Die Bybel—prakties vir jou
HY HET jou bekend gemaak, o mens, wat goed is”, het ’n man van God meer as 2 700 jaar gelede geskryf (Miga 6:8). Maar is dit “goed” of prakties vir ons in ons moderne tyd?
“Die Bybel is geskrywe lank voordat enigiemand enigiets van moderne sielkunde en die psigoseksuele ontwikkelingsproses geweet het”, sê dr. Chesen. “Al het die skrywers daarvan die allerbeste bedoelinge gehad, kon hulle nie hierdie belangrike faktore in ag geneem het nie. En tog het die Bybel en die vertolkers daarvan baie te sê wanneer dit kom by sedes en/of gebooie.”
Dit kon ’n geldige punt gewees het indien die Bybel die produk van die mens se denke was. Soos getoon in ons nommer van 1 April 1986 is die Bybel egter nie die mens se woord nie, maar God s’n. Hierdie belangrike feit kan nie oor die hoof gesien word nie. Waarom nie? Omdat God se kennis nie deur tyd en omstandighede beperk word soos die mens s’n nie, en ook nie aan verandering onderhewig is nie. As die Skepper van die mensdom het God ’n deeglike kennis van ons samestelling en weet hy wat die beste vir ons is. Daarom sê die apostel gepas: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17.
Wat dan van die ontsaglike veranderinge wat in ons moderne tyd plaasgevind het? Word daar nie gemeen dat ons in ’n vryer en meer verligte eeu lewe nie? Is talle van die tradisionele beperkinge nie deur die gemeenskap in die algemeen verwerp nie? Ja, maar ondanks die groter kennis en nuutgevonde “vryheid” het die mens se basiese behoeftes en samestelling nie verander nie. Innerlik is ons steeds dieselfde. Ons het, net soos ons voorvaders, steeds ’n drang om te eet, te drink, te slaap, voort te bring en te aanbid. Ons het steeds ’n behoefte aan liefde en toegeneentheid en ons wil gelukkig wees. Ons wil steeds sinvolle lewens lei.
Bybelbeginsels behandel hierdie behoeftes. Daarbenewens is die Bybel se leerstellings vir ons beswil, selfs in hierdie moderne tyd. Die resultate wat spruit uit die toepassing van die Bybel se raad is boonop voortrefiiker as enige wat op ander maniere verkry word. Kom ons ondersoek kortliks hoe dit ten opsigte van sedelikheid, geldsake en gesondheid geld.
Die Bybel en sedelikheid
Een van die grootste veranderinge in ons moderne tyd was ten opsigte van beskouings oor sedelikheid. Gebruike wat voorheen as afstootlik beskou is, het aanvaarbaar geword. Vroue wat buite-egtelike kinders baar, word nie meer deur die gemeenskap verstoot nie. Homoseksuele beywer hulle openlik vir hulle “regte”. ’n Algemene beskouing is dat niemand die reg het om te kla oor of in te meng met enige gebruike wat tussen instemmende volwassenes plaasvind nie. En die Bybel se standaarde word as Victoriaans verwerp.
Maar die Bybel se standaarde is lank voor die 19de eeu, die tyd van koningin Victoria van Engeland, deur God vasgestel. En hulle deug steeds vir die mensdom. Dit kan beslis gesien word wanneer ’n mens in ag neem dat egskeidingsyfers wat die hoogte inskiet, talryke aborsies, ’n epidemie tienerswangerskappe en ’n groot verskeidenheid seksueel oordraagbare siektes hand aan hand gaan met die “nuwe moraliteit”. Dit is duur, verswakkende en selfs dodelike probleme. Sou dit nie meer prakties wees om die Bybel se raad oor seks, kuisheid en huwelikstrou te volg nie?—Spreuke 5:3-11, 15-20; Maleagi 2:13-16; Hebreërs 13:4; 1 Korinthiërs 6:9, 10.
Let veral op hoe dit geld in die geval van net een siekte, soos getoon in hierdie berig uit The New York Times: “‘VIGS versprei steeds vinnig onder diegene in die risikogroepe, maar nie buite hulle nie’, het dr. David J. Sencer, die stad New York se gesondheidskommisaris, gesê. . . . Diegene wat in gevaar verkeer, sluit homoseksuele en biseksuele mans in; gebruikers van binneaarse dwelms; . . . diegene wat oortappings van besmette skenkers ontvang en die geslagsmaats of kinders van diegene wat VIGS het.”
Wat het meer sin—’n paar minute van ongeoorloofde genot, wat dikwels gepaard gaan met vrees en kommer, of ’n skoon gewete en selfrespek? Wat bring blywende geluk en bevrediging—’n kortstondige verhouding met die moontlikheid van tragiese gevolge, of die stewige verbintenis van ’n rein huwelik wat deur die Bybel voorgestaan word?
Die Bybel en geldsake
Min mense meen dat die Bybel ’n oplossing vir geldelike probleme bevat. Maar as die standaarde daarin gevolg word, kan dit in werklikheid meer brood op jou tafel plaas. Hoe so?
’n Groot deel van ’n persoon se verdienste word dikwels onnodig verkwis. Die toepassing van die Bybel se raad sal hierdie geld vir nuttige doeleindes bewaar. ’n Gebruik wat dikwels tot armoede lei, is byvoorbeeld oormatige drinkery. Miljoene mense sit af na kroeë of drankwinkels met hulle loon in die hand. In baie gevalle gaan hulle daar weg sonder genoeg geld om rekeninge te betaal of voldoende voedsel vir hulle gesinne te voorsien. Geld moet soms geleen word om lewensnoodsaaklikhede te bekom. Die Bybel veroordeel oormatige drinkery wyslik; dit staan matigheid voor.—Spreuke 23:20, 21, 29, 30; 1 Timotheüs 3:2, 3, 8.
Dieselfde geld vir diegene wat begin rook of dwelms gebruik. Hoe duur is hierdie gewoontes tog! En hoe moeilik om daarmee te breek! Hierdie brief aan sielkundige Joyce Brothers, soos gepubliseer in die New York Post, is tipies: “Ek het kokaïen begin gebruik omdat dit pret was en die meeste van my vriende dit naweke gesnuif het. Wel, dit bederf werklik alles wat goed is in my lewe en ek sukkel vreeslik om dit op te gee. Ek is die moeder van twee kinders en ek is baie bang dat as ek nie binnekort ophou nie hulle gaan ly. Ek rook twee keer per dag suiwer kokaïen. Ek is tot oor die ore in die skuld, ek is ongelukkig.”
’n Ander dwelmgebruiker het geskryf: “Ek en my man is albei suksesvolle beroepsmense wat al drie jaar lank kokaïen gebruik. Dit was aanvanklik aangenaam, maar nou word dit al hoe belangriker. Trouens, dit neem ons lewens oor. Ons is nou in die skuld omdat ons gewoontes ’n fortuin kos. Ons altwee het al werklik slegte ondervindinge onder die invloed daarvan gehad. Party dae hou die hallusinasies nooit op nie.”
Rokers word ook finansieel deur hulle gewoonte benadeel, hoewel miskien nie in dieselfde mate nie. ’n Onlangse berig in die tydskrif Modern Office Technology sê: “Volgens ’n landwye opname wat onlangs vrygestel is, staan nie-rokers wat werk soek ’n baie beter kans om aangestel te word as ewe gekwalifiseerde werksoekers wat rook. Die studie, gebaseer op onderhoude met onderhoofbestuurders en personeelbestuurders van Amerika se grootste maatskappye . . . het geopenbaar dat die oorgrote meerderheid hedendaagse werkgewers werksoekers wat nie rook nie, verkies.” Waarom? Omdat, soos getoon in ’n kongresopname, rook die land se gesondheidsorgkoste, met inbegrip van mediese rekeninge en verlore produktiwiteit, met sowat R130 miljard per jaar laat styg—dit is gelyk aan R4,34 vir elke pakkie sigarette wat verkoop word!
Ja, dit help ’n persoon finansieel as hy bloot die Bybel se raad gehoorsaam: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig” (2 Korinthiers 7:1). En dieselfde geld vir diegene wat, in gehoorsaamheid aan Bybelbeginsels, alle vorme van dobbel vermy (Jesaja 65:11, 12; Lukas 12:15). Daarbenewens waardeer werkgewers diegene wat aan Bybelbeginsels vashou grootliks vir hulle eerlikheid, onkreukbaarheid en vlyt, en hulle is waarskynlik die eerstes wat aangestel en die laastes wat afgedank sal word.—Kolossense 3:22, 23; Efesiërs 4:28.
Die Bybel en gesondheid
Is die Bybel se raad uitgedien, aangesien ons vandag op mediese gebied so gevorderd is? Wel, ’n feit wat navorsers verstom het, is hoe akkuraat en op die hoogte die Bybel is oor sake rakende medisyne en gesondheid, hoewel dit geskrywe is in ’n tyd toe bygelowigheid algemeen was en daar min of geen kennis oor moderne mediese gebruike, of selfs kieme en virusse, was nie.
Ondanks die moderne mediese wetenskap is daar natuurlik baie gesondheidsprobleme. Maar die Bybel se raad werk die allerbeste gesondheid in die hand. Soos reeds gemeld, beskerm die toepassing van Bybelbeginsels ons teen gebruike wat baie nadelig is vir ons gesondheid. Dit help ook om ons geestesgesondheid te verbeter. Die Bybel erken die uitwerking wat gesindhede en emosies op die liggaam het (Spreuke 14:30). Dit lei ons dus weg van skadelike gesindhede en emosies, en dit help ons om dit deur positiewe, opbouende eienskappe te vervang.
Let op die raad in Efesiërs 4:31, 32: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Ja, die Bybel beklemtoon ’n verandering van ’n vernietigende, skadelike persoonlikheid na die nuwe, gesonde Christelike persoonlikheid (Efesiërs 4:20-24; Kolossense 3:5-14). Dit help ons om die vrugte van God se gees te openbaar: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Die Bybel voorsien heilsame voedsel waarop die verstand en die hart kan voed en waardeur dit vrede kan geniet.—Spreuke 3:7, 8; 4:20-22; Filippense 4:6-8.
Daarbenewens raak diegene wat by Bybelreëls hou nie betrokke by misdade, onluste, opstande of ander dinge wat liggaamlike besering kan veroorsaak nie. Hulle het ’n goeie gewete, wat grootliks daartoe bydra dat hulle ’n gelukkige gesindheid en goeie fisiese gesondheid behou (1 Petrus 3:16-18). Diegene wat die Bybel se raad toepas, geniet boonop ’n hartlike, lonende, gelukkige gesinslewe, sowel as vreedsame verhoudinge met ander.
Ja, die Bybel is prakties vir ons dag. Dit blyk duidelik in die lewens van miljoene wat waarlik die beginsels daarvan toepas. En dit kan jou help. Jy word genooi om die leerstellinge daarvan in jou lewe op die proef te stel. Jehovah se Getuies sal jou graag wys hoe jy dit kan doen.