Loof Jehovah met musiek
DAAR is baie maniere waarop Jehovah se knegte hom kan loof. ‘Sang en die speel van melodieë vir hom’ is ongetwyfeld van die mooistes en van dié wat sy hart die meeste verbly (Psalm 105:2, NW). Daar is al tereg gesê dat musiek een van die “kenmerke van die mens se menslikheid” is.
Musiek is ook al “daardie unieke menslike gawe, skeppend sowel as verkwikkend”, genoem. Diere, hetsy wild of mak, het geen musikale aanleg nie. Sommige voëls sing weliswaar pragtige liedere, maar dit is geheel en al deur instink. Hulle het net so min waardering vir musiek as wat papegaaie die woorde verstaan wat hulle geleer is om te praat. Maar met pragtige musiek kan ons ander se harte bereik, net soos ons deur middel van spraak met ander se verstande kan kommunikeer.
Ja, musiek is ’n gawe van die Skepper aan die mensdom, en wat ’n gawe is dit tog nie! Onlangse navorsing toon dat babas selfs voor geboorte toon van watter musiek hulle hou—strelend en melodies—en van watter musiek hulle nie hou nie—kragtig en luidrugtig, soos rock-musiek. Ons word ook meegedeel dat ’n ongebore kind musiektalent kan ontwikkel terwyl hy mooi musiek hoor. Musiek verskaf dus genot aan mense, nie net van die wiegie tot die graf nie, maar selfs van die baarmoeder tot die graf! Aangesien musiek nie gewoonlik beskou word as iets wat onontbeerlik vir menslike bestaan is nie, is die feit dat die Skepper dit vir mense moontlik gemaak het om musiek te komponeer en te geniet nog ’n voorbeeld van sy wysheid en liefde. “Die Hebreërs was ’n besonder musikale volk”, word ons meegedeel. En dit is inderdaad merkwaardig dat musiek baie vroeg in die mensegeskiedenis saam met boerdery en vervaardiging as een van die werke van die mens gemeld word.—Genesis 4:20-22.
Die uitwerking van musiek
Maar ons moet nooit die feit oor die hoof sien dat musiek opbouend of verderflik kan wees nie. Goeie musiek kombineer die aangename klanke wat gekenmerk word deur melodie, harmonie en ritme; dit vind byval by die edele in die mens. Maar slegte musiek vind byval by die mens se sondige neigings. Sulke musiek is al genoem: “Die onheilige drie-eenheid van . . . geweld, seks en geraas.”
Ongelukkig skiet sommige musikante wat bely dat hulle Jehovah God dien in hierdie opsig te kort. ’n Paar van hulle het hulleself verhuur om by huweliksonthale te speel en dan deur die soort musiek wat hulle gespeel het, getoon dat hulle ’n gebrek aan waardering vir Bybelbeginsels het. Hulle musiek was so hard dat dit onmoontlik was om ’n normale gesprek te voer. Dit blyk dat hulle heeltemal vergeet het dat die huweliksgaste nie hoofsaaklik gekom het om te hoor hoedat musikante ’n vertoon van hulle talente maak nie.
Goeie musiek is in baie opsigte van nut. Sagte agtergrondmusiek kan strelend wees en ’n mens laat ontspan. Baie sogenaamde “groot werke”, soos simfoniemusiek en dié wat by ’n opera gehoor word, spreek tot die intellek, of dit kan die verbeelding en die emosies stimuleer. En ons moet nie vergeet van die Oratoriums wat gewoonlik op Skriftuurlike temas gebaseer is en wat deur groot orkeste en kore uitgevoer word nie. Een van die bekendstes is Handel se “Messias”.
Musiek kan vir bejaardes, ingekluisterdes en siekes ’n seën wees. Dit is al gebruik om verstandelik gestremde kinders te help wanneer alle ander pogings misluk het. Daar word beweer dat sekere musiek ’n kalmerende uitwerking kan hê in die spreekkamers van dokters en tandartse. Die regte soort musiek het glo al fabriekswerkers gehelp om beter en meer werk te verrig. Dit is interessant dat die terapeutiese waarde van musiek meer as 3 000 jaar gelede in die geval van koning Saul van Israel waardeer is.—1 Samuel 16:14-23.
Die beste gebruik van musiek is natuurlik om Jehovah God te loof. Sulke lofprysing deur middel van sang dateer ongeveer 3 500 jaar terug na die tyd toe Israel Jehovah se lof besing het nadat hulle by die Rooi See gered is (Exodus 15:1-21). ’n Baie prominente deel van die aanbidding by God se tempel was die lofprysing aan Jehovah met sang en musiekinstrumente. Meer as ’n tiende van al die Leviete was betrokke by die maak van tempelmusiek (1 Kronieke 23:3, 5). ’n Yslike orkes en koor het deelgeneem aan die verrigtinge tydens die inwyding van Salomo se tempel (2 Kronieke 5:12, 13). Die Hebreeuse Skrifte (veral in die boek Psalms) spoor ons uiters gepas keer op keer aan om voor Jehovah God te sing en melodieë te speel.
In die Christelike Griekse Skrifte lees ons dat Jesus en sy apostels ten tye van die Here se Aandmaal gesing het. Die apostel Paulus en Silas het gesing toe hulle in die gevangenis in Filippi was (Mattheüs 26:30; Handelinge 16:25). Eerste Korinthiërs 14:15 gee te kenne dat sang ’n gereelde deel van gemeentelike aanbidding in apostoliese tye was. Paulus het uiters gepas vermaan soos ons in Kolossense 3:16 lees: “Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” Jy sal soortgelyke instruksies in Efesiërs 5:18-20 vind.
In ooreenstemming met hierdie bevele het die hedendaagse Christengetuies van Jehovah van vroeg af die gawe van musiek in hulle formele aanbidding goed benut. Die jaar waarin Zion’s Watch Tower gepubliseer is (1879), is daar ook ’n liedereboek, Songs of the Bride, gepubliseer. In 1896 het die Genootskap ’n nommer van Zion’s Watch Tower uitgegee wat geheel en al bestaan het uit liedere wat deur Bybelstudente gekomponeer is. Die volgende nommer van die tydskrif het gesê: “As die waarheid gesing word, is dit ’n goeie manier om dit by die verstande en harte van God se volk in te skerp. . . . Ons dank God vir die musiek- en digtalent waarmee sommige van sy heiliges begaaf is.” Na honderd jaar se ondervinding met die uitgee van liedereboeke, is die een wat van die meeste musiek- en digtalent getuig in 1984 uitgegee. Die titel daarvan is Sing lofliedere voor Jehovah.
Melodiese aspekte
Die jongste liedereboek bevat dubbel soveel bladsye as die vorige liedereboek. Dit is beskikbaar in ’n gerieflike sakformaat en in ’n groter formaat waarin dit besonder maklik is om die woorde en musiek te lees. Die woorde sowel as die melodieë is bygedra deur Getuies uit die vier hoeke van die aarde, onder meer Australië, die Bondsrepubliek van Duitsland, Brasilië, Denemarke, Engeland, Finland, Frankryk, Italië, Japan, Kanada en die Verenigde State.
In teenstelling met alle vorige liedereboeke wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, bevat hierdie een nie die tradisionele vierstemmige harmonie nie. In plaas daarvan is melodieser en makliker begeleiding voorberei. En kitaarnotasie is bygevoeg.
Twee nuwe melodieë is vir gunstelinglirieke gekomponeer omdat ons uitgevind het dat die vorige melodieë nie deur Getuies gekomponeer is nie. Hoe kon so iets gebeur? ’n Komponis hoor dalk ’n onbekende wysie. Wanneer dit later by hom opkom, kan hy dink dat hy dit gekomponeer het.
Verbetering in die gedagte-inhoud
Namate die lig wat op God se waarheid skyn in harmonie met Spreuke 4:18 immer helderder geword het, is dit nodig geag om liedere te verander wat in vorige liedereboeke was. Dit was die geval met die huidige Lied 215. In 1974 het ons geleer dat Noag se ark ons geestelike paradys afbeeld, nie die Koninkryk nie. (Kyk The Watchtower, 1974, bladsy 634.) Die reël in die ouer liedereboek “Vlug tog gou na die groot ark van redding, En die Koninkryk wat reeds bestaan!” is dus verander na “Stel nie uit! Wy jul toe aan Jehovah. Dien sy Koninkryk wat reeds bestaan.”
In verskeie gevalle het ’n melodie nuwe lirieke gekry wat doeltreffender en nuttiger blyk te wees. Lied 60, “God se Koninkryk van duisend jaar”, gebruik die melodie van Lied 86 in die vorige liedereboek. Die woorde van Lied 2, “Gehoorsaam God eerder as mense”, is ’n uitbreiding van dié van ou Lied 79. Dit het gelyk of hierdie tema ’n volle bladsy eerder as net ’n halwe bladsy verdien.
Geestelike skatte
Ons jongste liedereboek heet gepas Sing lofliedere voor Jehovah, gebaseer op Psalm 96:1, 4. Baie liedere is tot Jehovah gerig en verheerlik sy eienskappe. Let op enkeles: “Groot God, Jehovah!” (wat meer as 20 van Jehovah se eienskappe of titels meld); “Jehovah, ons beste Vriend”; “Jehovah gee werklik om”; “Jehovah se seën maak ryk”; “Jehovah, ons Redder”; “Die skepping openbaar Jehovah se heerlikheid” en “Jehovah, ‘die God van alle vertroosting’”.
Ons moet ‘mekaar met psalms, lofsange voor God en geestelike liedere leer en vermaan’, en hierdie liedereboek doen dit beslis (Kolossense 3:16). Dit blyk uit titels soos: “Wees standvastig, onbeweeglik!”; “Wees manlik”; “Doen meer—soos die Nasireërs gedoen het”; “Voorwaarts, bedienaars van die Koninkryk!”; “Lojale onderwerping aan teokratiese orde” en “Wees manmoedig, sterk en waaksaam”.
Om ons te help om ag te slaan op die apostel Paulus se opdrag: “Verbly julle altyd in die Here” (Filippense 4:4), het ons: “’n Vreugdelied”; “Verbly jou in die Koninkrykshoop!”; “Wees heeldag bly”; “Sing die lied van Koninkryksvreugde”; “Vreugdevolle deelname aan die oeswerk” en “Die vreugde en vrugte van Koninkryksdiens”.
Koninkrykseëninge geniet ook aandag in die jongste liedereboek: “God se Koninkryk van duisend jaar”; “God se belofte van ’n paradys”; “Uiteindelik, die ewige lewe!”; “Met Christus in die Paradys”.
Veral ons jongmense geniet nuwe liedere soos die volgende: “Jongmense! Volg hulle geloof na”; “Die jeug se plek in God se reëling” en “Kinders—kosbare gawes van God”. ’n Lied wat waardering betuig vir die goeie werk van ons susters is: “Die vroue is ’n groot leër”.
Hoe kan ons waardering vir hierdie pragtige liedere toon? Deels, deur ons voorreg en verpligting om hulle as deel van ons formele aanbidding by ons Koninkryksale te sing ernstig op te neem. Ons moet probeer om betyds by vergaderinge op te daag en reg tot die einde bly sodat ons saam kan sing wanneer hierdie liedere gesing word. Laat ons met ons hele hart, uit volle bors en met hartlikheid en geesdrif sing. Ons kan ook waardering vir hulle toon deur hulle by ons gesellighede te sing. Ons kan bande van die musiek uit die liedereboek bekom en speel wanneer ons agtergrondmusiek wil geniet. Sodoende kan ons geestelik opgebou word elke keer wat ons sulke pragtige musiek geniet.
Laat ons bowenal waardering vir hierdie pragtige liedere toon deur daagliks die goeie gedagtes daarin na te leef waar dit by ons gedrag sowel as ons verpligtinge in die bediening kom.