Aardbewings—benoudheid op benoudheid
“DIT was vreeslik. Ons was verlore. Dit was soos ’n oseaan, ’n oseaan, waarin alles beweeg het.”
So het ’n oorlewende van een van die dodelikste aardbewings in die geskiedenis vertel. Daardie verwoestende aardskok, wat in 1976 in China voorgekom het, het die stad Tangsjan met die grond gelykgemaak en sowat 800 000 lewens geëis. Verbasend genoeg, daardie oorlewende het kaalvoet uit ’n ineengestorte hotel gekruip. Twee-en-vyftig vierkante kilometer stadsgebied is in ’n puinhoop verander.
Sulke seismiese rampe het in ons tyd meer mense geraak as gedurende enige vorige eeu, en dit het wêreldwye belangstelling in aardbewings gewek. Miljoene het beserings opgedoen en skade gely, en miljoene ander het hulle lewens verloor. Groot skuddings maak wêreldwyd opslae. Die aardbewing in 1985 in die stad Mexiko, waarin meer as 9 000 mense dood is, het die wêreld emosioneel so geskud dat nasies inderhaas hulp na die stad gestuur het.
Wetenskaplike navorsing oor aardbewings het toegeneem, en moderne tegnologie word daarvoor gebruik. Die intensiteit van skuddings word gewoonlik op die Richterskaal gemeet, waar hoër lesings groter energievrystelling aandui. Maar as jy deur ’n aardbewing oorval word, is dit onwaarskynlik dat jy jou oor die Richterlesing sal bekommer. Oorlewing sal dan hoofsaak wees. Jou persoonlike ondervinding sal nie verander as jy weet wat die lesing op die Richterskaal is nie.
Aardbewings in Bybelprofesie
In ’n profesie met baie aspekte het Jesus Christus aardbewings ingesluit en gesê: “Daar sal . . . aardbewings [wees].” Hy het ook voorspel: “Daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees.” Die belangrikheid van hierdie aardbewings het daarin gelê dat hulle saamval met die ander dele van sy profesie oor ’n geslag wat uitgeken sal word aan ’n unieke kombinasie van oorlog, hongersnood, pessiekte, ongeregtigheid, vrees en benoudheid op wêreldskaal. Die vervulling sou “die teken” uitmaak dat Jesus die troon bestyg het as Koning van God se Koninkryk en sou aandui dat die wêreldstelsel sy laaste dae ingegaan het. “Die teken”, met inbegrip van aardbewings, is sedert 1914 duidelik sigbaar.—Mattheüs 24:3, 7-12; Lukas 21:11, 25, 26, 31, 32.
Talle seismoloë glo dat aardbewings vandag niks groter of algemener is as in die verlede nie. Ander meen weer dat ons geslag meer aardbewings belewe het as vorige geslagte. Beskikbare verslae toon dat die 20ste eeu aansienlik meer seismiese aktiwiteit ondervind as vorige eeue. Publikasies van die Wagtoringgenootskap het al herhaaldelik die aandag hierop gevestig en gewys op die Bybelse betekenis van aardbewings wat sedert 1914 voorgekom het.a
Verslae van aardbewings voor 1914 is egter onvolledig. En vroeëre geslagte het nie wetenskaplike meetmetodes gehad wat ons in staat stel om die grootte van aardbewings van die verlede en die hede betroubaar te vergelyk nie. Beteken dit dat ons nie die vervulling van Jesus se profesie kan onderskei nie?
Nee, glad nie. Jesus het blykbaar voorsien dat die geskiedenis nie al die skuddings vóór 1914 sou opteken nie en dat vroeëre geslagte nie akkurate seismologiese instrumente sou hê nie, net soos hy die ander omstandighede van ons tyd voorsien het. Gevolglik het hy nie die profesie so bewoord dat aardbewingverslae uit vroeëre eeue of instrumentlesings nodig sou wees om die vervulling te onderskei nie. Jesus het nie gesê dat die getal aardbewings in “die laaste dae” X maal groter sou wees as die getal gedurende ’n vroeëre tydperk nie, en ook nie dat ons die grootste aardbewings in die geskiedenis sou beleef nie (2 Timotheüs 3:1). Hy het nie as ’n seismoloog gepraat nie.
Jesus het klem gelê op wat mense sou ondervind. Aardbewings sou deel uitmaak van “’n begin van die smarte”, of “’n begin van wee van benoudheid” (Mattheüs 24:8, vgl. NW). Smart en benoudheid word nie met instrumente gemeet nie. ’n Ramp, met inbegrip van ’n aardbewing, word per slot van rekening aan die lyding van mense gemeet. Die vervulling van Jesus se profesie sou beteken dat benoudheid as gevolg van aardbewings opvallend aanwesig moes wees. Onderskeiding van die aardbewingaspek van die profesie is dus nie afhanklik van onbetroubare menseverslae of die wetenskaplike meting van vrygestelde energie nie. Hedendaagse verslae van aardbewings toon duidelik watter ontsettende benoudheid seismiese aktiwiteit onder mense veroorsaak.
Waarom benoudheid weens aardbewings toegeneem het
Jesus het blykbaar geweet dat die wêreldbevolking sou “ontplof” en dat die mens se doen en late aan ‘verderwing van die aarde’ sou grens (Openbaring 11:18). Die feit is dat die wêreldbevolking byna verdriedubbel het sedert 1914. In vorige eeue het ’n aardbewing van ’n bepaalde grootte gewoonlik minder mense geraak as wat vandag die geval sou wees.
Beskou Tangsjan. Tot die 1870‘s was dit bloot ’n gehuggie. As die skudding van 1976 destyds voorgekom het, sou die dodesyfer nie hoër gewees het as die klein inwonertal nie. In 1879 het nywerheidsontwikkeling begin. Teen die 1970‘s het die bevolking aangegroei tot meer as ’n miljoen, wat die toneel voorberei het vir die verskriklike ramp van 1976.
Vergelykings wat bloot op die Richterskaal gebaseer is, kan boonop misleidend wees. Die aardbewing in Alaska in 1964 het byvoorbeeld 115 lewens geëis en 8,5 op die Richterskaal geregistreer. Die Tangsjan-skudding het minder geregistreer, naamlik 8,2. Watter een was werklik die grootste? Gemeet aan die lewensverlies in plaas van die Richterskaal was die Tangsjanramp beslis erger, die ergste in die 20ste eeu. Instrumente kan nie die omvang van menslike lyding meet nie.
Verligting van alle benoudheid
Soos Jesus voorspel het, ondervind die mensdom sedert 1914 “wee van benoudheid”, waartoe aardbewings ’n bydrae lewer. Hy het op die betekenis hiervan gewys: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” Wat sou dit vir Jesus se dissipels beteken? “As hierdie dinge begin gebeur”, het hy gesê, “kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28, 31, 32.
Eerlank sal geen benoudheid, met inbegrip van die benoudheid wat deur aardbewings veroorsaak word, die mensdom meer teister nie. Onder God se Koninkryk sal elke traan van droefheid vir ewig afgevee wees. Dit is die vooruitsig vir mense van hierdie geslag. En dit kan jou hoop wees as jy gunstig reageer op die vervulling van ’n ander deel van Jesus se profesie, die boodskap wat Jehovah se Getuies nou wêreldwyd verkondig: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
a Kyk “Aardbewings—’n Teken van die einde?” in Die Wagtoring van 1 Augustus 1983.