’n Dag in Kalkutta—Hoe “alle soorte van mense” met die goeie nuus bereik word
KALKUTTA, Indië, is ’n stad wat wemel van “alle soorte van mense”. En Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van God se Koninkryk onder die meer as tienmiljoen inwoners van die stad. Dit verg baie vindingrykheid en volharding om al hierdie mense met hulle uiteenlopende rasse-, maatskaplike, kulturele, godsdienstige en ekonomiese agtergronde te bereik. Maar net soos die Christenapostel Paulus, wie se sendingreise hom na die uithoeke van die destydse wêreld geneem het, het Jehovah se Getuies in Kalkutta ook “alle dinge vir alle soorte van mense geword” sodat hulle “in alle geval sommige kan red”.—1 Korinthiërs 9:22; Kolossense 1:23.
Hoe doen die Getuies aldaar hulle predikingswerk, en watter soorte mense en toestande kom hulle in hulle bediening teë? As ’n besoeker het ek onlangs ’n dag in Kalkutta saam met ’n pionier, of voltydse prediker, deurgebring. Wil jy graag ’n kykie in daardie unieke ondervinding hê?
’n Ontsaglike en veelsoortige veld
Laat daardie besige en fassinerende dag waartydens ons van huis tot huis gepreek het, was ek en my metgesel gereed om huis toe te gaan. Terwyl ons vir die bus gewag het, het ons begin gesels oor die uitdagings waarmee hy en ander pioniers in hierdie reuse stad te kampe het.
“Wel”, het hy gesê, “vra enigeen wat hier in die voltydse predikingswerk is of hy na ’n makliker toewysing wil verhuis. Ek dink nie hy sal dit graag wil doen nie.”
Hy was reg. Die pioniers in Kalkutta beskou hulle werk as een van die interessantste loopbane in die wêreld. Hulle het ’n ontsaglike en veelsoortige veld in hierdie stad met groot kontraste.
Hoewel die Hindoe-godsdiens die stad oorheers, is daar baie kerke en Moslemitiese moskees, en hier en daar tref ’n mens ’n paar Boeddhistiese tempels aan. In sommige dele woon van die wêreld se rykste mense in deftige herehuise. ’n Entjie daarvandaan is die krotte van die trekarbeiders wat kan verwag om so min as 150 roepees (ongeveer R27) per maand te verdien. Hulle gebruike, tale en voorkoms is net so uiteenlopend soos hulle gelowe en hulle lewenstoestande.
Te midde hiervan floreer een gemeente van Jehovah se Getuies met ongeveer honderd bedrywige Koninkryksverkondigers. Hoewel die uitdaging ontsaglik is, put die Getuies besondere vreugde en bevrediging daaruit om hulleself aan te pas ten einde in die behoeftes van die mense te voorsien.
Net toe het Bus 45 hortend voor ons tot stilstand gekom. Dit was so vol dat my onmiddellike reaksie was: “Dis onmoontlik om in te klim!” Daar was ’n vriendelike stootjie van agter en eerlank is ons albei tot op die bus meegevoer deur ’n magdom arms en liggame. Ten minste nog tien mense het na ons opgeklim. Hulle het op die staanplank gery en soos bye om die ingang gehang. Binnekant die voertuig, wat gemaak is met sitplek vir 46, het ek meer as honderd hoofde getel voordat ek opgehou tel het om my gesprek met my vriend te hervat.
“Is die busse altyd so vol?”
“Hulle is dikwels effens vol”, het hy verduidelik, “maar hulle is goedkoop, wat beteken dat ons dit maklik kan bekostig om elke dag selfs [10 tot 15 kilometer] na party van die meer afgeleë dele van die stad te ry om te preek.”
“Sal dit nie makliker wees om meer dikwels in gemeenskappe nader aan die huis te werk nie?”
“Ja, maar sommige van ons wat voltydse werkers is, het besluit om ons in te span om die mense in ander gebiede te bereik. Ons verslae toon dat baie buurte van Kalkutta die afgelope 50 jaar nie met die goeie nuus besoek is nie!”
Dit is egter ’n groot uitdaging om almal in ’n bepaalde gebied te bereik weens die geweldige aantal mense. ’n Opname het eenkeer die bevolkingsdigtheid in Kalkutta aangegee as drie maal dié van die stad New York op daardie stadium, en in die laaste jare het die syfer toegeneem.
Ten minste ’n derde van Kalkutta se mense woon in oorbevolkte krotbuurte. Hulle bestaan uit ry op ry hutjies wat gewoonlik feitlik teen mekaar staan. Elke hut bestaan uit ’n grondvloer en mure van modder en koeimis wat oor houtrame gesmeer is, met ’n kleiteëldak bo-oor. Elke hut, met min of geen ventilasie, is die slaapplek van tot sewe of agt mense. Daar is gewoonlik een waterstaanpyp vir ongeveer elke 150 mense, en in gevestigde krotbuurte voorsien die regering ’n paar gemeenskaplike kleinhuisies.
Wanneer ’n mens huisbesoek in ’n krotbuurt begin doen, is dit nie buitengewoon om deur ’n skare van tot honderd nuuskierige toeskouers, meestal kinders, vergesel te word nie. Een Getuie, wat effens vies geword het vir ’n jongman wat aaneen sy besoek by elke huis aangekondig het, het vir die jongman gevra of hy nie sommer ook die res van die praatwerk wil doen nie. Op hierdie oënskynlike uitnodiging het die goedgeaarde jongeling die traktaat by die Getuie gevat en die aanbieding woord vir woord gedoen en selfs Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied.
Hoe die uiteenlopende godsdiens agtergronde aangepak word
Omtrent die helfte van die stad se krotbuurte word deur aanhangers van Islam bewoon. Die verdraagsame gesindheid wat in die stad heers, maak dit egter moontlik om in sulke gebiede van huis tot huis te preek, ’n voorreg wat nie altyd in ander lande met groot Moslemgemeenskappe geniet word nie. Ek het gevra of die pioniers in Kalkutta ’n spesiale benadering het met mense met hierdie agtergrond.
“Sommige gebruik plaaslike probleme om die mens se onvermoë om sy probleme op te los te beklemtoon”, het my vriend geantwoord, “terwyl ander probeer om die godsdiensvooroordeel te bowe te kom deur gedagtes te bespreek wat hulle gemeen het, soos geloof in een God (nie ’n Drie-eenheid nie) of ons gemeenskaplike geloof dat die oorspronklike Bybel deur God geïnspireer is.”
“En die resultate?” het ek gewonder.
“Baie min stel genoeg belang om ’n Bybelstudie te wil hê. Die enigste dinge waaraan hulle skynbaar dink, is hoe om ’n bestaan te maak en hulle posisie in die lewe te verbeter. Dit, tesame met min indien enige geleerdheid, maak dit vir hulle baie moeilik om die goeie nuus aan te neem.”
Hulle kom meestal Hindoebeskouings in die stad teë. Die Bengalese in die besonder haal graag ’n gesegde aan van Ramakrisjna, wat in die middel van die 19de eeu gelewe en gepreek het. “Jotto mot, totto pot”, beteken, vryelik vertaal, dat alle gelowe maar net verskillende paaie is wat na dieselfde doelwit lei.
“Is dit moeilik om hierdie beskouing te bowe te kom?” het ek gevra.
“Nie as die persoon vatbaar vir rede is nie. Ons kan taktvol sommige opvallende verskille verduidelik, soos ons Bybelse hoop om vir ewig in menslike volmaaktheid op aarde te lewe. Of ons kan daarop wys dat dit nie moontlik is dat teenoorgestelde beskouings tegelyk waar kan wees nie. Daar is byvoorbeeld ’n onsterflike siel, of daar is nie ’n onsterflike siel nie.”
“Dis gesonde redering.”
“Ja, maar alte dikwels weier mense om wat ons sê ernstig op te neem. Hulle is seker dat hulle weet wat ons glo en dat hulle dieselfde glo. Hierdie gesindheid is geneig om enige konstruktiewe bespreking te verydel. Ons probeer dus om lektuur by hulle te laat en na die volgende persoon te gaan.”
“Was daar al enige lede van die Hindoegemeenskap wat na ’n dieper kennis van God en sy voornemens gesoek het?”
“Ja, die pioniers het in aanraking gekom met ’n jongman wat ontnugter is deur sy omgang met die volgelinge van Ramakrisjna”, het my vriend vertel. “Hy het die tydskrifte aanvaar en hulle gelees teen die tyd dat hy twee dae later weer besoek is. Na verskeie besprekings het hy begin om die boekie The Path of Divine Truth Leading to Liberation te bestudeer. Hy het sy antwoorde en kommentaar op die studievrae in ’n notaboek neergeskryf. Vyf maande later is hierdie man gedoop en was hy ’n hulppionier sodat hy sy kennis met ander kon deel.”
“Dit is ’n puik ondervinding! Maar wat was die reaksie van sy familie?”
“Hy het by sy weduweemoeder en grootmoeder, albei toegewyde Hindoes, gewoon. Hulle het ook belangstelling begin toon en die Bybel begin bestudeer. Die bure het eerlank die veranderinge in die vroue opgemerk, en drie ander het as gevolg daarvan belanggestel. Die moeder is ook nou gedoop, en die ouma, wat ’n bietjie stadiger is omdat sy 70 jaar oud is, hoop om binnekort gedoop te word.”
Uit die opgewondenheid waarmee my vriend hierdie verhaal vertel het, kon ek sien dat sulke ondervindinge ’n groot aansporing vir die pioniers is. Dit lyk soms of daar min vordering is, maar dan toon iemand buitengewone belangstelling. Dit spoor die pioniers aan om voort te gaan met hulle soektog na nog meer wat dalk belangstel.
Hoe die taalskeidsmure oorkom word
Daar was nou minder mense op die bus, en ek het ’n bietjie Engels herken. “Ticket, apnar ticket”, het ’n kort mannetjie uitgeroep. Hy het nie ’n uniform aangehad nie, maar ’n kleurryke waaier banknote in sy regterhand en ’n leersak vol kleingeld aan sy sy het getoon dat hy die kondukteur is. Ek het aangebied om te betaal, maar my vriend se Indiese gasvryheid het dit nie toegelaat nie. Hy het sy boeketas in my hande gedruk en in sy hempsak na kleingeld gesoek.
“Wat op aarde het jy hierin?” het ek uitgeroep. “Dit weeg omtrent ’n ton!”
“Wel, die Indiese vertalings van die Bybel is taamlik groot. Om in Kalkutta ten volle toegerus te wees, moet ons eintlik Bybels in drie tale saamdra—Bengalees, Hindi en Engels—en natuurlik Bybellektuur.”
“Maar julle kan tog seker net ’n Engelse Bybel saamvat en die verse vertaal, of hoe?”
“Ons kan seker. Maar baie mense wat net Bengalees of Hindi lees, het nog nooit ’n volledige Bybel in hulle eie taal gesien nie. Dit is ’n aangename gevoel wanneer ons vir hulle ’n eksemplaar kan toon en vir hulle daaruit kan lees. Dit is die ekstra moeite en gewig dubbel en dwars werd.”
Die pioniers se pogings om in die behoeftes van die verskillende taalgroepe hier te voorsien, hou hulle besig. Die meeste van hulle leer hulself om bedrewe in die drie hooftale te getuig. Sommige met besondere aanleg het geleer om vyf of ses tale te praat. Die plaaslike mense waardeer die pogings van die besoekers om in die taal van die gemeenskap te praat, en die aandag waarmee hulle luister, is genoeg beloning vir die vele ure wat aan taalstudie gewy word.
Hoe om vreugde te vind in ’n gebied met uitdagings
Net toe het ons bus weer knersend tot stilstand gekom op remvoerings wat lankal verslyt het, en ek is na buite gestoot.
“Waarom hier?” het ek gevra. “Dis nie waar jy woon nie.”
“Nee, dis ’n Punjabi-gebied. Hierdie mense maak die beste tee. Ek het gedink dat jy graag ’n koppie sou wou drink.”
Die tee was uitstekend.
“Hoe het jy van hierdie plek geweet?” het ek gevra.
“Wanneer ons in elke gebied werk, leer ons as pioniers wat die plaaslike spesialiteite is en waar die beste en goedkoopste winkels is. As jy ’n sterk maag het, kan ons vanaand ’n paar interessante disse probeer.”
Omdat ek die raad van ’n paar van my versigtiger vriende onthou het, het ek die uitnodiging van die hand gewys. Maar ek het die tee geniet. Ek kon sien dat die pioniers gebalanseerd is en geleer het om hulle omstandighede ten beste te benut. Selfs dinge wat aanvanklik na hindernisse lyk, kan oorkom en geniet word.
“Is daar enigiets omtrent jou werk waarvan jy nie hou nie?” het ek eindelik gevra.
My vriend het ’n rukkie oor hierdie vraag nagedink. “Ek meen die somer- en moesonweer is iets waaraan ons nooit eintlik gewoond sal raak nie. Dit is egter ’n probleem wat jy het of jy nou ’n pionier is of nie. Dit word so warm en vogtig dat sweet dikwels van die punt van jou neus af op jou Bybel drup terwyl jy daaruit lees. Ons leer egter om dit te verduur. Trouens, in Mei, moontlik die warmste maand van die jaar, sien ons die hoogste getal hulppioniers saam met ons in die predikingswerk.”
Wanneer ek terugdink aan die dag en my gesprek met my pioniervriend, word ek beïndruk deur die vermoë van Kalkutta se pioniers om hulle aan te pas by soveel verskillende situasies en volke sodat hulle hulle met die goeie nuus kan bereik. Ek besef natuurlik dat pioniers dwarsoor die wêreld dieselfde doen. Hulle is waarlik gelukkig ‘om alle dinge vir alle soorte van mense te wees’.—Bygedra.
[Kaart/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
INDIË
Kalkutta