “groot menigte” kom uit alle etniese groepe, stamme, volke en tale. Baie van hulle was voorheen verbonde aan faksies wat teen mekaar oorlog gevoer het. Ander het eenvoudig ’n lewe gelei wat basies selfsugtig was; maar ook dit het hulle genieting van vrede belemmer. Nou is diegene wat uit al die nasies gekom het egter ’n vredeliewende volk wat vrede bevorder. En wat het hulle so gemaak? Hulle is deur Jehovah geleer.—Jesaja 11:9.
’n Unieke soort vrede
14. Waarop berus die vrede van Jehovah se volk, en hoe so?
14 Die vrede waarmee Jehovah sy volk begunstig, is waarlik uniek. Dit is nie die produk van ’n wankelrige ooreenkoms tussen twee partye wat mekaar wantrou nie. Geen kompromisse is aangegaan nie. Dit berus op geregtigheid (Jesaja 32:17). Maar hoe kan dit waar wees van vrede waarby onvolmaakte mense betrokke is? Watter geregtigheid het enigeen van ons as sondaars? Wel, deur die geloof kan ons ’n geregtigheid geniet wat deur die soenwaarde van Jesus se offer moontlik gemaak word.
15. Wat het Jehovah sy toekomstige seuns gedurende Jesus se aardse bediening geleer wat onontbeerlik was vir vrede?
15 Dít help ons om Jesus se woorde in Johannes 6:45-47 te verstaan. Hy het daar met Jode gepraat wat nie na hom as die Messias aangetrek is nie en gevolglik teen hom gemurmureer het. Maar dit was met verwysing na sy dissipels dat hy gesê het: “Dit is geskrywe in die profete [spesifiek in Jesaja 54:13]: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.” Daardie dissipels het die onderrig aanvaar wat Jehovah hulle gegee het. Hulle is na Jesus aangetrek. Toe ander Jesus se leer verwerp en hom verlaat het, het sy apostels by hom gebly. Soos Petrus gesê het: “Ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” (Johannes 6:69, NAV). Weens hulle geloof in Jesus Christus sou dit vir hulle moontlik wees om ’n vreedsame verhouding met Jehovah God aan te gaan, ’n verhouding wat hulle van die ewige lewe verseker.
16. (a) Hoe het Jesus se volgelinge van Pinkster 33 G.J. af baat gevind by die reëling wat deur middel van Christus gemaak is? (b) Wat is daarna van hulle vereis?
16 Van Pinkster van 33 G.J. af word die voordele van Christus se offer ten behoewe van Jesus se getroue volgelinge aangewend. Wat Paulus later in Romeine 5:1 geskryf het, het waar geword van hulle: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” Hulle was almal afstammelinge van Adam. As sondaars was hulle van God vervreemd. Geen goeie werke wat hulle persoonlik gedoen het, kon hulle erfsonde uitwis nie. Maar deur Sy onverdiende goedheid het Jehovah die offer van Jesus se volmaakte menselewe ten behoewe van Adam se nageslag aangeneem. Geregtigheid kon nou toegeskryf word aan diegene wat geloof in hierdie reëling beoefen het, en God kon hulle aanneem as seuns met hemelse lewe in die vooruitsig (Efesiërs 1:5-7). Maar is daar meer van hulle vereis? Ja, hulle moes in Jehovah se weë wandel. Hulle kon nie langer sonde bedryf nie. Hulle besef egter dat enige geregtigheid wat hulle het die gevolg van God se onverdiende goedheid deur Christus is. Hulle het, soos die teks sê, ‘vrede by God deur Jesus Christus’.
17, 18. (a) Geniet die “ander skape” sulke vrede met God? (b) Watter verdere vrae moet ondersoek word?
17 Wat van diegene wat Jesus sy “ander skape” genoem het? (Johannes 10:16). Geniet hulle sulke vrede met God? Nie as seuns van God nie, maar Kolossense 1:19, 20 sluit hulle wel in as ontvangers van goddelike vrede. Dit sê dat God dit goed geag het om deur Christus “alles met Homself [te] versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy [Jesus se] kruis . . . die dinge op die aarde [dit wil sê, diegene wat met die ewige lewe op ’n paradysaarde begunstig gaan word] sowel as die dinge in die hemele”. Diegene met aardse vooruitsigte word nou reeds regverdig verklaar en geniet reeds vrede met God, nie as seuns nie, maar as ‘vriende van God’, soos Abraham was. Wat ’n begunstigde posisie is dit tog nie!—Jakobus 2:23.
18 Geniet jy daardie vrede? Ondervind jy dit in die volste mate wat moontlik is vir mense wat gedurende hierdie allerbelangrikste tyd in die geskiedenis lewe? In die volgende artikel sal ons ’n paar van die dinge ondersoek wat kan help om dit moontlik te maak.
Hersieningsvrae
◻ Waarom het die wêreld nie vrede nie?
◻ Wat is die vrede wat God nou gee?
◻ Wie kan sulke vrede geniet?
◻ Waarom is geregtigheid onontbeerlik vir sulke vrede?
[Prent op bladsy 14]
“Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe”