Christelike gasvryheid in ’n verdeelde wêreld
“Ons staan dus onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word.”—3 JOHANNES 8.
1. Watter uiters begeerlike gawes het die Skepper aan die mensdom gegee?
“DAAR [is] niks beters . . . vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son” (Prediker 8:15). Met daardie woorde sê die eertydse Hebreeuse Prediker vir ons dat Jehovah God nie net wil hê dat sy menseskepping vreugdevol en gelukkig moet wees nie, maar dat hy ook die middele voorsien om dit moontlik te maak. Dit wil voorkom asof mense deur die geskiedenis heen in alle wêrelddele die een gemeenskaplike begeerte gehad het om pret en plesier te hê.
2. (a) Hoe het die mensdom in stryd met Jehovah se voorneme vir hulle opgetree? (b) Wat is die gevolg?
2 Vandag lewe ons in ’n genotsugtige samelewing waarin mense behep is met die najaging van genot en plesier. Die meeste mense het “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” geword, soos die Bybel voorspel het (2 Timoteus 3:1-4). Dit is natuurlik geheel en al in stryd met Jehovah God se voorneme. Wanneer die najaging van plesier op sigself ’n doel word of wanneer selfbevrediging die uitsluitlike oogmerk word, is daar geen ware bevrediging nie, en ‘alles word tevergeefs en ’n gejaag na wind’ (Prediker 1:14; 2:11). As gevolg hiervan is die wêreld vol eensame en gefrustreerde mense, en dit gee weer aanleiding tot baie van die probleme in die samelewing (Spreuke 18:1). Mense bejeën mekaar met agterdog en word op grond van rasse-, etniese, sosiale en ekonomiese agtergrond verdeel.
3. Hoe kan ons ware vreugde en bevrediging vind?
3 Hoe anders sou dinge tog gewees het as mense Jehovah nagevolg het in die manier waarop hy ander behandel—as hulle goedhartig, vrygewig, gasvry was! Hy het dit duidelik gemaak dat die sleutel tot ware geluk nie daarin lê dat ons ons eie begeertes probeer bevredig nie. Die sleutel lê eerder hierin: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Om ware vreugde en bevrediging te vind, moet ons hindernisse en verdeeldhede oorkom wat ons dalk inperk. En ons moet nader kom aan diegene wat Jehovah saam met ons dien. Dit is baie belangrik dat ons ag gee op die raad: “Ons staan dus onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word” (3 Johannes 8). As ons gasvryheid aan waardiges betoon in die mate waartoe ons omstandighede ons toelaat, lewer dit op twee maniere goeie resultate—dit bevoordeel die gewers sowel as die ontvangers. Wie is dus onder die waardiges wat ons ‘gasvry moet ontvang’?
‘Sien om na wese en weduwees’
4. Watter verandering in gesinsverhoudinge word selfs onder party van Jehovah se knegte waargeneem?
4 Stabiele gesinne en gelukkige huwelike is vandag iets seldsaams. Stygende egskeidingsyfers en die toenemende aantal ongehude moeders oor die wêreld het die tradisionele gesin ingrypend verander. Gevolglik kom baie wat in onlangse jare Getuies van Jehovah geword het uit gebroke gesinne. Hulle is óf geskei óf lewe nie meer saam met hulle huweliksmaat nie of hulle is deel van ’n enkelouergesin. Daarbenewens het die waarheid wat Jesus ander geleer het, soos hy voorspel het, verdeeldheid in baie gesinne tot gevolg gehad.—Matteus 10:34-37; Lukas 12:51-53.
5. Wat het Jesus gesê wat ’n bron van aanmoediging vir diegene in verdeelde gesinne kan wees?
5 Dit verbly ons hart om te sien hoe nuwelinge ’n ferm standpunt vir die waarheid inneem, en ons bemoedig hulle dikwels met Jesus se aanmoedigende belofte: “Voorwaar, ek sê vir julle: Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Markus 10:29, 30.
6. Hoe kan ons ‘broers, susters, moeders en kinders’ vir die “wese en weduwees” in ons midde word?
6 Maar wie is hierdie ‘broers en susters en moeders en kinders’? Die blote feit dat ’n mens ’n groot aantal mense by ’n Koninkryksaal sien, dikwels honderd of meer, wat hulleself broers en susters noem, laat ’n persoon nie outomaties voel dat hulle sy broers, susters, moeders en kinders is nie. Dink hieraan: Die dissipel Jakobus herinner ons daaraan dat ons ‘na wese en weduwees in hulle verdrukking moet omsien en ons sonder vlek van die wêreld moet bewaar’ sodat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar kan wees (Jakobus 1:27). Dit beteken dat ons nie moet toelaat dat wêreldse gesindhede van ekonomiese trots en klassemeerderwaardigheid ons deur van medelye vir sulke “wese en weduwees” sluit nie. Ons moet eerder die inisiatief neem om vriendskap en gasvryheid aan hulle te betoon.
7. (a) Wat is die eintlike rede waarom ons gasvry teenoor “wese en weduwees” wil wees? (b) Wie kan ook Christelike gasvryheid aan ander betoon?
7 Om gasvryheid aan “wese en weduwees” te betoon, behels nie altyd dat ons vergoed vir wat hulle dalk materieel kortkom nie. Enkelouergesinne of godsdienstig verdeelde huisgesinne is nie noodwendig finansieel in die knyp nie. Maar die heilsame assosiasie, die gesinsatmosfeer, die vriendskap van persone van verskillende ouderdomme en die geestelik opbouende omgang—dit is die kosbare aspekte van die lewe. As ons dus onthou dat dit nie die spoggerige geleentheid nie, maar die gees van liefde en eenheid is wat werklik belangrik is, sal dit selfs vir “wese en weduwees” goed wees om soms gasvryheid aan mede-Christene te betoon!—Vergelyk 1 Konings 17:8-16.
Is daar vreemdelinge onder ons?
8. Watter verandering word in baie gemeentes van Jehovah se Getuies gesien?
8 Ons lewe in ’n tyd van grootskaalse bevolkingsbeweging. “Meer as 100 miljoen mense regoor die wêreld woon in lande waarvan hulle nie burgers is nie, en 23 miljoen is vlugtelinge in hulle eie land”, sê World Press Review. ’n Regstreekse gevolg hiervan is dat gemeentes van Jehovah se knegte in baie gebiede, veral in groot stede, wat vroeër hoofsaaklik uit een ras of nasionaliteit bestaan het nou mense van verskillende wêrelddele insluit. Miskien is dit die geval waar jy is. Maar hoe moet ons hierdie “uitlanders” en “vreemdelinge” beskou, soos die wêreld hulle soms noem, wie se taal, gebruike en lewenswyse dalk van ons s’n verskil?
9. In watter ernstige slaggat kan ons trap ten opsigte van ons beskouing van die “uitlanders” en “vreemdelinge” wat in die Christengemeente inkom?
9 Kortom, ons moenie toelaat dat enige xenofobiese neigings ons laat voel dat ons op die een of ander manier die voorreg om die waarheid te ken waardiger is as diegene wat van ’n vreemde of so genoemde heidense land gekom het nie; en ons moenie dink dat hierdie nuwelinge oortree wanneer hulle die Koninkryksaal of ander fasiliteite gebruik nie. Die apostel Paulus moes sommige eerste-eeuse Joodse Christene wat sulke beskouings gehad het daaraan herinner dat niemand werklik verdienstelik is nie; dit was God se onverdiende goedhartigheid wat dit hoegenaamd vir enigeen moontlik gemaak het om redding te verkry (Romeine 3:9-12, 23, 24). Ons moet ons daarin verheug dat God se onverdiende goedhartigheid nou soveel mense bereik wat om een of ander rede nie die geleentheid gehad het om die goeie nuus te hoor nie (1 Timoteus 2:4). Hoe kan ons toon dat ons geneentheid vir hulle opreg is?
10. Hoe kan ons toon dat ons werklik gasvry is teenoor die “vreemdelinge” onder ons?
10 Ons kan ag slaan op Paulus se vermaning: “Verwelkom mekaar . . . , net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God” (Romeine 15:7). Omdat ons weet dat mense van ander lande of agtergronde dikwels minderbevoorreg is, moet ons goedhartigheid en besorgdheid teenoor hulle betoon wanneer ons by magte is om dit te doen. Ons moet hulle in ons midde verwelkom en elkeen “soos ’n kind van die land” behandel en ‘hom liefhê soos onsself’ (Levitikus 19:34). Dit is miskien nie maklik om dit te doen nie, maar ons sal sukses behaal as ons die raad onthou: “Hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.”—Romeine 12:2.
Deel met die heiliges
11, 12. Watter spesiale agting is betoon teenoor sekere knegte van Jehovah in (a) eertydse Israel (b) die eerste eeu?
11 Onder diegene wat werklik ons agting en gasvryheid verdien, is ryp Christene wat hard werk in die belang van ons geestelike welsyn. Jehovah het spesiale voorsienings vir die priesters en die Leviete in eertydse Israel gemaak (Numeri 18:25-29). In die eerste eeu is Christene ook aangespoor om vir diegene te sorg wat hulle in spesiale hoedanighede gedien het. Die verslag in 3 Johannes 5-8 gee ons ’n kykie na die hegte band van liefde wat onder die vroeë Christene bestaan het.
12 Die bejaarde apostel Johannes het Gajus se goedhartigheid en gasvryheid teenoor sekere reisende broers wat gestuur is om die gemeente te besoek hoog op prys gestel. Hierdie broers—onder andere Demetrius, wat klaarblyklik die draer van die brief was—was almal vreemdelinge of voorheen onbekend aan Gajus. Maar hulle is gasvry ontvang omdat dit ‘ter wille van God se naam was dat hulle uitgegaan het’. Johannes het dit soos volg gestel: “Ons staan dus onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word.”—3 Johannes 1, 7, 8.
13. Wie onder ons verdien veral vandag om ‘gasvry ontvang’ te word?
13 Vandag is daar baie persone in Jehovah se organisasie wat hulle ten behoewe van die hele gemeenskap van broers kragtig inspan. Hulle is onder meer die reisende opsieners wat week na week hulle tyd en energie gebruik om die gemeentes op te bou; die sendelinge, wat familie en vriende agterlaat om in ander lande te preek; diegene wat in Bethelhuise of takkantore dien wat hulle dienste aanbied om die wêreldwye predikingswerk te ondersteun asook diegene in die pionierdiens wat die meeste van hulle tyd en energie in die veldbediening gebruik. In werklikheid werk al hierdie persone hard, nie vir enige persoonlike eer of voordeel nie, maar uit liefde vir die Christenbroederskap en vir Jehovah. Hulle is navolgenswaardig vanweë hulle heelhartige toegewydheid en verdien om ‘gasvry ontvang’ te word.
14. (a) Hoe word ons beter Christene wanneer ons gasvryheid aan getroue persone betoon? (b) Waarom het Jesus gesê dat Maria “die goeie deel” gekies het?
14 Wanneer ons ‘sulke mense gasvry ontvang’, het die apostel Johannes getoon, word ons “medewerkers in die waarheid”. In sekere sin word ons as gevolg daarvan beter Christene. Dit is omdat Christelike werke insluit dat ons goed doen aan medegelowiges (Spreuke 3:27, 28; 1 Johannes 3:18). Ons word ook op ’n ander manier beloon. Toe Maria en Marta Jesus in hulle huis ontvang het, wou Marta ’n goeie gasvrou wees deur “baie dinge” vir Jesus voor te berei. Maria het gasvryheid op ’n ander manier betoon. Sy het “by die voete van die Here gaan sit en na sy woord bly luister”, en Jesus het haar geprys omdat sy “die goeie deel” gekies het (Lukas 10:38-42). Gesprekke en besprekings met diegene wat jare lange ondervinding het, is dikwels die hoogtepunt van ’n aand wat in hulle geselskap deurgebring word.—Romeine 1:11, 12.
By spesiale geleenthede
15. Watter spesiale geleenthede kan gelukkige tye vir Jehovah se volk wees?
15 Hoewel ware Christene nie gewilde gebruike volg of aan wêreldse vakansies en feesvierings deelneem nie, is daar geleenthede wanneer hulle bymekaarkom om mekaar se geselskap te geniet. Jesus het byvoorbeeld ’n huweliksfees in Kana bygewoon en tot die vreugde van die geleentheid bygedra deur sy eerste wonderwerk daar te verrig (Johannes 2:1-11). Jehovah se volk geniet eweneens vandag gelukkige tye saam by soortgelyke spesiale geleenthede, en gepaste feesviering en vrolikheid dra baie tot sulke geleenthede by. Maar wat is gepas?
16. Watter riglyne het ons in verband met gepaste gedrag selfs vir spesiale geleenthede?
16 Uit ons studie van die Bybel leer ons wat gepaste gedrag vir Christene is, en dit is wat ons te alle tye volg (Romeine 13:12-14; Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 5:3-5). Gesellighede, hetsy in verband met troues of om enige ander rede, veroorloof ons nie om ons Christelike standaarde oorboord te gooi of om dinge te doen wat ons nie gewoonlik sal doen nie; ons is ook nie verplig om al die gebruike van die land waarin ons woon te volg nie. Baie daarvan is op valse godsdiensgebruike of op bygelowe gegrond, en ander sluit gedrag in wat beslis vir Christene onaanvaarbaar is.—1 Petrus 4:3, 4.
17. (a) Watter faktore toon dat die huweliksfees in Kana goed georganiseer en onder behoorlike toesig was? (b) Wat toon dat Jesus daardie geleentheid goedgekeur het?
17 Wanneer ons Johannes 2:1-11 lees, is dit nie vir ons moeilik om te sien dat dit ’n groot geleentheid was en dat daar ’n hele aantal gaste was nie. Jesus en sy dissipels was egter ‘genooide’ gaste; hulle het nie net daar opgedaag nie, hoewel ten minste sommige van hulle waarskynlik aan die gasheer verwant was. Ons let ook op dat daar “dienaars” sowel as ’n “feesleier” was, wat leiding sou gee met betrekking tot wat bedien of gedoen moes word. Dit alles toon dat die geleentheid goed georganiseer en onder behoorlike toesig was. Die verslag eindig deur te sê dat Jesus, deur dít wat hy by die fees gedoen het, “sy heerlikheid openbaar gemaak” het. Sou hy daardie geleentheid gekies het om dit te doen as dit ’n onordelike en wilde partytjie was? Beslis nie.
18. Waaroor moet ernstig nagedink word wanneer enige sosiale geleentheid gereël word?
18 Wat moet ons dus in gedagte hou as ons enige spesiale geleentheid wil reël? Ons wil onthou dat ons ander gasvry ontvang met die doel dat ons almal “medewerkers in die waarheid kan word”. Dit is derhalwe nie genoeg om ’n geleentheid ’n “Getuie”-geselligheid te noem nie. Die vraag kan gevra word: Is dit werklik ’n getuienis van wie ons is en wat ons glo? Ons moet nooit sulke gesellighede as geleenthede beskou om te sien hoe na ons aan die wêreld se weë kan kom deur ons aan “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” oor te gee nie (1 Johannes 2:15, 16). Hierdie geleenthede moet eerder ons rol as Jehovah se Getuies op ’n gepaste wyse weerspieël, en ons moet seker wees dat ons gedrag Jehovah tot eer strek en hom verheerlik.—Matteus 5:16; 1 Korintiërs 10:31-33.
‘Wees gasvry sonder om te mor’
19. Waarom moet ons ‘gasvry teenoor mekaar wees sonder om te mor’?
19 Namate wêreldtoestande voortdurend agteruitgaan en mense al hoe meer verdeeld raak, moet ons alles in ons vermoë doen om die hegte band te versterk wat tussen ware Christene bestaan (Kolossense 3:14). Met hierdie doel voor oë moet ons “intense liefde vir mekaar hê”, soos Petrus ons aangespoor het. Hy het toe praktiese raad gegee en bygevoeg: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te mor” (1 Petrus 4:7-9). Is ons bereid om die inisiatief te neem om gasvry teenoor ons broers te wees, om moeite te doen om goedhartig en behulpsaam te wees? Of mor ons wanneer so ’n geleentheid hom voordoen? As ons dit doen, ontneem ons ons die vreugde wat ons kon gesmaak het en verbeur ons die beloning van geluk omdat ons goed gedoen het.—Spreuke 3:27; Handelinge 20:35.
20. Watter seëninge lê vir ons voor as ons gasvryheid in vandag se verdeelde wêreld betoon?
20 As ons in eenheid saam met ons mede-Christene werk en goedhartig en gasvry teenoor mekaar is, sal dit eindelose seëninge meebring (Matteus 10:40-42). Jehovah het aan sulke persone belowe dat hy “sy tent oor hulle [sal] uitsprei. Hulle sal nie meer honger of dors wees nie.” Om in Jehovah se tent te wees, beteken om sy beskerming en gasvryheid te geniet (Openbaring 7:15, 16; Jesaja 25:6). Ja, ons het die vooruitsig om binnekort Jehovah se gasvryheid vir ewig te geniet.—Psalm 27:4; 61:4, 5.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat moet ons nie oor die hoof sien as ons ware geluk en bevrediging wil vind nie?
◻ Wie is die “wese en weduwees”, en hoe moet ons ‘na hulle omsien’?
◻ Hoe moet ons die “uitlanders” en “vreemdelinge” onder ons beskou?
◻ Wie verdien veral vandag dat ons agting aan hulle betoon?
◻ Hoe moet spesiale geleenthede die ware gees van gasvryheid weerspieël?
[Prente op bladsy 16, 17]
By feestelike geleenthede kan ons gasvry wees teenoor vreemdelinge, vaderlose kinders, diegene in die voltydse diens en ander gaste