’n Heuglike hoogtepunt van 80 jaar se insameling
INDIË! ’n Land van baie kontraste—in kultuur, gelowe, gebruike en klimaat. Dit is ’n land wat vir baie vreemd en geheimsinnig is, tog boeiend vir almal wat hier besoek aflê.
Dwarsdeur hierdie uitgestrekte subkontinent, met sy 775 miljoen mense, was die gedagtes van liefhebbers van Jehovah God gerig op ’n spesiale gebeurtenis in die dorpie Lonavla, hoog in die Wes-Ghats van die staat Maharashtra. Dit was Sondag, 20 Januarie 1985.
Waarom was die gedagtes van so baie op daardie besondere dag gerig op hierdie lieflike heuweldorp, 110 kilometer van die oorbevolkte metropolis Bombaai? Die antwoord lê by die insameling van Jehovah se kosbare dinge—sy knegte—die afgelope 80 jaar in Indië. Dit is ’n rede tot blydskap nie alleen vir die meer as 7 000 getuies van Jehovah in hierdie land nie, maar ook vir die hele broederskap van God se volk wêreldwyd.
Maar laat ons vlugtig kyk hoe die fondamente van die waarheid gedurende die afgelope agt dekades hier verstewig is. Dit sal ons help om die belangrikheid van hierdie spesiale gebeurtenis beter te besef.
Die waarheidslig bereik Indië
In 1905 het ’n Indiese wetenskapstudent, S. P. Davey, die Verenigde State van Amerika besoek. Terwyl hy daar was, het hy gaan luister na ’n Bybellesing deur C. T. Russell, die destydse President van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Davey se belangstelling in die waarheid is gaande gemaak, hy het na sy geboortestad Madras aan die ooskus van Indië teruggekeer en uiteindelik 40 Bybelstudiegroepe op die been gebring.
Omstreeks dieselfde tyd het ’n jong Indiër antwoorde gesoek op vrae in verband met die Drie-eenheidsleer en kinderdoop. A. J. Joseph was op daardie tydstip ’n lidmaat van die Anglikaanse Kerk, maar hy het ’n eksemplaar van Russell se boek At-One-Ment Between God and Men deur die pos ontvang. Hierdie publikasie het Joseph gehelp om die waarheid aangaande Jehovah se oppermag te sien. Joseph, sy vader en een van sy neefs het eerlank die Bybelwaarheid verkondig in die rysboudorpies en klapperplantasies van wat nou die staat Kerala is. Nadat broer Russell Indië in 1912 besoek het, het Joseph ’n voltydse Koninkryksverkondiger geword. In 1924 het hy man-alleen ’n lesingreis van 5 800 kilometer deur Indië aangepak en baie mense so die geleentheid gegee om die waarheid te hoor. Broer Joseph was ’n ywerige werker tot by sy dood in 1964.
Die tweede President van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, het Engeland in 1926 besoek. Tydens die besoek het hy Edwin Skinner, ’n kolporteur (voltydse prediker), gevra: “Sal jy daarvan hou om na Indië te gaan?” Sonder aarseling het broer Skinner geantwoord: “Wanneer wil u hê moet ek gaan?” Binne drie weke was hy en sy metgesel op pad na Indië!
Die daaropvolgende 50 jaar het Edwin Skinner as takkneg gedien. Aanvanklik het hy toesig gehou oor die werk in Indië, Ceylon, Persie, Afganistan en Birma. Hy het groot dele van Indië per trein deurreis, en hy en sy metgesel het beurte gemaak om die kantoorwerk en die reis- en predikingswerk te behartig. Later het hulle ’n “woonbus” aangeskaf en hulle getuieniswerk uitgebrei na gebiede wat nie met die trein bereik kon word nie. Op die ouderdom van 91 is broer Skinner nog steeds ’n geesdriftige werker in die Indiese takkantoor en ’n uitmuntende verkondiger van die goeie nuus.
Gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het in 1947 in Indië begin aankom. Britsgebore Richard Cotterill was een van die eerste sendelinge, en hy is na 38 jaar nog bedrywig. Die regeringsbeleid verhinder nou reeds geruime tyd dat nuwe sendelinge uit die buiteland na Indië kom. Maar 17 broers en susters, met gemiddeld 30 jaar elk in die sendingdiens, dien getrou in die land.
Die Indiese broers self het groot geestelike vooruitgang gemaak, en talle is nou bekwaam om as spesiale pioniers en reisende opsieners gebruik te word. In 1983 is twee kursusse van die Wagtoring-Bybelskool, wat elk tien weke geduur het, by die takkantoor gehou. Die 46 spesiale pioniers wat dit bygewoon het, is aangespoor en toegerus om die groot uitdagings in Indië se insamelingswerk beter die hoof te bied. Hulle het meegehelp om die werk na nuwe gebiede uit te brei.
Vrugte ondanks hindernisse
Ten spyte van die uiteenlopende uitdagings van die ontsaglike Indiese gebied—groot en oorbevolkte stede, hele gemeenskappe wat onder die behoeftepeil lewe, diep gewortelde godsdienstradisies wat daaglikse bedrywighede van geboorte af tot die dood toe bepaal—gaan die insameling voort. Onder Indië se wemelende miljoene is daar sommige wat soek na die oplossing vir die mensdom se probleme en wat hunker na ’n beter begrip van God.
Een so ’n persoon is Dadu. As ’n jong man het Dadu diep nagedink oor die feit dat ontelbare mense so baie gode aanbid. Hy het die Bybel begin lees, maar baie daarvan was vir hom onverstaanbaar. Hy het toe na Hindoe-tempels gegaan en boeke van daardie geloof begin lees.
“Daar is aan my gesê dat die heer Krisjna die beheerder van alle gelowe is en dat elke geloof voorgestel word deur ’n kraletjie van die halsnoer wat hy om sy nek dra”, vertel Dadu. “As dit so is, het ek gedink, waarom haat die verskillende gelowe mekaar dan, iets wat so dikwels tot bloedvergieting lei?” Later het ’n ondersoek van die Moslem-geloof Dadu laat glo dat hy met verskeie van sy gestorwe voorouers in aanraking was. Maar uit ’n studie van die Bybel met Jehovah se Getuies het Dadu en sy vrou geleer waar die wêreld se talle gelowe vandaan kom en dat die sogenaamd goeie geeste met wie hulle gekommunikeer het bedrieërs, demone, was. “Ons is Jehovah God dankbaar vir die kennis wat ons van hulle invloed bevry het”, sê Dadu. Nou is hy sowel as sy vrou voltydse bedienaars.
Sewe jaar gelede het ’n moeder ’n Bybel en Bybellektuur by Jehovah se Getuies gekry. Hoewel sy en haar gesin na gebiede verhuis het waar daar geen Getuies was nie, het sy aangehou om op haar eie te studeer. Nadat sy onlangs weer deur die Getuies besoek is, het sy vertel: “Gedurende die afgelope jare kon ek nie die waarhede vergeet wat ek uit die Bybel geleer het nie. Dit was vir my onmoontlik om terug te keer na my vroeëre aanbidding.”
Lektuur in baie tale
Vyftien hooftale word in Indië gepraat, en nege afsonderlike soorte skrif word gebruik. Dit was en is steeds ’n uitdaging om geestelike voedsel in al hierdie tale te verskaf. Reeds in 1912 het broer Russell gereël dat boekies oor Bybelonderwerpe in Hindoestani, Goedjarati, Malabaars, Mahratti, Telugu en Tamil vertaal word. Ander landstale is later ingesluit, en die meeste van hierdie lektuur is in die buiteland gedruk en ingevoer. Toe, in die vroeë sestigerjare, het die regering ’n verbod ingestel op die invoer van enige publikasies in die Indiese landstale.
Aangesien dit nie vir die tak prakties was om sy eie drukwerk te doen nie, het die Genootskap van kommersiële drukkers gebruik gemaak. Gekose pioniers is geleer om toesig te hou oor die publikasie in hulle omgewing. Daar word tans van drukkerye op 11 verskillende plekke gebruik gemaak, met Bybellektuur wat in 16 tale uitgegee word. Daaronder is nege uitgawes van Die Wagtoring. Binnekort, met die installering van MEPS (die Genootskap se Multitalige Elektroniese Fotosetstelsel), sal die publikasies by die takkantoor geset en opgemaak word. Dit sal beteken dat baie pioniers meer tyd aan die insamelingswerk kan bestee.
Die vrug van 80 jaar
As die nasie met die naasgrootste bevolking op aarde is daar ’n geweldige hoeveelheid werk wat nog in Indië gedoen moet word. Net ongeveer 6,6 persent van die bevolking is tot dusver met die goeie nuus bereik. Vergeleke met die meeste ander lande was die groei van Jehovah se volk in Indië stadig. Dit het 53 jaar geduur voor daar 1 000 verkondigers was. Maar die sendelinge en Indiese broers het onvermoeid en geduldig aangehou om hulle Vader se wil te doen (Jesaja 60:22). Nou verheug ons ons oor ’n vermeerdering van 10 persent vergeleke met verlede jaar en ’n hoogtepunt van 7 410 verkondigers in die land se 340 gemeentes en afgesonderde groepe.
Hierdie bestendige groei het ’n behoefte aan groter takgeriewe laat ontstaan. Dit was egter onmoontlik om Indië se tak in Bombaai uit te brei. En grond in daardie stad was skaars en duur. Daar word boonop beweer dat die luggehalte in Bombaai ’n mens se lewensduur met tien jaar verkort. Gevolglik is ’n perseel in 1978 in die heuweldorp Lonavla gekoop, die eerste plek suid van die stad Bombaai waar pad en spoor ontmoet. Omdat die dorp op ’n hoogte van 610 meter lê, is die lug relatief onbesoedeld.
’n Taak van ses jaar
Voorwerk het die bou van mure behels, op plekke tot 4,6 meter hoog, enersyds om die perseel te beskerm en andersyds om die grond van aangrensende eiendomme teen die heuwelhange teë te hou. Diep holtes moes gevul word en die digte struikgewasse, vol giftige slange soos kobras en adders, moes verwyder word. Verskeie huthuise en ander bestaande geboue moes heeltemal opgeknap word sodat dit as woonplek en tydelike kantore kon dien.
Kommersiële bouaannemers is gehuur, maar bekwame broers het oor elke stadium van die bouwerk toesig gehou, en talle ander het gehelp waar hulle kon. Een aannemer, wat gehuur is om die pad op die perseel ’n blad te gee, het besluit dat die werk ses maande uitgestel moet word omdat die ongelyke padoppervlak nie natgemaak kon word soos nodig was nie. Wat ’n gesig was dit tog nie om te sien hoe die hele takgesin aand na aand emmers water na die pad aandra sodat die werk betyds gedoen kon word nie!
Die geluid van stootskrapers is nooit gehoor nie, omdat die meeste van die werk in Indië met die hand gedoen word. Die werk het glad verloop tot met die voltooiing van die eerste verdieping van die hoofgebou. Toe was daar ’n ernstige sementtekort. Maar gelukkig het die Koreaanse tak van die Wagtoringgenootskap gereël dat 10 000 sakke sement gestuur word, met die gevolg dat die hele bouwerk volgens rooster voltooi is. In 1984 was die pragtige nuwe tak kant en klaar—tot Jehovah se lof.
Die finale resultate
Daar staan nou agt geboue op die Genootskap se perseel van 1,9 hektaar. ’n Tuin is aangelê met piesang-, mango-, vye- en papajabome, asook talle blomplante en struike.
Die hoofgebou van die tak het twee verdiepings en ’n kelderverdieping, waar die motorhuis en wassery geleë is. Die grondverdieping het fabriekruimte vir drie klein drukperse sowel as afkant-, vou- en hegmasjiene. Op hierdie verdieping is daar ook vertrekke vir die MEPS-rekenaar en die versendingsafdeling, waarvandaan plaaslik geproduseerde lektuur na 56 ander lande gepos word. Op die eerste verdieping is daar kantore, ’n biblioteek en slaapkamers.
Die nuwe Koninkryksaal is aan die voorkant van die eiendom geleë. Die gehoorsaal het sitplek vir 250, en daar is ’n hoekverhoog wat met handgesnede kiaat beklee is. In nabygeleë, gerestoureerde geboue is daar slaapkamers, ’n kombuis en ’n eetsaal vir die takgesin van 31 mense. Daar is ook onbeboude grond vir latere uitbreiding, as dit nodig sou wees.
’n Besondere gebeurtenis
So het dit gekom dat mense se aandag, na 80 jaar van die insameling van Jehovah se kosbare dinge, op daardie lieflike dag in Januarie op die inwyding van Indië se nuwe tak gerig was.
Hierdie 80 jaar van prediking is tydens die toewydingsprogram beskryf. Hoogtepunte van die bouwerk is gemeld. Sone-opsiener Günter Künz het in sy toewydingsrede daarop gewys dat daar die laaste vyf jaar ’n vermeerdering van 30 persent in Jehovah se volk wêreldwyd was. Maar hy was bly om te berig dat Indië selfs beter gevaar het met ’n vermeerdering van 34 persent, en hy het die gehoor daaraan herinner dat, deur veel inspanning, die werk in Indië sal aanhou om vooruit te gaan.
Al die aanwesiges was verheug oor hierdie blyke van Jehovah se seën. Die broers in Indië is vasbeslote om ywerig te werk sodat nog baie ander gehelp kan word om aan die goeie nuus van die Koninkryk gehoor te gee.
[Prent op bladsy 23]
Edwin Skinner (tweede van regs) by die “woonbus”
[Prent op bladsy 25]
Nuwe takkantoor suid van Bombaai