Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/15 bl. 26-29
  • Vrugte vermeerder op die “Spesery-eiland”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrugte vermeerder op die “Spesery-eiland”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Waarheidsaad word geplant
  • Christelike moed te midde van onrus
  • Versterk vir die werk wat voorlê
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/15 bl. 26-29

Vrugte vermeerder op die “Spesery-eiland”

IN DIE warm, skitterende water van die Karibiese See lê die kleine “Spesery-eiland”. Die eiland word ook Grenada genoem, en beslaan ’n oppervlakte van net 311 vierkante kilometer. Selfs met sy onderhorige eilande, Carriacou en Petit Martinique, is die totale landoppervlakte ’n skrale 344 vierkante kilometer. Grenada het die bynaam “Spesery-eiland” gekry weens die talle aromatiese speserye, soos kaneel, naeltjies, tonkabone en neutmuskaat, wat daar groei.

’n Bergreeks strek van noord na suid oor die eiland, met hange wat steil afloop na die see, veral aan die westekant. Riviere en strome helder water kronkel af see toe, en oral is daar welige, tropiese woude. In die droë seisoen is die hange en nou valleie oortrek van die rooi en geel blomme van wilde sewejaartjies en pouibome. Hierdie pragtige gesig word nog kleurryker gemaak deur ’n verskeidenheid van blomplante, soos bougainvilleas, hibiskusse, euforbias en geurige aandblomme.

’n Besondere kenmerk van Grenada is sy palmomsoomde kus en lieflike, wit sandstrande. Die ekonomie word tradisioneel ondersteun deur die uitvoer van piesangs, kakao en neutmuskaat, aangevul deur toerisme en groot skenkings wat gestuur word deur familielede wat na plekke soos Aruba, Curaçao, Engeland, Trinidad, die Verenigde State en Venezuela geëmigreer het. Die 112 000 vriendelike bewoners van Grenada glimlag maklik en verstaan die kuns om kort opmerkings in pittige, aktuele kommentare te verander.

Waarheidsaad word geplant

Die waarheidsaad is gedurende 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, op hierdie kleurryke eiland geplant. ’n Boorling van Grenada, Elias James, het in daardie jaar uit Panama teruggekeer. As ’n trekarbeider aldaar het hy die boodskap oor God se Koninkryk aanvaar en ’n toegewyde, gedoopte bedienaar geword. Hy was gretig om die waarheidsaad onder die vriendelike bewoners van hierdie “Spesery-eiland” te saai. Eerlank het hy in aanraking gekom met ene mnr. Briggs, ’n Barbadaan wat in Grenada gewoon het. Briggs het gou die Koninkryksboodskap aangeneem en sodoende die eerste vrug van die “Spesery-eiland” geword. Omdat hy die behoefte aan ’n vergaderplek gesien het, het Briggs die grondverdieping van sy huis beskikbaar gestel as die eerste vergaderplek van Jehovah se volk in die hoofstad, St. George’s.

Elias James, ’n toegewyde bedienaar en goeie spreker, het talle opregte mense gehelp. Onder hulle was sy skoonsuster, Chriselda James. Sy is vandag 88 jaar oud en die enigste persoon op die eiland wat bely dat sy ’n gesalfde Christen is. Sy het nege kinders grootgemaak, en in weerwil van haar man se volgehoue teenstand het al nege gedoopte Getuies geword. Drie is sedertdien oorlede, maar die ander is nog steeds bedrywige bedienaars, met twee van hulle in die pionierdiens en een wat as ’n spesiale pionier en ’n ouere man dien.

Teen die tyd dat Elias James sy aardse lewe afgelê het, het hy ’n stewige pioniersbydrae gelewer tot die plant van waarheidsaad in Grenada. Vandag is daar ses gemeentes op die eiland en een op Carriacou, met ’n hoogtepunt van 353 Koninkryksverkondigers.

Gedurende die jare van stadige maar bestendige groei het lojale Getuies heelwat politieke veranderinge beleef​—van kroonkolonie tot selfbestuur tot onafhanklikheid van Groot-Brittanje in 1974. Gedurende daardie tydperk was daar geen hewige teenstand teen die goeie nuus nie, en mense was merendeels bereid om te luister, al was dit soms net uit hoflikheid. In 1979 het ’n verandering in politieke gesindhede onder sommige tot ’n revolusie gelei wat die People’s Revolutionary Government aan die bewind gebring het. Hoewel baie gedink het dat godsdiensbedrywigheid deur die nuwe sosialisties georiënteerde regering aan bande gelê sou word, het dit nie gebeur nie. Die werk om Koninkryksvrugte voort te bring, het vooruitgegaan.

’n Dramatiese verandering het op 19 Oktober 1983 plaasgevind, ’n datum wat bewoners van Grenada nie gou sal vergeet nie. Die RMC (Revolutionary Military Council) het beheer van die regering oorgeneem. Verskeie staatsamptenare is doodgeskiet, tesame met ’n onbekende aantal burgerlikes.

Dit is spoedig gevolg deur die instelling van ’n vierdaagse klokreëling van 24 uur, met oortreders wat op sig geskiet is. Hierdie onstuimige gebeure, ’n nuwe ondervinding vir die vreedsame eilanders, het groot vrees en onsekerheid tot gevolg gehad. Die feit dat almal in hulle huise moes bly, het groot ontbering veroorsaak, veral vir siekes en bejaardes.

Vroeg op Dinsdagoggend, 25 Oktober 1983, is talle van die eilandbewoners wakker gemaak deur die ongewone gedreun van vliegtuie, af en toe onderbreek deur luide ontploffings en die geluid van grofgeskut. Later het hulle oor die radio gehoor dat buitelandse magte op die eiland geland het. Die gesamentlike magte van die OECS (Organization of Eastern Caribbean States) en die Verenigde State se Vloot het militêr ingegryp nadat die Goewerneur-Generaal glo hulp gevra het. Binne ’n paar uur was albei lughawens (Pearls en Point Salines) onder die beheer van die Karibiese en Amerikaanse magte. Teen die middel van die oggend was Grenada die brandpunt van internasionale nuus.

Hewige gevegte het uitgebreek tussen die buitelandse magte en die wat aan die RMC lojaal was. Maar dit was hoofsaaklik in die omgewing van St. George’s. Baie mense het daardie onstuimige dae onder hulle beddens deurgebring. Party was selfs te bang om na hulle kombuis te gaan om kos vir hulle gesin voor te berei. Gelukkig is nie een van Jehovah se Getuies op die eiland gedurende die wapenstryd beseer nie. ’n Paar het egter baie noue ontkomings gehad.

Christelike moed te midde van onrus

Een Getuiesuster het, soos ’n plaaslike ouere man dit gestel het, “naelskraap aan die dood ontkom”. Hy het vertel: ‘Hierdie suster het skuiling gesoek in haar buurvrou se huis, waar sy gedink het sy veiliger sou wees. Sy en die huismense het gehoor hoe skote gevuur word van ’n heuwel net bokant die huis. Die Amerikaanse seesoldate het op die huis begin vuur omdat hulle gedink het dat die skote daarvandaan kom. Almal in die huis het dadelik op die vloer gaan lê. Toe daar ’n onderbreking in die skietery kom, het die huisbaas senuweeagtig uitgehardloop met ’n wit laken in sy hand. Almal in die huis het hom buitentoe gevolg, ook ons verskrikte suster. Terwyl hulle in die tuin gestaan het, is daar weer op hulle gevuur, maar die keer van die heuwel af waar die skietery begin het. Tussen die koeëls deur het die seesoldate hulle almal inderhaas na veiligheid gelei. Verbasend genoeg is niemand beseer nie. Die seesoldate het hulle later vertel dat hulle hulle baie gelukkig kan ag, aangesien hulle op die punt gestaan het om die huis in die lug te blaas omdat hulle gedink het dat soldate van die RMC binnekant was en op hulle gevuur het. Toe al die opwinding bedaar het, het ons dierbare suster ’n doring van vyf sentimeter in haar voet ontdek. Sy het nie eens die pyn gevoel toe sy daarin getrap het nie!’

Terwyl die gevegte aan die gang was, het ’n ouere man se vyfjarige dogtertjie in die huis geval en haar linkerarm gebreek. Op daardie tydstip was dit onmoontlik om mediese hulp te kry. Al wat die ouers kon doen, was om die kind pille te gee om die pyn te verlig. Toe die toestand etlike dae later kalmer geword het, het hulle die kind na ’n beenspesialis geneem. Sy ondersoek het aan die lig gebring dat daar veelvuldige breuke was. Die bene was egter reeds in posisie en vinnig besig om te genees sonder enige komplikasies. Onnodig om te sê, die besorgde ouers was baie verheug.

Een tingerige suster het tot haar verbasing uitgevind hoe sterk sy eintlik is. Haar man, ’n suikersiektelyer wat meer as twee keer soveel soos sy weeg, het sy bewussyn verloor en op die vloer neergesak terwyl die klokreëling nog van krag was. Sy was die enigste volwassene in die huis en kon geen hulp van buite kry nie. Wat kon sy doen? Sy vertel: “Ek het Jehovah aangeroep en om hulp gesmeek. Ek kan eerlik waar sê dat Jehovah my opregte smeking verhoor het. Met groot inspanning het ek my man van die vloer opgekry tot ’n sittende posisie totdat hy sy bewussyn herwin het. Ek kan net sê dat die krag wat ek daar gekry het van Jehovah gekom het.”

Gedurende die kort maar hewige vegtery het die aangestelde ouere manne talle geleenthede gehad om te bewys dat hulle ‘skuilings teen die stortreën’ is (Jesaja 32:1, 2). Om fisiese hulp en geestelike vertroosting te bied, het hulle hulle veiligheid en selfs hulle lewe gewaag deur baie broers te besoek, veral in gebiede waar die gevegte hewig was.

Een ouere man en sy gesin was onder honderde wat uit hulle huise verwyder en in ’n vlugtelingkamp geplaas is. Hulle moes die oorverdowende ontploffings van die kanonne verduur. Een sodanige ontploffing het die ouere man, sy vrou en hulle dogter letterlik teen die grond geslinger. Toe daar aan hom gevra is hoe hy gedurende daardie beproewing kalm kon bly, het hy gesê: “My onbevreesdheid en kalmte was die gevolg van jarelange, diepgaande studie van God se Woord, wat my opgebou en voorberei het vir so ’n buitengewone situasie.” Op hierdie manier kon die ouere man kalm bly en die Getuies in daardie kamp bemoedig.

’n Paar weke later was die Amerikaanse en Karibiese magte in beheer van die hele eiland, en ’n tussentydse bestuur is ingestel. ’n Bestendiger tydperk het gevolg, waartydens ’n algemene verkiesing gehou kon word. Dit het op 3 Desember 1984 plaasgevind. Onder die Nuwe Nasionale Party van eerste minister Herbert Blaize is die onstuimige verlede aan die vervaag, en baie sien uit na ’n rooskleurige toekoms.

Versterk vir die werk wat voorlê

Onlangse gebeure het al Jehovah se Getuies in Grenada versterk. Hulle het Jehovah se reddingsvermoë ondervind en is vasbeslote om hulle Koninkryksprediking te verskerp. Talle opregte en eerlike mense wat groot belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, was onder die 914 aanwesiges by die herdenking van Christus se dood op 4 April 1985. Vir elk van die 350 Getuies op die eiland was daar ongeveer twee belangstellendes by daardie geleentheid aanwesig. Watter uitstekende potensiaal vir verdere groei!

Die natuurskoon van Grenada bied ’n voorsmaak van hoe die beloofde paradysaarde daar gaan uitsien. So ’n aardwye paradys is ’n gewisse belofte van die aarde se Skepper, Jehovah. Binnekort sal die regverdiges “die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:10, 11, 29). Al Jehovah se Getuies is bly en gretig om hierdie opwindende boodskap van hoop met hulle mede-eilanders in elke deel van hierdie “Spesery-eiland” te deel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel