Bevryding—Hoe begeerlik!
“GEE my vryheid of gee my die dood!” het die Amerikaanse patriot Patrick Henry meer as 200 jaar gelede uitgeroep. Vir hom was bevryding kosbaarder as die lewe self. Deur die eeue heen het miljoene mense net so gevoel.
Gedurende die afgelope halfeeu het die begeerte na bevryding egter nuwe afmetinge aangeneem. Koloniale magte het miljoene onderdane verloor namate die politieke onafhanklikheid nagestreef en verkry het. Maatskaplike, ekonomiese en selfs godsdiensbewegings is gestig in ’n strewe na bevryding van verdrukking en diskriminasie, hetsy werklik of denkbeeidig. Nog nooit wou soveel mans bevryding hê van die gesag van werkgewers en regerings nie, soveel vroue van die gesag van mans en vaders nie, en soveel kinders van die gesag van ouers en onderwysers nie. Vryheidsbewegings is nietemin nie iets nuuts nie. Trouens, hulle is amper so oud soos die mensdom self. Die wêreld se oudste geskiedenisboek, die heilige Bybel, vertel ons meer. Die kern van die verhaal soos opgeteken in Genesis 3:1-7, is soos volg:
Kort na die skepping van die man en die vrou het ’n engeleskepsel die vrou genader. Sy optrede het ’n begeerte geopenbaar om los te breek van die gesag van sy Skepper. Dit is derhalwe nie verbasend dat hy beweer het dat sy en haar man bevryding nodig gehad het nie. Was dit nie waar, het hy geredeneer, dat God beperkinge op hulle geplaas het nie? Maar waarom moes hulle nie eet van “die vrugte van die boom . . . in die middel van die tuin” nie? het hy gevra. Die boom was immers ‘’n lus vir die oë’, nie waar nie? Beslis!
Breek weg, het hy aangespoor, en “julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken”. Hoe begeerlik tog! Ja, hy het bevryding van God se “onderdrukkende” bewind so kosbaar soos die lewe self laat lyk.
“Gee my vryheid of gee my die dood!” Adam en Eva het albei gekry—tot hulle en ons verdriet! Hoe so?