Gelukkig is die wat mag reg gebruik!
“Jehovah is langsaam tot toorn en groot in mag, en Jehovah sal geensins ongestraf laat bly nie.”—NAHUM 1:3, NW.
1. Waarom is dit geen rede om te spog as ’n persoon die een of ander soort mag het nie?
DAAR is baie vorme van mag wat intelligente wesens reg kan uitoefen. As gevolg van natuurlike aanleg of weens omstandighede besit ons miskien die een of ander besondere soort mag. Maar is dit ’n rede om te spog? Glad nie. Wat lees ons in Jeremia 9:23? “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie.” Waarom nie? Die apostel Paulus verstrek ’n goeie antwoord in 1 Korinthiërs 4:7: “Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
2. Waarom moet ons versigtig wees wanneer dit by die gebruik van mag kom?
2 Waarom moet ons waak teen die misbruik van enige mag wat ons moontlik besit? Want “die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Aangesien ons almal hierdie oorgeërfde neiging tot selfsug het, moet ons altyd versigtig wees dat ons die mag wat ons het reg gebruik. ’n Digter het eenkeer hierdie gedagte geuiter: “Nooit ’n skat sonder ’n sweem van kommer daarna nie. Nooit ’n mag sonder die gevaar van ’n subtiele strik nie.” Ja, die neiging om mag selfsugtig te gebruik, is altyd daar as gevolg van oorgeërfde onvolmaaktheid.
Jehovah—Magtig, maar ook wys en regverdig
3. Watter vorme van mag besit Jehovah?
3 Niemand anders nie as die Skepper, Jehovah God, stel vir ons ’n goeie, ja, ’n volmaakte, voorbeeld in die gebruik van mag. Hy is nie haastig nie maar traag om kwaad te word selfs wanneer dit nodig is om sy mag te gebruik om strafgerigte te voltrek (Nahum 1:3, vgl. NW). Niemand het groter mag as God nie, en daarom praat ons van hom as die Almagtige. Hy pas tereg die titel “Almagtige” op homself toe (Genesis 17:1). Hy het nie net volle mag in die sin dat hy onbeperkte krag het nie, maar hy het ook die oppermag omdat hy alle gesag het as gevolg van sy posisie as die Soewereine Heer van die heelal, wat hy geskep het. Dit is waarom niemand hom dit kan aanmatig om ‘Sy hand af te slaan of vir Hom te sê: Wat doen U nie?’—Daniël 4:35.
4. Waarom is dit verstandig om Jehovah te vrees?
4 Weens die feit dat Jehovah God almagtig is, is dit vir ons verstandig om te vrees om hom te mishaag. Ja, “die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 9:10). Paulus waarsku ons om nie jaloesie by Jehovah God te wek deur ons aan enige vorm van afgodediens skuldig te maak nie, want “is ons miskien sterker as Hy?” Glad nie! (1 Korinthiërs 10:22). Almal wat God se regverdige gebooie opsetlik breek, tree egter op asof hulle sterker as Jehovah is! Paulus se volgende woorde beklemtoon hierdie gedagte: “Onse God is ’n verterende vuur.”—Hebreërs 12:29.
5. Waarom hoef ons nie ’n morbiede vrees vir Jehovah te hê weens sy almag nie?
5 Hierdie feite kon ons dalk met ’n morbiede vrees of angs gevul het as dit nie was dat Jehovah God sy almag in volmaakte ewewig hou met sy drie ander vernaamste eienskappe nie: wysheid, geregtigheid en liefde. Wanneer hy sy mag gebruik om strafgerigte te voltrek, is dit altyd ooreenkomstig, of in ooreenstemming, met hierdie eienskappe. Die vloed van Noag se dag was byvoorbeeld waarlik ’n grootse manifestasie van Jehovah se mag. Maar was God se uitoefening van mag onregverdig of onliefdevol? Geensins nie! Die mensdom was so verdorwe dat God bedroef was oor wat hy gesien het (Genesis 6:5-11). Aangesien daardie goddelose, antediluviaanse persone God se seëninge misbruik het, het hy reg opgetree deur die aarde van hulle te bevry, veral aangesien hulle die waarskuwings van die “prediker van geregtigheid”, Noag, geïgnoreer het.—2 Petrus 2:5.
6. Wat toon Jehovah se optrede teen Sodom en Gomorra?
6 Toe die inwoners van Sodom en Gomorra getoon het dat hulle erg verdorwe sondaars was deur die seëninge te misbruik wat hulle, as lede van die mensdom, uit Jehovah se hand geniet het, het hy besluit dat die inwoners vernietig moes word. Uit agting vir sy vriend Abraham het Jehovah daardie geloofsman ingelig oor Sy voorneme aangaande Sodom en Gomorra. Abraham het blykbaar gedink dat dit ’n groot misbruik van mag sou wees, en daarom het hy Jehovah gevra: “Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Abraham het egter onder ’n misverstand verkeer. Op die ou end moes hy toegee dat Jehovah se besluit inderdaad regverdig was, want daar kon nie eens tien regverdige siele in die twee stede gevind word nie. Dit toon gewis hoe versigtig Jehovah God is om sy mag op regverdige wyse te gebruik.—Genesis 18:17-33, NAV; Jesaja 41:8.
7. Waarom het Farao dit verdien dat Jehovah sy mag teen hom gebruik het?
7 Later, toe die tyd aangebreek het dat die Israeliete uit onregverdige slawerny in Egipte verlos moes word, het Jehovah Farao die geleentheid gegee om saam te werk. Dit sou geskied sonder dat Farao en sy volk daaronder ly. Maar daardie heerser het trots en hardnekkig geweier om aan Jehovah se versoek te voldoen. God het Farao dus die een magsvertoning na die ander gegee in die vorm van die tien plae oor Egipte (Exodus 9:16). Nadat Farao die Israeliete laat trek het, het hy hardnekkig voortgegaan om Jehovah uit te daag deur die Israeliete te agtervolg. Jehovah het dus tereg sy groot mag gebruik om Farao en sy leër in die Rooi See uit te wis (Psalm 136:15). Daar moet gelet word dat Jehovah in elke geval ook sy groot mag gebruik het om sy getroue knegte te bewaar: Noag en sy gesin, Lot en sy twee dogters en die nasie Israel.—Genesis 19:16.
8. Om watter goeie rede het Jehovah met Sanherib afgereken?
8 Eeue later, in die tyd van koning Hiskia, het Jehovah God sy groot mag op ’n uiters treffende en regverdige wyse getoon toe die Assiriese koning Sanherib Jerusalem bedreig het. Jehovah se volk, met Godvresende en lojale koning Hiskia aan die voorpunt, het Hom om hulp gesmeek. Hulle het hom getrou gedien en daarom het God ten behoewe van hulle opgetree. Die afgesant van koning Sanherib het andersyds geroem: ‘Moenie na Hiskia luister en moenie dat hy julle verlei met die belofte dat Jehovah julle sal red nie. Kon enigeen van die gode van die ander nasies hulle volk uit Sanherib se hand red? Waarom dink julle dat Jehovah julle sal kan red, aangesien nie een van hierdie gode dit kon doen nie?’ (Jesaja 36:13-20). As gevolg van sulke grootpratery moes God eenvoudig sy groot mag uitoefen deur 185 000 soldate in een nag te laat sneuwel, en dit het bewys dat daar inderdaad ’n verskil tussen die gode van die nasies en Jehovah was.
9. Watter ander voorbeelde kan gemeld word wat toon dat Jehovah versigtig is hoe hy sy mag gebruik?
9 Beskou nog net ’n paar van die talle voorbeelde wat genoem kan word. Toe Jehovah Miriam met melaatsheid getref het, was dit ’n heeltemal regverdige en wyse uitoefening van sy mag. Miriam het daardie straf verdien omdat sy so aanmatigend teen haar broer Moses, God se aangestelde kneg, gespreek het (Numeri 12:1-15). Dit was dieselfde toe koning Ussia die tempelheiligdom astrant binnegedring en hom aangematig het om reukwerk op die goue altaar te laat opgaan en hoogmoedig geweier het om deur die Levitiese priesers daarvan afgeraai te word. Jehovah het sy mag getoon deur die koning tereg met melaatsheid te tref (2 Kronieke 26:16-21). Net soos hulle sonde nie ewe ernstig was nie, was Jehovah se straf van hulle nie ewe hewig nie: Miriam se melaatsheid was tydelik, maar Ussia het as ’n melaatse gesterf. Ons kan dus sien dat Jehovah te alle tye sorg dat hy sy mag op ’n wyse en regverdige manier gebruik, en dat hy die getroues wat hom liefhet, kan bewaar en die goddeloses kan vernietig.—Psalm 145:20.
Die voorbeeld van Jesus Christus
10, 11. Watter voorvalle toon dat Jesus daarop gesteld was om mag reg te gebruik?
10 God se Seun was waarlik ’n goeie navolger van sy Vader wat die gebruik van mag betref. Een van die vroegste voorvalle was toe Satan met hom oor die liggaam van Moses gestry het. Die Logos kon Satan maklik kwaai bestraf het. In plaas daarvan het die Logos as ’t ware uit sy pad gegaan om die bestrawwing van Jehovah God self te laat kom.—Judas 8, 9.
11 Die heel eerste versoeking waarmee Satan Jesus in die woestyn gekonfronteer het, het met hierdie kwessie van magsmisbruik te doen gehad. Satan het Jesus versoek om sy bonatuurlike mag vir ’n selfsugtige doel te gebruik deur klippe in voedsel te verander. Dit was nogal ’n versoeking, want Jesus het 40 dae laas geëet en hy het “honger geword”. Satan het met hierdie versoeking vir Jesus ’n strik probeer stel sodat hy ’n selfsugtige weg sou inslaan, want hy het begin met: “AS U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” Hy het ongetwyfeld gehoop dat Jesus sou antwoord: ‘Maar natuurlik is ek die Seun van God, en om dit te bewys, sal ek hierdie klippe in brood verander.’ In plaas van te swig vir die versoeking of in die strik te trap om selfsugtig of dwaas op te tree, het Jesus geantwoord: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:1-4). Hy het die stilswyende twyfel of hy die Seun van God is, geïgnoreer, en hy het geweier om die mag wat God hom gegee het te misbruik.
12. Hoe het Jesus verder getoon dat hy nie magsugtig was nie?
12 Later, nadat Jesus Christus 5 000 manne benewens talle vroue en kinders gevoed het, wou die Jode hom koning maak. As hy hulle aanbod aanvaar het, sou hy die mag wat hy gehad het om mense deur sy wonderwerke te beinvloed misbruik het. Hy het geweet dat hy neutraal moes bly ten opsigte van wêreldlike politiek en op Jehovah God moes wag om hom die koningskap te gee (Johannes 6:1-15). Nog later, toe die menigte gekom het om hom gevange te neem, kon hy om 12 legioene engele gevra het en sodoende voorkom het dat hy gevange geneem word. Maar dit sou ’n geval van magsmisbruik gewees het, want dit was sy Vader se wil dat hy hom daaraan onderwerp.—Mattheüs 26:39, 53.
Ander wat mag nie misbruik het nie
13, 14. (a) Watter goeie voorbeeld het Gideon gestel wat toon dat hy nie magsugtig was nie? (b) Hoe het Saul aan die begin van sy koningskap ’n goeie voorbeeld gestel?
13 Rigter Gideon moet gemeld word onder die onvolmaakte mense wat nie geswig het vir die versoeking om mag te misbruik nie. Nadat hy Israel uit die hand van die Midianiete verlos het, wou die volk hom hulle koning maak. Gideon het geweier en tereg gesê: “Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers.” Ja, die beskeidenheid wat hy aan die begin van sy loopbaan as rigter geopenbaar het, was steeds daar. En Gideon se antwoord het weerspieël hoe Jehovah God self oor ’n mensekoning vir Israel gevoel het. Ons kan dit sien in God se antwoord toe Israel in die tyd van die profeet Samuel ’n koning wou hê.—Rigters 8:23; 6:12-16; 1 Samuel 8:7.
14 Toe ’n koning nietemin gekies is, het Saul aanvanklik ’n goeie voorbeeld van selfbeheersing gestel wat die gebruik van mag betref. Sommige deugniete het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos? En hulle het hom verag . . . maar hy het hom doof gehou.” Met sy koninklike mag kon hy voortvarend opgetree het, maar hy het nie. Nadat Saul die Ammoniete verslaan het, het party van sy manskappe insgelyks gedink dat dit ’n goeie tyd sou wees om diéwat Saul verag het te laat boet. Hulle het dus vir hom gesê: “Wie is dit wat gevra het: Sou Saul oor ons regeer? Lewer die manne uit, dat ons hulle kan doodmaak.” Saul was egter glad nie daardie mening toegedaan nie. Hy het geantwoord: “Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het die HERE ’n verlossing in Israel bewerk.” Ons kan sien dat Saul inderdaad goed en beskeie begin het (1 Samuel 9:21; 10:20-23, 27; 11:12, 13). Hoe jammer tog dat hy sy koninklike mag begin misbruik het en so aan ’n slegte einde gekom het!—1 Samuel 28:6; 31:3-6.
15, 16. (a) Watter getuienis kon rigter Samuel lewer rakende sy gebruik van regterlike mag? (b) Watter soortgelyke voorbeeld het koning Dawid gestel?
15 Samuel, die profeet wat Israel ook gerig het, het ’n goeie voorbeeld gestel. God het hom van kleins af kragtig gebruik. Samuel het sy volk regverdig gerig en verlossing vir hulle bewerk. Het hy ooit sy posisie vir selfsugtige gewin uitgebuit? Absoluut nie! Hy het in sy afskeidsrede aan die volk gesê: “Kyk, ek het na julle geluister in alles wat julle aan my gesê het, en ’n koning vir julle aangestel. . . . Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak.” Sy volksgenote moes erken dat Samuel se weg in al hierdie opsigte onberispelik was. Hy het nie die mag van sy regterlike amp misbruik nie.—1 Samuel 12:1-5.
16 Ons moet ook nie die goeie voorbeeld wat Dawid gestel het oor die hoof sien nie. Hy het koning Saul twee keer in sy mag gehad en kon hom doodgemaak het. Dawid kon geredeneer het: ’Saul is daarop uit om my dood te maak, dit is dus my lewe of syne.’ Of hy kon selfsugtig geredeneer het: ’Aangesien Samuel my as die volgende koning van Israel gesalf het, is dit hoe dit uiteindelik moet wees. Waarom nie nou nie?’ Nee, Dawid het geduldig gewag totdat dit Jehovah se tyd was om vir hom die koninkryk te gee (1 Samuel 24:2-23; 26:1-25). Maar ongelukkig het Dawid, nadat hy koning geword het, by twee geleenthede sy mag misbruik: deur die dood van Uria te bewerkstellig en deur Israel se leër te tel.—2 Samuel 11:15; 24:2-4, 12-14.
17. Hoe het Paulus getoon dat hy nooit gierig was nie en dat hy nie sy mag misbruik het nie?
17 Onder die volgelinge van Jesus Christus het die apostel Paulus in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld gestel. Hy kon hulp geeïs het van die gemeentes wat hy gedien het. Maar hy het nie hiervan gebruik gemaak nie. Hy het vir die ouere manne van Efese gesê: “Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was” (Handelinge 20:33, 34). Toe hy aan die gemeente in Korinthe geskryf het, het die apostel hom selfs sterker oor hierdie punt uitgespreek (1 Korinthiërs 9:1-18). Hy het die reg gehad om nie sekulêre werk te doen nie, want wie dien op eie koste as ’n soldaat? Het Moses nie gesê dat die os wat graan dors nie gemuilband moet word nie? “Maar”, het Paulus verduidelik, “ek het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie.” Wat was sy beloning? “Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie.”
18. (a) Hoe moet ons Jehovah se voortreflike gebruik van mag beskou? (b) Waarom kan daar gesê word dat die wat hom in hierdie opsig navolg gelukkig is?
18 Daar kan voorwaar gesê word: ‘Gelukkig is almal wat nie hulle mag misbruik nie.’ Wat ’n voortreflike naam het Jehovah God tog omdat hy so ’n goeie voorbeeld stel deur sy groot mag altyd in ewewig te hou met sy ander eienskappe, soos wysheid, geregtigheid en liefde! Ons kan dus saam met die psalmis Dawid sê: “Loof [Jehovah], o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” (Psalm 103:1). Almal wat Jehovah se voorbeeld van die behoorlike gebruik van mag gevolg het, is inderdaad gelukkig. Die voorbeelde in die Skrif wat ons beskou het, bewys dat ons ook, ofskoon ons onvolmaakte mense is, die mag wat ons het reg kan gebruik. As ons dit doen, kan ons nie net ’n skoon gewete hê nie, maar ook God se goedkeuring en ons medemens se respek.
Onthou jy?
◻ Waarom is raad oor magsmisbruik nodig?
◻ Watter voorbeelde toon dat Jehovah God sy mag reg gebruik?
◻ Waarom kan daar gesê word dat Jesus magsmisbruik noulettend vermy het?
◻ Watter figure in die Hebreeuse Skrifte het getoon dat hulle mag nie misbruik het nie?
◻ Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy voorbeeldig was wat die gebruik van mag betref?
[Prent op bladsy 9]
Jehovah se vernaamste eienskappe is in volmaakte ewewig
Liefde Mag Geregtigheid Wysheid:
[Prente op bladsy 10]
God het sy mag tereg gebruik:
met die vloed
teen Sodom en Gomorra
by die Rooi See