Vrede van God af—Wanneer?
“God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter.”—ROMEINE 16:20, NAV.
1, 2. (a) Wat het ’n Hindoewysgeer oor oorlog en vrede gesê? (b) Wie is die gelukkiges wat vrede van God af geniet?
“AS DIE waansinnige wapenwedloop voortduur, sal dit beslis uitloop op ’n slagting sonder gelyke in die geskiedenis. Indien daar ’n oorwinnaar is, sal die blote oorwinning ’n lewende dood wees vir die nasie wat as oorwinnaar uit die stryd tree.” Daardie voorspelling in 1938 deur Mohandas Gandhi sou in werklikheid lank na sy dag bewaarheid word.
2 Vroeër, in 1931, het Gandhi vir ’n Britse onderkoning gesê: “Wanneer jou land en my land die leerstellings toepas wat deur Christus in die Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van ons lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.” Jesus se preek dui die weg na duursame vrede aan, net soos die Hindoe-wysgeer te kenne gegee het. In daardie preek het Christus gesê: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mattheüs 5:9). Baie “kinders” geniet nou vrede van God af. Mettertyd sal alle sagmoediges van die aarde “hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:11). Maar kan ons seker wees hiervan?
3. Waarom is daar vandag geen ware vrede op aarde nie?
3 Die donker wolk van wêreldvernietiging hang vandag oor die mensdom. ’n Onlangse studie sê: “Die toppunt van dwaasheid is die [6-8 biljoen rand] wat sedert die Tweede Wêreldoorlog bestee is om ’n kernarsenaal te skep wat, indien dit gebruik word, globale selfmoord sal beteken. . . . Die plofkrag van die wêreld se voorraad kernwapens is genoeg om 58 miljard mense te dood, of om elke persoon wat nou lewe 12 keer dood te maak.”a Tog het die waansinnige wedloop steeds toegeneem. Die wankelrige konsep waarop die supermoondhede hulle sogenaamde vrede balanseer, word in Engels gepas MAD genoem, aangesien daardie letters staan vir “Mutually Assured Destruction”. Dit is beslis nie vrede van God af nie.
4. (a) In watter toestand is die wêreld nou? (b) Maar watter sterk hoop koester aanbidders van Jehovah?
4 Hierdie wêreld is in elke opsig in ’n droewige toestand. Die mensegemeenskap moes nog nooit meer politieke verdorwenheid, meer kriminele gewelddadigheid, meer ekonomiese hoofpyne of meer goddeloosheid en godsdiensverwarring verduur as vandag nie. Nog nooit was dit in groter mate waar van die mensdom dat “die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is” nie. God beloof egter dat sy menseskepping “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21, 22). Daardie liefhebbers van vrede wat die God van die Bybel, die Soewereine Heer Jehovah, aanbid, word verseker dat hulle daardie vryheid sal geniet. Dit is ’n vryheid wat stewig gewortel is in ware vrede, ewige vrede (Esegiël 37:26-28). Maar wanneer en hoe sal daardie vrede kom?
God se beskouing van “tye en seisoene”
5. Watter vraag ontstaan oor 1 Thessalonicense 5:1?
5 Die apostel Paulus het die Christene in Thessalonika getroos deur te verduidelik hoe die opstanding verband hou met “die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here” Jesus. Hy sê vervolgens: “Maar oor die tye en geleenthede [“seisoene”, NW], broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie.”—1 Thessalonicense 4:15; 5:1.
6. Hoe weet ons dat “tye en seisoene” vir God belangrik is?
6 Toon die apostel se woorde dat “tye en seisoene” nie vir God belangrik is nie? Hoegenaamd nie! (Prediker 3:1). Dit was “toe die volheid van die tyd gekom het”, aan die einde van 69 jaarweke, dat “God sy Seun uitgestuur” het. En Jesus se bediening het drie en ’n half jaar geduur—van 29 G.J. tot 33 G.J.—net soos voorspel is (Galasiërs 4:4; Daniël 9:24-27). Dit was presies aan die einde van die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914 dat Jesus in “die hemelse Jerusalem” as Koning ingehuldig is (Lukas 21:24; Hebreërs 12:22; Esegiël 21:27; Daniël 4:31, 32). Die “groot verdrukking” sal ook kom op “dié dag en dié uur” wat Jehovah daarvoor bepaal het. Dit sal “nie versuim nie”.—Mattheüs 24:21, 36; Habakuk 2:3.
7. Waarom was dit nie vir Paulus nodig om aan die Thessalonicense oor “tye en seisoene” te skryf nie?
7 Op daardie stadium was dit egter nie vir Paulus nodig om oor “die tye en seisoene” te skryf nie. Daardie Christene in Thessalonika was reeds daarvan oortuig dat dit die ‘seisoen’ was vir die voleinding van die Joodse stelsel, wat ongeveer 20 jaar later, in 70 G.J., sou eindig. Hulle ywer en “blydskap van die Heilige Gees” was voorbeeldig (1 Thessalonicense 1:4-7). Jehovah se Getuies is vandag eweneens terdeë daarvan bewus dat die wêreldoorloë en ander onrusbarende gebeure sedert 1914 “die teken” van Jesus se onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag en heerlikheid is.—Mattheüs 24:3-8; 25:31.
8. Waarom moet ons wakker en bedrywig bly?
8 Die apostel stel vervolgens sy mede-Christene gerus deur te sê: “Want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag” (1 Thessalonicense 5:2). Hoewel ons nie weet presies wanneer dit gaan kom nie, kom daardie dag vir die voltrekking van oordeel immer nader. Op God se vasgestelde uur sal dit skielik, oombliklik aanbreek. Daarom moet ons wakker en bedrywig bly.—Lukas 21:34-36.
’n Kritieke oproep om vrede
9. (a) Watter uitroep gaan op, en waarom het ware Christene geen aandeel daarin nie? (b) Van wie styg hierdie oproep op, en hoe vergelyk hulle met die heersers in Jeremia se dag?
9 “Vrede en veiligheid”! Hier stel Paulus ons op ons hoede vir die aankondiging wat tydens die hoogtepunt van Christus se “teenwoordigheid” gehoor sal word (1 Thessalonicense 5:3). Gaan ons binnekort daardie uitroep hoor? Waar kan so ’n oproep om wêreldvrede en -veiligheid ontstaan? Klaarblyklik nie onder Christus se volgelinge nie, want Jesus het gesê dat nòg hulle nòg sy Koninkryk ’n deel “van die wêreld” is (Johannes 15:19; 17:14, 16; 18:36). Diegene wat hierdie uitroep laat hoor, moet gevolglik wêreldlinge wees wat teen die inkomende Koninkryk van God gekant is. Hulle is ’n deel van die wêreld wat ‘lê in die mag van die Bose’, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Net soos die politieke en godsdiensleiers van Jeremia se dag sal hulle “gesigte uit hul eie hart verkondig” en sê: “Julle sal vrede hê”, en verkeerdelik aanvoer dat sulke vrede van God af kom. Hoe vals sal hulle bewering tog blyk te wees!—Jeremia 23:16, 17, 19, 20.
10. Watter reeks gebeurtenisse het tot die hedendaagse wêreldsituasie aanleiding gegee?
10 ’n Reeks gebeurtenisse gee aanleiding tot hierdie uitroep “Vrede en veiligheid”. Dit was in 1920, kort na die Groot Oorlog, nou bekend as die Eerste Wêreldoorlog, dat die Volkebond opgerig is. Die doel van hierdie Bond was om die aarde vir ewig van oorlog te bevry. Maar die Tweede Wêreldoorlog het die Bond in ’n afgrond gedompel. Op 24 Oktober 1945 is hierdie liggaam weer in die lewe geroep en het dit met ’n nuwe naam, die Verenigde Volke, uit die as verrys. (Vergelyk Openbaring 17:8.) Die hoofdoel daarvan is “om wêreldvrede en -veiligheid te bewaar”. Die stigters daarvan het hulle vasbeslotenheid uitgespreek “om toekomstige geslagte van die plaag van oorlog te red”. Het die VV daarin geslaag om sulke vrede en veiligheid te verseker?
11. Hoe ernstig is die krisis waarmee die wêreld te kampe het?
11 Hoe opreg sommige van die stigters van die VV ook al was, het daardie liggaam, net soos die Bond voor hom, nie daarin geslaag om sy beoogde doelwit te bereik nie. Die wêreld sit nou op ’n kruitvat vol kernwapens. Die ongeluk by Tsjernobil, USSR, in April vanjaar, met die gevolglike radioaktiewe neerslag oor ’n groot deel van Europa, toon dat kernkrag verskriklike potensiaal besit selfs wanneer dit vir vreedsame doeleindes gebruik word. Sommige nasies in die Stille Suidsee probeer om hulle gebied vry van kernwapens te hou. Maar indien ’n volskaalse kernoorlog ooit sou uitbreek, sal daar nêrens oorlewendes wees nie.
Is “vrede en veiligheid” moontlik?
12. Tot wat het die VV 1986 uitgeroep, en met watter reaksie onder die nasies?
12 Terdeë bewus van die verergerende krisis het die Verenigde Volke 1986 tot Internasionale Vredesjaar uitgeroep. Dit het ’n gemengde ontvangs onder die nasies geniet. Die meeste van hulle het die VV se Vredesjaar op die een of ander wyse gesteun, maar hulle wys op kernoorlog as die groot bedreiging vir vrede. Intussen word kleinskaalse oorloë steeds rondom die aarde gevoer—sowat 150 van hulle sedert die Tweede Wêreldoorlog—met ’n gesamentlike dodetal van meer as 30 000 000. Kan daar gesê word dat enige nasie werklik die inisiatief geneem het om op te tree ooreenkomstig daardie beroemde woorde van Jesaja 2:4 wat op die plazamuur by die VV aangebring is?
13. Hoe het godsdiensleiers dit gesteun?
13 Die gelowe van die wêreld het nie op hulle laat wag om die VV se Vredesjaar te steun nie. Pous Johannes Paulus II het 1 Januarie ’n Wêreldwye Vredesdag verklaar en by staatsmanne daarop aangedring om die leiding te voorsien wat nodig is vir die totstandbrenging van ’n grondslag vir universele vrede. Hy het ook ‘n beroep op die wêreld se gelowe gedoen om gedurende die Internasionale Vredesjaar by Assisi, Italië, byeen te kom vir gebed. Die aartsbiskop van Kantelberg, die hoof van die Anglikaanse Kerk, en Boeddhistiese groepe het hierdie uitnodiging hartlik verwelkom. Die Wêreldraad van Kerke het ’n verklaring oor die Internasionale Vredesjaar uitgereik en daarop aangedring dat daar onmiddellik met kernontwapening begin word.
14. Slegs hoe kan ’n projek om vrede te bewerkstellig voorspoedig wees?
14 Maar wat is die wil van die “God wat vrede gee” in hierdie saak om “vrede en veiligheid” tot stand te bring? Toon God se profetiese Woord dat onvolmaakte mense en nasies vir hierdie wêreld vrede en veiligheid kan bring? Hoegenaamd nie! Gewisse ‘voorspoed’ is alleen moontlik as Jehovah sake in ooreenstemming met sy geregtigheid en tot sy lof hanteer.—Jesaja 55:11; 61:11.
Die naderende “skielike verderf”
15. Watter skokkende aankondiging doen Paulus vervolgens?
15 Die apostel Paulus deel ons mee wat binnekort gaan gebeur. Hy sê: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”—1 Thessalonicense 5:3.
16. Waarom is die nasies se weë nie God se weë nie?
16 Met die eerste oogopslag lyk daardie woorde dalk skokkend. Maar die Bybel helder sake op. Die weë van die nasies vandag is nie God se weë nie (Jesaja 55:8, 9). Die rede waarom hy die verskeie vorme van menseheerskappy duld, is om ’n antwoord te verstrek in ’n geskil wat die listige slang, Satan die Duiwel, sowat 6 000 jaar gelede geopper het. Toe Satan ons eerste ouers oorreed het om onafhanklikheid van God te kies, het hy die feit betwis dat die mensdom werklik heerskappy deur God nodig het.—Genesis 3:4, 5.
17. Watter reputasie het menseheerskappy verkry, en wat bewys dit?
17 Gedurende die millenniums wat daarop gevolg het, het God mense toegelaat om elke denkbare vorm van menseregering op die proef te stel. Of dit ’n paar jaar of honderde jare geduur het, elke soort menseheerskappy het hopeloos gefaal om ware vrede en veiligheid te bring. Oorlog, misdadigheid, terreur en die dood was die voortdurende lot van die mensdom onder elke soort menseregering. Dwarsdeur die geskiedenis ‘heers die een mens oor die ander tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Dit is vandag presies dieselfde. Enigiemand wat van die geskil bewus is, kan nou soos God se profeet sê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.
18. Waarom is die nasies se uitroep “Vrede en veiligheid” tevergeefs?
18 Die tyd om die geskil eens en vir altyd te besleg is ophande. Slegs heerskappy deur God kan vir die mensdom ware vrede en veiligheid bring. Die nasies is egter nie ten gunste van heerskappy deur God wanneer hulle “Vrede en veiligheid” uitroep nie. Hulle wil oorheersing volgens hulle eie trotse ideologieë voortsit. Maar die tyd het verstryk! Die nasies besef dat iets drasties gedoen moet word, anders sal alles in ’n kernslagting vergaan. Hulle sal dus doen wat Jeremia voorspel het: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie.” Maar dit is tevergeefs!—Jeremia 6:14; 8:11, 15.
Die voorspelde einde
19. Hoe sal “die dag van Jehovah” aanbreek?
19 “Dan oorval ’n skielike verderf hulle”, sê die apostel Paulus. God se profeet Jesaja voeg by: “Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik” (Jesaja 33:7). Die Bybel toon op baie plekke dat Jehovah se voltrekking van oordeel aan goddelose nasies en mense skielik, onverwags, sal kom—waarlik “soos ’n dief in die nag” (1 Thessalonicense 5:2, 3; Jeremia 25:32, 33; Sefanja 1:14-18; 2 Petrus 3:10). Op ’n tydstip wanneer die wêreld luid verkondig dat hy ’n plato van vrede en veiligheid bereik het, sal “die dag van die Here [“Jehovah”, NW]” skrikwekkend skielik aanbreek. God se volk sal die uitroep “Vrede en veiligheid” korrek verstaan en sal veilig wees in die skuilplek wat Jehovah voorsien het.—Psalm 37:39, 40; 46:2, 3; Joël 3:16.
20. (a) Watter soort “dier” is die VV? (b) Hoe beskou Jehovah valse godsdiens, en waarom?
20 In God se Woord word die handelwyse van die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Volke, vergelyk met dié van “’n skarlakenrooi dier” met sewe koppe (wat die wêreldmoondhede voorstel waaruit dit ontstaan) en tien horings (wat die goewermentele magte voorstel wat dit nou steun). Die Bybel toon dat dit ’n politieke “dier” is net soos die Britse “leeu” en die Russiese “beer”. Op sy rug ry daar ’n vrou, “die groot Babilon [“Babilon die Grote”, NW], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:3-8). Dit is ’n goeie uitbeelding van Jehovah se beskouing van valse godsdiens, wat hom en sy regverdige Koninkryk nie verteenwoordig nie. Sy maak haar skuldig aan geestelike hoerery deur haar met die politiek te bemoei. Die feit dat godsdiens by die VV aangesluit het in die wêreld se veldtog om vrede en veiligheid te bewerkstellig is ’n voorbeeld hiervan. Sy wil ook graag vrede en veiligheid hê ten opsigte van God se oordeelsboodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word. Daarom het sy sekere regerings beïnvloed om die Christelike bedrywigheid van die Getuies te verbied.—Psalm 2:1-3.
21. (a) Watter optrede kenmerk die begin van “die dag van Jehovah”? (b) Watter finale word vervolgens op die “dag” bereik?
21 Hoe sal “die dag van Jehovah” aanbreek? In hierdie donkerste nag van die mensegeskiedenis sal dit inderdaad “soos ’n dief” kom! Dit sal wees wanneer God dit so bewerk dat die nasies van die VV-dier skielik valse godsdiens aanval. Hulle sal hulle onderliggende haat vir Babilon die Grote toon deur haar aan die kaak te stel en haar heeltemal te verwoes. Hierdie teregstelling sal so vinnig plaasvind dat voormalige politieke minnaars sal uitroep: “Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!” Maar die nasies en hulle leërs sal ook God se volk aanval. Dan sal die Koning van die konings, Jesus Christus, al daardie vyande vernietig en die aartsteenstander, Satan die Duiwel, in die afgrond werp.—Openbaring 17:16, 17; 18:10; 19:11-21; 20:1-3; vergelyk Esegiël 38:11, 16, 18-23.
22. (a) Watter wonderlike vooruitsig het gelowiges vandag? (b) Hoe kan jy vrede van God af geniet?
22 Uiteindelik sal ware vrede en veiligheid onder God se Koninkryk floreer! (Psalm 72:1, 7; Jesaja 9:5, 6). Gelukkig sal baie wat vandag ‘waak en nugter is’, lewe om dit te sien (1 Thessalonicense 5:4-6). “’n Groot menigte . . . uit alle nasies” wat geloof beoefen in Jehovah se losprysvoorsiening deur Christus sal uit “die groot verdrukking” gered word om ewige vrede van God af te geniet (Openbaring 7:9-17; 21:3, 4). Mag jy een van hulle wees!
[Voetnote]
a Die publikasie World Military and Social Expenditures 1985.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom is “tye en seisoene” vir God en vir ons belangrik?
◻ Hoe moet ons die nadering van “die dag van Jehovah” beskou?
◻ Wie het deel aan die uitroep van 1 Thessalonicense 5:3, en wanneer?
◻ Watter belangrike gebeure word deur daardie uitroep aan die gang gesit?