Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/1 bl. 4-6
  • Moenie die waarheid deur jou vingers laat glip nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie die waarheid deur jou vingers laat glip nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verkry kennis
  • Offer trots op
  • Pas kennis toe
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Waarom na die waarheid soek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • “Koop waarheid en moet dit nie verkoop nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • “Ek sal in u waarheid wandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/1 bl. 4-6

Moenie die waarheid deur jou vingers laat glip nie

PONTIUS PILATUS het moontlik besef dat dit hom iets sou kos as hy die waarheid aanvaar het. Om ’n volgeling van Christus te word, sou hy Christus se koningskap moes aanvaar en op sedelike gebied ongetwyfeld ’n groot verandering moes aanbring. Salomo, die skrywer van Spreuke 23:23, sê nietemin: “Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand”.

‘Koop waarheid?’ vra jy verbaas. Ja, want hier help die Bybel ons om te besef dat ’n mens waarheid, wysheid en verstand slegs teen ’n prys verkry! Die waarheid is egter die waardevolste artikel denkbaar. Salomo het immers aangeraai: “Verkoop dit nie”! Dit het daarop neergekom dat niks anders aan die waarde daarvan gelykgestel kan word nie.

‘Maar wat is waarheid presies?’ vra baie net soos Pilatus. Vir baie is waarheid vandag ’n taamlik ontwykende begrip. Beskou byvoorbeeld wat Albert Einstein eens gesê het: “Dit is moeilik om selfs ’n presiese betekenis aan die uitdrukking ‘wetenskaplike waarheid’ te heg. Die betekenis van die woord ‘waarheid’ wissel dus, afhangende daarvan of ons met ’n feit van die ervaring, ’n wiskundige probleem, of ’n wetenskaplike teorie te doen het. ‘Godsdienstige waarheid’ is glad nie vir my duidelik nie” (Ideas and Opinions, deur Albert Einstein). Maar beteken die feit dat die waarheid Einstein ontwyk het, dat jy dit deur jou vingers moet laat glip? Glad nie.

Jesus het duidelik gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Ja, “die waarheid” draai om Christus Jesus en sy plek in Jehovah se voornemens as die Vervuller van profesieë, Losprys vir die sondige mensdom, aangestelde Koning van God se Koninkryk, Hoëpriester en Skerpregter van die goddelose (Romeine 15:8; 1 Timotheüs 2:5, 6; Johannes 3:16; Efesiërs 1:20-22; Daniël 7:13, 14; Mattheüs 6:9, 10; Hebreërs 4:14; Openbaring 19:11-21; 2 Thessalonicense 1:7-9). Hoe kan ’n mens dan hierdie waarheid “koop”?

Verkry kennis

’n Mens begin waarheid koop deur Jesus se woorde in Johannes 17:3 (NW) na te volg: “Dit beteken die ewige lewe, dat hulle voortdurend kennis in hulle opneem van u, die enigste ware God, en van hom wat u gestuur het, Jesus Christus.” Dit sou beslis ’n gedugte taak wees as ’n mens dit alleen moes doen. In die eerste eeu was daar ’n Ethiopiese hofdienaar wat dit probeer doen het. Maar toe die evangelis Filippus sien hoe die hofdienaar probeer om ’n moeilike Bybelprofesie te bestudeer, het hy gevra, “Verstaan u wel wat u lees?” Hierop het die man geantwoord: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” (Handelinge 8:28-31). Miskien voel jy ook so.

Daarom bied Jehovah se Getuies aan om die Bybel saam met jou in jou huis te bestudeer.a Sulke sessies is gratis. “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee”, het Jesus gesê (Mattheüs 10:8). Maar as ’n mens die waarheid koop, kos dit jou iets op ’n ander manier​—dit sal jou tyd in beslag neem en inspanning verg. Onthou egter dat Jesus Christus​—lewend en bedrywig in die hemele—​jou wil help om die waarheid te leer. (Vergelyk Lukas 5:13.) Hy het sy eerste dissipels belowe dat God se gees hulle “in die hele waarheid” sou lei (Johannes 16:13). Dit kan by uitbreiding ook op jou van toepassing wees. Moet dus nie dink dat dit te moeilik vir jou sal wees om die waarheid te leer nie.

Bybelstudiehulpe wat uitgegee word deur Jehovah se Getuies het ernstige Bybelstudie ook baie vergemaklik. Slegs ’n paar voorbeelde van die titels van sommige van hierdie publikasies wek die aptyt van opregte soekers na die waarheid: Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, Oorlewing tot in ’n nuwe aarde, Verenig in die aanbidding van die enigste ware God en Lewe​—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, om maar net ’n paar te noem.b

Hierdie publikasies verduidelik die Skrif objektief in eenvoudige taal en vind nie net by jou verstand ingang nie, maar ook by jou hart. Die klank van waarheid blyk duidelik uit hulle eerlikheid, navorsing en praktiese raad. Namate jy Bybelwaarhede met behulp van hierdie publikasies leer, sal jy verstaan wat Jesus presies bedoel het toe hy gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Hier behels die woord “waarheid” die hele versameling Christelike leerstellings soos nou aangetref word in God se geskrewe Woord van die waarheid​—die Bybel (2 Timotheüs 2:15; Efesiërs 1:13). Waarom is dit dan bevrydend wanneer ’n mens die waarheid leer?

Kyk byvoorbeeld hoe die “vrees vir die dood” die mensdom “hulle hele lewe lank  . .  aan slawerny onderworpe” gemaak het (Hebreërs 2:15). Dit is die geval ten spyte van die feit dat die meeste mense bely dat hulle die een of ander vae hoop op ’n hiernamaals van hemelse saligheid het. Bybelwaarhede bevry ’n mens egter van sulke morbiede vrese. ’n Mens leer dat die dode nie in die een of ander vurige plek van foltering ly nie, want “die dooies weet glad niks nie”. (Prediker 9:5, 10; kyk ook Psalm 146:4 en Prediker 3:19, 20.) Volgens die Bybel het die mens ook geen ingebore neiging om te sterf of hemel toe te gaan nie. Inteendeel, God het ‘onbepaalde tyd in hulle hart gelê’; ’n normale persoon begeer om vir ewig te lewe!​—Prediker 3:11, vgl. NW; kyk ook Romeine 5:12; 6:23.

Daardie begeerte sal vervul word in wat die Bybel die “nuwe aarde” noem. (2 Petrus 3:13; vergelyk Mattheüs 6:9, 10.) Jesus het getoon dat diegene wat die lewe in die “nuwe aarde” verkry “die Paradys” sal geniet (Lukas 23:43). Ander tekste help ons om te sien dat dit ’n wêreld vry van pyn en trane sal wees! (Openbaring 21:4; Jesaja 11:6-9). Dink net hoe hierdie hoop jou lewe kan verander! Maar eers moet jy kennis verkry.

Offer trots op

Die Bybel sê in Psalm 25:9: “Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer”. Nee, God sal eenvoudig nie die waarheid aan trotse en hoogmoedige individue gee nie. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Petrus 5:5). Pontius Pilatus was moontlik ten minste nuuskierig oor die waarheid. Maar eertydse skrywers beskryf Pilatus as ’n verwaande man. Vir die Romeine was die Jode ’n veragtelike nasie met ’n vreemde godsdiens wat hulle met behae onder die voet gehou het! Trots en politieke ambisie was blykbaar Pilatus se struikelblokke.​—Spreuke 16:18.

Baie is vandag eweneens nuuskierig oor die boodskap wat Jehovah se Getuies uitdra. Maar hulle let moontlik op dat Jehovah se Getuies dikwels nie welgesteld is nie, dat hulle beskeie vergaderplekke (Koninkryksale) glad nie vergelyk met die oordadige kerke van die Christendom nie en dat min van die Getuies kan spog met universiteitsopleiding. Let egter op wat die Bybel in 1 Korinthiërs 1:26-29 sê: “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie”.

Jy sal gevolglik jou trots moet sluk as jy by sulke ‘eenvoudiges’ wil leer. Maar is dit ’n te hoë prys om vir die waarheid te betaal?

Pas kennis toe

Dit is nie genoeg om net informasie​—selfs die waarheid—​te absorbeer nie. Daarom word ons aangespoor om ‘wysheid te koop’ (Spreuke 23:23). Wysheid is die toepassing van kennis! Trouens, Salomo het gesê: “Wysheid is die vernaamste” (Spreuke 4:5-7, vgl. NW). Ja, wat beteken kennis as dit nie toegepas word nie? Nadat jy God se weg, bevele, wette, vermanings en raad geleer het, moet jy dus leer om hierdie dinge in jou lewe toe te pas. “Die wysheid word geregverdig deur haar werke”, het Jesus gesê.​—Mattheüs 11:19, Katolieke Nuwe Testament.

Pontius Pilatus het die waarheid verwerp. Maar jy moet nie daardie fout begaan nie. Dit sal voorwaar dwaas wees om die waarheid deur jou vingers te laat glip as gevolg van trots, ambisie of liefde vir die een of ander onskriftuurlike euwel. Wees soos die psalmis wat gebid het: “Maak my verstandig, dat ek kan lewe” (Psalm 119:144). Ja, die wat gewillig is om die prys te betaal om waarheid en wysheid te verkry, “kan lewe”, want die een wat dit koop, “het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE”.​—Spreuke 8:35.

Een man wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer het, het gesê: “Dit is ’n seën om te sê dat die waarheid ons lewens verander het.” Dit kan ook joune verander. Moet dus nie die waarheid deur jou vingers laat glip nie! Maak gebruik van hierdie unieke geleentheid om waarheid, wysheid en verstand te koop. Dit sal jou nooit berou nie.

[Voetnote]

a Dit staan jou vry om aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf as jy graag so ’n Bybelstudie wil hê. Ons sal met genoeë reël dat ’n bekwame bedienaar jou tuis besoek.

b Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Prent op bladsy 4]

Trots het moontlik veroorsaak dat Pontius Pilatus die waarheid deur sy vingers laat glip het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel