Jesus se lewe en bediening
Vier dissipels word geroep
NA DIE aanslag op Jesus se lewe in sy tuisdorp Nasaret, gaan hy na die stad Kapernaüm naby die See van Galilea. Dit vervul nog ’n profesie van Jesaja. Dis die een wat voorspel het dat die Galileërs wat by die see woon ’n groot lig sou sien.
Terwyl Jesus sy verligtende Koninkrykspredikingswerk hier voortsit, vind hy vier van sy dissipels. Hulle het vroeër saam met hom rondgereis, maar het hulle vissery hervat toe hulle saam met Jesus van Judea teruggekeer het. Jesus soek hulle waarskynlik nou op, aangesien dit tyd is om bestendige, vaste helpers te hê wat hy kan oplei om die bediening voort te sit wanneer hy nie meer daar is nie.
Terwyl Jesus langs die see loop en Simon Petrus en sy metgeselle hulle nette sien uitspoel, gaan hy dus na hulle toe. Hy klim in Petrus se boot en vra hom om van die land af weg te vaar. Toe hulle ’n entjie weg is, gaan sit Jesus in die boot en begin die skare op die oewer leer.
Daarna sê Jesus vir Petrus: “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.”
“Meester”, antwoord Petrus, “ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.”
Toe hulle die net laat sak, word so ’n groot menigte visse gevang dat die net wou skeur. Die manne wink dringend vir hulle maats in ’n boot daar naby om te kom help. Albei bote is weldra so vol vis dat hulle amper sink. Toe Petrus dit sien, val hy voor Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!”
“Moenie vrees nie”, antwoord Jesus. “Van nou af sal jy mense vang.”
Jesus nooi ook Petrus se broer Andreas. “Kom agter My aan”, spoor hy hulle aan, “en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle vissersmaats Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeüs, ontvang dieselfde uitnodiging, en hulle reageer ook sonder aarseling. Hierdie vier verlaat dus hulle vissersbedryf en word Jesus se eerste vier bestendige, vaste volgelinge. Lukas 5:1-11; Mattheüs 4:13-22; Markus 1:16-20; Jesaja 8:23-9:1.
♦ Waarom nooi Jesus sy dissipels om hom te volg, en wie is hulle?
♦ Watter wonderwerk maak Petrus bang?
♦ Watter soort visserswerk nooi Jesus sy dissipels om te doen?