Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 9/15 bl. 29-30
  • Meteora—daardie reusagtige rotse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meteora—daardie reusagtige rotse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die legende oor die Vloed
  • Die kloosters van Meteora
  • Meteora—Toringhoë rotspilare
    Ontwaak!—2001
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Die Vloed in die legendes van die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die onvergeetlike vloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 9/15 bl. 29-30

Meteora​—daardie reusagtige rotse

DIE reusagtige rotse van Meteora, in Thessalië, Sentraal-Griekeland, is voorwaar ’n wonderwerk! En die groot vlakte van Thessalië is op sigself ’n museum van natuurlike meesterstukke. Sy skoonheid en vrugbaarheid is welbekend. As ’n mens die vlakte van die oostekant af nader, ry jy deur die asemrowende, poortagtige Tempe-kloof, in die skadu van die groot berg Olympus, die fabelagtige woonplek van die 12 Griekse gode. Aan die voet van die berg vloei die Peneiosrivier, en heel aan die westekant van die vlakte staan Meteora.

Hierdie reusagtige rotsgroep veroorsaak verbasing, bewondering, vrees, vreugde en lighoofdigheid. Party van hierdie rotse is 600 meter hoog. Hulle staan soos gedenknaalde. En hulle strek gewis die magtige Skepper tot eer.

Volgens sommige geoloë dateer die formasie van Meteora uit die vroegste geologiese tydperke, toe die hele Thessaliese vlakte ’n seebedding was wat van die kante af saamgedruk is om golwings en onreëlmatige oppervlakke te vorm. Ander navorsers meen dat Meteora net ’n paar millenniums gelede gevorm is​—deur aardbewings en erosie wat deur water veroorsaak is. Almal gee egter toe dat die ontsaglike krag van water verantwoordelik was vir hierdie kolossale rotse. ’n Mens wonder natuurlik waar al daardie water vandaan gekom het.

Die legende oor die Vloed

Antieke Griekse mitologie maak melding van hierdie gebied. Volgens die Pindariese odes en die werke van Apollodorus het Zeus, die koning van die Olimpiese gode, besluit om die goddelose en verderflike mensdom deur ’n vloed uit te wis. Dit was in die tyd toe die mitiese Deukalion koning van Ftia in Thessalië was. Deukalion het ’n ark laat bou om die woede van die gode te ontvlug. Daarin het hy die nodige lewensmiddele gelaai. Onmiddellik nadat hy en sy vrou Pyrrha die ark binnegegaan het, het ’n geweldige vloed losgebars en die grootste deel van Griekeland oorstroom. “Feitlik alle mense” het verdrink. Gedurende die vloed is die berge van Thessalië kwansuis gevorm. Deukalion se ark het nege dae en nagte lank heen en weer oor die golwe beweeg totdat dit bo-op die berg Parnassus in Thessalië gestrand het.

Nadat hy uit die ark gekom het, het Deukalion ’n offerande aan Fixius Zeus geoffer. Die god Zeus het Deukalion en Pyrrha beveel om klippe agter hulle te gooi. Deukalion se klippe het mans geword, terwyl Pyrrha s’n vroue geword het. Inderdaad ’n verdraaide weergawe van die Bybelse verslag van die werklike Vloed van Noag se dag!​—Genesis 6:1-8:22.

Die kloosters van Meteora

Groot Meteora troon 613 meter bo die Peneiosrivierbedding uit. Die klooster van die Metamorfose, die grootste van die ses wat vandag nog in gebruik is, is op die plat top van die berg geleë. Dit is nie maklik om met die geplaveide pad en die uitgekapte kliptrappe daarheen op te klim nie.

In die kloosters van Meteora is daar nou biblioteke wat ’n aansienlike aantal manuskripte bevat. Baie is versteek gevind in mure en dakke of onder ’n matras.

Die inhoud van die manuskripte is hoofsaaklik godsdienstig en kerklik. Maar daar is ook manuskripte met ’n geskiedkundige, letterkundige, filosofiese en wetenskaplike inhoud. Die velle is van perkament of van papier, en hulle dateer van die 9de tot die 19de eeu. Onder die manuskripte is Kodeks 591, van perkament, gedateer 861-862 G.J. Dit is die oudste manuskrip in Griekeland, bevat 423 velle en bestaan uit verklarende verhandelings oor die Evangelie van Mattheüs.

Daar is ook argiewe wat dokumente bevat soos goudreliëfbladsye van Bisantynse keisers en volksvaders. Daar is altesaam omtrent 3 000 manuskripte. Maar die Bybelmanuskripte is min, want die kopiiste van Meteora het hulle nie juis met hierdie soort werk besig gehou nie.

Die kloosters is vol godsdiensbeelde wat mitiese en werklike persone uitbeeld, sowel as gebeure wat getuig van die monnike se godsdiensoortuigings. Een voorstelling van die Tweede Koms beeld byvoorbeeld sondaars uit wat in die bekke van aaklige monsters gegooi word. Elders, in die tempel van Johannes die Doper, is daar ’n reliëf van Venus wat voor ’n ruiter staan.

So eindig ons besoek aan Meteora. Wat ons ook al dink van die mensgemaakte dinge wat nou daar aangetref word, ons word geroer deur die grootsheid van hierdie reusagtige rotsgroep in Thessalië.

[Foto-erkenning op bladsy 30]

Foto: Griekse ambassade

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel