Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/1 bl. 10-15
  • Job se onkreukbaarheid—Waarom so merkwaardig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Job se onkreukbaarheid—Waarom so merkwaardig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Job se beperkte kennis
  • Die geskil oor Job se onkreukbaarheid
  • ’n Ander aanvalsmetode
  • Job se verweer en teregwysing
  • ‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie!’
    Volg hulle geloof na
  • Job het volhard—Ons kan ook!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Bybelboek nommer 18—Job
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/1 bl. 10-15

Job se onkreukbaarheid​—Waarom so merkwaardig?

“Totdat ek die laaste asem uitblaas, sal ek my onkreukbaarheid nie van my laat wyk nie!”​—JOB 27:5, NW.

1. Wie was Job, en hoe weet ons dat hy ’n werklike persoon was?

JOB was ’n sonderlinge man in die geskiedenis. Nie alleen het hy groot stoflike rykdom besit nie, maar mense het na hom opgesien as ’n medelydende regter en leier. Die Bybel sê dat hy “die belangrikste man” onder al die mense in die Ooste was (Job 1:3, NAV; 29:12-25). Hy word, tesame met Noag en Daniël, as ’n baie regverdige man vermeld (Esegiël 14:14, 20). Die Bybel hou Job ook voor as ’n voorbeeld vir Christene om na te volg, wat aandui dat hy ’n werklike persoon in die geskiedenis was.​—Jakobus 5:11.

2. Hoe kan ons bepaal wanneer Job deur Satan beproef is?

2 Job het in die land Us gewoon, in wat nou Arabië is. Hoewel hy nie ’n Israeliet was nie, was Job ’n aanbidder van Jehovah, iets wat Jehovah onder Satan se aandag gebring het. God se woorde dat ‘daar niemand op die aarde soos hy is nie: ’n man vroom en opreg’, toon dat daar geen ander uitsonderlike kneg van God op daardie tydstip gelewe het nie (Job 1:8). Die beproewing van Job deur Satan moes dus plaasgevind het terwyl sy verre familie, die Israeliete, in slawerny in Egipte was​—iewers gedurende die jare na die dood van daardie besondere handhawer van onkreukbaarheid, Josef, in 1657 v.G.J., en voor Moses op sy weg van onkreukbaarheid begin het.

3. Wie het die boek Job geskryf, en hoe het hy die feite te wete gekom?

3 Dit blyk dat Moses die boek Job geskryf het. Maar hoe het hy van Job se beproewing te hore gekom? Wel, nadat Moses in 1553 v.G.J. gedwing is om Egipte te verlaat, het hy hom in Midian, nie ver van die land Us af nie, gevestig (Exodus 2:15-25; Handelinge 7:23-30). Job het op daardie tydstip die laaste 140 lewensjare waarmee Jehovah hom geseën het, uitgelewe (Job 42:16). Later, toe die Israeliete teen die einde van hulle swerftog naby Us was, kon Moses van die laaste jare van Job se lewe en van sy dood gehoor het.

Job se beperkte kennis

4. (a) Wat was blykbaar die bron van Job se kennis van Jehovah, en waarom het hy ongetwyfeld kontak gehad met Abraham en Isak se afstammelinge? (b) Hoe het Job ’n man van uitsonderlike onkreukbaarheid geword?

4 Toe Job beproef is, was sy kennis van God en Sy voornemens beperk, aangesien geen deel van die Bybel toe al opgeteken was nie. Maar Job het waarskynlik iets van Jehovah se handelinge met Abraham, Isak, Jakob en Josef geweet. Dit is omdat Job blykbaar ’n afstammeling van Abraham se broer Nahor was, deur Nahor se eersgebore seun Us. Bowendien het Us ’n broer gehad met die naam Betuel, die vader van Isak se vrou Rebekka en die oupagrootjie van Josef (Genesis 22:20-23). Job het ongetwyfeld groot waarde geheg aan sy kennis van Jehovah se mededelings aan Abraham en sy nageslag, en hy wou Jehovah graag behaag. So het Job dan ’n man van uitsonderlike onkreukbaarheid geword, ’n vroom man wat van ganser harte aan Jehovah toegewy was.

5. Wat veral maak Job se onkreukbaarheid so uitsonderlik?

5 Nie lank na Josef se dood in Egipte nie, het Job se onkreukbaarheid ’n geskilpunt tussen Jehovah God en Satan in die onsigbare hemele geword. Job het egter niks geweet van hierdie geskil rondom sy onkreukbaarheid nie. En dit is veral sy onwetendheid omtrent die redes vir sy lyding wat sy onverbreeklike onkreukbaarheid so merkwaardig maak. Tot nut van al God se knegte in latere tye het Jehovah egter gesorg dat Moses die besonderhede van die geskil oor Job se onkreukbaarheid neerskryf.

Die geskil oor Job se onkreukbaarheid

6. (a) Hoe het dit tydens ’n vergadering in die hemel duidelik geword dat daar ’n geskil tussen God en Satan bestaan? (b) Wanneer het hierdie geskil ontstaan, en wat het dit ingesluit?

6 Die boek Job trek die sluier van onsigbaarheid weg en laat ons kyk na ’n vergadering van engele wat in die hemel voor Jehovah God plaasgevind het. Daar sê Jehovah vir Satan, wat ook aanwesig is, dat daar ‘niemand op die aarde soos Job is nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad’ (Job 1:8). Dit is duidelik dat daar ’n geskil bestaan wat Job se onkreukbaarheid raak. Maar dit is nie ’n nuwe geskil nie. Die geskil het deurgeskemer toe Satan Adam en Eva van God afvallig gemaak en in der waarheid gesê het: ‘Gee my net die kans en ek sal enigiemand van u diens kan afrokkel.’​—Genesis 3:1-6.

7. Watter mening was Satan verplig om te lug oor die rede vir Job se onkreukbaarheid, en hoe het die Duiwel God uitgedaag?

7 Nou, tydens hierdie amptelike vergadering in die hemel, is Satan verplig om sy mening te lug oor die redes vir Job se onkreukbaarheid. “Is dit verniet dat Job God vrees?” vra hy. “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? . . . Maar strek net u hand uit”, daag Satan God uit, “en tas alles aan wat hy het​—waarlik, hy sal U in u aangesig [vloek]!”​—Job 1:9-11, vgl. NW.

8. (a) Hoe het Jehovah op Satan se uitdaging gereageer? (b) Watter verskriklike rampe het Satan oor Job gebring?

8 Jehovah aanvaar Satan se uitdaging. Hy vertrou Job se onkreukbaarheid volkome en antwoord Satan: “Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie” (Job 1:12). Satan tree onmiddellik teen Job op. Plunderende Sabeërs roof Job se 1 000 beeste en 500 eselinne en maak al die wagters behalwe een dood. Daarna stuur Satan ’n vuur uit die hemel wat Job se 7 000 skape tesame met hulle wagters verteer, met net een man wat ontkom. Dan bewerk Satan dit dat drie leërafdelings van die Chaldeërs Job se 3 000 kamele buitmaak en al die wagters behalwe een om die lewe bring. Laastelik stuur Satan ’n groot wind wat die huis tref waar Job se tien kinders feesvier, en hulle almal sterf. Die oorlewendes van hierdie rampe kom kort ná mekaar by Job aan om hom die verskriklike nuus mee te deel.​—Job 1:13-19.

9. Wat het Job se ellendes veral swaar gemaak om te verduur, maar hoe het Job nogtans daarop gereageer?

9 Watter ontsettende rampe! Al het Job ook geweet wie daarvoor verantwoordelik was, sou dit nog moeilik gewees het om te verduur. Maar hy het nie. Hy het nie geweet dat hy die middelpunt van ’n geskil in die hemel is en dat Jehovah hom gebruik om te toon dat daar mense is wat hulle onkreukbaarheid sal bewaar ondanks al die onregverdige lyding wat Satan oor hulle mag bring nie. In sy groot droefheid en selfs in die waan dat God vir sy verliese verantwoordelik is, het Job nogtans gesê: “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” Ja, “by dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie”.​—Job 1:20-22.

