Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 12/15 bl. 27-29
  • ’n “Wonderwerk” in Peru

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n “Wonderwerk” in Peru
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Die voorbereidsels
  • Goeie organisasie
  • Hulp van ver af
  • Openbare belangstelling gewek
  • ’n Knap gedane werk
  • Die groot dag breek aan
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 12/15 bl. 27-29

’n “Wonderwerk” in Peru

Die skare van 34 238 was jubelend. Hulle het van alle dele van Peru, trouens, van baie dele van die wêreld, gekom om die toewyding van die pragtige nuwe takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Lima by te woon. Hulle harte was vol opgewondenheid terwyl hulle geluister het na die program wat vertel het van die bouwerk wat in agt aksieryke maande afgehandel is​—iets ongekends in Peru vir ’n projek van hierdie grootte.

Die voorbereidsels

Die vinnige uitbreiding van ware aanbidding in Peru het ’n groter takkantoor noodsaaklik gemaak. In 1980 is ’n stuk grond van 1,8 hektaar gekoop. Die grond is aanvanklik gebruik om vrugte en groente vir die takpersoneel te kweek.

Ondertussen het die Getuies, weens die vinnig stygende inflasiekoers, besluit om solank boumateriaal soos bakstene, staalstawe, toebehore en teëls te koop en te berg. ’n Goeie voorraad water was nog ’n vereiste. Hoekom dan nie ’n put grawe nie? ’n Span Getuies het die taak aangepak en met die hand tot op ’n diepte van 75 meter gegrawe. Toe is die hulp van ’n buitefirma ingeroep om met die projek voort te gaan totdat water op ’n diepte van 96 meter gevind is.

Vroeg in Februarie 1984 het drie Getuies in die Verenigde State ’n “snelbou”-plan voorsien. Die voorgestelde tweeverdiepinggebou​—wat kantore, 22 slaapkamers, gesinskamer, eetsaal, wassery en Koninkryksaal ingesluit het—​kon in agt maande opgerig word, het hulle gesê. Vir Peru sou dit op ’n hedendaagse wonderwerk neerkom!

Goeie organisasie

Op 25 Maart is ’n spesiale vergadering by die Genootskap se byeenkomsterrein in Campoy gehou om die plaaslike Getuies op die hoogte te stel van wat gedoen gaan word. Hoewel daar op daardie tydstip net 19 000 Koninkryksverkondigers in die hele Peru was, het 26 500 mense daardie vergadering bygewoon. Die geesdrif wat hulle toe getoon het, het die hele projek deur nooit afgeneem nie.

Die werkspan is georganiseer. Meer as 200 werkers is uit die geledere van gewone en spesiale pioniers geneem, en broers met ondervinding in byeenkomsorganisasie is in sleutelposisies geplaas. Die gemeentes is bepaalde naweke toegewys om te kom help.

Om die voltydse werkers te huisves, is ’n pakhuis in ’n yslike slaapsaal omgeskep. Matrasse is bo-op kartonne lektuur gesit. Stortbaddens en toilette is langs die buitemure geïnstalleer. Aangesien dit die begin van die winter in Peru was, het die broers geleer om ’n vinnige vastrap te dans wanneer hulle soggens vroeg onder ’n koue stort gestaan het. ’n Eersteklas kafeteria is ingerig, met ontbyt vir almal om 7 vm. voor daar om 7:30 met die werk begin is. By die Campoy-byeenkomsterrein, ’n halfuur per motor daarvandaan, het die susters die werkers se klere gewas. Daar is ook ’n werkwinkel geopen om skoene heel te maak, aangesien werkskoene gou uitgetrap is.

Hulp van ver af

Altesaam 145 broers van Noord-Amerika het op verskillende stadiums met die bouwerk kom help. Baie van hulle het voorheen met Koninkryksaalbouprojekte gehelp. Namate die werk gevorder en die behoefte ontstaan het, het betonwerkers, messelaars, loodgieters en elektrisiëns gekom om hulle deel te doen. Hulle het hul werk in twee of drie weke afgehandel en dan na hulle tuisgemeentes teruggekeer. Maar ’n paar het vir die hele agt maande gebly.

Hierdie broers het hulle eie gereedskap en voorrade saamgebring en skouer aan skouer gewerk saam met mense wie se taal hulle nie verstaan het nie. Maar gebaretaal, gesigsuitdrukkings en woorde wat krom en skeef uitgekom het, tesame met die gewilligheid om saam te werk, het die gedagtes oorgedra en die werk gedaan gekry.

Talle Peruaanse broers het liefdevol hulle huise oopgestel om verblyf te gee aan hierdie besoekers. Om 6 vm. elke werkdag het ’n “gringo bus”, soos dit goedig genoem is, die ronde gedoen om die gaste op te laai en hulle na die ontbyttafel by die bouperseel te bring. Lede van die Peruaanse Bethelgesin het ook aan hierdie baie aangename werk deelgeneem.

’n Engelse gemeente is gestig om in die broers se geestelike behoeftes te voorsien. ’n Aantal van die besoekers het ook goeie werk in die veldbediening gedoen deur tuisbybelstudies te begin wat na hulle terugkeer voortgesit is.

Openbare belangstelling gewek

Honderde plaaslike broers en susters, jonk en oud, het gedurende naweke na die bouperseel gekom om met die werk te help. Dit was bemoedigend om te sien hoe susters en kindertjies na hulle vermoë hulle deel doen. Al hierdie werkery het natuurlik nie onopgemerk gebly nie.

’n Ingenieur van ’n groot boufirma het kom kyk. Toe hy sien hoe die werk gedoen word, het hy gevra: “Hoeveel moet julle hulle betaal om so te werk?” ’n Ander waarnemer wou weet: “Wat maak julle werkers so vrolik?” ’n Filmspan van ’n televisiestasie in Lima het een hele middag op die perseel deurgebring om die werk te verfilm en onderhoude met werkers te voer.

’n Knap gedane werk

Is die gebou regtig in agt maande voltooi? Ja, maar die broers het nooit gevoel dat daar druk op hulle uitgeoefen is om dit in presies daardie tyd te voltooi nie. Van die begin af is dit almal op die hart gedruk dat die doelwit ’n sterk, stewige gebou is wat Jehovah se volk op ’n waardige wyse sou verteenwoordig. As nege of tien maande nodig was om so ’n gebou op te rig, dan was dit ook goed.

Met die ywerige plaaslike vrywilligers en ervare helpers van oorsee is die werk presies op tyd voltooi. Op 3 Desember 1984, agt maande en een week nadat die werk begin is, het die Bethelgesin ingetrek.

Die groot dag breek aan

27 Januarie 1985 was die toewydingsdag van die nuwe takgebou​—’n dag waarna almal uitgesien het. M. G. Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het van Brooklyn, New York, gekom om as die hoofspreker op te tree. Besoekers uit ander lande en diegene wat voltyds met die bouwerk gehelp het​—altesaam sowat 500—​het in die nuwe Koninkryksaal en eetsaal vergader. By die Campoy-byeenkomsterrein is die program deur middel van ’n telefoonverbinding gehoor.

Die oggend het broer Henschel die toewydingsrede in Spaans gehou. Die middag was daar ’n spesiale program by die Campoy-byeenkomsterrein. Toe is die hele skare van 34 238 genooi om die nuwe fasiliteite te kom besigtig. Hulle het hulle daarin verheug om die “wonderwerk” te sien wat in net agt maande voltooi is, die tasbare bewys van Jehovah se seën.

Die bouprojek het talle seëninge meegebring. Benewens die moderne geriewe het die saamwerkery oor ’n tydperk van agt maande waardevolle vrugte afgewerp. Christelike eenheid is bevorder. Geestelike rypheid is aangekweek. Die opbouende samesyn by die vergaderinge, by die etenstafels en veral tydens oggendaanbidding het die liefdesband onder mede-Christene versterk. Die broers wat van Noord-Amerika gekom het, het gevoel dat hierdie smakie van ’n “buitelandse toewysing” hulle baie goed gedoen het. Ja, die agt maande van aangename omgang en harde werk sal lank onthou word deur almal wat deel gehad het aan die “wonderwerk”.​—Vergelyk Haggai 1:7, 8.

[Prent op bladsy 28]

Jonk en oud het met die werk gehelp

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel