Meteora—Toringhoë rotspilare
“Niks kan vreemder en wonderliker wees as hierdie romantiese streek nie, wat heeltemal anders is as enigiets wat ek al ooit gesien het. In . . . al die ander bergstreke waar ek al was, is daar niks wat met hierdie buitengewone pieke vergelyk kan word nie.”—Robert Curzon, Engelse reisiger, 1849.
ONS is heeltemal onvoorbereid op die on-gelooflike skouspel wat ons sien wanneer ons die dorp Kalabáka en die nabygeleë dorpie Kastráki op die vlakte van Tessalië, Griekeland, nader. Hier is ’n “woud” van klip met meer as 20 enorme rotspilare—’n oerwoud van losstaande steil rotse wat honderde meters hoog is. Bo-op hulle kruine is daar kloosters met houtgalerye en kroonlysdakke.
Dit is die Meteora van Griekeland, waar unieke natuurlike rotse met ongelooflike menslike prestasies gekombineer word. “Meteora”—van ’n Griekse woord wat “opgelig bo die aarde” beteken—verwys na hierdie groep alleenstaande rotspilare en na die meer as 30 kloosters wat daarop gebou is. Die gemiddelde hoogte van hierdie rotse is 300 meter, met die hoogste rots wat 550 meter bo die grond uittoring.
Terwyl ons nader kom, word die skaduwees van die rotspilare langer. Die landskap van hierdie vreemde wêreld verander voortdurend namate die son verskillende skaduwees tussen die rotse werp. In die winter toring die reusagtige rotse kaal en swart bo die wit sneeutapyt uit.
Hoe hulle gevorm is
Daar is al baie bespiegel oor hoe die rotse van die Meteora gevorm is. Baie glo dat die vlakte waarop die Meteora staan, miljoene jare gelede onder ’n groot binnelandse meer was. Volgens een teorie het ’n reusagtige geologiese opstoting op die een of ander manier veroorsaak dat hierdie rotse bo die grond uitsteek. Die tydskrif Experiment verduidelik dat party geoloë glo “dat hierdie rotse tussen die jare 2000 en 1000 v.G.J. die vorm gekry het wat hulle vandag het”.
Robert Curzon, wat aan die begin aangehaal is, het oor Meteora geskryf: “Dit lyk of die einde van ’n reeks rotsagtige heuwels deur ’n aardbewing afgebreek is of deur die Vloed weggespoel is, en net ’n reeks . . . lang, dun, gladde, naaldvormige rotse is agtergelaat.” Dit is interessant dat antieke Griekse mitologie ook die vorming van die berge van Tessalië aan ’n vloed toeskryf wat deur die gode veroorsaak is.—Genesis 6:1–8:22.
Kloosters in die lug
Wat die geologiese verduideliking van Meteora ook al is, hierdie rotse het sedert die negende eeu G.J. aandag getrek. Moderne bergklimmers, wat die Meteora met spesiale klimtoerusting uitklim, kan die prestasie van vroeë godsdienskluisenaars wat hulle in die grotte en in die skeure van die rotse gevestig het, miskien die meeste waardeer. Hoe die kloosters bo-op hierdie feitlik onbeklimbare rotse gebou is, is nog steeds ’n onderwerp van bespreking.
Hoe het diegene in vroeë tye bo by hulle verhewe kloosters gekom en weer afgekom? Wel, soos die boek Meteora—The Rock Monasteries of Thessaly sê, ‘hulle kon óf opklim met houtlere wat van die bokant van die kranse laat sak is, óf opgehys word in ’n net wat van ’n wenas in die klooster daar bo laat sak is. In albei gevalle moes die besoeker op die goeie trou en die twyfelagtige ingenieursvermoë van die monnike vertrou.’ Toe hy gevra is hoe dikwels die tou wat die net hou, vervang is, het ’n voormalige kloosterhoof blykbaar gesê: ‘Net wanneer dit breek.’ Eers in 1925 is trappies uit die rots gekap om toegang makliker te maak.
Die eerste godsdienskluisenaars wat teen die pilare opgeklim het, was Varnavas, iewers tussen 950 en 965 G.J., en Andronikos van Kreta, in 1020. Ander monnike van regoor Bisantium het hulle gevolg, wat daartoe gelei het dat die getal kloosterhuise bo-op die rotse tot 33 gestyg het. Teen die 16de en 17de eeu het die gemeenskappe hulle belangrikste tyd beleef, maar hulle het sedertdien agteruitgegaan.
“Kyk hoe lyk ons nou!” het een van die kloosterhoofde gekla. “Ag, . . . die jongmense wil ons nie meer hê nie!” In werklikheid is net ses van die kloosters, waarvan twee deur nonne bewoon word, nog oop. Verlate kloosterkomplekse kan op verskeie Meteora-rotse gevind word.
’n Ryk kulturele pronkstuk
Vandag is die rotskloosters een van Griekeland se interessantste kulturele besienswaardighede. Volgens die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur is dit ’n unieke kulturele skat. Die Griekse regering het onlangs begin aandag gee aan die bewaring van Meteora se kulturele rykdom. Opgeknapte geboue en museums is vir besoekers oopgestel. Wat is daarin te sien?
Wel, afgesien van draagbare ikone, kerkgewade en musiekkodekse, bevat dit seldsame geskiedkundige Bybelmanuskripte. Dit sluit die perkamentkodeks 591 in, wat uit 861-62 G.J. dateer en verklarende verhandelinge van die Bybelboek Matteus bevat.
Sterk natuurkragte het inderdaad ’n unieke skouspel gevorm. As jy Griekeland ooit besoek, kan jy gerus Meteora in jou reisplan insluit. En maak seker dat jy genoeg film saamneem, want jy sal jou kamera dikwels wil gebruik.—Bygedra.
[Prente op bladsy 16]
Klooster van Sint Nikolaas Anapausas
Klooster van Rousanou
[Erkenning]
M. Thonig/H. Armstrong Roberts
[Prente op bladsy 17]
Klooster van die Heilige Drie-eenheid
Klooster van die Groot Meteoron
[Erkenning]
R. Kord/H. Armstrong Roberts
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Agtergrond: Y. Yannelos/Greek National Tourist Organization