10. (a) Watter verdere toegewing in verband met Job het Satan gevra, en waarom was Jehovah bereid om dit toe te staan? (b) Hoe is Job geraak deur die haglike toestand waarin hy gekom het?

10 Hoe vernederend was dit tog nie vir Satan toe Jehovah by ’n volgende vergadering van engele vir hom aangaande Job kon sê nie: “Selfs nou nog hou hy vas aan sy onkreukbaarheid”! Maar Satan gooi nie tou op nie. Hy beweer nou dat as hy toegelaat word om Job liggaamlik aan te tas, Job God in Sy aangesig sou vloek. Jehovah vertrou Job se onkreukbaarheid selfs sover en gee Satan die toestemming, maar waarsku hom om nie Job se lewe te neem nie. Daarop het Satan Job “met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel” (Job 2:1-8, vgl. NW). Job se toestand word so afstootlik en ellendig dat sy familie en vriende hom vermy en voormalige kennisse hom bespot.​—Job 12:4; 17:6; 19:13-19; 30:1, 10-12.

11. Watter verdere terugslag moes Job verduur, en wat het sy onkreukbaarheid te midde van al sy moeilikhede so merkwaardig gemaak?

11 Dan kom daar nog ’n terugslag! Die geloof van Job se vrou verswak. Sy sê vir hom: “Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid? Vervloek God en sterf!” Maar hy antwoord haar: “Soos een van die sinnelose vroue praat, praat jy ook. Sal ons net die goeie van die ware God aanneem en nie ook die slegte aanneem nie?” Soos die verslag sê: “By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:9, 10, NW). En hoe uiters merkwaardig is Job se onkreukbaarheid tog nie, as jy in aanmerking neem dat die rede vir Job se lyding nie aan hom bekend gemaak is nie!

’n Ander aanvalsmetode

12. (a) Wie was die manne wat gekom het om Job te troos? (b) Hoe het Satan hierdie manne gebruik om Job verder te beproef?

12 Maar Satan het nog nie klaar nie. Hy verwek drie sogenaamd wyse manne wat Job òf persoonlik geken, òf van sy faam as “die belangrikste man” onder die mense van die Ooste gehoor het. Hulle is blykbaar heelwat ouer as Job (Job 1:3, NAV; 15:10; 32:6). Twee van hulle is ver langs familie. Elifas die Temaniet is ’n afstammeling van Abraham deur Teman, ’n kleinseun van Esau, en Bildad die Suhiet is ’n nakomeling van Abraham se seun Suag (Job 2:11; Genesis 36:15; 25:2). Sofar se afkoms is onseker. Die drie kom kwansuis om Job te troos, maar Satan gebruik hulle in werklikheid om Job se onkreukbaarheid te probeer ondermyn. Net soos politieke ondervraers wat hulle as vriende voorgedoen het die lojaliteit van gevangenes ondermyn en hulle teen hulle eie regerings laat draai het, het Satan gehoop dat sy “troosters” Job teen sy God sou laat draai.​—Job 16:2, 3.

13. (a) Wat het Job se besoekers by hulle aankoms gedoen? (b) Wat was die tema van die redevoerings toe dit uiteindelik begin het?

13 Wanneer die drie besoekers by Job aankom, neem hulle sewe dae en sewe nagte lank stilswyend Job se verskriklike pyn en uiterste vernedering waar (Job 2:12, 13). Elifas, blykbaar die oudste, begin uiteindelik praat en bepaal aldus die stemming en algemene tema van ’n debat wat op die ou end uit drie rondes bestaan. Elifas se redevoering, sowel as die daaropvolgende redevoerings van sy metgeselle, bestaan merendeels uit beskuldigings. Nadat elk van sy beskuldigers gepraat het, antwoord Job en weerlê hy hulle argumente. Sofar neem nie deel aan die derde ronde van die debat nie, blykbaar omdat hy meen dat hy niks kan byvoeg nie. Sofar hou dus net twee redevoerings, terwyl Elifas en Bildad elk drie hou.

14. Watter soort argumente het die drie teen Job gebruik, en hoe het Satan ’n soortgelyke taktiek teen Jesus gebruik?

14 Elifas se redevoerings is langer, en sy taal is enigsins gematigder. Bildad se taal is bitsiger, en Sofar s’n is die venynigste. Hulle argumente is slu daarop gemik om Satan se doel te bereik, naamlik om Job se onkreukbaarheid te verbreek. Hulle stel dikwels feite, maar die agtergrond en toepassing is verkeerd. Satan het dieselfde taktiek teen Jesus gebruik. Hy het ’n teks gebruik wat sê dat God se engel sy kneg teen leed sou beskerm en Jesus toe uitgedaag om te bewys dat hy God se seun is deur homself van die tempel af te werp (Mattheüs 4:5-7; Psalm 91:11, 12). Job is geruime tyd aan soortgelyke sataniese redenasies onderwerp.

15. Wat was volgens Elifas die oorsaak van Job se probleme?

15 In sy openingsrede voer Elifas aan dat Job se moeilikhede God se vergelding vir sy sondes is. “Wie het ooit onskuldig omgekom?” vra hy. “Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit” (Job 4:7, 8). Elifas beweer voorts dat God nie sy knegte vertrou nie. “In sy dienaars stel Hy geen vertroue nie”, sê Elifas, “en by sy engele ontdek Hy dwaling. Hoe veel meer by hulle wat kleihuise bewoon.”​—Job 4:18, 19.

16. Hoe het Bildad Elifas se aanval voortgesit, en watter onbillike illustrasie het hy gebruik?

16 Bildad sit die woorde-aanval voort. “As jy rein en opreg is”, sê hy, “dan sal [God] oor jou opwaak en jou woning herstel oor eenkomstig jou geregtigheid.” Bildad merk op dat biesies en riete verdor en doodgaan sonder water, en maak die juiste gevolgtrekking dat dieselfde sal gebeur “met almal wat God vergeet”. Maar hoe verkeerd tog van hom om hierdie illustrasie op Job toe te pas en dan by te voeg: “So vergaan die verwagting van die goddelose”​—Job 8:6, 11-13.

17. Watter snydende aanmerkings het Sofar gemaak?

17 Sofar se aanmerkings is nog snydender.‘Ag, as God maar wou spreek en vir jou sê wat hy dink!’ sê hy in werklikheid. ‘God weet wat jy gedoen het. Hy straf jou veel minder as wat jy verdien. Raak ontslae van jou sondes en laat staan al jou boosheid, dan sal jy veiligheid en baie vriende hê.’​—Job 11:4-6, 14-20.

18. Hoe het die drie hulle aanval teen Job in die tweede ronde van die debat voortgesit?

18 In die tweede ronde van die debat sit Elifas die aanval op Job se onkreukbaarheid voort. ‘God vertrou dan nie eens sy engele nie, hoeveel minder iemand soos jy! ’n Goddelose mens is altyd in die moeilikheid’ (Job 15:14-16, 20). Bildad, vertoornd deur Job se volgehoue teenstand teen hulle argumente, sê as ’t ware: ‘Jou lig sal uitgeblus word. Alle gedagtenis aan jou bestaan sal vergaan. So gaan dit met die wat God vergeet’ (Job 18:5, 12, 13, 17-21). In ’n toespeling op Job se vroeëre voorspoed vra Sofar: ‘Weet jy nie dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net ’n oomblik is nie? Die hemel openbaar die ongeregtigheid van die goddelose.’​—Job 20:4, 5, 26-29.

19. (a) Hoeveel waarde heg God, volgens Elifas, aan die mens se onkreukbaarheid? (b) Hoe het Bildad die woorde-aanval teen Job afgesluit?

19 Elifas lei die derde ronde van die debat in met die vraag: ‘Kan ’n man van nut wees vir God? Sou dit God gebaat het as jy onberispelik was? Keer terug tot God’, sê hy ‘en bring jou sake in orde. Dan sal jy herstel word’ (Job 22:2, 3, 21-23). Bildad sluit die woorde-aanval af. ‘Wie op aarde kan roem dat hy rein is?’ vra hy. ‘God is so hoog verhewe dat selfs die maan en die sterre vir hom minder as niks is. Hoeveel minder is die mens, wat maar ’n wurm in sy oë is!’​—Job 25:2-6.

Job se verweer en teregwysing

20. (a) Hoe het Job geantwoord op die argument dat lyding God se straf vir sondes is? (b) Wat het Job hom vas voorgeneem, en hoe weet ons dat sy onkreukbaarheid werklik vir God van belang was?

20 Ondanks sy verskriklike lyding swig Job geen oomblik voor sy folteraars se bedrieglike argumente nie. As lyding ’n straf van God vir sondes is, vra hy, “waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag?” (Job 21:7-13). En in stryd met wat Job se beskuldigers sê, waardeer Jehovah wel handhawers van onkreukbaarheid wat aldus ’n antwoord bied op Satan se uitdaging dat hy enigiemand van God se diens kan afkeer (Spreuke 27:11; Psalm 41:13, vgl. NW, vers 12). Job is seker van sy eie onkreukbaarheid en roep uit: “Totdat ek die laaste asem uitblaas, sal ek my onkreukbaarheid nie van my laat wyk nie!” (Job 27:5, NW). Nee, hy het niks gedoen om die rampe te verdien wat hom getref het nie.

21. Wat het Elihu vir Job se valse troosters gesê, en watter nodige teregwysing het hy Job gegee?

21 Die jong man Elihu luister aandagtig na elke woord van hierdie lang debat. Hy praat nou en sê vir Job se valse troosters dat geeneen van hulle argumente bewys het dat Job ’n sondaar is nie (Job 32:11, 12). Dan wend Elihu hom tot Job en sê: “Ek het die geluid van die woorde gehoor: Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie. Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir ’n vyand van Hom. . . . Kyk, daarin het u nie reg nie” (Job 33:8-13; 6:29; 13:24, 27; 19:6-8). Ja, Job was te besorg oor sy eie regverdiging. Maar terselfdertyd het hy God nooit veroordeel of vertroue verloor dat God sou doen wat reg is nie.

22. (a) Wat was Job se reaksie nadat hy na Jehovah geluister het? (b) Wat het God van Job se valse troosters verlang, en wat was die uiteinde vir Job?

22 ’n Storm steek op wanneer Elihu sy redevoering afsluit, en Jehovah self praat uit die storm: “Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos ’n man jou heupe​—dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.” Nadat hy na Jehovah geluister het, erken Job dat hy onbesonne gepraat het, sonder volledige kennis, en hy het berou “in stof en as”. Dan veroordeel Jehovah Elifas en sy twee metgeselle, en hy beveel Job om as bemiddelaar vir hulle op te tree. Daarna word Job herstel en word hy geseën met sewe seuns en drie beeldskone dogters en twee keer soveel vee as wat hy voorheen gehad het. Job lewe nog 140 jaar en sterf dan, “oud en versadig van dae”.​—Job 38:14; 42:1-17, vgl. NW.

23. Hoe moet Job se onkreukbaarheid ons raak?

23 Job was inderdaad ’n merkwaardige man van onkreukbaarheid! Hy kon nie geweet het dat hy die skyf van Satan se bose uitdaging gemaak is nie. Dit maak sy onkreukbaarheid des te merkwaardiger, want hoewel hy geglo het dat God vir al sy lyding verantwoordelik is, het hy God nogtans nie verloën of gevloek nie. Wat ’n les vir ons, aangesien ons wel weet waar die beproewinge van ons onkreukbaarheid vandaan kom! Ons wil seer seker Job se voorbeeld navolg en vooruitgaan in Jehovah se werk, ongeag wat God se Teenstander ons kan aandoen.

Kan jy antwoord?

◻ Watter faktore maak Job se onkreukbaarheid so merkwaardig?

◻ Wie het Job besoek, en wat het Satan deur hulle probeer doen?

◻ Watter argumente het die drie teen Job gebruik?

◻ Wat was Job se verweer, maar hoe is hy tereggewys?

◻ Wat was die uiteinde, en hoe moet dit ons raak?

[Prent op bladsy 13]

Satan het drie “troosters” gestuur om Job teen God te laat draai

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel