Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 6/1 bl. 26
  • In slegs nege dae!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • In slegs nege dae!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Verenigde bouwerk op wêreldskaal
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Voorsien met vreugde in die behoeftes wat die oeswerk meebring
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Koninkryksaalbouwerk—’n belangrike aspek van heilige diens
    Ons Koninkryksbediening—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 6/1 bl. 26

Koninkryksverkondigers berig

In slegs nege dae!

“ONTSAGWEKKEND!” Daardie een woord was op 14 Augustus 1985 die opskrif van ’n hoofartikel in ’n koerant van Vancouver-eiland, Kanada. Die hoofartikel het die oprigting van ’n Byeenkomssaal van 2 300 vierkante meter in slegs nege dae beskryf.

Gedurende die afgelope tien jaar het Jehovah se Getuies ’n tegniek vir die vinnige oprigting van plaaslike Koninkryksale ontwikkel. En die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies op Vancouver-eiland is nou die tweede sodanige gebou in Kanada wat hoofsaaklik vir halfjaarlikse kringbyeenkomste van groepe gemeentes opgerig is. Die splinternuwe saal staan op ’n perseel van drie hektaar in Cassidy, Brits-Columbië. Hoë, immergroen bome vorm ’n mooi agtergrond en ’n spruitjie loop agter die gebou deur die perseel. Dit behels ’n ouditorium met 900 sitplekke, ’n kafeteria met 250 sitplekke, ’n verversingslokaal, ’n klein, geteëlde dooppoel en ’n Koninkryksaal met 200 sitplekke wat deur plaaslike gemeentes gebruik word. Selfs diegene wat met die bouwerk gehelp het, sê dat dit moeilik is om te glo dat dit in nege dae opgerig en voltooi is.

Voor die negedaagse konstruksie is daar natuurlik baie voorbereidingswerk gedoen. Die vorige gebou op die perseel is in stortreën afgebreek en materiaal daarvan is benut. Vrywillige werkers het nat, koue Oktoberweer getrotseer om hout te versamel vir sederkloofdakspane​—dik, natuurlike dakspane wat van die westelike rooiseder gemaak word. Die pypwerk, verhittings-, lugreëlings-, elektriese en ander stelsels moes ontwerp word. Die perseel moes voorberei word en ’n betonblad van 2 325 vierkante meter moes onder andere gegiet word.

Uiteindelik was alles egter gereed. Op Saterdag, 3 Augustus, om 8:00 vm., het vrywilligers na ’n bespreking van ’n Bybelteks met hamers om die betonblad gereed gestaan. “Broers, begin hamer!” is daar oor die luidsprekers gesê. Tientalle hamers het spykers begin inslaan toe ’n geraamde 4 500 vrywilligers begin werk het. Talle vrywilligers en hulle gesinne was van die Verenigde State en party het tot van Newfoundland, Noorweë en Engeland gekom. Goedgesinde bure het hulle lande vir kampering en parkering beskikbaar gestel, en tente, woonbusse, trokke en motors het op 14 hektaar om die perseel gestaan.

Toeskouers was baie beïndruk. ’n Kontrakteur het sy werknemers gebring om die werk gade te slaan en die atmosfeer te geniet. Vriendelike bure het groente aan die voedselsverskaffingsafdeling geskenk, wat gereelde etes vir die werkers voorberei het. Ander bure het ingespring en met die werk gehelp. Nadat een man die perseel besoek het, het hy gesê: “Ek kan beslis sien dat God met julle mense is.” Hierdie man maak nou goeie vordering met ’n studie van die Bybel saam met die Getuies.

’n Hoofartikel in The Ladysmith-Chemainus Chronicle het gesê: “Ongeag jou godsdiensoortuiging, of gebrek daaraan, jy moet die 4 500 getuies van Jehovah wat gedurende die afgelope anderhalf week dag en nag gewerk het om ’n Byeenkomssaal van [2 325 vierkante meter] in Cassidy te bou dit ter ere nagee . . . Om dit vrolik, sonder stryery, onenigheid of ’n strewe na eer te doen, is ’n kenmerk van ware Christelikheid.”

Die eerste vergadering is Sondag, 11 Augustus, om 6:00 nm. in die voltooide Byeenkomssaal met uitgelegde tuin en al gehou!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel