Sal jy vashou aan jou onkreukbaarheid?
“Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—JOB 27:5.
1, 2. Watter bouprojek moet ons onderneem, en watter vrae sal ons bespreek?
STEL jou voor jy kyk na die planne vir ’n huis. Jy verwonder jou oor die praktiese ontwerp. Jy verlustig jou daarin om te dink aan watter voordele die huis vir jou en jou gesin inhou. Maar stem jy nie saam dat hierdie planne en enige aandag wat jy daaraan skenk, van min nut sal wees tensy jy die huis bou, daar intrek en dit in stand hou nie?
2 Net so beskou ons onkreukbaarheid dalk as ’n noodsaaklike eienskap wat vir ons en ons geliefdes van groot nut sal wees. Maar om onkreukbaarheid net as ’n goeie eienskap te beskou, sal vir ons van min nut wees tensy ons Christelike onkreukbaarheid opbou en dit handhaaf. In vandag se wêreld kos letterlike bouprojekte dikwels baie (Luk. 14:28, 29). Dit kos eweneens tyd en inspanning om onkreukbaarheid op te bou, maar dit is beslis die moeite werd. Kom ons bespreek dus drie vrae: Hoe kan ons mense van onkreukbaarheid wees? Hoe kan ons ons Christelike onkreukbaarheid handhaaf? Wat kan gedoen word as iemand ’n ruk lank nie sy onkreukbaarheid gehandhaaf het nie?
Hoe kan ons mense van onkreukbaarheid wees?
3, 4. (a) Hoe help Jehovah ons om onkreukbaarheid op te bou? (b) Hoe kan ons onkreukbaarheid opbou, soos blyk uit Jesus se voorbeeld?
3 Soos ons in die vorige artikel gesien het, vereer Jehovah ons met die voorreg om te besluit of ons mense van onkreukbaarheid sal wees. Maar gelukkig laat hy ons hierin nie eenvoudig aan onsself oor nie. Hy leer ons hoe om hierdie kosbare eienskap aan te kweek, en hy gee ons mildelik van sy heilige gees, wat ons help om sy leringe toe te pas (Luk. 11:13). Hy voorsien selfs geestelike beskerming vir diegene wat daarna streef om in onkreukbaarheid te wandel.—Spr. 2:7.
4 Hoe het Jehovah ons geleer om handhawers van onkreukbaarheid te wees? Bowenal deur sy Seun, Jesus, aarde toe te stuur. Jesus het ’n weg van volmaakte gehoorsaamheid gevolg. Hy het “gehoorsaam geword tot in die dood” (Fil. 2:8). Jesus het sy hemelse Vader gehoorsaam in alles wat hy gedoen het, selfs toe dit uiters moeilik was. “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied”, het hy vir Jehovah gesê (Luk. 22:42). Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Het ek so ’n gehoorsame gees?’ As ons ’n weg van gehoorsaamheid met die regte beweegredes volg, sal ons handhawers van onkreukbaarheid wees. Beskou ’n paar gebiede van die lewe waar gehoorsaamheid besonder belangrik is.
5, 6. (a) Hoe het Dawid beklemtoon dat dit belangrik is om onkreukbaarheid te handhaaf selfs wanneer ander mense ons nie sien nie? (b) Voor watter uitdagings met betrekking tot onkreukbaarheid kom Christene vandag te staan wanneer hulle alleen is?
5 Ons moet Jehovah gehoorsaam selfs wanneer ons meen dat ons alleen is. Die psalmis Dawid het gelet op die belangrikheid van onkreukbaarheid wanneer hy alleen was. (Lees Psalm 101:2.) As koning was Dawid voortdurend in die kollig. Daar was ongetwyfeld baie kere dat honderde, selfs duisende, mense hom dopgehou het. (Vergelyk Psalm 26:12.) Op sulke tye was dit belangrik om onkreukbaarheid te handhaaf, want die koning moes ’n goeie voorbeeld vir sy volk stel (Deut. 17:18, 19). Maar Dawid het geleer dat hy nog steeds in onkreukbaarheid moes wandel selfs wanneer hy alleen was—‘in sy huis’. Wat van ons?
6 In Psalm 101:3 vind ons Dawid se woorde: “Ek sal geen waardelose ding voor my oë stel nie.” Daar is vandag baie geleenthede om waardelose dinge voor ons oë te stel, veral wanneer ons alleen is. Toegang tot die Internet bied vir talle ’n uitdaging in hierdie opsig. Dit is maklik om verlok te word om na suggestiewe, selfs pornografiese, materiaal te kyk. Maar is dít ’n daad van gehoorsaamheid aan die God wat Dawid geïnspireer het om hierdie woorde neer te skryf? Pornografie is skadelik, want dit wek verkeerde en gierige begeertes, skaad die gewete, ondermyn huwelike en verlaag almal wat daarby betrokke raak.—Spr. 4:23; 2 Kor. 7:1; 1 Tess. 4:3-5.
7. Watter beginsel kan ons help om onkreukbaarheid te handhaaf wanneer ons alleen is?
7 Geen kneg van Jehovah is natuurlik ooit werklik alleen nie. Ons Vader waak liefdevol oor ons. (Lees Psalm 11:4.) Hoe bly moet Jehovah tog wees wanneer hy sien dat jy ’n versoeking weerstaan! Wanneer jy dit doen, gee jy gehoor aan die waarskuwing wat in Jesus se woorde in Matteus 5:28 vervat is. Ja, wees vasbeslote om nie na beelde te kyk wat jou in die versoeking kan bring om verkeerd te doen nie. Moenie jou kosbare onkreukbaarheid verruil vir die skandelike daad om na pornografie te kyk of dit te lees nie!
8, 9. (a) Voor watter uitdaging met betrekking tot hulle onkreukbaarheid het Daniël en sy metgeselle te staan gekom? (b) Hoe maak jong Christene vandag Jehovah en hulle mede-Christene baie bly?
8 Ons kan ook handhawers van onkreukbaarheid wees deur Jehovah te gehoorsaam wanneer ons tussen ongelowiges is. Dink aan Daniël en sy drie metgeselle. Toe hulle jonk was, is hulle as gevangenes na Babilon weggevoer. Daar, omring deur ongelowiges wat min of niks van Jehovah geweet het nie, is die vier Hebreërs onder druk geplaas om lekkernye te eet wat deur God se Wet verbied is. Hierdie seuns kon maklik ’n weg van ongehoorsaamheid geregverdig het. Hulle ouers, die ouer manne en die priesters kon immers nie sien wat hulle vier doen nie. Wie sou weet? Jehovah sou. Daarom het hulle ’n ferm standpunt ingeneem en hom ondanks die druk en die gevaar gehoorsaam.—Dan. 1:3-9.
9 Jong Getuies van Jehovah regoor die wêreld volg ’n soortgelyke weg deur te bly by God se standaarde vir Christene en te weier om voor skadelike portuurdruk te swig. Wanneer julle as jongmense weier om betrokke te raak by dwelms, geweld, vloekery, onsedelikheid en ander verkeerde dinge, gehoorsaam julle Jehovah. Wanneer julle dit doen, handhaaf julle julle onkreukbaarheid. Julle bevoordeel julleself, en julle maak Jehovah en julle mede-Christene baie bly!—Ps. 110:3.
10. (a) Watter verkeerde beskouings van hoerery het party jongmense hulle onkreukbaarheid laat prysgee? (b) Hoe laat onkreukbaarheid ons optree wat die gevaar van hoerery betref?
10 Ons moet ook gehoorsaam wees in ons handelinge met lede van die teenoorgestelde geslag. Ons weet dat God se Woord hoerery verbied. ’n Gehoorsame gees kan egter maklik in ’n permissiewe gees verander. Party jongmense het hulle byvoorbeeld aan orale of anale seks of wedersydse masturbasie skuldig gemaak deur te rasionaliseer dat hierdie dade nie so sleg is nie, omdat hulle dink dat hulle tegnies gesproke nie “seks” het nie. Hierdie jongmense vergeet—of verkies dalk om die feit te ignoreer—dat die Bybelwoord vir hoerery al hierdie gebruike insluit, verkeerde gedrag waarvoor ’n mens uitgesit kan word.a Maar wat nog erger is, is dat hulle die belangrikheid van onkreukbaarheid ignoreer. Aangesien ons daarna streef om ons onkreukbaarheid te handhaaf, soek ons nie skuiwergate nie. Ons probeer nie om so naby as moontlik aan sonde te kom sonder om gestraf te word nie. Ons konsentreer nie hoofsaaklik op die moontlike regterlike gevolge van ’n verkeerde daad nie. Ons konsentreer eerder daarop om te doen wat Jehovah sal behaag deur te vermy wat sy gevoelens sal seermaak. In plaas van te kyk hoe naby ons aan sonde kan kom, bly ons eerder ver daarvan weg en “vlug [ons] vir die hoerery” (1 Kor. 6:18). So toon ons dat ons ware handhawers van onkreukbaarheid is.
Hoe kan ons ons onkreukbaarheid handhaaf?
11. Waarom is elke daad van gehoorsaamheid belangrik? Lig toe.
11 Ons bou onkreukbaarheid op deur gehoorsaam te wees; ons handhaaf dus onkreukbaarheid deur in ’n gehoorsame weg te volhard. ’n Enkele daad van gehoorsaamheid lyk miskien onbeduidend—na iets gerings. Maar sulke gehoorsame dade vorm met verloop van tyd ’n rekord van onkreukbaarheid. Ter toeligting: ’n Enkele baksteen lyk miskien onbeduidend, maar as ons baie bakstene sorgvuldig bymekaarsit, kan ons ’n mooi huis bou. Deur dus voortdurend op ons dade van gehoorsaamheid te bou, handhaaf ons ons onkreukbaarheid.—Luk. 16:10.
12. Hoe het Dawid ’n voorbeeld daarin gestel om onkreukbaarheid te handhaaf ondanks slegte behandeling en onreg?
12 Ons onkreukbaarheid is veral duidelik wanneer ons ondanks ontberinge, slegte behandeling of onreg volhard. Beskou die Bybelse voorbeeld van Dawid. As ’n jong man is hy vervolg deur ’n koning wat veronderstel was om Jehovah se gesag te verteenwoordig. Koning Saul het egter reeds Jehovah se guns verloor en was bitter jaloers op Dawid, wat God se goedkeuring geniet het. Maar Saul het nog ’n ruk lank aan bewind gebly en Israel se leër gebruik om jag te maak op Dawid. Jehovah het toegelaat dat hierdie onreg ’n aantal jare voortduur. Was Dawid verbitterd teen God? Het hy besluit dat dit nutteloos is om te volhard? Inteendeel. Hy het groot respek vir Saul se posisie as God se gesalfde behou en geweier om weerwraak op Saul te neem toe die geleentheid hom voordoen.—1 Sam. 24:2-7.
13. Hoe kan ons ons onkreukbaarheid handhaaf as ons seergemaak of te na gekom word?
13 Wat ’n kragtige voorbeeld was Dawid tog vir ons wat vandag lewe! Ons is deel van ’n wêreldwye gemeente van onvolmaakte mense, en enigeen van hulle kan ons veronreg of kan selfs ontrou raak. Dit is natuurlik vir ons ’n seën om te lewe gedurende ’n tyd wanneer Jehovah se volk as ’n geheel nooit verderf kan word nie (Jes. 54:17). Maar hoe sal ons reageer as iemand ons teleurstel of ons gevoelens seermaak? As ons toelaat dat verbitterdheid teenoor ’n medeaanbidder ons hart vergiftig, kan dit ons onkreukbaarheid teenoor God ondermyn. Ander se gedrag is nooit ’n verskoning vir ons om verbitterd teen God te raak of om ’n getroue weg te versaak nie (Ps. 119:165). As ons selfs te midde van beproewinge volhard, sal dit ons help om ons onkreukbaarheid te handhaaf.
14. Hoe reageer handhawers van onkreukbaarheid op organisatoriese veranderinge en leerstellige verfynings?
14 Ons kan ook onkreukbaarheid handhaaf deur ’n foutvinderige, kritiese gees te vermy. Dit beteken natuurlik dat ons lojaal aan Jehovah moet wees. Hy seën sy volk nou meer as ooit tevore. Rein aanbidding was in die hele geskiedenis nog nooit so verhewe op die aarde nie (Jes. 2:2-4). Wanneer aanpassings gemaak word in die verklaring van Bybeltekste of in die manier waarop dinge gedoen word, wil ons dit aanvaar. Ons is verheug om bewyse te sien dat die geestelike lig nog steeds toeneem (Spr. 4:18). Wanneer dit vir ons moeilik is om ’n verandering te verstaan, vra ons Jehovah om ons te help om die punt te begryp. Intussen volhard ons in ’n gehoorsame weg, en so handhaaf ons ons onkreukbaarheid.
Sê nou iemand handhaaf nie onkreukbaarheid nie?
15. Slegs wie kan jou jou onkreukbaarheid laat prysgee?
15 Hierdie vraag stem ’n mens tot nadenke, nie waar nie? Soos ons in die vorige artikel geleer het, is onkreukbaarheid absoluut noodsaaklik. Daarsonder het ons geen verhouding met Jehovah en geen ware hoop nie. Hou in gedagte: Daar is net een persoon in die heelal wat jou jou onkreukbaarheid kan laat prysgee. Daardie persoon is jy. Job het hierdie waarheid goed verstaan. Hy het gesê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). As jy net so vasbeslote is en as jy na aan Jehovah bly, hoef jy nooit jou greep op jou onkreukbaarheid te verloor nie.—Jak. 4:8.
16, 17. (a) Wat is die verkeerde weg om te volg as jy in ernstige sonde verval? (b) Wat is die regte weg om te volg?
16 Nogtans handhaaf party nie hulle onkreukbaarheid nie. Net soos in die dae van die apostels begin party ernstige sondes beoefen. Sou die situasie hopeloos wees as dit met jou gebeur? Nie noodwendig nie. Wat kan gedoen word? Kom ons bespreek eers wat om nie te doen nie. Die menslike neiging is om ’n oortreding vir ouers, mede-Christene of die ouer manne weg te steek. Maar die Bybel herinner ons: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word” (Spr. 28:13). Diegene wat sondes probeer bedek, begaan ’n tragiese fout, want niks kan vir God weggesteek word nie. (Lees Hebreërs 4:13.) Party probeer selfs ’n dubbele lewe lei deur voor te gee dat hulle Jehovah dien terwyl hulle voortgaan om sonde te beoefen. So ’n lewe is ontbloot van enige onkreukbaarheid—trouens, dit is net mooi die teenoorgestelde van onkreukbaarheid. Jehovah skep nie behae in dade van aanbidding wat verrig word deur mense wat ernstige sondes wegsteek nie. Inteendeel, sulke huigelary wek sy toorn.—Spr. 21:27; Jes. 1:11-16.
17 Wanneer ’n Christen hom aan ernstige oortreding skuldig maak, is dit duidelik wat die regte ding is om te doen. Dit is tyd om Christen- ouer manne om hulp te vra. Jehovah het ’n reëling ingestel vir die hantering van gevalle van ernstige geestelike siekte. (Lees Jakobus 5:14.) Moenie dat vrees vir moontlike dissipline of teregwysing jou verhinder om jou geestelike gesondheid te herwin nie. Sal ’n wyse persoon op stuk van sake toelaat dat die kortstondige pyn van ’n inspuiting of selfs ’n operasie hom verhinder om iets omtrent ’n lewensgevaarlike gesondheidsprobleem te doen?—Heb. 12:11.
18, 19. (a) Hoe toon Dawid se voorbeeld dat onkreukbaarheid herwin kan word? (b) Wat is jou vaste voorneme ten opsigte van jou onkreukbaarheid?
18 Is daar hoop op algehele herstel? Kan onkreukbaarheid herwin word nadat dit verloor is? Beskou weer die voorbeeld van Dawid. Hy het in ernstige sonde verval. Hy het met hebsug na ’n ander man se vrou gekyk, egbreuk gepleeg en gereël dat die onskuldige huweliksmaat doodgemaak word. ’n Mens kan nouliks dink dat Dawid op daardie stadium ’n man van onkreukbaarheid was. Maar was sy situasie hopeloos? Dawid het streng dissipline nodig gehad en het dit ontvang. Toe het sy opregte berou Jehovah beweeg om barmhartigheid te bewys. Dawid het uit die dissipline geleer en het sy onkreukbaarheid herwin deur God te gehoorsaam en in daardie weg te volhard. Dawid se lewe het toegelig wat ons in Spreuke 24:16 lees: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.” Die gevolg? Dink aan wat Jehovah ná Dawid se dood vir Salomo oor hom gesê het. (Lees 1 Konings 9:4.) God het aan Dawid gedink as ’n man van onkreukbaarheid. Jehovah kan berouvolle sondaars inderdaad reinig van die vlek van selfs ernstige sondes.—Jes. 1:18.
19 Ja, jy sal ’n handhawer van onkreukbaarheid wees as jy liefdevolle gehoorsaamheid toon. Volhard lojaal, en openbaar opregte berou as jy ’n ernstige sonde pleeg. Wat ’n kosbare skat is onkreukbaarheid tog! Mag elkeen van ons dieselfde vaste voorneme hê as Dawid: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel.”—Ps. 26:11.
[Voetnoot]
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan jy ’n handhawer van onkreukbaarheid wees?
• In watter opsigte kan jy jou onkreukbaarheid handhaaf?
• Hoe is dit moontlik om onkreukbaarheid te herwin?
[Venster op bladsy 8]
‘DIT WAS PRAGTIG’
Dit is wat ’n vrou wat vyf maande swanger was, oor die goedhartigheid en onkreukbaarheid van ’n vreemdeling gesê het. Sy was in ’n koffiewinkel, en ure later het sy besef dat sy haar beursie daar gelos het. Daar was R16 000 in die beursie, baie meer geld as wat sy gewoonlik by haar hou. “Ek was verpletter”, het sy later vir ’n plaaslike koerant gesê. Maar ’n jong vrou het die beursie gevind en dadelik die regmatige eienaar gesoek. Toe sy nie die eienaar kon vind nie, het sy dit na die polisiestasie geneem, en die polisie het die swanger vrou opgespoor. “Dit was werklikwaar ’n pragtige daad”, het die dankbare eienaar gesê. Waarom het die jong vrou soveel moeite gedoen om die geld terug te besorg? Die koerant het gemeld dat sy as een van Jehovah se Getuies “haar onkreukbaarheid toeskryf aan die godsdiens waarin sy grootgemaak is”.
[Prent op bladsy 9]
Jongmense kan onkreukbaarheid handhaaf wanneer hulle getoets word
[Prent op bladsy 10]
Dawid het ’n ruk lank nie onkreukbaarheid gehandhaaf nie, maar hy het dit herwin