Opspraakwekkende misbruike van mag in ons dag
IN DIE wet wat deur Moses gegee is, het die Skepper die neem van omkoopgeskenke deur regters skerp veroordeel (Exodus 23:8; Deuteronomium 10:17; 16:19). Ons kan sien hoe wys sulke voorskrifte was deur te kyk na hedendaagse gevalle van magsmisbruik deur ampsdraers.
Regter Martin T. Manton was betrokke by een so ’n geval. Destyds in 1918 het hy die pogings van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend was, om borgtog te kry vir J. F. Rutherford en sewe van sy metgeselle probeer dwarsboom. Hierdie agt Christenbedienaars is aangekla van inmenging met die oorlogspoging en is na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, gestuur. Die appèlhof wat hulle saak aangehoor het, het uit drie regters bestaan, waarvan Manton een was. Hy het teengestem, maar die ander twee regters het die appèl toegestaan, en die onregverdige skuldigbevinding is herroep.
Watter soort regter was Manton? Die pers het hom “die mees hooggeplaaste regterlike amptenaar [in die Verenigde State] naas die nege regters van die Appèlhof” genoem. Hy was ook een van Amerika se mees vooraanstaande leke, en die pous het hom “Ridder van St. Gregorius” gemaak. Manton se ondergang het gekom toe hy skuldig bevind en tot twee jaar tronkstraf en ’n boete van R20 000 gevonnis is. Waarvoor? Vir die verkoop van regsbeslissings. Boonop het hy die vermetelheid gehad om diegene wat voor hom verskyn het af te pers deur te dreig om hulle te veroordeel tensy hulle hom ’n groot som betaal. The New York Times het aangaande hom gesê: “Afpersing was afkomstig van die Federale geregshof.” Wat ’n misbruik van regterlike mag!
Jare later was daar nog ’n opspraakwekkende geval, een waarby Spiro Agnew, vise-president van die Verenigde State vanaf 1969-1973, betrokke was. Hy is daarvan aangekla dat hy die regering van duisende dollars beroof het, en hy het gevolglik bedank. Nog tot in 1983 het hy die Staat Maryland meer as R500 000 betaal weens omkoopgeld wat hy aanvaar het.
Dan was daar Richard M. Nixon, wat Agnew as kandidaat vir die vise-presidentskap gekies het. Die Amerikaanse Senaatskomitee wat op die Watergate-saak ingegaan het, het aanbeveel dat Nixon op drie aanklagte tereg moet staan: dat hy sy magte as President misbruik het; dat hy die gereg gedwarsboom het; en dat hy dagvaardings verontagsaam het. Jy weet waarskynlik dat hy op 9 Augustus 1974 bedank het, met nog twee en ’n half jaar van sy presidentskap oor.
Sulke misbruik van mag kom wêreldwyd voor. Die Kanadese tydskrif Maclean’s van 15 Julie 1985 het byvoorbeeld berig oor “wilde sekspartytjies by Parliament Hill . . . en onwettige geldelike belonings”. Dit het vertel dat ’n senior regeringspersoneelbeampte op ’n partytjie aan ’n 30-jarige vrou gesê het: “As jy nie jou klere uittrek nie, gaan jy nie ’n werk hê nie.”
Ongeveer dieselfde tyd het ’n internasionale nuustydskrif die artikel “Korrupsie vertraag China se ommeswaai” gepubliseer. Dit het berig : “Die amptelike pers het in die laaste tyd feitlik elke dag berigte geplaas oor gevalle van finansiële bedrog, met hooggeplaaste amptenare wat by sommige daarvan betrokke is.”
Meer onlangs het die New Zealand Herald onder die opskrif: “Vloek van korrupsie groot bedreiging in ‘Lucky Country’”, die beskouing van ’n afgetrede regter gepubliseer: “In die middel van die 1980’s is Australië ryk, vol vertroue en korrup.” Die artikel het melding gemaak van “’n regstelsel wat in die afgelope jaar gesien het hoe ’n regter van die hoogste hof in die land agter tralies gesit word en wat byna daagliks geskud word deur skrikwekkende bewyse van polisie wat omkoopgeld aanvaar”.
Dit is duidelik dat al sulke misbruikers van mag die beginsel ignoreer wat deur Christus vermeld is: “Daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”—Mattheüs 10:26.