Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 5/15 bl. 28-31
  • Die goeie nuus word in Donegal verkondig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die goeie nuus word in Donegal verkondig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Die bewoners reageer
  • Aan alle soorte mense
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 5/15 bl. 28-31

Die goeie nuus word in Donegal verkondig

“FANTASTIES!” “Dit was wonderlik.” Daardie uitdrukkinge is gehoor in ’n groep van 120 persone wat van Brittanje na Donegal, ’n graafskap in die noordweste van Ierland, gegaan het. Nee, hulle was nie toeriste wat kommentaar gelewer het oor wat hulle gesien het nie. Hulle was mans, vroue en kinders wat heeltemal op hulle eie onkoste gegaan het om hulle hoop vir die toekoms met die mense van Wes-Donegal te deel.

Aangesien daar net 19 getuies van Jehovah onder die 120 000 inwoners van Donegal is, is die meeste mense in die gebied in geen jare deur Getuies besoek nie. Derhalwe het die groot groep besoekers gewillig die taak aanvaar om die goeie nuus van God se Koninkryk langs die pragtige Atlantiese kuslyn van Donegal te verkondig.

Die plaaslike Getuies het baie gedoen ter voorbereiding van die koms van die groep. ’n Paar het honderde kilometers gereis om die hele gebied te karteer, die stafkaarte by te werk en elke pad ’n verwysingsnommer te gee sodat dit later maklik gevind kon word. Die gebied is toe in kleiner stukke verdeel, elk met ongeveer 400 huise. Intussen, in Brittanje, was dié wat die reis sou meemaak, besig om hulle eie voorbereidings te tref​—hulle moes seker maak dat vervoer, verblyf en ’n ruim voorraad Bybellektuur beskikbaar sou wees.

Die vertrekdag uit Brittanje was Saterdag, 8 Junie 1985. In die vroeë oggendure het almal byeengekom en uitgegaan na die lughawe. Weldra het hulle in Belfast, Noord-Ierland, geland. Hulle het in die tien minibusse geklim wat gedurende die daaropvolgende twee weke hulle vervoermiddels sou wees. Na ’n rit dwarsoor Noord-Ierland, en nadat hulle die gasvryheid van die Londonderry-gemeente geniet het, het hulle die grens oorgesteek en uitmekaargegaan, elk na vooraf toegewese plekke in drie verskillende dele van Donegal. Hoe is hulle ontvang?

Die bewoners reageer

Die mense van Donegal is vriendelik en gasvry, daarom was dit maklik om met hulle te gesels. ’n Aantal van hulle het vrae gestel, en dit was ’n genoeë om die Bybel oop te slaan en op die duidelike antwoorde te wys. Dit was ook goed om Bybellektuur by navraers te kon laat sodat hulle hul kennis kon vermeerder wanneer die besoekers vertrek het.

Een dame wat in ’n afgeleë plaashuis woon, het twee Getuies in haar huis ingenooi. Sy het gou saamgestem dat wêreldtoestande besig is om te versleg en het verduidelik dat baie mense in die omtrek moontlik huiwerig sal wees om vreemdelinge in hul huise in te nooi weens die toename in geweld in wat vroeër ’n stil en vreedsame hoekie van Ierland was. Talle ouer persone is geslaan en beroof deur bendes misdadigers wat in die omgewing rondswerf. Waarom het sy dan die Getuies in haar huis ingenooi? Omdat hulle “so opreg” gelyk het.

Toe hierdie vrou gesien het dat Jesus se profesie oor die laaste dae besig is om vervul te word, het haar oë opgehelder, en hulle het vol trane geskiet toe sy van die opstandingshoop gehoor het (Mattheüs, hoofstuk 24; Lukas, hoofstuk 21). Haar man het 20 jaar tevore gesterf. Sy het met vreugde ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aanvaar en gevra dat iemand moet probeer om haar weer te besoek.

Hierdie soort ondervinding is keer op keer herhaal. Een jong man het baie twyfel uitgespreek oor die bestaan van God. “As God werklik bestaan”, het hy gesê, “hoekom is daar so baie goddeloosheid?” Die besoekende Getuies het getoon dat God spoedig sal ingryp in die mensdom se aangeleenthede en baie van die probleme sal oplos wat die jong man geteister het. Hy het gevra dat hulle hom weer moet besoek om sy ouers te ontmoet. Toe die Getuies weer gegaan het, het hulle ’n eksemplaar van die Paradys op aarde-boek gelaat sodat die gesin antwoorde kon vind op van hulle ander vrae.

Een jong vrou het ’n swaar verlies gely, want haar vierjarige seuntjie het ’n paar weke tevore gesterf. Sy is baie aangemoedig deur die informasie in die Paradys op aarde-boek, veral deur die verduideliking van die opstandingshoop. As gevolg van al haar droefheid oor die dood van haar seuntjie, het sy getwyfel of daar werklik ’n God bestaan. Maar toe tekste vir haar gelees is wat die toestand en hoop van die dode toon, het haar gelaat verander. Hoekom? Want sy het besef dat haar seuntjie vrede het, dat hy in die dood slaap met die moontlikheid van ’n opstanding.​—Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29.

Twee van die besoekende Getuies het ’n skool aangedoen, en die onderwyser het hulle ingenooi in ’n klaskamer met 30 jong leerlinge. Die onderwyser het met blydskap ’n eksemplaar van die publikasie My Boek met Bybelverhale aanvaar en vir die klas gesê: “Ons gaan vanmiddag ’n storie uit die boek lees.” Later, toe die groep Getuies hul middagete daar naby genuttig het, het sommige van die leerlinge kom hallo sê. Twee ander onderwysers het gekom om te hoor wat aan die gang was, en hulle het ook met graagte eksemplare van die boek aanvaar.

Later die dag het een van die Getuies ’n elfjarige seuntjie ontmoet en hom gevra: “Het jy al ooit van Jehovah se Getuies gehoor?” “Ja”, het die seun gesê, “vandag by die skool.” Hy het toe ook ’n eksemplaar van die Bybelverhale-boek gevra. Nog later, by ’n huis waar die moeder nie die Paradys op aarde-boek aanvaar het nie, het die jong kind van die huis gepraat oor die Bybelverhale-boek wat hy by die skool gesien het. Die moeder het ’n eksemplaar van daardie publikasie aanvaar.

Aan alle soorte mense

By een huis het die besoekende Getuies die illustrasies in die Paradys op aarde-boek aan ’n ouerige vrou gewys. Die dame het gemeld dat sy eintlik ’n Bybel nodig het. Die Getuies het aan haar ’n eksemplaar van die New World Translation of the Holy Scriptures verskaf. Noudat sy ’n Bybel gehad het, het die dame ook ’n eksemplaar van die Bybelstudiepublikasie geneem. Sy het haar besoekers vertel dat sy gehoor het van die Getuies se teenwoordigheid in die gebied en gebid het dat hulle haar moes opsoek en ’n Bybel bring. Nou het sy gevoel dat haar gebed verhoor is.

’n Jong man van in die dertig het twee Getuies in sy huis ingenooi. Na ’n kort Skriftuurlike bespreking het hy gesê: “Julle sal waarskynlik nie daarvan hou as julle weet wie ek is nie. Ek is ’n priester.” Die Getuies het gesê dat hulle graag met hom wou gesels, waarop die priester baie vrae oor hul geloof gevra het. Toe hy verneem het oor die gebruik van die naam Jehovah, het die besoekers vir hom ’n eksemplaar van die brosjure The Divine Name That Will Endure Forever gegee. Hy het ook ’n eksemplaar van die Paradys op aarde-boek aanvaar, ’n publikasie wat hom sekerlik sal help om sy baie vrae te beantwoord.

By ’n ander geleentheid is een van die Getuies deur ’n jong man genader wat toevallig haar gesprek oor die Bybel met ’n hotelontvangsklerk gehoor het. Hy het vrae geopper soos: “Hoekom is die wêreld in so ’n haglike toestand?” Die Getuie het hom met graagte vertel wat sy uit die Bybel oor hierdie en verwante onderwerpe geleer het. En wie was die jong man? ’n Priester wat met vakansie was in die gebied.

Afgesien van die gereelde predikingswerk van huis tot huis, is ander geleenthede aangegryp om met alle soorte mense te gesels. Op een plek in die berge het een van die minibusse langs die pad stilgehou sodat sommige passasiers rubberstewels kon aantrek vir ’n tog oor ’n turfmoeras om met ’n groep mans te gesels wat besig was om turf te steek en op te stapel vir winterbrandstof. ’n Ander groepie het by ’n skilderagtige plek lang ’n bergmeer in die woud stilgehou. In ’n motor daar naby het ’n kragstasiewerker geslaap​—hy het die rustigheid gedurende sy etensuur opgesoek. Sy stilte is versteur, maar hy het ’n baie stimulerende bespreking geniet en ’n vergadering bygewoon wat daardie aand vir die groep gereël is.

’n Ander man het met die pad langs op sy trekker gery toe ’n Getuie hom laat stilhou het en gevra het of hy ’n paar minute kon afstaan om te gesels. Hy was gewillig om oor die Bybel te praat, veral oor die “swaar tye” waarin ons lewe (2 Timotheüs 3:1-5). Sy belangstelling het baie vergroot toe die illustrasies in die Paradys op aarde-boek aan hom gewys is. Die man was verheug om te hoor dat hierdie publikasie vir Bybelbesprekings deur die gesin gebruik kan word en het gesê dat hy dit onmiddellik sou begin gebruik om sy ses kinders te onderrig.

Die energieke besoekende bedienaars uit alle ouderdomsgroepe, bygestaan deur die klein groepie plaaslike Getuies in Donegal, het goeie rede om verheug te wees oor hul werk. Gedurende die twee weke wat die besoekers daar was, het hulle 5 767 uur daaraan bestee om met ander oor die Bybel te praat. Hulle het 1 613 boeke en Bybels versprei, asook 2 611 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! Wat sommige huisbewoners veral waardeer het, was die Ierse uitgawe van die publikasie My Boek met Bybelverhale.

Geen arrogante dogmatisme of eiegeregtige gevoelens het .die besoekende Getuies na Donegal gebring nie. Hulle wou eerder die goeie nuus deel met mense wat, omdat hulle in ’n afgeleë gebied woon, nie baie geleentheid gehad het om dit te hoor nie. In kommentaar op ’n vroeëre besoek van soortgelyke aard het ’n plaaslike koerant die deelnemers “swaeltjies” genoem. Skynbaar was dit om te suggereer dat hulle net gekom het vir die somer en dat hulle weldra sou wegvlieg. Maar daardie “swaeltjies”, of ander soos hulle, sal terugkeer om opregte mense te help om ’n juiste kennis van die Bybel se wonderlike beloftes te verkry. Trouens, sommige wat deelgeneem het aan vroeëre getuienisuitstappies het hulle nou permanent in Donegal gevestig.

“Dit was die beste veldtog tot dusver.” Dit was een van die baie betuigings van waardering en blydskap van sommige wat die reis meegemaak het. Hulle het die waaragtigheid van die Bybelse spreekwoord ervaar: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf” (Spreuke 11:25). Ja, dit was ’n groot seën om deel te neem aan ’n spesiale poging om die goeie nuus in Donegal te verkondig. Kan jy deel hê aan soortgelyke lonende diens aan Jehovah in jou deel van die wêreldveld wat nou ryp is vir ’n oorvloedige oes?

[Kaarte/Prent op bladsy 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DONEGAL

NOORD-IERLAND

Londonderry

Belfast

IERLAND

[Kaart]

EUROPA

ATLANTIESE OSEAAN

[Prent]

Hulle was verheug om die goeie nuus in Donegal te verkondig

[Prent op bladsy 30]

Verkondiging van huis tot huis in Noordwes-Ierland

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel