Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 1/15 bl. 21-23
  • ‘Streef jy na gasvryheid’?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Streef jy na gasvryheid’?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kenmerk van die ware Christelike godsdiens
  • Die Christin se rol
  • Die gebalanseerde beskouing
  • Wie moet genooi word?
  • Die gasvrye persoon word ryklik beloon
  • Die lieflike weg van gasvryheid — Iets wat dringend nodig is!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • “Volg die weg van gasvryheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Deel “goeie dinge” deur gasvry te wees (Matt. 12:35a)
    Ons Koninkryksbediening—2014
  • Christelike gasvryheid in ’n verdeelde wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 1/15 bl. 21-23

‘Streef jy na gasvryheid’?

DIT was ’n warm dag. ’n Groep van Jehovah se Getuies, jonk en oud, het hard gewerk. Hulle het skoongemaak, geverf en verskeie werkies tydens die opknapping van ’n Koninkryksaal gedoen. Teen die middel van die namiddag het hulle taamlik moeg geword en het party gesit om so ’n bietjie te rus.

Net toe kom drie Getuiesusters met toebroodjies, koekies, koek, koffie, tee en ander drinkgoed ingeloop. Wat ’n aangename verrassing vir daardie moeë siele! Die drie susters se spontane betuiging van gasvryheid en liefde het nie net die werkers fisies verfris nie, maar het ook bygedra tot die hartlike en liefdevolle gees wat daardie middag onder die hele gemeenskap van broers en susters daar geheers het.

’n Kenmerk van die ware Christelike godsdiens

Gasvryheid en liefde is natuurlik nie beperk tot sulke spesiale geleenthede nie. Die Stigter van die ware Christelike godsdiens, Jesus Christus, het aangaande sy ware volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Ook die apostel Paulus vermaan sy mede-Christene eweneens: “Streef na gasvryheid” (Johannes 13:35; Romeine 12:13). Met ander woorde, die strewe na gasvryheid wat gemotiveer word deur onselfsugtige liefde vir ander is ’n lewenswyse vir ware Christene.

Sulke eienskappe kom egter nie vanself wanneer ’n persoon ’n Christen word nie. Dit verg eerder harde werk om dit aan te kweek. Dit is veral so in vandag se wêreld waar die liefde van die meeste mense verkoel het, soos die Bybel voorspel het (Mattheüs 24:12). Maar wat ’n kontras waar sulke eienskappe wel bestaan! In ’n hegte gesin geniet gesinslede mekaar se geselskap en bring hulle graag saam tyd deur. Wanneer die lede van die Christengemeente gereeld by vergaderings, in die veldbediening en by ander geleenthede met mekaar assosieer, leer hulle mekaar eweneens goed ken. Hulle word ware vriende, miskien selfs hegter as gesinslede (Spreuke 18:24). Hierdie band van vriendskap tussen medegetuies van Jehovah dien as ’n ware beskerming teen die slegte invloed van die wêreld.

Die Christin se rol

Alhoewel alle Christene vermaan word om ‘gasvryheid na te streef’, speel Christinne ’n belangrike rol in die verband. Trouens, is dit nie gewoonlik die vroue, veral die getroudes, wat die meeste van die werk doen wanneer gasvryheid betoon word nie? Is dit nie die vrou wat gewoonlik die huis skoonmaak, die eet- en drinkgoed voorberei en die skoonmaakwerk agterna doen wanneer die man sekeres in die gemeente vir ’n bietjie Christelike omgang uitnooi nie? Selfs al kan die man en kinders hand bysit, en hulle moet gewillig wees om dit te doen, is dit onvermydelik die vrou se taak om toe te sien dat daar in almal se behoeftes voorsien word.

Dit is prysenswaardig dat baie getroude Christinne hulself gewillig inspan om ware gasvryheid teenoor hulle geestelike broers en susters te betoon. Dip Yee, ’n voltydse pionierbedienares in Hongkong wie se man ’n ouere man in die plaaslike gemeente is, is ’n goeie voorbeeld. Al beteken dit ook baie werk wanneer hulle broers en susters, soms selfs die hele boekstudiegroep, uitnooi, betoon sy graag gasvryheid. Sy sê: “Ons hou die maal eenvoudig. Dit is goed om te sien hoe baie die broers die omgang geniet en om daardeur opgebou te word.” Deur hulle gasvryheid speel Christinne voorwaar ’n belangrike rol in die opbou van hartlikheid in die gemeente.

Met die oog op alles wat betrokke is by die betoning van gasvryheid verg dit ongetwyfeld vlyt en selfopoffering van Christinne. Maar hulle kan daarvan seker wees dat hulle liefde-arbeid hoog op prys gestel word deur hulle mans en ander dankbare ontvangers daarvan. Soms sal sommige natuurlik nie behoorlike waardering toon vir wat vir hulle gedoen word nie, maar dit is werklik geen rede om ontmoedig of gebelg te voel, of om op te hou om gasvry te wees nie. Onthou, terwyl dit aangenaam is om dankbetuigings van ander te ontvang en te besef dat ons pogings waardeer word, betoon ons gasvryheid veral omdat dit die regte en liefdevolle ding is om te doen. Dit behaag bowenal Jehovah God.

Die gebalanseerde beskouing

In hierdie dae van stygende pryse huiwer sommige moontlik om gasvryheid te betoon omdat hulle voel dat hulle dit nie kan bekostig nie. Dit is hier waar dit belangrik is om ’n gebalanseerde beskouing van die saak te hê. Hoewel iets spesiaals om te eet of te drink die geleentheid aangenamer kan maak, is dit nie die hooffaktor nie. God se Woord vestig baie wyslik ons aandag hierop: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spreuke 15:17). Wat ons het of voorsit, is nie die belangrike saak nie. Wat wel saak maak en wat waardeer word, is die wedersyds opbouende omgang en die gees van liefde wat ons openbaar.

Beskou die geval van Fung Hing, ’n suster in haar veertigerjare met ’n geopponeerde man. Sy woon in ’n klein vertrekkie in een van die yslike openbare behuisingseiendomme in Hongkong. Sy is beslis nie welgesteld nie. Trouens, sy moet deeltyds werk om die gesin se inkomste aan te vul. Tog is sy vrygewig met wat sy het. Wanneer die Getuies in die gemeente in haar buurt van huis tot huis preek, nooi sy hulle dikwels na haar huis vir ’n bietjie verversings. So ’n liefdevolle gebaar word nie net deur haar mede-Christene waardeer nie, maar bewys ook dat ’n mens nie welgesteld hoef te wees om ware gasvryheid te betoon nie.

Al probeer ons ook hoe om matig te wees wanneer ons onthaal, sal ons dit dalk nietemin nodig vind om sekere dinge prys te gee sodat ons gasvryheid kan betoon. Is dit die moeite werd? Beslis, as ons gemotiveer word deur ware Christenliefde. Want watter liefde is sonder opoffering? Beide Jehovah en Jesus het hulle liefde aan die mensdom getoon deur groot opofferings te maak​—Jehovah het sy Seun opgeoffer, en Jesus sy volmaakte menselewe.​—Johannes 3:16; 15:13.

Die vroeë Christene het ook liefdevol gehandel. Aangaande die broers in Macedonië het die apostel Paulus geskryf: “Dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid. Want hulle was na vermoë​—ek betuig dit—​ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang” (2 Korinthiërs 8:2-4). Hulle “diepe armoede” en die feit dat hulle “bo vermoë” gewillig was, het hulle vrygewigheid soveel meer opreg en roerend gemaak.

Of ’n mens nou arm of betreklik welgesteld is, en ten spyte van moderne geriewe, verg dit nogtans tyd, energie en middele om gasvryheid te betoon. Basies is die vraag dus: Is ons gewillig om onsself in te span sodat ander die seëninge van Christelike omgang kan geniet? Onthou, “die siel wat seën, word versadig”, sê die Bybelspreuk, “en hy wat laaf, word self ook gelaaf”. Ons kan ook troos put uit die gedagte dat wanneer ons gasvryheid betoon uit gehoorsaamheid aan Jehovah se verklaarde bevel en in navolging van sy grootse voorbeeld, ons in werklikheid “leen aan die HERE”.​—Spreuke 11:25; 19:17.

Wie moet genooi word?

“Wanneer jy ’n môre- of middagete gee”, het Jesus eenmaal gesê, “moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie.” Waarom nie? “Sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie” (Lukas 14:12). Die punt wat Jesus hier gestel het, is nie soseer dat ons nie ons vriende en familie vir ’n ete moet nooi nie. Hy het by tye wel ’n maaltyd saam met sy vriende, soos in die huis van Maria en Martha, geniet. Die punt is dat ons nie gasvryheid moet betoon met die gedagte om iets in ruil daarvoor te kry nie.

Soos Jesus verder getoon het, moet ons eerstens oorweeg om die uit te nooi wat die meeste by die omgang baat sal vind (Lukas 14:13). Dit kan die wees wat aanmoediging nodig het, die wat nuut in die waarheid is, die wat skugter of teruggetrokke is en die bejaardes. Die opbouende effek wat sulke omgang kan hê, word getoon deur die opmerkings van Oi Yuk, ’n bejaarde suster wat baie ywerig maar sieklik is: “Die broers nooi my dikwels uit na hulle gesellighede en is op baie maniere vir my goed. Dit maak my baie gelukkig om deel te wees van die groot gesin!”

Die doel van sulke samesyn is klaarblyklik veel meer as net gesellige verkeer. Dit is eerder om mekaar op te bou en die band van liefde onder mede-aanbidders van Jehovah te versterk. Daarom moet die klem op die handhawing van ’n opbouende en bemoedigende atmosfeer eerder as die oorvloed van spys en drank val. Daar moet ook aandag geskenk word aan die aktiwiteite en gesprekke by sulke geleenthede. Hoewel dit nie nodig is dat al die aktiwiteite om die Bybel draai of al die gesprekke oor Skriftuurlike onderwerpe handel nie, sal dit verstandig en liefdevol wees om dit altyd opbouend en bemoedigend te hou. Ons moet beslis mededingende speletjies, bogpraatjies of neerhalende aanmerkings vermy.​—Efesiërs 4:29, 31.

Die gasvrye persoon word ryklik beloon

Alhoewel ’n mens nie gasvryheid moet betoon met die gedagte om iets in ruil daarvoor te kry nie, beteken dit nie dat die gasvrye persoon geen beloning ontvang nie. Inteendeel, die betoning van ware gasvryheid bring baie beloninge mee, ofskoon ongesog. Dit help ’n mens om nuwe vriende te maak, en dit versterk ou vriendskapsbande. Dit spoor ander aan om ook die gees van vrygewigheid en gasvryheid aan te kweek (Lukas 6:38; Spreuke 11:25). Die gasvryste Persoon in die heelal, ons liefdevolle Skepper Jehovah God, sal daarbenewens toesien dat diegene wat waarlik gasvry is, nooit gebrek ly nie, want hy waardeer diegene wat soos hy “streef na gasvryheid”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel