Jehovah se Jubilee—’n tyd om ons te verheug
“En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; . . . dit moet vir julle heilig wees . . . dat julle veilig kan woon in die land.”—LEVITIKUS 25:10-12, 18.
1. Watter inskripsie verskyn op die Vryheidsklok, en waaruit kom die woorde?
WAAR jy ook al woon, jy het seker al gehoor van die bekende Vryheidsklok in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA. Volgens The World Book Encyclopedia is hierdie klok “op 8 Julie 1776 saam met ander kerkklokke gelui om die aanname van die Onafhanklikheidsverklaring aan te kondig. Die inskripsie daarop: ‘Roep vrylating in die land aan al sy bewoners uit’, kom uit die Bybel (Levitikus 25:10).”
2. Hoe voel jy oor die vooruitsig op vryheid, maar watter probleme kan ten opsigte daarvan ontstaan?
2 Vryheid is steeds baie begeerlik, nie waar nie? Jy sal jou waarskynlik verheug oor die vooruitsig op ware vryheid—van valse idees, van politieke druk of onderdrukking, van die verswakkende uitwerking van veroudering en siekte wat tot die dood lei. Dan is daar goeie rede om jou te verheug, en daar sal binnekort groter rede daarvoor wees. ‘Hoe kan dit wees?’ vra jy dalk, aangesien geen regering tot dusver algehele vryheid bewerkstellig het en geen wetenskaplike of dokter veroudering, siekte en die dood kan voorkom nie. Maar, ons herhaal, daar is ’n grondslag vir jou om jou oor ware vryheid te verheug. Om te verstaan hoe, moet jy eers belangrike agtergrondinligting beskou wat jou kan raak—nou en in die toekoms.
3. Wat was die Jubeljaar, en wat het tydens daardie jaar gebeur?
3 Die bogemelde gedeelte gebruik die woord “jubeljaar”. Die Jubeljaar was ’n Sabbat vir die land Israel. Dit het gevolg op ’n reeks van sewe Sabbatsjare vir die grond wat oor altesaam 49 jaar gestrek het. Die 50ste jaar, die Jubeljaar, was die hoogtepunt van hierdie reeks Sabbatsonderhoudings vir die land wat Jehovah aan sy volk gegee het ter vervulling van die belofte wat aan hulle voorvader Abraham, “’n vriend van God”, gemaak is (Jakobus 2:23; Jesaja 41:8). Tydens die Jubeljaar is vrylating dwarsdeur die land uitgeroep. Dit het vryheid beteken vir alle Israeliete wat hulleself weens skuld as slawe verkoop het. Nog ’n aspek van die Jubeljaar was dat alle erfgrond wat verkoop is (waarskynlik weens finansiële terugslae) teruggegee moes word.—Levitikus 25:1-54.
4. Wanneer is die Jubeljaar aangekondig, en hoe?
4 In die lig van daardie agtergrond kan jy insien waarom die Jubeljaar ’n feestelike jaar van vryheid was. Dit is op die Versoendag met basuingeklank aangekondig.a Soos Moses in Levitikus 25:9, 10 geskryf het: “Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ’n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.” In 1473 v.G.J. het Josua die Israeliete deur die Jordaanrivier in die Beloofde Land ingelei, waar hulle die Jubeljaar moes hou.
’n Voorlopige vryheid uitgeroep
5. Watter aspekte van bevryding en die Jubilee sal ons bespreek?
5 Die voorgaande lyk miskien na ou geskiedenis wat nie juis betrekking op ons lewens het nie, veral as ons nie van Joodse afkoms is nie. Jesus Christus het ons egter ’n grondige rede gegee om ’n voortrefliker Jubeljaar, ofte wel Jubilee, te verwag. Dit is die grondslag vir ons vreugde oor vryheid. Om dit te begryp, moet ons kyk hoe Jesus in die eerste eeu op twee maniere bevryding voorsien het. Dan salons kyk hoe dit ooreenkom met twee bevrydings in ons leeftyd, maar bevrydings op ’n baie groter skaal wat ons veel meer rede tot vreugde gee.
6, 7. (a) Watter wonderlike ontwikkelinge het Jesaja 61:1-7 voorspel? (b) Hoe het Jesus getoon dat Jesaja se profesie vervulling ondergaan het?
6 Hoewel dit nie regstreeks van die eertydse Jubeljaar praat nie, is daar in Jesaja 61:1-7 ’n profetiese verwysing na ’n komende soort bevryding: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos . . . Daarom sal hulle . . . ewige vreugde geniet.” Maar hoe en wanneer sou daardie profesie vervul word?
7 Na die viering van die Pasga in die jaar 30 G.J. het Jesus Christus op die Sabbat in ’n sinagoge ingegaan. Daar het hy ’n deel van Jesaja se profesie gelees en dit op homself toegepas. Lukas 4:16-21 lui ten dele: “Toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig . . . Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”
8. (a) Watter voorlopige bevryding het Jesus voorsien? (b) Hoe blyk dit uit Johannes 9:1-34?
8 Die goeie nuus wat Jesus verkondig het, het vir Jode wat dit aanvaar het geestelike bevryding gebring. Toe hulle oë geopen is vir die werklike betekenis en vereistes van ware aanbidding is hulle van talle misvattings bevry (Mattheüs 5:21-48). Hierdie vryheid was waardevoller as fisiese genesings wat Jesus verrig het. Hoewel Jesus die oë geopen het van ’n man wat blind gebore is, was die man se besef dat Jesus ’n profeet van God is vir hom van blywender nut. Daardie man se nuwe vryheid het ’n kontras gevorm met die toestand van godsdiensleiers wat slawe van hulle tradisies en misvattings was (Johannes 9:1-34; Deuteronomium 18:18; Mattheüs 15:1-20). Maar dit was net ’n aanvanklike of voorlopige vryheid. Selfs in die eerste eeu het Jesus gehelp om ’n ander soort vryheid te bewerkstellig wat ’n parallel met die Jubeljaar in eertydse Israel gevorm het. Waarom is dit ’n redelike gevolgtrekking?
9. In watter slawerny het selfs diegene wat geestelik bevry was steeds verkeer?
9 Jesus het vir die man wat voorheen blind was, gesê: “Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.” Toe het hy vir die Fariseërs gesê: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde” (Johannes 9:35-41). Ja, sonde wat tot die dood lei, was nog steeds ’n groot probleem, net soos vandag (Romeine 5:12). Die Jode, met inbegrip van die apostels, wat baat gevind het by die voorlopige bevryding, die geestelike bevryding wat Jesus voorsien het, het onvolmaakte mense gebly. Hulle was steeds slawe van die sonde en gevolglike dood. Kon Jesus dit verander? Sou hy? En indien wel, wanneer?
10. Watter bykomende vryheid het Jesus belowe?
10 Jesus het vroeër gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Sy Joodse toehoorders het geantwoord: “Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?” Jesus het geantwoord: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd” (Johannes 8:31-36). Natuurlike afstammelinge van Abraham kon die Jode derhalwe nie van slawerny van die sonde bevry nie. Jesus het hierdie geskiedkundige verklaring oor vryheid gemaak om die aandag te vestig op iets wat voorgelê het en wat groter sou wees as wat die Israeliete gedurende enige Jubeljaar ervaar het.
Die Christelike Jubilee begin
11. Waarom is die jaar 33 G.J. die middelpunt van ons belangstelling in die Christelike Jubilee?
11 Die Jode het nie besef dat die Jubeljaar van die Mosaïese Wetsverbond ’n groter Jubilee afgeskadu het nie (Kolossense 2:17; Efesiërs 2:14, 15). Hierdie Jubilee vir Christene staan in verband met “die waarheid” wat mense kan vrymaak—daardie waarheid waarvan die Seun, Jesus Christus, die middelpunt is (Johannes 1:17). Wanneer is hierdie groter Jubilee wat vryheid selfs van die sonde en die gevolge daarvan kan bring die eerste keer gevier? In die lente van 33 G.J., op Pinksterdag. Dit was tien dae nadat Jesus opgevaar het hemel toe om die waarde van sy offer vir Jehovah God aan te bied.—Hebreërs 9:24-28.
12, 13. Wat het ná Jesus se dood gebeur wat sy dissipels weldra ’n unieke ondervinding laat ervaar het?
12 Voor Jesus is geen menseskepsel uit die dood opgewek om vir ewig te lewe nie (Romeine 6:9-11). Almal het eerder ontslaap en sou aanhou slaap tot die tyd vir die opstanding van die mensdom aanbreek. Weens sy opstanding deur middel van die krag van God het Jesus Christus volgens die geïnspireerde Skrif “die eersteling geword van die wat ontslaap het”.—1 Korinthiërs 15:20.
13 Vyftig dae na sy opstanding was daar bewys dat die verrese Jesus Christus in die hemele opgevaar en met die waarde van sy volmaakte menseoffer voor Jehovah God verskyn het en dit ten behoewe van die mensdom aangewend het. Dit was op Pinkster, 33 G.J. In gehoorsaamheid aan instruksies van Jesus het sowat 120 dissipels in Jerusalem vergader. Toe het Christus ter vervulling van Joël 2:28, 29 heilige gees op hierdie dissipels uitgestort. Tonge soos van vuur het bokant hulle koppe gehang, en hulle het in vreemde tale begin spreek (Handelinge 2:16-21, 33). Dit was ’n bewys dat die verrese Jesus Christus in die hemele opgevaar en met die waarde van ’n volmaakte menseoffer voor God verskyn het om dit ten behoewe van die mensdom aan te wend.
14. (a) Wat was die situasie van Christus se dissipels ten opsigte van verbonde? (b) Watter uitsonderlike seën is deur die nuwe verbond meegebring?
14 Wat was die gevolge vir daardie dissipels? Eerstens, hulle is vrygemaak van die Mosaïese Wetsverbond wat God met natuurlike Israel gesluit het, maar wat hy nou gekanselleer het deur dit aan Jesus se folterpaal vas te nael (Kolossense 2:13, 14; Galasiërs 3:13). Daardie verbond is vervang deur ’n nuwe verbond wat nie met natuurlike Israel gesluit is nie, maar met die nuwe “nasie”, geestelike Israel (Hebreërs 8:6-13; Galasiërs 6:16). Hierdie nuwe verbond, wat in Jeremia 31:31-34 voorspel is, is tot stand gebring deur ’n middelaar wat groter was as die eertydse profeet Moses. Uit belangstelling in bevryding moet ons veral let op een kenmerk van die nuwe verbond. Die apostel Paulus het die aandag hierop gevestig toe hy geskryf het: “Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae . . . aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.”—Hebreërs 10:16-18.
15. Waarom kan ons sê dat die Christelike Jubilee vir die gesalfdes op Pinkster 33 G.J. begin het? (Romeine 6:6, 16-18)
15 Jesus het op hierdie bevryding van sonde gewys toe hy gesê het: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36). Dink net daaraan—vryheid van sonde, moontlik gemaak deur Christus se offerande! Van Pinksterdag af het God gelowiges regverdig verklaar en hulle toe aangeneem as geestelike seuns wat die vooruitsig het om saam met Christus in die hemel te regeer. Paulus verduidelik: “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders . . . as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Romeine 8:15-17). Die Christelike Jubilee het sonder twyfel vir gesalfde Christene begin.
16. In watter bykomende seëninge en vooruitsigte deel diegene wat die Christelike Jubilee vier?
16 Die nuwe nasie van geestelike Israel het derhalwe op daardie Pinksterdag in die jaar 33 G.J. in aansyn gekom. Dit is saamgestel uit mense wie se sondes op grond van Christus se offerbloed vergewe is (Romeine 5:1, 2; Efesiërs 1:7). Wie van ons kan ontken dat daardie eerste lede van geestelike Israel, met wie die nuwe verbond gesluit is, ’n wonderlike bevryding ondergaan het deurdat hulle sondes vergewe is? God het hulle versamel tot “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat [hulle] uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9). Hulle vleeslike liggame was weliswaar nog onvolmaak, en hulle sou mettertyd sterf. Maar nadat God hulle regverdig verklaar en as geestelike seuns aangeneem het, was hulle vleeslike dood slegs ’n “vrymaking” sodat hulle tot Christus se “hemelse koninkryk” opgewek kon word.—2 Timotheüs 4:6, 18, NW.
17, 18. Waarom was die bevryding van die Christelike Jubilee waardevoller as die voorlopige vryheid wat Jesus verkondig het?
17 Die eerste of voorlopige stap om gelowige Jode van misvattings en verkeerde gebruike te bevry, was baie waardevol. Maar ons het gesien dat Jesus verder as daardie geestelike bevryding gegaan het. Van Pinkster 33 G.J. af het hy gelowige mense van “die wet van die sonde en die dood” bevry (Romeine 8:1, 2). So het die Christelike Jubilee vir gesalfde Christene begin. Dit was waarlik ’n baie waardevoller bevryding, want dit het die vooruitsig op lewe in die hemel as mede-erfgename van Christus ingesluit.
18 Ons het tot dusver twee aspekte van Christelike vryheid in die eerste eeu bespreek, wat onteenseglik ’n grondslag vir vreugde was. En die eerste-eeuse gelowiges hét hulle daarin verheug (Handelinge 13:44-52; 16:34; 1 Korinthiërs 13:6; Filippense 4:4). Dit was veral die geval met betrekking tot hulle aandeel in die Christelike Jubilee, wat vir hulle die weg geopen het om ewige seëninge in die hemele te ontvang.—1 Petrus 1:3-6; 4:13, 14.
19. Watter vrae bestaan steeds vir Christene wat nie deur die gees verwek is nie, en wat toon dat hulle sal deel in die bevryding wat deur God voorsien word?
19 Maar waar pas die meeste ware Christene vandag in, aangesien hulle nie regverdig verklaar is vir die lewe en met heilige gees gesalf is nie? Daar is Skriftuurlike grond om, as deel van die Christelike Jubilee, ’n grootskaalse bevryding ten behoewe van hulle te wagte te wees. Dink aan Handelinge 3:20, 21: “Jesus Christus . . . wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.” (Vergelyk Handelinge 17:31.) In dieselfde trant het Johannes, ’n gesalfde apostel wat reeds besig was om die Christelike Jubilee te geniet, oor Jesus Christus geskryf: “Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:2). Beteken dit dat die talle lojale Christene vandag wat nie die hemelse hoop het nie hulle in Christelike vryheid kan verheug? Is dit slegs iets toekomstigs, of het ons reeds rede om ons te verheug? Ons kan dit vasstel deur die aspekte van Christelike bevryding en die Jubilee wat vandag spesiale betekenis vir ware aanbidders het te ondersoek.
[Voetnote]
a Die jaarlikse Versoendag is gehou op die 10de dag van Tisjri, ’n maand van die Hebreeuse kalender wat met ons September-Oktober ooreenstem.
Wat dink jy?
◻ Watter voordele het die Jubeljaar in eertydse Israel ingehou?
◻ Hoe het Jesus ’n voorlopige bevryding verkondig, en wat het dit behels?
◻ Wanneer het die Christelike Jubilee begin, en wat is die grondslag vir daardie slotsom?
◻ Waarom het ons rede om uit te sien na bevryding van die miljoene Christene wat nie geesgesalfdes is nie?
[Lokteks op bladsy 18]
“Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spreuke 4:18). In ooreenstemming met daardie beginsel bevat hierdie en die volgende artikel ’n bygewerkte en breedvoeriger uiteensetting van die Jubilee.
[Prent op bladsy 20]
Jesus verkondig vryheid in 30 G.J.
[Prent op bladsy 23]
Die Christelike Jubilee begin in 33 G.J.