Verbly Jehovah se hart deur onkreukbaarheid te handhaaf!
“Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan [Jehovah].”—ROMEINE 14:8.
1, 2. (a) Waarom is Jehovah se Getuies vasbeslote om hulle onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf? (b) Maar watter vrae ontstaan?
HOE raak beskryf daardie woorde van die apostel Paulus tog nie die gevoelens van die enigste ware handhawers van onkreukbaarheid in hierdie 20ste eeu nie! Hoe heerlik sal dit tog nie wees om die voorreg te hê om te bly lewe en die huidige goddelose stelsel voor ons oë te sien verbrokkel nie! Maar as ons in God se diens te sterwe kom, is dit ook goed. In ieder geval is ons vasbeslote om lojale getuies van ons God, Jehovah, te wees. Ons sal ons onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf. Hoekom? Want of ons lewe of sterwe, ons behoort inderdaad aan Jehovah!
2 Maar wat is onkreukbaarheid? Watter eise stel dit aan ons? En is dit werklik belangrik vir God dat ons onkreukbaarheid handhaaf?
Onkreukbaarheid en sy eise
3. Wat beteken dit volgens die Bybel om onkreukbaarheid te handhaaf?
3 In God se Woord beteken onkreukbaarheid dat ’n persoon moreel gesond en volkome, onberispelik en foutloos is. Dit beteken onwrikbare toegewydheid aan regverdigheid. Trouens, onkreukbaarheid vereis onwrikbare toegewydheid aan ’n persoon—aan Jehovah God. Ja, die handhawing van onkreukbaarheid beteken dat ’n mens aanhou om Jehovah se soewereine wil te doen.
4. Wie was die eerste verbreker van onkreukbaarheid, en wat het hy die eerste mensepaar oorgehaal om te doen?
4 Die eerste verbreker van onkreukbaarheid was die geesskepsel wat die eerste mensepaar teen hulle Skepper in opstand laat kom het. Adam en Eva het die geleentheid gehad om hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah te toon deur God se beperking aangaande die boom van die kennis te respekteer. Maar onder die druk van die Teenstander se beroep op selfsug het hulle voor ongehoorsaamheid geswig. Hulle harte was nie opreg in Jehovah se insettinge nie, en hulle het nie onkreukbaarheid teenoor hom gehandhaaf nie.—Psalm 119:1, 80.
5. Watter geskil het Satan se opstand geopper, en hoe word dit deur opregte Job se ondervindinge bewys?
5 Satan se opstand het die geskil geopper oor die regmatigheid van God se soewereiniteit oor al Sy skepsele, oor Jehovah se reg om algehele gehoorsaamheid van hulle te vereis. Die kwessie van die mens se onkreukbaarheid aan God se soewereiniteit sou dus ’n uiters belangrike deel van die geskil oor universele soewereiniteit word. Dit blyk uit die geval van Jehovah se kneg Job, ’n onberispelike, opregte en Godvresende man (Job 1:1). Job het nie afgewyk van God se regte weg nie. Geslagsonsedelikheid het geen houvas op hom gehad nie. Hy was nooit onregverdig in sy oordeel of onedelmoedig teenoor die weduwee, die wees of die arme nie. In plaas van sy vertroue in materiële rykdom te stel, het Job volkome op die Allerhoogste vertrou (Job 31:7-40). En tog het die Duiwel beweer dat Job God om selfsugtige redes dien. Hoewel Jehovah Satan toegelaat het om Job van sy besittings en selfs van sy kinders te beroof, het die Aartsbedrieër nie daarin geslaag om daardie opregte man sy onkreukbaarheid te laat prysgee nie. Selfs pynlike siekte en neerhalende kritiek van valse vertroosters was tevergeefs, want Job was ’n handhawer van onkreukbaarheid.—Job 1:6-2:13; 27:5, 6, NW; 31:6, NW; 42:8, 9.
6. Wat word vereis van diegene wat “behoort aan Jehovah”?
6 Mense het dus die onskatbare voorreg om tot die heiligmaking van God se heilige naam by te dra. Hoe? Deur onkreukbaarheid te handhaaf en te toon dat hulle Jehovah se universele soewereiniteit getrou ondersteun. Wat word dus vereis van diegene wat “behoort aan Jehovah”? Ons moet God met algehele toegewydheid dien en nooit vergeet dat Jehovah ’n God is wat ‘onverdeelde trou eis’ nie.—Exodus 20:5, NAV.
Ons kan Jehovah se hart verbly
7, 8. (a) Hoe kan ons ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf, aangesien ons onvolmaak is? (b) Hoe sal Spreuke 27:11 op ons van toepassing wees as ons handhawers van onkreukbaarheid is?
