Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/1 bl. 11-15
  • God se Woord is die waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se Woord is die waarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Getuig deur gedrag
  • Die Bybel se oortreffende wysheid
  • Die Bybel se raad—unieke wysheid
  • Dit bring blywende voordele mee
  • Moeilike lewensprobleme
  • ’n Hoër bron van wysheid
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Die Bybel en jy
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Moenie deur “die wysheid van hierdie wêreld” mislei word nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Ware wysheid roep hard uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/1 bl. 11-15

God se Woord is die waarheid

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”—JOHANNES 17:17.

1. Hoe het die Hebreeuse psalmis die Bybel beskou, maar hoe beskou baie mense dit vandag?

“U WOORD is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Dit was die woorde van die Hebreeuse psalmis. Vandag het net ’n minderheid sulke respek vir God se Woord. In hierdie 20ste eeu bestaan God se Woord in geskrewe vorm as die Heilige Bybel. Dit is in meer tale vertaal en geniet ’n wyer verspreiding as enige ander boek in die geskiedenis. Maar die meeste mense weier om dit as ’n lamp vir hulle voete te aanvaar. Selfs diegene wat beweer dat hulle Christene is, volg meestal liewer hulle eie kop as om die Bybel ’n lig vir hulle pad te laat wees.—2 Timotheüs 3:5.

2, 3. Hoe beskou Jehovah se Getuies die Bybel, en watter voordele het dit vir hulle meegebring?

2 In skerp teenstelling hiermee is ons as Jehovah se Getuies dit eens met die psalmis. Die Bybel is vir ons ’n godgegewe gids. Ons weet “die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timotheüs 3:16). In teenstelling met baie mense wat vandag leef, wil ons nie met sedelike en gedragsaangeleenthede eksperimenteer nie. Danksy die Bybel weet ons wat reg is.

3 Dit het groot voordele vir ons meegebring. Ons het Jehovah leer ken, en ons het van sy wonderlike voornemens met die aarde en die mens geleer en gevolglik is ons vol vertroue dat ’n blink toekoms vir ons en ons gesinne moontlik is. Ons stem van ganser harte saam met die psalmis wat gesê het: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.”—Psalm 119:97, 98.

Getuig deur gedrag

4. Onder watter verpligting kom ons as ons erken dat die Bybel God se Woord is?

4 Ons het derhalwe goeie rede om saam te stem met Jesus se woorde aan sy Vader: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Maar as ons hierdie feit erken, plaas dit ons onder ’n verpligting. Ons moet ander help om te besef dat God se Woord die waarheid is. Sodoende kan hulle ook die seëninge geniet wat ons ervaar. Hoe kan ons hulle in hierdie opsig help? Vir eers moet ons hard probeer om Bybelbeginsels in ons daaglikse lewe toe te pas. Sodoende sal regskapenes sien dat die Bybel se manier werklik die beste is.

5. Watter raad het Petrus gegee oor hoe ons deur ons gedrag kan getuig?

5 Dit was die kern van die apostel Petrus se raad aan Christinne wie se mans ongelowiges was. Hy het vir hulle gesê: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1). Dit was ook die onderliggende beginsel van sy raad aan alle Christene—mans, vroue en kinders—toe hy gesê het: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”—1 Petrus 2:12; 3:16.

Die Bybel se oortreffende wysheid

6. Hoe help Petrus ons om te sien dat ons ander moet help om die Bybel te waardeer?

6 Daarbenewens kan Christene ander help om die Bybel te waardeer as hulle ook hierdie raad van Petrus volg: “Heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Petrus 3:15). Christenbedienaars moet die Bybel kan verdedig en aan ander kan bewys dat dit God se Woord is. Hoe kan hulle dit doen?

7. Watter feit omtrent die Bybel toon dat dit God se Woord moet wees?

7 Ons vind ’n baie oortuigende redenasie in die boek Spreuke. Daar lees ons: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, . . . [sal jy] die kennis van God vind . . . want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:1-6). Die wysheid van God self word in die bladsye van die Bybel gevind. Wanneer ’n opregte persoon daardie diepgaande wysheid sien, kan hy nie anders nie as om te besef dat die Bybel meer as net die woord van die mens is.

8, 9. Hoe is die Bybel se raad oor ’n gebalanseerde beskouing van die verkryging van rykdom waar bewys?

8 Beskou ’n paar voorbeelde. Vandag word sukses in die lewe gewoonlik aan finansiële maatstawwe gemeet. Hoe meer geld iemand verdien, hoe suksesvoller dink mense is hy. Die Bybel waarsku egter teen te veel klem op materiële dinge. Die apostel Paulus het geskryf: “Die wat wil ryk word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”—1 Timotheüs 6:9, 10; vergelyk Mattheüs 6:24.

9 Die ondervinding het getoon hoe gepas hierdie waarskuwing is. ’n Kliniese psigoloog sê: “Die feit dat jy die hoogste sport bereik en ryk geword het, gee jou nie ’n gevoel van voldoening en tevredenheid nie en laat jou nie voel dat ander jou waarlik respekteer of liefhet nie.” Ja, diegene wat al hulle krag gebruik om rykdom na te jaag, is dikwels op die ou end verbitterd en gefrustreerd. Hoewel die Skrif die waarde van geld erken, vestig dit die aandag op iets veel belangrikers: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.”—Prediker 7:12.

10. Waarom moet ons ag slaan op die Bybel se raad om op ons omgang te let?

10 Die Bybel bevat baie sulke voorskrifte. Nog een is: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Die ondervinding het ook hierdie woorde waar bewys. Portuurdwang het jongmense in dronkenskap, dwelmmisbruik en onsedelikheid laat verval. Enigiemand wat omgaan met dié wat vuil taal gebruik, begin uiteindelik self sulke vieslike taal gebruik. Baie mense steel by hulle werkgewers omdat ‘almal dit doen’. Dit is waarlik soos die Bybel ook sê: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.

11. Hoe het ’n sielkundige studie getoon dat dit wys is om die Gulde Reël te volg?

11 Een van die bekendste vermanings in die Bybel is die sogenaamde Gulde Reël: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). As die mensdom hierdie reël sou gehoorsaam, sou die wêreld beslis ’n beter plek wees. Maar selfs as mense oor die algemeen nie aan hierdie reël gehoorsaam is nie, is dit vir jou as persoon beter om daaraan gehoorsaam te wees. Waarom? Want ons is gemaak om vir ander om te gee en oor hulle besorg te wees (Handelinge 20:35). ’n Sielkundige studie wat in die Verenigde State gedoen is om uit te vind hoe mense reageer wanneer hulle ander help, het tot hierdie slotsom gelei: “Dit lyk dus of dit net so veel ’n deel van die mensenatuur is om vir ander om te gee as om vir jouself om te gee.”—Mattheüs 22:39.

Die Bybel se raad—unieke wysheid

12. Wat is een ding wat die Bybel uniek maak?

12 Behalwe die Bybel is daar vandag natuurlik baie bronne van raad. Koerante publiseer adviesrubrieke en boekwinkels is vol boeke oor selfverbetering. Daar is ook nog sielkundiges, professionele raadgewers en ander wat op verskillende gebiede advies gee. Maar die Bybel is in ten minste drie opsigte uniek. Eerstens is die raad daarin altyd voordelig. Dit is nooit bloot teoreties nie, en dit benadeel ons nooit nie. Enigiemand wat die Bybel se raad volg, moet met die psalmis saamstem toe hy in gebed tot God gesê het: “U getuienisse [“vermanings”, NW] is baie betroubaar.”—Psalm 93:5.

13. Wat toon dat die Bybel ver verhewe bo menslike bronne van wysheid is?

13 Tweedens is die Bybel deur die tyd beproef (1 Petrus 1:25; Jesaja 40:8). Almal besef dat raad uit menslike bronne veranderlik is, en wat een jaar in die mode is, word dikwels die volgende jaar gekritiseer. Maar al is die Bybel bykans 2 000 jaar gelede voltooi, bevat dit steeds die allerverstandigste raad en is sy woorde universeel van toepassing. Dit is ewe geldig of ons in Afrika, in Asië, in Suid- of Noord-Amerika, in Europa of op ’n eiland van die see woon.

14. In watter sin is die raad van God se Woord sonder gelyke?

14 Ten laaste is die wye omvang van die Bybel se raad sonder gelyke. ’n Bybelspreuk sê: “Jehovah self gee wysheid”, en daar is wysheid in die Bybel wat ons help om ’n oplossing te vind, ongeag die probleem of besluit waarvoor ons staan (Spreuke 2:6, NW). Kinders, tieners, ouers, bejaardes, werknemers, werkgewers en gesaghebbers vind almal dat die wysheid in die Bybel op hulle van toepassing is (Spreuke 4:11). Die Bybel gee ons raad wat werk selfs wanneer ons voor situasies te staan kom wat onbekend was in die tyd van Jesus en sy apostels. Byvoorbeeld: In die eerste eeu was die rookgewoonte onbekend in die Midde-Ooste. Vandag is dit algemeen. Tog sal enigiemand wat ag slaan op die Bybel se raad om hom nie “deur iets [te] laat oorheers nie” en om rein te bly van “alle besoedeling van die vlees en die gees” hierdie gewoonte vermy, wat verslawend is en ’n mens se gesondheid aantas.—1 Korinthiërs 6:12; 2 Korinthiërs 7:1.

Dit bring blywende voordele mee

15. Waarom beweer baie mense dat die Bybel ouderwets is?

15 Baie mense sê weliswaar dat die Bybel ouderwets en ontoepaslik in hierdie 20ste eeu is. Maar dit is waarskynlik omdat die Bybel nie sê wat hulle wil hoor nie. As ons skriftuurlike raad volg, bring dit blywende voordele vir ons mee, maar dit verg dikwels geduld, dissipline en selfverloëning—eienskappe wat nie gewild is in ’n wêreld wat ons aanspoor om onmiddellike bevrediging na te jaag nie.—Spreuke 1:1-3.

16, 17. Watter hoë standaarde van geslagsedelikheid sit die Bybel uiteen, en hoe word dit vandag geïgnoreer?

16 Beskou die kwessie van geslagsedelikheid. Skriftuurlike standaarde is baie streng. Geslagsomgang is slegs in die huwelik geoorloof, en alle buite-egtelike geslagsomgang is verbode. Ons lees: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:10). Bowendien vereis die Bybel monogamie van Christene, een man vir een vrou (1 Timotheüs 3:2). En hoewel uiterste gevalle voorkom waar egskeiding of skeiding toegelaat word, sê die Bybel dat die huweliksband oor die algemeen lewenslank moet duur. Jesus self het gesê: “Hy wat hulle gemaak het, [het] hulle van die begin af man en vrou gemaak . . . [en gesê]: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees . . . Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”—Mattheüs 19:4-6, 9; 1 Korinthiërs 7:12-16.

17 Hierdie standaarde word vandag alom geïgnoreer. Losbandigheid word geduld. Geslagsomgang tussen tieners wat met mekaar uitgaan, word as normaal beskou. Voorhuwelikse saamlewery word aanvaar. Onder egpare is dit nie ongewoon dat die een of die ander huweliksmaat ongeoorloofde seksuele verhoudings het nie. En egskeiding is pandemies in die hedendaagse wêreld. Hierdie verslapte standaarde het egter nie geluk meegebring nie. Die slegte gevolge het bewys dat die Bybel tóg reg is as dit op streng sedelike standaarde aandring.

18, 19. Wat was die gevolg omdat Jehovah se sedelike standaarde alom geïgnoreer is?

18 Ladies’ Home Journal het gesê: “Die klem op seks waardeur die sestiger- en sewentigerjare gekenmerk is, het nie oneindige mensegeluk meegebring nie, maar wel ernstige mense-ellende.” Die “ernstige mense-ellende” wat hier gemeld word, sluit die ellende van kinders in wat ly weens hulle ouers se egskeiding sowel as die ellende van volwassenes wat diep emosionele pyn deurmaak. Dit sluit ook ’n toename van enkelouergesinne in, sowel as ’n epidemie van jong, ongetroude meisies wat babas het wanneer hulle self nie veel meer as kinders is nie. Dit sluit verder ’n pandemie van seksueel oorgedraagde siektes in, soos genitale herpes, gonorree, sifilis, chlamydia en Vigs.

19 Met die oog op al hierdie dinge het ’n sosiologieprofessor gesê: “Miskien is ons volwasse genoeg om te besluit of dit nie vir ons almal beter sal wees om voorhuwelikse onthouding voor te staan as ’n beleid wat op die beste manier in ons burgers se behoeftes voorsien en aan hulle reg op vryheid voldoen nie: vryheid van siekte en vryheid van ongewenste swangerskap.” Die Bybel sê tereg: “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie” (Psalm 40:5). Diegene wat die Bybel se wysheid vertrou, word nie mislei deur die leuens van diegene wat die Bybel misken en sê dat losser sedes geluk bring nie. Die Bybel se wyse standaarde is vir ons beswil, al is hulle streng.

Moeilike lewensprobleme

20. Watter Bybelbeginsels is nuttig vir diegene wat met volslae armoede te kampe het?

20 Die Bybel se wysheid help ons ook om die moeilike lewensprobleme waarmee ons te kampe het die hoof te bied. In baie lande bevind party Christene hulle byvoorbeeld in volslae armoede. Tog leef hulle met hul armoede saam en vind hulle steeds geluk. Hoe? Deur die geïnspireerde Woord van God te volg. Hulle neem die vertroostende woorde van Psalm 55:23 ernstig op: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou.” Hulle vertrou op God vir krag om te volhard. Dan pas hulle Bybelbeginsels toe en vermy hulle skadelike, verkwistende gewoontes, soos die rookgewoonte en dronkenskap. Hulle is vlytig, soos die Bybel ons aanraai om te wees, en vind dus dat hulle dikwels hulle gesinne kan voed terwyl lui mense of dié wat voor wanhoop swig dit nie kan doen nie (Spreuke 6:6-11; 10:26). Bowendien slaan hulle ag op die Bybel se waarskuwing: “Beny hulle nie wat onreg doen nie” (Psalm 37:1). Hulle verlaat hulle ook nie op dobbelary of misdade, soos dwelmsmousery nie. Hierdie dinge bied dalk ’n vinnige “oplossing” vir hulle probleme, maar op die lange duur is die vrugte daarvan wrang.

21, 22. (a) Hoe het een Christin hulp en bemoediging uit die Bybel geput? (b) Watter verdere feit omtrent die Bybel help ons om te besef dat dit God se Woord is?

21 Is dit werklik vir brandarmes nuttig om die Bybel te volg? Ja, en baie, baie ondervindinge bewys dit. Een Christenweduwee in Asië skryf: “Hoewel ek van die hand in die tand lewe, is ek nie gegrief of bitter nie. Bybelwaarheid gee my ’n positiewe beskouing.” Sy sê dat ’n merkwaardige belofte van Jesus inderdaad in haar geval bewaarheid is. Jesus het gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Sy sê dat sy altyd op die een of ander manier die materiële lewensbenodigdhede ontvang omdat sy haar diens aan God eerste in haar lewe stel. En haar Christelike diens gee haar waardigheid en ’n doel in die lewe wat haar armoede draaglik maak.

22 Ja, die diepte van die Bybel se wysheid toon dat dit werklik God se Woord is. Geen boek wat net deur mense geskryf is, kan soveel verskillende aspekte van die lewe dek, sulke diep insig bevat en so konsekwent reg wees nie. Maar daar is nog ’n feit omtrent die Bybel wat die goddelike oorsprong daarvan toon. Dit het die vermoë om mense ten goede te verander. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

Kan jy verduidelik?

◻ Hoe word Jehovah se Getuies geseën omdat hulle die Bybel as God se Woord aanvaar?

◻ Onder watter verpligting is ons omdat ons in God se Woord glo, en hoe kan ons gedrag ons help om hierdie verpligting na te kom?

◻ Wat maak die Bybel se wyse raad beter as bloot menslike raad?

◻ Wat is party voorbeelde wat die diepte van die Bybel se wysheid toon?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel