Marquesas en Tuamotu word genooi om ‘vir ewig in die Paradys te lewe’
NA ’N vlug van ongeveer 1 450 kilometer noordooswaarts van Tahiti af het ek en my vrou in Nuku Hiva, die grootste van die Marquesas-eilande, aangekom. Op die kaart is hierdie eilande blote spikkels in die uitgestrekte Suidsee. Maar ons is getref deur hulle ruwe skoonheid.
Op die meeste van die eilande in die Marquesas-groep is daar hoë pieke wat tot aan die wolke reik, met steil kranse wat soos ’n ingerygde rok hang. Die diep, vrugbare valleie met hulle klapperplantasies en ander welige plantegroei word wyer na die seekant toe en vorm baaitjies wat baie aanloklik lyk. Maar die sterk golwe en strominge rondom die eilande, en die afwesigheid van koraalriwwe, maak dit moeilik om ’n boot aan wal te bring. Die verspreide atolle van die Tuamotu-argipel is nouliks sigbaar op die horison, wat ons laat begryp het waarom die vroeë seevaarders hulle die Lae Eilande of die Gevaarlike Argipel genoem het.
Ons het gekom om aan hierdie eilandbewoners ’n uitnodiging te rig wat ooreenkom met die titel van die kleurryke Bybelstudiehulp Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. In Nuku Hiva het ons aan boord van die Araroa, ’n vragskip, gegaan vir ’n vaart van 21 dae en 4 000 kilometer deur die Marquesas- en Tuamotu-eilande. Waar die skip plekke aangedoen het om vrag af en op te laai, sou ons ons boodskap oordra.
Die eilanders se eenvoudige lewenswyse
Jy wonder dalk hoe die mense hier lewe. Die meeste Marquesane woon in dorpies om die baaie of langs die rivier. Die dorpies wissel in grootte van twee of drie gesinne tot etlike honderde inwoners. Die meeste gesinne is groot, met agt tot tien kinders, en sommige het tot 18 of 20. Hulle lewe eenvoudig maar swaar. Hulle eet wat die see verskaf en vul dit af en toe aan met varke en hoenders wat by die huis geteel word. Hulle gaan ook die binneland in om wilde bergbokke te jag of wilde perde te vang, wat hulle dan mak maak en as trekdiere gebruik. Die baie klapperbome voorsien hulle van kopra (gedroogde klapper waaruit olie verkry word om seep en ander produkte te maak). Kopra is die belangrikste omsetproduk van die eilande, maar inkomste word ook verkry uit houtsnywerk, tapa (versierde weefstof van boombas) en piere (gedroogde piesangs).
Die Marquesane was eens kannibale wat mense aan hulle tiki-gode geoffer het. Vandag is die meeste van die eilanders Katolieke. Hulle versier hulle huise met beelde van Maria en van Jesus. Interessant genoeg, die ingang van die Katolieke biskop se huis in Nuku Hiva is weerskante met rye tiki-beelde versier. Op die Tuamotu’s word die godsdienslewe oorheers deur die Mormone, die Katolieke en die Hervormde Kerk van die Heiliges van die Laaste Dae, plaaslik bekend as Sanitos.
Die eilanders praat Marquesiaans, maar hulle verstaan ook Frans en Tahitiaans. Hulle lewenswyse is tipies van dié van alle Polinesiërs—hulle lewe een dag op ’n slag, op die stadige ritme van die eilande. Omdat skepe ongereeld en selde hier aandoen, het die mense die kuns geleer om geduldig te wag. Elektrisiteit is in Januarie 1979 aangelê, en nou, met die koms van televisie, is die eilanders beter bekend met die werklikhede van die wêreld daar buite.
Op Nuku Hiva
Nuku Hiva, met sy 1 800 bewoners, is die administratiewe sentrum van die Marquesas-eilande. Die goewerneurswoning, die hoofhawe en die biskop se huis is in die Baai van Taiohae, ons beginpunt.
Daar was geen deurklokkies nie. Ons het eenvoudig hou-hou uitgeroep. As iemand geantwoord het, het ons met ’n vriendelike glimlag Kaoha! (“Hallo!”) gesê en dan die rede vir ons besoek verduidelik. Baie van die eilanders het die boek gretig geneem en gesê: “Baie dankie dat julle gekom het. Ons het nog nooit so iets gehad om ons te help om God se Woord te verstaan nie.” Die Katolieke Bybel is in Tahitiaans beskikbaar, en drie van die Evangelies in Marquesiaans.
Sommige wat ons aanbod aanvaar het, het ons opreg gevra om ander te besoek. ’n Jong man het my vrou byvoorbeeld aangespoor om hom te volg en gesê: “Daar agter! Daar agter!” As hy haar nie gewys het nie, sou my vrou die huis van ’n beeldhouer oorgeslaan het. Die beeldhouer het die leersame boek baie waardeer.
In Hakaui was daar net twee gesinne, en hulle het aan weerskante van die nou riviermonding gewoon. By ons aankoms het die eerste gesin baie besig gelyk. Met die hulp van vriendelike matrose het ons toe in ’n boot oorgevaar na die ander gesin. Daar het ons twee vroue sien sit tussen ’n klompie varke wat om die huis rondgedwaal het—voorwaar ’n nederige gesig. Maar toe ons vir hulle die boek wys, het hulle met graagte gegee wat hulle kon om een te kry. Ons het onwillekeurig gedink aan die arm weduwee van Lukas 21:2-4, wat al haar geld by die tempel gegee het.
Ons volgende stilhouplek was Taipivai, aan die suidoostelike kus van Nuku Hiva, wat beroemd gemaak is deur Herman Melville se boek Typee. Dit was ’n diep en pragtige vallei, oortrek van klapperplantasies. Toe ons sesuur die oggend in ons boot rivier op gevaar het, het die spieëlgladde water die klapperbome en die eerste gloed van die dag weerkaats. Ons kon etlike huise tussen die bome uitmaak.
“Hoe lank gaan ons hier oorbly?” Ek het verneem dat die vragmotor waarmee die sakke kopra aangery word, gebreek het. As ons gou gespeel het, sou ons dus die hele gebied te perd kon dek tot by die verste punt van die vallei, waar daar ’n pragtige waterval tussen die varings was. ’n Stuk of twaalf gesinne het gunstig gereageer op ons blitsbesoek.
Na die ander eilande
Sowat 40 kilometer oos van Nuku Hiva is Ua Huka. Hierdie eiland is kleiner, minder vrugbaar en taamlik bergagtig. Ons het weer sesuur die oggend aan wal gegaan. Van die klipperige strand af het ons met ’n kranspad opgeklim, en na ’n uur se loop het ons in Hane, die hoofdorp, aangekom. Soos gewoonlik het die kerk die landskap oorheers. Die kerk se invloed het in die laaste tyd toegeneem weens ’n charismatiese beweging wat by die mense byval gevind het. Maar ’n jong man wat hier woon, het sy besorgdheid uitgespreek oor die kritieke toestand in die wêreld en het gretig ons “uitnodiging”, die boodskap oor lewe in ’n aardse paradys, aangeneem.
Hierna het ons die eiland Ua Pu aangedoen. Ons was dadelik beïndruk deur die swart basaltpieke, 1 200 meter hoog, wat soos torings tot aan die wolke reik. Die pieke was eintlik die lawakerne van verweerde vulkane. Op hierdie eiland was daar vyf dorpies om te besoek. Talle breë glimlagte en stralende oë het ons “uitnodiging” begroet. Dikwels het ons iemand hoor sê: “Mea kanahau!” (“Dis lieflik!”) Baie van die dorpenaars was so ingenome met die boek dat hulle daarop aangedring het om ons rugsakke vol skulpe en vrugte—suurlemoene, mango’s, lemoene en pomelo’s—te stop. In Haakuti, ’n dorpie wat hoog teen ’n krans lê, het ons ’n vrou en haar dogter gevind wat so geesdriftig was oor wat hulle gehoor het dat hulle tot onder by die bootlandingsplek geloop het om vir almal daar te sê om na ons boodskap te luister en die pragtige boek te neem.
By die hoofdorp, Hakahau, aangekom, was ons bekommerd oor hoe ons die meer as duisend inwoners in so ’n kort tydjie kon besoek. Tot ons groot verligting het ’n man, wat baie ingenome was met die boodskap, sy motor tot ons beskikking gestel: “Ek kan julle neem net waar julle wil wees.” ’n Paar jaar tevore het die plaaslike priester al die lektuur wat Jehovah se Getuies daar gelaat het, bymekaargemaak en verbrand. Dit het die mense die skrik op die lyf gejaag. Maar ons boodskap was so aantreklik dat twaalf gesinne hulle mensevrees oorwin en die boek geneem het.
Hiva Oa, die volgende eiland wat ons besoek het, is die vrugbaarste en weligste in die Marquesas-groep. Dit is beroemd gemaak deur die kleurryke, impressionistiese skilderye van Paul Gauguin. Hy het sy laaste jare in Atuona deurgebring, waar ons anker gegooi het. Die gewone vraag aan die besoeker was: “Het jy al die tiki besoek?” Die klipstandbeeld van 2,4 meter hoog by die verste punt van die baai is die grootste in Frans-Polinesië. Ons het vriendelik geantwoord: “Hy het oë maar kan nie sien nie, en ’n mond maar kan nie praat nie. Omdat ons net ’n kort rukkie hier is, wil ons met lewende mense praat en vir hulle iets interessants wys.” Een vrou was so gaande oor die aanbod dat sy haar vriendin aangemoedig het om die boek te neem. Sy het selfs vir haar vriendin die geld daarvoor geleen. ’n Ander vrou het gesê: “Ek begin nou verstaan dat dit belangriker is om die Bybel te lees as om elke aand kerk toe te gaan om te bid.”
Teen skemeraand het ons op Hanaiapa-hawehoof by lamplig met ’n paar mense gesels. In die gesprek het die hel ter sprake gekom. “Sê nou jy het ’n baie stout kind. Sal jy ’n vuur maak en hom daarin gooi?” het ons gevra. “Nee!” het hulle geantwoord. “Sal God dan sy kinders vir ewig in ’n vuur pynig?” Vier vroue en ’n man was veral geïnteresseerd in God se liefdevolle “uitnodiging” om op ’n aarde te lewe waar ‘die goddelose nie sal wees nie’ omdat hy vir goed vernietig is, nie ewig gepynig word nie.—Psalm 37:10.
Van Hiva Oa was dit net ’n kort vaart na die eilandjie Tahuata. ’n Matroos het ons half skertsend vertel dat ’n paar witmense kwalik meer as honderd jaar gelede hier deur die boorlinge opgeëet is. Maar van ons het hulle net interessante besprekings gekry. Die man wat verantwoordelik is vir die charismatiese beweging in die dorp, was teësinnig om die boek te neem, maar het daarop aangedring dat ons ’n glas water van hom neem. “Met die water wat ek julle gee”, het hy in ’n wantoepassing van Jesus se woorde in Johannes 4:14 gesê, “sal julle in ewigheid nooit dors kry nie, maar dit sal ’n fontein van water word wat in julle opspring.” Ons het hom bedank, maar geantwoord: “Hierdie water is net water, en ons aanvaar dit met dank. Maar weier jy om die lewegewende water en geestelike voedsel te neem wat ons jou aanbied?” Hierdie woorde het hom geroer, en hy het verskeie boeke geneem. Later, op die kaai, het party mense begin spot: “Is daar selfs een wat julle aanbod aanvaar het?” Maar die hoof van die staatswerkers op die kaai het gevra om die boek te sien en op die plek, voor almal, besluit om dit te neem. Hoe verbaas was hulle tog om te hoor dat ander ook ons aanbod aanvaar het!
Ons laaste stilhouplek in die Marquesas was die suidelikste eiland, Fatu Hiva. Dit was een van die eerstes wat ontdek is, in 1595, deur die Spanjaard Álvaro de Mendaña de Neyra, wat die eilande na die vrou van die onderkoning van Peru—La Marquesa de Mendoza—vernoem het. Fatu Hiva is ’n baie mooi eiland. In die hoofdorp, Omoa, het ons ’n gesin ontmoet wat groot belangstelling getoon het. Nadat ons na die vallei vertrek het, het die moeder al haar vriende bymekaargeroep. By ons terugkeer het hulle almal met breë glimlagte vir ons gewag. Hulle wou die boeke hê sodat hulle saans in hulle Bybelstudievergaderinge iets oor God se Woord kon leer. Teen die tyd dat ons weer by die kaai gekom het, was een van ons rugsakke leeg, en die ander een was vol lemoene en suurlemoene.
Na die Tuamotu’s
Nadat ons ’n dag en twee nagte suidweswaarts gevaar het, het ons by die atol Pukapuka in die Tuamotu’s aangekom. Spesiale reëlings is getref sodat die Araroa elke dag by twee atolle kon aangaan. Dit het ons die geleentheid gebied om party van hierdie baie afgeleë atolle te bereik.
Onder die eenduisend Pomotu’s op hierdie eilande het 30 gesinne met blydskap ons “uitnodiging” aanvaar. In ’n eenvoudige huisie tussen klapperbome het een vrou inderhaas klappermelk verkoop om verskeie eksemplare te kry voor ons moes vertrek. Hierdie gesin het ook daarop aangedring dat ons die gedroogde bonito neem wat onder die sinkdak van hulle huis gehang het. Ons sal hulle nie maklik vergeet nie.
Aangename herinneringe
Daar is so baie ander vrolike gesigte wat in ons geheue sal bly, en ons vertrou dat Jehovah vir hulle sal sorg. Hoe verheug is ons tog dat ons hierdie reis na die Marquesas- en Tuamotu-eilande kon onderneem om daar persoonlik die krag te sien van die “uitnodiging”: “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe”!—Bygedra.
[Kaarte op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Marquesas-eilande
Nuku Hiva
Taiohae
Ua Huka
Ua Pu
Hiva Oa
Atuona
Tahuata
Fatu Hiva
Omoa