Insig in die nuus
Godsdiensvrugte
Die kommersialisering van godsdiens het gelei tot “korrupsie, onsedelikheid en ander vorme van tugteloosheid in ons kerke”, het die patriarg van die Metodiste-Kerk van Nigerië gesê. Volgens Nigerië se Daily Times het hy erken dat die kerk bygedra het tot ’n vlaag van geweld in die Nigeriese samelewing deur “skenkings van misdadigers en korrupte staatsamptenare te vra en te kry”. Hy het ook gesê dat die wangedrag van godsdiensleiers en -lidmate die kerk verander het in “’n plek vir onrusstokers, bedrieërs en onsedelike dade”.
Femi Abbas, ’n kommentator oor Islamitiese aangeleenthede, het eweneens die stygende misdaadsyfer verbind met die toestroming van mense na hoogs gekommersialiseerde godsdiensgroepe. Waar hy in die National Concord van Nigerië geskryf het, het hy opgemerk dat leiers van hierdie groepe hulle aanhang verkry deur ’n “strelende tong, geslepenheid en die vermoë om ander te uitoorlê”. Syns insiens pronk hulle bloot “onder die sluier van geloof”.
Ons kan sulke slegte vrugte te wagte wees wanneer godsdienste die klem op materiële dinge laat val. Hulle bewys die juistheid van die Bybel se profesie dat mense “in die laaste dae . . . geldgieriges” sal wees, “mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”. ‘Hulle sal die gesonde leer nie verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, sal hulle vir hulle ’n menigte leraars versamel volgens hulle eie begeerlikhede.’ Ons kan aan die ander kant verwag dat die ware godsdiens geestelike in plaas van materiële dinge sal beklemtoon. Dit sal ’n aansporing wees vir mense wie se eerbare lewens van hulle beter burgers so wel as getroue knegte van God maak.—2 Timotheüs 3:1-5; 4:3; Mattheüs 6:19-21, 33; 7:16-21.
Hulle behandel die simptome, nie die siekte nie
“Britse meisies kan pil kry sonder toestemming”, het ’n opskrif in The New York Times gelui. Die artikel het gesê: “Die regsgeleerde lords van die Britse Hoërhuis het met ’n meerderheid van drie teen twee beslis dat ouers nie volstrekte gesag oor hulle kinders het nie en dat die wet tred moet hou met veranderende maatskaplike gesindhede.” As gevolg van hierdie besluit kan Britse dokters nou wettig voorbehoedmiddels aan meisies onder 16 voorskryf sonder om hulle ouers te raadpleeg. Hierdie beslissing deur die hoërhuis van die Britse Parlement is deur die Arbeidersparty, die Britse Mediese Vereniging en verskeie gesinsbeperkingsliggame verwelkom.
Die doel van hierdie wet is glo om ‘ongewenste tienerswangerskappe en -aborsies teë te werk’. Maar kom so ’n benadering van ’n moeilike en toenemende probleem nie op behandeling van slegs die “simptome” neer nie? Is dit nie ’n teken van die tyd wanneer wetgewers, gerugsteun deur dokters en maatskaplike organisasies in ’n land wat trots is op sy Christelike tradisies, ’n wetsontwerp aanneem wat indirek die “siekte” van tieneronsedelikheid bevorder nie?
Die beste manier om tienermeisies te beskerm teen die “simptome”, naamlik ongewenste swangerskappe en aborsies, is immers om by hulle sedelike waardes in te skerp wat hulle van seksuele wangedrag sal weerhou. ’n Bewese bewaarplek van sulke waardes is die Bybel, wat ook die behandeling van hierdie “siekte” plaas waar dit hoort—by ouers wat verantwoordelik gehou word vir die gedrag van hulle kinders.—Efesiërs 5:5; 6:1-4.
Lewe voor geboorte
“Die sintuie van ongeborenes begin vroeër funksioneer as wat ons aanvanklik gemeen het; en fyn strukture en vermoëns van die brein begin baie vroeër ontwikkel as wat onlangs vermoed is.” So skryf die skrywers van die boekie Life Before Birth, wat in 1984 in die Bondsrepubliek van Duitsland deur die Bondsminister van die jeug, die gesin en die gesondheid uitgegee is. Hulle praat van ongebore lewe as lewe in sy “broosste vorm”, en wys daarop dat “die kind se eerste bande met sy ouers reeds in die baarmoeder gesmee word”. Hulle sê dat hoewel talle wetenskaplikes voorheen geglo het dat ongebore lewe ’n evolusionêre proses deurgaan, dat dit uit ’n sel tot ’n vis en dan tot ’n amfibie ontwikkel voordat dit menslik word, hierdie teorie nou verwerp word omdat “die wetenskap vooruitgang gemaak het”. Hulle gee toe dat ‘niemand meer ernstig betoog dat ongebore lewe nie menslike lewe is nie. ’n Mens word nie eers by geboorte ’n mens nie.’
Hierdie bevindinge stem ooreen met die Skepper van lewe se beskouing van ongeborenes—as ’n lewende entiteit. God se kneg Dawid het die volgende woorde tot sy Skepper gerig: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. . . . U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”—Psalm 139:13, 14, 16, NAV.