Voer die bevele van die koning noukeurig uit
“Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.”—PSALM 119:15, 16.
1. Waarom staan almal en alles onder die bevel van Jehovah?
ALMAL en alles staan onder die bevel van die almagtige God Jehovah, die Koning van die ewigheid. Hy is die Skepper van die heelal. Hy is die Fontein van alle lewe. Hy het die aarde gemaak en dit gereed gemaak om bewoon te word. Hy is ’n God van orde, en deur die toepassing van sy insettinge word ordelikheid deur sy ganse skepping gehandhaaf.—Psalm 36:10; Jesaja 45:18; Openbaring 15:3.
2. Wie beheer die sterrehemel, en hoe?
2 Dit was Jehovah God wat die sterrehemel beveel het om die aarde soos ’n tent te oordek en toe sy volk genooi het: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam.” Dit was Jehovah wat Job gevra het: “Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?” Dit is Sy swaartekrag- en bewegingswette wat die miljoene sterrestelsels met hulle miljarde sterre saambind en wat die bewegings van die aarde bepaal terwyl dit deur die ruimte spoed.—Jesaja 40:26; Job 38:33.
3. Aan wie se bevele het diere hulle voortbestaan te danke, en wat sal gebeur as hulle ongehoorsaam is?
3 Dit is Hy wat die groen plante voortbring wat die aarde soos ’n tapyt oordek. Dit is op sy bevel dat sade uitspruit en groei en voortplant. Daar is ’n oneindige verskeidenheid van dierelewe op die aarde—van die poolstreke tot die tropiese woude, van hoog in die atmosfeer tot diep in die grond, van die see se oppervlak tot sy donkerste dieptes. Om te kan voortbestaan, moet elk van die tallose spesies lewe soos Jehovah beveel het. Deur middel van instink word sy bevele vir oorlewing in hulle ingeprogrammeer. “Hulle is instinktief wys” (Spreuke 30:24, NW). Maar wat sal gebeur as die klein Nieu-Engelandse sangvoëltjie in Alaska vir homself sou sê: ‘Ek gaan nie duisende kilometers ver na Suid-Amerika toe vlieg nie. Hoekom moet ek?’ Daardie voëltjie sal in die wintersneeustorms sterf. Maar hy sal nooit so sê nie. Hy is geprogrammeer om te migreer vir oorlewing. So is dit met al die diere. Hulle voer instinktief die bevele uit wat Jehovah hulle Skepper in hulle ingeskape het. Hulle het geen keuse nie.
4. Watter keuse het mense, en met watter gevolge?
4 Met mense is dit anders. Ons is na die gelykenis van God geskape, en ons het ’n keuse. Maar hoewel Jehovah ons nie geprogrammeer het om verstandig op te tree deur instink alleen nie, het hy ons ook nie in onkunde gelaat nie. Deur sy Woord die Bybel gee hy ons sy bevele oor hoe om die lewe te verkry. As ons daardie bevele van die Koning noukeurig uitvoer, sal ons lewe. As ons ons vryheid gebruik om dit te ignoreer en ons eie, onafhanklike weg inslaan, sal ons sterf. Ons moet onsself programmeer vir oorlewing. Dit is so eenvoudig soos dit. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad”, het die psalmis gesê. Andersyds is daar “’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Psalm 119:105; Spreuke 14:12). In hierdie tyd van die einde is dit noodsaaklik dat ons die woorde van Psalm 119:15, 16, gerig aan Jehovah, ons eie maak: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.”
Jehovah, die Organiseerder van sy volk
5. In watter opsigte was Jehovah Israel se Regter, Wetgewer en Koning?
5 Jehovah het op die berg Sinai met Moses gepraat en bevele gegee om Israel te lei. Van besondere belang onder hierdie bevele was die Tien Gebooie, geskryf op kliptafels deur die vinger van God (Exodus 20:1-17; 31:18). Benewens Israel se Wetgewer was Jehovah ook hulle Regter, wat deur Moses en ander oudstes opgetree het. Moses het sulke oudstes vermaan: “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God” (Deuteronomium 1:17). Jehovah was ook hulle Koning, wat hierdie miljoene mense georganiseer het sodat hulle sake vlot kon verloop. Met die oog op dit alles kon een van sy profete later verklaar: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning.”—Jesaja 33:22, NW.
6. Hoe het Jehovah getoon dat hy Israel se Organiseerder en Gids in die woestyn was?
6 Die Israeliete was in stamme, geslagte en huisgesinne georganiseer. Toe hulle in die woestyn rondgetrek het, het Jehovah aan elke stam sy plek in die optog toegeken. Wanneer hulle om die tabernakel kamp opgeslaan het, het elke stam sy toegewese staanplek gehad (Numeri 2:1-34; Josua 7:14). Deur middel van ’n wolk het Jehovah beveel wanneer hulle moet trek: “So dikwels as die wolk van die tent af optrek, het die kinders van Israel daarna weggetrek; en op die plek waar die wolk rus, daar het die kinders van Israel laer opgeslaan—volgens die bevel van die HERE het die kinders van Israel weggetrek en volgens die bevel van die HERE laer opgeslaan.”—Numeri 9:17, 18.
7. Wie kon veranderinge in die organisasie van Israel aanbring, en het dit ook gedoen?
7 Wanneer ’n verandering in die organisasie nodig was, het Jehovah dit aangebring. Moses het gekla: “Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.” Jehovah het geantwoord: “Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, . . . en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie” (Numeri 11:14, 16, 17). Selfs toe die volk later ’n mensekoning wou hê, het die groot Koning van die ewigheid Israel nie verstoot nie. Die mensekoning het ’n afskrif van Jehovah se Wet gehad. Profete het Jehovah se oordele verkondig. Getroue konings het nog as administrateurs vir God opgetree terwyl hulle ‘op die troon van Jehovah’ gesit het.—1 Kronieke 29:23; Deuteronomium 17:18; 2 Konings 17:13; Jeremia 7:25.
Die volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Koning se bevele
8. Hoe, waar en met watter resultate het Jesus Jehovah se komende Koninkryk verkondig?
8 Toe Jesus as die beloofde Messias gekom het, het hy sy hemelse Vader se bevele met ’n verterende ywer uitgevoer. Met die aanvang van die groot Galilese bediening “het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En groot menigtes het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af” (Mattheüs 4:17, 23, 25; Johannes 2:17). Hy het nie sy prediking tot die sinagoges beperk nie. Hy het die goeie nuus van die Koninkryk verkondig waar daar ook al mense was om te luister: die tempel, die strand, die berghelling, die oop veld, die stede en dorpe, en die huise van die mense. Skares het gekom en “graag na Hom geluister”. Hulle “het Hom aangehang en na Hom geluister”.—Markus 12:37; Lukas 19:48.
9. Wat het Jesus gedoen om die predikingswerk uit te brei, en watter instruksies het hy gegee?
9 Hy het aan sy apostels gemeld dat nog werkers nodig is, en daarom het Jesus “hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ’n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek. En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer” (Mattheüs 10:5-7, 11-13). Later het hy nog 70 uitgestuur met soortgelyke instruksies, en deur hierdie bevele noukeurig uit te voer het hulle sukses behaal en groot vreugde gesmaak.—Lukas 10:1, 17.
10. (a) Watter verdere opdrag het Jesus ná sy opstanding gegee, en met watter gevolg? (b) Waarom was sekere aanstellings van mense nodig, en aan watter vereistes moes voldoen word?
10 Na sy dood en opstanding het Christus Jesus sy volgelinge se gebied uitgebrei deur vir hulle te sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:18, 19). Toe hy in die hemel opgevaar het, het hy ’n soortgelyke bevel gegee: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Namate sy volgelinge die Koninkryksboodskap uitgedra het, het duisende by hulle geledere aangesluit (Handelinge 2:41; 4:4; 5:14; 6:7). Gemeentes is oral gestig. Opsieners en bedieningsknegte wat aan bepaalde Skriftuurlike vereistes voldoen het, is aangestel om as herders oor hierdie kuddes mans en vroue toesig te hou. Die gemeentes het gefloreer en toegeneem in getal.—1 Timotheüs 3:2-10, 12, 13; Titus 1:5-9.
11. Watter soort organisasie het Jehovah se Getuies vandag, en waarom is ’n doeltreffende organisasie nou so nodig?
11 Vandag is dit uiters belangrik dat die gemeentes van Jehovah se Getuies Jesus se voorbeeld in die predikingswerk volg. Om dit doeltreffend te doen, gebruik hulle die organisatoriese struktuur wat in die dae van die apostels ingestel is. Ons lewe in die tyd van die einde, die tyd waarin Jesus voorspel het dat ’n wêreldwye predikingswerk gedoen sou word: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Na die Eerste Wêreldoorlog het ’n paar duisend begin om hierdie goeie nuus van die Koninkryk te verkondig; nou het hulle getal die hoogte ingeskiet tot oor die driemiljoen! Dit is nou dringend om die bevele van sowel die Groot Koning van die ewigheid, Jehovah God, as die Koning van die konings, Christus Jesus, noukeurig uit te voer.
Die ouere manne het jou respek en steun nodig
12. Wat word vandag van ouere manne vereis, en hoe kan hulle diens ’n vreugde gemaak word?
12 Gemeentelike ouere manne speel ’n sleutelrol in die uitvoering van die Koning se bevele. Hulle moet voorbeeldig wees: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:1-3). Dit is God se kudde. Hy hou die ouere manne verantwoordelik, maar as almal gehoorsaam hulle samewerking gee, kan dit hulle werk ’n vreugde maak: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”—Hebreërs 13:17.
13. Waarom moet dubbele eer aan ouere manne betoon word?
13 Daar moet aan almal in die gemeente eer betoon word, maar veral aan hardwerkende ouere manne: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer” (1 Timotheüs 5:17; Romeine 12:10). Waarom die “dubbele eer” aan die ouere manne? Weens hulle goeie werk. Van hulle lees ons: “Die Heilige Gees [het] julle as opsieners aangestel . . . om as herders die gemeente van God te versorg” (Handelinge 20:28). Hulle werk hard om jou en ander te dien. Hulle moet soms mense tugtig wanneer die bevele van die Koning verontagsaam of verbreek word—nie ’n aangename taak nie en een wat sommige aanstoot kan gee. In ander gevalle moet hulle raad gee oor kleredrag of gedrag en word hulle dalk daarvoor verkwalik. Maar al hierdie dinge word gedoen ter wille van die geestelike welsyn van die gemeente. Die ouere manne verdien respek en eer.
14. (a) Slegs wanneer sal die oordele van ouere manne reg wees, in die lig van Jakobus 4:12? (b) Wanneer kan ’n toegeeflike oordeel gevel word, en wanneer kan barmhartigheid oor oordeel triomfeer?
14 Van tyd tot tyd moet ouere manne in regterlike komitees dien en oordele vel—soms ongewilde oordele. Hoe klop hierdie oordeelvelling met Jakobus 4:12? Dit lui: “Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ’n ander oordeel?” Ja, mense het nie die reg om mekaar te oordeel nie. Daarbenewens moet die oordele wat ouere manne vel nie gegrond wees op hulle eie opinie nie, maar op Jehovah se Woord. Koning Josafat het die regters wat hy aangestel het soos volg gemaan: “Julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; . . . Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie” (2 Kronieke 19:6, 7). Die organisasie moet rein gehou word. Ouere manne moet egter nie hardvogtige ‘uitdelers van houe’ wees nie. Barmhartigheid en vergifnis kan getoon word wanneer die wroeging diep en die berou opreg is. Dan sal “barmhartigheid triomfeer oor die oordeel”.—1 Timotheüs 3:3, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; Jakobus 2:13, NAV.
15. Watter dienste van ouere manne dwing ons respek en eer vir hulle af?
15 Ja, die pligte van ouere manne is dikwels moeilik en veeleisend, maar ouere manne wat getrou en liefdevol na hierdie verantwoordelikhede omsien, kan ’n bron van geestelike verkwikking en beskerming wees. “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:2). Dit is die goedhartige en liefdevolle beskermer—nie die haastige beskuldiger of die onverbiddelike tugmeester nie—wat aan almal vreugde verskaf, eerbied en eer afdwing en Jehovah se goedkeuring verwerf.
Wees geduldig met mekaar
16. (a) Hoe reageer sommige op die foute van ander, en wat sal hulle minder krities en meer begrypend maak? (b) Hoe beskou Jehovah getroue knegte wat foute begaan?
16 Wanneer mense nou met mekaar saamwerk, duik probleme maklik op. Foute word begaan. Wanneer dit gebeur, raak sommige bitter ontsteld. Party gebruik selfs die foute van ander as verskonings om die heel grootste fout te begaan—hulle hou op om Jehovah te dien! Maar as hulle hulle eie foute so noukeurig bestudeer soos dié van ander, sal hulle waarskynlik minder krities en meer begrypend wees. Moses het foute begaan. So ook Dawid. So ook Petrus. So ook elkeen van ons. Maar Jehovah het aangehou om hierdie getroue manne van die ou tyd te gebruik, en hy hou aan om ons te gebruik. “Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.”—Romeine 14:4.
17. Watter ander feite moet ons in gedagte hou in verband met ons beskouing van die foute van ander?
17 Laat ons ook onthou: Hier op aarde gebruik Jehovah onvolmaakte mense—dit is al wat hy op die oomblik het. Dit strek Jehovah eintlik tot eer. Hy bereik so baie met so min! Ons swakheid beklemtoon sy mag: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9). Die wêreldwye getuieniswerk floreer weens die rede wat Jehovah self verstrek: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees” (Sagaria 4:6). Laat ons ander dan hulle foute en swakhede vergewe sodat ons s’n vergewe kan word. Onthou: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.”—Mattheüs 6:14, 15.
Georganiseer om die Koning se predikingsbevel uit te voer
18. Watter reëling het in die dae van die apostels bestaan en bestaan vandag om verenigde leiding te gee in die predikingswerk van die gemeentes?
18 Die apostels en ouere manne in Jerusalem het ’n bestuursliggaam uitgemaak wat besluite geneem het om die vroeë Christengemeentes van verenigde leiding te voorsien (Handelinge 15:1-31; 16:1-5). Vandag het Jehovah se gesalfde getuies, “die getroue en verstandige dienskneg”, ’n Bestuursliggaam by hulle hoofkwartier in Brooklyn, New York (Mattheüs 24:45-47). Hierdie Bestuursliggaam hou toesig oor die ontsaglike, wêreldwye Koninkryksgetuieniswerk wat tans gedoen word ter vervulling van die bevel om Jehovah se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14). Hierdie werk kan nooit sonder ’n organisasie gedoen word nie. Geen individu kan dit ooit op sy eie doen nie.
19. Watter werk wat individue nooit alleen kan doen nie, doen Jehovah se Getuies nou met welslae omdat hulle die bevele van die Koning noukeurig uitvoer?
19 Geen individu of ongeorganiseerde, verspreide groepe kan in meer as 190 tale en in 205 lande preek, gereeld meer as twee en ’n kwart miljoen tuisbybelstudies hou en jaarliks sowat 190 000 nuwe bedienaars van die goeie nuus van die Koninkryk doop nie. Nee, dit het meer as driemiljoen Getuies byna seshonderdmiljoen uur se prediking gekos om daardie hoeveelheid werk in die een jaar 1985 te doen. Hulle kon dit alleen doen omdat hulle doeltreffend georganiseer is in byna 50 000 gemeentes, alles onder die sigbare leiding van hulle een Bestuursliggaam. Selfs dan kon dit slegs gedoen word omdat die Bestuursliggaam, die 94 takke, die 50 000 gemeentes en die 3 000 000 individuele Getuies almal verenig was en die bevele van die Koning noukeurig uitgevoer het.
Onthou jy?
◻ Hoe het Jehovah die nasie Israel georganiseer?
◻ Watter volmaakte voorbeeld het Jesus nagelaat in die werk om Jehovah se Koninkryk te verkondig?
◻ Watter talle dienste van ouere manne moet ons beweeg om aan hulle eer te betoon?
◻ Waarom kan onafhanklike groepe of individue nie die getuieniswerk doen nie?
[Prent op bladsy 23]
Die skepper programmeer alle diere vir oorlewing
Mense moet hulleself programmeer vir oorlewing deur Jehovah se bevele te bestudeer.