7 Aangesien ons almal onvolmaak is, kan ons nie volkome aan God se regverdige standaarde voldoen nie. Ons handhawing van onkreukbaarheid beteken derhalwe nie dat ons gedrag of spraak volmaak moet wees nie. Dit beteken eerder heelhartigheid of volkome toegewydheid van die hart. Hoewel Dawid hom aan ernstige sondes skuldig gemaak het, het hy nietemin “met ’n volkome hart” gewandel (1 Konings 9:4). Hy het teregwysing aanvaar en sy lewe in orde gebring en so getoon dat sy hart met opregte liefde vir Jehovah gevul was (Psalm 26:1-12). Ons kan ook sulke liefde openbaar deur ‘na die opregtheid van ons hart’ op te tree.—Psalm 78:72.
8 Dit is moontlik om onkreukbaarheid te handhaaf omdat ons vas in Jehovah God glo en volkome op hom en op sy krag om ons te red, vertrou (Psalm 25:21; 41:13). Dit is nie maklik om ons onkreukbaarheid te handhaaf nie, want Satan die Duiwel—Jehovah se grootste vyand, en ons s’n—verblind die sinne van die ongelowiges en ‘verlei die hele wêreld’ (Openbaring 12:9; 2 Korinthiërs 4:4). Maar soos Job kan ons onkreukbaarheid handhaaf. Al is ons onvolmaak, kan ons sodoende die hart van ons liefdevolle God verbly. Soos Spreuke 27:11 dit stel: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.” Gelukkig kan ons, as Jehovah se getroue knegte, hom ’n geskikte antwoord vir sy smadende Teenstander verskaf. Ons handhawing van onkreukbaarheid is dus werklik belangrik. As handhawers van onkreukbaarheid kan ons Jehovah se hart verbly. En watter vreugde verskaf dit ons tog nie!
’n Lang lyn handhawers van onkreukbaarheid
9. Wie was party van die groot “wolk” getuies van Jehovah wat onkreukbaarheid gehandhaaf het, en watter toetse van onkreukbaarheid het hulle verduur?
9 Jehovah se Getuies vandag is in werklikheid deel van ’n lang lyn handhawers van onkreukbaarheid. Dit strek reg van getroue Abel af en sluit manne en vroue in soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara, Isak, Jakob, Josef, Moses, Ragab, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel. Die handhawers van onkreukbaarheid Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om die beeld te aanbid wat deur die Babiloniese koning Nebukadnesar opgerig is en is in ’n oorverhitte vuuroond gegooi, en daar word skynbaar op hulle gesinspeel as diegene wat “die krag van vuur uitgeblus” het. Ander voorchristelike getuies van Jehovah is ‘bespot, gegesel, gevange geneem, gestenig, versoek, in stukke gesaag, deur die swaard vermoor; hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle terwyl hulle verdruk en mishandel is’. Ons stem gewis saam met Paulus wat gesê het: “Die wêreld was hulle nie werd nie.” Hoe verheug is ons tog om omring te wees deur so ’n groot “wolk” getuies wat onkreukbaarheid gehandhaaf het!—Hebreërs 11:1-12:1; kyk ook Daniël hoofstuk 3.
10. Hoe het die apostel Paulus Jehovah se hart verbly?
10 Met Godgegewe moed en krag het die apostel Paulus gevangenskap, slae, skipbreuk, talle gevare, slapelose nagte, honger, dors, koue, naaktheid en “doodsgevare dikwels” verduur (2 Korinthiërs 11:23-27). Hy het sulke beproewinge ondergaan ter wille van die bediening, en deur dit alles het hy Jehovah se hart as ’n moedige handhawer van onkreukbaarheid verbly. Ons kan ook.
11. Watter voorbeeld het Jesus Christus gestel wat onkreukbaarheid betref?
11 Jesus Christus, “die Leidsman en Voleinder van die geloof”, blink uit onder handhawers van onkreukbaarheid. Toe hy in die woestyn deur die Duiwel versoek is, het Jesus sy onkreukbaarheid gehandhaaf en eindelik gesê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Duidelik magteloos voor sulke Godgegewe vasbeslotenheid het die Duiwel Jesus laat staan. Dit was nie Satan se laaste aanval op Jesus nie, maar die Duiwel kon nie God se Seun sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. ‘Vir die vreugde wat Hom voorgehou is, het Jesus die folterpaal verdra’ en nooit sy onkreukbaarheid prysgegee nie. Laat ons altyd sy uitstekende voorbeeld volg en Jehovah se hart as handhawers van onkreukbaarheid verbly.—Hebreërs 12:2, 3; Mattheüs 4:1-11.
12, 13. Watter toetse van onkreukbaarheid kon vroeë Christene suksesvol deurstaan?
12 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam” (Mattheüs 10:22). Hoe waar was dit tog altyd vir ware Christene! E. G. Hardy het in sy boek Christianity and the Roman Government geskryf: “Uit die brief van Plinius en die skriftelike antwoord van Trajanus blyk dit dat daar afdoende bewys is dat die Christen vir die nomen [naam] alleen, of vir die blote belydenis van die Christelike godsdiens, gestraf kon word, sonder die uitdruklike vermelding of bewys van definitiewe misdade.”
13 Watter toetse van onkreukbaarheid het daardie vroeë Christene tog nie met behulp van Godgegewe krag suksesvol deurstaan nie! Daar is by voorbeeld aangaande hulle gesê: “Hulle is soms gemartel en vir honger, wilde diere in die arena gegooi om die massa te vermaak.” Ondanks sulke lyding is daar egter gesê dat “vervolging slegs hulle geloof versterk en baie bekeerlinge tot hulle saak oorgehaal het” (From the Old World to the New, deur Eugene A. Colligan en Maxwell F. Littwin, 1932, bladsye 90, 91). Dit geld ook vir Jehovah se Getuies wat in hierdie 20ste eeu onkreukbaarheid handhaaf. Die Duiwel se agente kon nie teen hulle opweeg nie.
14, 15. Wie is die “twee getuies” en wat het hulle in 1918 en 1919 ondergaan?
14 Dink byvoorbeeld aan wat Jehovah se gesalfde knegte, die figuurlike “twee getuies”, gedurende 1918 en 1919 ondergaan het toe hulle vyande ‘moeite beraam het op gesag van die verordening’ (Openbaring 11:3, 7-10; Psalm 94:20, NW). J. F. Rutherford (destydse President van die Wagtoringgenootskap) en sewe metgeselle is onregverdig tronk toe gestuur. Op daardie tydstip is die “twee getuies” doodgemaak wat hulle werk as profete betref het, en hulle vyande was verheug. In sy boek Preachers Present Arms het Ray H. Abrams gesê: “Die gevolgtrekking na ’n ontleding van die hele saak [van Rutherford en sy metgeselle] is dat die kerke en die geestelikes oorspronklik agter die beweging gesit het om [die Bybelstudente] uit te wis. . . . Toe die nuus van die twintigjarige vonnisse die redakteurs van die godsdienspers bereik het, het feitlik al hierdie publikasies, groot en klein, hulle oor die gebeurtenis verheug. Ek kon geen simpatieke woorde in enige van die ortodokse godsdienstydskrifte kry nie.”
15 Mettertyd is die agt gevange Bybelstudente egter vrygelaat en heeltemal vrygespreek, tot die misnoeë van Satan en sy dupes. Die “twee getuies”, daardie klein leër gesalfdes, is deur God se gees opgewek en het weer eens as Koninkryksverkondigers op hulle voete gestaan (Openbaring 11:11). En Jehovah se vyande het sedertdien ’n verlore stryd teen sulke handhawers van onkreukbaarheid gevoer.
16. Wat het een jong handhawer van onkreukbaarheid gesê?
16 Ter toeligting: Kyk na die moedige woorde wat een jongman aan sy gesin geskryf het terwyl hy gewag het om deur sy Nazi-vervolgers tereggestel te word. Hy het geskryf: “Dit is reeds na middernag. Ek kan nog van plan verander. Maar sal ek weer in hierdie wêreld gelukkig kan wees nadat ek ons Here verloën het? Beslis nie! Maar nou het julle die versekering dat ek hierdie wêreld in geluk en vrede verlaat.” Klink dit soos ’n swak, lafhartige, gebroke verbreker van onkreukbaarheid? Natuurlik nie!
17. Watter uitwerking het die arrestasies van Jehovah se Getuies in die Sowjet-Unie op hulle Koninkrykspredikingswerk gehad?
17 Pogings om Jehovah se knegte hulle hul onkreukbaarheid te laat prysgee, het voortgeduur. In sy boek Religion in the Soviet Union het joernalis Walter Kolarz byvoorbeeld vertel van grootskaalse arrestasies van Jehovah se Getuies vroeg in 1951 en gesê: “Die Getuies self raam dat daar altesaam 7 000 persone na Oeral, Siberië, die Verre-Noorde (Vorkuta) en Kasakstan gedeporteer is.” Hy het bygevoeg: “Dit was nie die einde van die ‘Getuies’ in Rusland nie, maar slegs die begin van ’n nuwe hoofstuk in hulle werksaamhede om bekeerlinge te maak. Hulle het selfs probeer om hulle geloof te propageer wanneer hulle stasies aangedoen het op pad na die plek van hulle ballingskap. Deur hulle te deporteer het die Sowjet-regering die verspreiding van hulle geloof grootliks bevorder. Die ‘Getuies’ is uit afsondering in hulle dorpies na ’n groter wêreld gebring, al was dit net die verskriklike wêreld van die konsentrasie- en slawekampe.” Daar het Jehovah se knegte talle gevind wat die bemoedigende Koninkryksboodskap met vreugde aanvaar het.—Vergelyk Handelinge 11:19-21.
Soos ’n seëvierende leër
18, 19. Hoe is dit moontlik om as handhawers van onkreukbaarheid te seëvier?
18 Vervolging van God se volk duur vandag nog voort. Hoe is dit dan vir Jehovah se Getuies moontlik om as handhawers van onkreukbaarheid te seëvier? Ons kan dit doen omdat ons God se Woord gehoorsaam, en ons ‘besit geestesvermoëns deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei’. As getroue getuies van Jehovah is ons ‘nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word ons verander deur die vernuwing van ons gemoed’. Ons doen blymoedig wat Jehovah behaag, en hy laat ons oor ons vyande, demone sowel as mense, seëvier.—Hebreërs 5:12-14; Romeine 12:1, 2.
19 Ons wat “behoort aan Jehovah” kan met ’n seëvierende leër vergelyk word. Ons voer natuurlik ’n geestelike oorlog en ons “word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte”. Ons het die volle geestelike wapenrusting van God aan, en sy heilige gees ondersteun ons. Daarom kan ons ‘staande bly teen die liste van die Duiwel’ (Efesiërs 6:10-20; 2 Korinthiërs 10:3, 4). Ja, dis waarom ons sal voortgaan om as handhawers van onkreukbaarheid te seëvier.
20. Watter hulp en versekering het ons terwyl ons probeer om ons onkreukbaarheid te handhaaf?
20 Ons is gewis ’n buitengewone krygsmag. Onder ons is selfs ‘die vroue wat die goeie tyding bring ’n groot skare’! (Psalm 68:12). Hoewel ons met gedugte vyande te doen het, ‘is die wat by ons is, meer as die wat by hulle is’ (2 Konings 6:16). Die engele is by ons wanneer ons die goeie nuus aan die bewoners van die aarde verkondig (Openbaring 14:6). En as handhawers van onkreukbaarheid het ons die versekering dat ‘elke wapen wat teen ons gesmee word niks sal uitrig nie’.—Jesaja 54:17.
21. Wat duur voort ondanks die vervolging wat ons ondervind?
21 Dit ly geen twyfel dat die slagorde gestel is nie. Die magte van Satan is vasbeslote om ons getuieniswerk stop te sit. Ons moet dus aanhou om ‘die goeie stryd te stry’ (1 Timotheüs 1:18). Laat elkeen van ons, met die verheerlikte Jesus Christus as ons Bevelvoerder en Leier, dien “soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Timotheüs 2:3, 4). Hoewel aanslae van alle kante op ons gerig word, moet ons—en sal ons deur God se onverdiende goedheid—vasstaan as handhawers van onkreukbaarheid. Ons gesigte straal namate ons vermeerdering op vermeerdering sien. “Die skatte van al die nasies” kom in al hoe groter getalle in en vul Jehovah se huis met heerlikheid (Haggai 2:7). Ondanks vervolging, gevangenskap, slae, verbooie op ons werk in verskeie lande en intense pogings om ons monde te snoer, gaan die groot dissipelmaakwerk voort en neem dit al hoe vinniger toe.—Mattheüs 24:14; 28:19, 20.
22. Wat moet ons doen as persone wat aan Jehovah behoort?
22 Terwyl al hoe meer lof aan Jehovah opstyg, is dit ’n tyd vir elkeen op die aarde om ’n besluit te neem. Hoe bevoorreg is ons tog nie om die goeie nuus te verkondig en diegene te onderrig wat ware aanbidding aanneem nie! Laat ons dus, namate die “groot menigte” toeneem, as moedige knegte van die allerhoogste God voortgaan(Openbaring 7:9). ‘Of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan Jehovah.’ Laat ons derhalwe die doelwit van die lewe najaag, ewig dankbaar vir ons groot voorreg om Jehovah se hart te verbly deur onkreukbaarheid te handhaaf!
Kan jy antwoord?
◻ Wat is onkreukbaarheid?
◻ Wat vereis die handhawing van onkreukbaarheid van Jehovah se volk?
◻ Hoe kan jy toon dat dit vir God belangrik is dat ons ons onkreukbaarheid handhaaf?
◻ In watter opsigte het sommige in die verlede getoon dat hulle handhawers van onkreukbaarheid is?
◻ Hoe is dit vandag vir Jehovah se Getuies moontlik om handhawers van onkreukbaarheid te wees?
[Prent op bladsy 13]
Jehovah se knegte vandag is deel van ’n lang lyn getuies wat onkreukbaarheid gehandhaaf het. Is jy onder hulle?
Henog
Sara
Jefta
Paulus